My twee hartkamers: Afrikaans en Nederlands

  • 0

Ek is ’n “swaeltjie” wat sinds haar aftree die somermaande geniet in Prince Albert om dan weer naar die Europese somer te vlieg. My lewensmaat, nou al 46 jaar lank, is gebore en getoë in die Karoo. Na sy studies op Michaelis in Kaapstad het hy ’n beurs vir Antwerpen gekry. Hy moes ’n kontrak teken dat hy na een jaar terug naar Suid-Afrika sou kom, maar kon die verpligte terugkeer verhoed deur met my te trou en kinders te kry.

In die maande voor onse intieme relasie ontvlam het, het ons Engels gepraat. Die nag dat ons minnaars geword het, het hy Afrikaans gepraat, ek Nederlands. Ek het nooit die neerbuigende cliché oor Afrikaans in die mond geneem dat dit ’n skattig taaltjie is! Hoewel ek die woorde van Azille Coetzee perfek van toepassing gevind het op my eie lewe: “Ek is die alchemis wat die wêreldreis moes onderneem om ’n skat te vind ... my geliefde en sy land. My geliefde in my land. My land in my geliefde.”

Ons het mekaar altyd perfek verstaan (tog wat die taal betref), behalwe toe hy vir die eerste keer sê: “Sluit oop die deur” en ek hom vra of ek die deur moet sluit of oopmaak. Hy lag om die oënskynlike antitese waar hy nooit by stilgestaan het nie, maar ek het verder aangegaan: “En kan jij astublieft minder gebiedend praten. Ek is nie jou hond nie!” Toe hy frons, het ek hom verduidelik dat ek gewillig die deur wil oopmaak as hy sou gesê het: “Wil jy die deur oopsluit?” Sy antwoord: “Miskien nog met ’n asseblief en dankie en ’n buiging boonop?” Hy vind Vlaminge oordrewe beleefd as hulle iets vra.

Terloops, Afrikaanssprekendes dink dat ons Vlaams praat, nie Nederlands nie. Dis waar en nie waar nie. Vlaams is al die dialekte bymekaar, maar iemand wat in Antwerpen woon, gaan nie die Vlaamse dialek van iemand uit Wes-Vlaandere verstaan nie. Ek was in my eerste lewe Wes-Vlaamse, in my tweede Antwerpse en in my derde half-Afrikaanse, so ek verstaan al drie die idiome.

Ons praat Nederlands, wat die taal is van die regering, onderwys, media ensovoort. Ons Vlaminge praat egter met ’n sagter aksent as die Hollanders en daarom verstaan Afrikaanssprekendes ’n Vlaming baie beter as ’n Nederlander.

Afgesien van klein misverstande het ek Afrikaans, ook die literêre idioom, in al die jare goed onder die knie gekry. Ons twee tale is my twee hartkamers wat elk met ’n eie ritme klop.

Ten geriewe van die Belgiese onderwyserstudente wat elke jaar vir drie maande in Prince Albert se skole kom klasgee, het ek ’n woordelys saamgestel met klemtoon op die “valse vrienden”. So ken Nederlands die woord “lekker” vir kos, en als wat ons in ons monde steek of fisiek ervaar, is “lekker”. Die sin “Kom hier, lekker stuk (=meisje)” is korrekte Nederlands, maar polities baie inkorrek. Alles wat ons Belge en Nederlanders nie fisieke plesier verskaf nie, is vir ons “leuk”. As die studente uitgenooi word om te kom kuier op ’n plaas, is dit “’n leuke boerdery” en die mense wat hulle uitnooi, is “leuke vriende”. (Terloops, “kuier” in Nederlands beteken “loop” of “wandel”.) Dan vertel die studente wat ’n leuke film hulle in die Showroom gesien het.

As hulle by die fietswinkel of die garage aankom, gaan hulle sê: “Ons het ’n lekke/platte band” en dan bedoel hulle ’n papwiel.

As die studente vir die kindertjies in die skool sê: “Julle is braaf”, bedoel hulle nie dat hulle dapper is nie, maar dat hulle soet is.

As Afrikaanssprekendes vra met watter kar hulle ouers ry, sal hulle miskien verontwaardig wees, want ’n kar is ’n stootwaentjie, nie ’n auto nie. Party Afrikaners is ontstel as hulle sê dat hulle ’n “leuke poes” by die huis het, maar hulle bedoel natuurlik ’n kat.

As ’n Vlaamse meisie wil hê dat ’n outochtoon nader aan haar moet kom sit, dan lui dit: “Kom ’n bietjie digter sit”, en dan bedoel sy nie dat jy in liriese ontboesemings moet uitbars nie.

As hulle vir hulle landladies sê: “Die lakens is vies”, dan bedoel hulle nie dat die lakens kwaad is nie, maar dat hulle vuil is.

Uit my eie ervaring sou ek die studente kon aanraai om ’n Afrikaanssprekende kêrel of meisie te kry, want dis sekerlik die beste manier om vinnig Afrikaans te leer. Maar dis miskien te veel van ’n waagstuk, daai! Ek is ’n voorstander van interkontinentale verhoudings, maar ek is nie ’n koppelaarster nie. Hoogstens ’n fasiliteerder.

Lees ook:

Die vier fases van kultuurskok

In my vel deur Azille Coetzee: Uit die perspektief van iemand met haar voete op twee vastelande

Valse vriend: Vies

Valse vriend: Kuier

Wat zegt u?

Skreeusnaakse Nederlandse woordeskat en valse vriende

Skreeusnaakse Nederlandse woorde en uitdrukkings II

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top