............
“Gray en nog ’n lid van die advieskomitee, Shabir Madhi, meen die komitee het nie veel insae in die regering se plan gehad nie en daar is nie en genoegsaam ag geslaan op hulle aanbevelings nie.”
............
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en ’n lid van die ministeriële advieskomitee oor COVID-19 en lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, het in woordestryd beland oor die koronavirus.
Zweli Mkhize (Foto: Di Smith [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons) en Glenda Gray (Foto: Simon Fraser University – University Communications [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)
Dit volg nadat Gray aan die media gesê het die landwye staat van inperking behoort heeltemal opgehef te word. Sy sê ander maatreëls, soos gereelde handewas, die dra van maskers, veilige afstande en ’n verbod op samedrommings behoort nou prioriteit te geniet.
Sy het gesê die manier waarop die regering die inperkings wil uitfaseer, is onwetenskaplik, en sy het ook sommige van die inperkingsregulasies skerp gekritiseer. Gray en nog ’n lid van die advieskomitee, Shabir Madhi, meen die komitee het nie veel insae in die regering se plan gehad nie en daar is nie en genoegsaam ag geslaan op hulle aanbevelings nie.
Gray is ’n spesialispediater en MIV-entstof-navorser. Sy is ook die ontvanger van een van die land se grootste eerbewyse, naamlik die Orde van Mapungubwe, en is in 2017 deur Time as een van 100 mees invloedryke mense benoem.
............
“Mkhize sê die regering beklemtoon dat hulle nie voorgee hulle het al die antwoorde wanneer dit by COVID-19 kom nie en geen land het al die antwoorde nie.”
............
Volgens haar is die redes vir sekere van die regulasies onoortuigend en berus dit glad nie op wetenskaplike gronde nie. Van die regulasies wat sy uitgesonder het, is dié oor die verkoop van sekere klerasie, soos slegs skoene met ’n toe toon. “Dit is kompleet of van hierdie regulasie uit die duim gesuig word,” het sy aan News24 gesê.
Sy sê daar was aanvanklik goeie redes vir die inperking om die verspreiding van die virus te vertraag en tyd te koop om die gesondheidstelsel gereed te kry vir wat voorlê. En daar is tot ’n groot mate daarin geslaag om dit reg te kry, het sy gesê.
“Mens kan argumenteer oor die verlenging van die grendeltyd en of dit geregverdig was, maar ek dink die ekstra twee weke het die werk wat begin is, ondersteun en dit was krities noodsaaklik.” Sy sê om van maand tot maand na verskillende vlakke oor te skakel is egter sinloos en onwetenskaplik.
Mkhize was min beïndruk met haar kritiek. Hy het haar in ’n verklaring skerp gerepudieer. Hy sê haar bewerings is van alle waarheid ontbloot. Volgens Mkhize was hy uit die veld geslaan deur die talle onakkurate stellings wat sy gemaak het. Dit het volgens hom onnodige sensasie veroorsaak en wek twyfel oor die werk van die regering in dié verband en die pogings wat aangewend word om COVID-19 te beveg.
Hy het haar in ’n lang verklaring puntsgewys op haar bewerings geantwoord.
Response to media queries regarding Prof Glenda Gray’s public utterances on government’s decisions relating to the #Covid_19 lockdown. https://t.co/LqhDBrEJXx
— Dr Zweli Mkhize (@DrZweliMkhize) May 20, 2020
Gray het Donderdag aan News24 gesê dit voel vir haar dat sy uitgesonder word. Sy het gesê dit is kommerwekkend dat Mkhize haar so voor stok gekry het in sy verklaring.
Sy het beklemtoon dat sy nie inperking of die verlenging daarvan as sodanig gekritiseer het nie. Sy sê haar kommentaar het meer te doen met die regulasies. “Ek het in my persoonlike hoedanigheid gepraat en soos wat ek by herhaling gesê het, is dit nie die inperking wat deur my gekritiseer is nie.”
Mkhize sê die regering beklemtoon dat hulle nie voorgee hulle het al die antwoorde wanneer dit by COVID-19 kom nie en geen land het al die antwoorde nie. Hy sê president Ramaphosa het deurlopend gesê ons is in ongekende waters, maar die regering bly daartoe verbind om alles binne sy vermoë te doen om die lewe van elke enkele burger te beskerm.
Daar word geraam dat COVID-19-infeksies in September sy hoogtepunt in Suid-Afrika sal bereik wanneer tot drie miljoen mense die virus kan opdoen. Aanduidings is dat die sterftesyfer teen die einde van die jaar 40 000 sal wees.
Die Departement van Gesondheid het Donderdag ’n virtuele seminaar gehou waar verskillende modelle van die verspreiding van die koronavirus voorgelê is. Volgens die hoof van Lewenswetenskappe en Gesondheidsorg by Deloitte, Ashleigh Theophanides, kan ingrypings om die verspreiding van die virus te keer, egter ’n verskil maak.
Lees ook
Buro: MvH