Internasionale aandag aan nuwe navorsing oor die werk van die Afrikaanse digter en skrywer Breyten Breytenbach het die eerste webinar van die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika vandeesmaand ingelui.
In ’n bespreking getiteld “Langs Vlaamse wegen. Breytenbach en het Gentse tijdschrift Yang” het die literatore Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent, Louise Viljoen van die Universiteit Stellenbosch en Alwyn Roux van die Universiteit van Suid-Afrika ’n artikel van T’Sjoen en die verdere navorsingsmoontlikhede bespreek wat dit bied. Daarin is aan die lig gebring dat Breytenbach se literêre bydraes en betrokkenheid in die Lae Lande vir die eerste maal in Vlaandere voorkom.
Vlaamse poësiedebuut
T’Sjoen gaan in sy navorsing in op die Vlaamse poësiedebuut van Breytenbach in 1967 in die Vlaamse tydskrif Yang. Na aanleiding van ’n reaksie van Coenie Rudolph op ’n onderhoud deur Julien Weverbergh met Breytenbach is van Breytenbach ’n reaksie in Yang gepubliseer. Die literêre toetrede van Breytenbach tot die Lae Lande het dus in Vlaandere in Yang plaasgevind. Aan die begin van 1968 is van Breytenbach die eerste keer gedigte daar gepubliseer, naamlik “klein dialektiek” en “bid vir hanoi”.
In Woordenaar Woordnar, die huldigingsbundel vir Breytenbach ter viering van sy 80ste verjaardag, skryf Francis Galloway dat Breytenbach deelgeneem het aan ’n temanommer van Yang, “Antwoord aan Zuid-Afrika”. Daarin het hy hom gerig tot Vlaamse en Nederlandse skrywers om die aandag te vestig op Afrikaanse skrywers wat weens apartheid nie die geleentheid gekry het om hul literêre tekste in Suid-Afrika te publiseer nie.
Navorsing verruim
Die beeldvorming van Breytenbach in die Lae Lande het tot op hede op sy bande met Nederland gefokus. Breytenbach se aanwesigheid in die Vlaamse literêre landskap verdien egter eweneens aandag, het T’Sjoen benadruk.
Dit is interessant om nie alleen die Nederlandse konneksies van Afrikaanse skrywers te ondersoek nie, maar ook die beeldvorming van Suid-Afrikaanse skrywers in Vlaandere, het hy laat blyk. Sodoende sluit hy aan by Viljoen wat in ’n artikel in Internationale Neerlandistiek gesê het die Vlaamse konneksies vra om verdere ondersoek.
Vlaamse tydskrifte, skrywers en allerlei netwerke en uitgewers, dié interrelasies is veel minder bestudeer as dié in Nederland; dit is dus van belang om ’n breër opgesette projek daarvan te maak, een van transnasionale, laterale bande tussen Afrikaans en Nederlands, aldus T’Sjoen.
Alreeds die beskikbaarheid van die inligting wat T’Sjoen verskaf in die artikel, die feit dat Breytenbach in Vlaandere gepubliseer is en eintlik voordat dit in Nederlandse tydskrifte verskyn het, is van groot belang vir die Breytenbachstudie, het Viljoen gesê; hoe die skrywer homself as ’n politieke digter posisioneer in Yang bied interessante insigte.
Beeld van 'n oeuvre
Die twee gedigte, veral “klein dialektiek” waarin hy praat as ’n politieke of rewolusionêre digter en waar hy hom rig op die literêre kritici van sy tyd, herinner haar aan die bundel Skryt. “Die slot is dan nogal belangrik waar hy as rewolusionêre digter praat ‘want ons dood sal ’n swart dood wees / ’n swart loot wees’.” Sy het daarop gewys dat die gedig ook in gesprek is met ’n hele aantal, veral oor die bevrydingstryd, wat later in Skryt (1972) verskyn het.
In dieselfde jaar kon Skryt ook nie in Suid-Afrika uitgegee word nie en moes dit in Nederland gepubliseer word. In die bundel praat hy ook van die “swart son”, die “swart digter” en die “swart dood” wat hier (in die vers in Yang) wel vrug sal hê as “swart loot”; vir Viljoen dra hierdie soort inligting by tot die oorsigtelike beeld van Breytenbach se oeuvre.
“Wat vir my ook geweldig boeiend was, is die (Yang-)stuk ‘Mooi doekies om mooi broodjies’ waarin hy baie duidelik sy literatuuropvatting uitspreek. Waar die politiek met al sy ideologiese implikasies so ’n groot en dringende rol speel in die lewe van elke Suid-Afrikaner, kan dit nie van die literatuur gewan word nie. Ek dink dit vorm as’t ware die basis vir die res van sy loopbaan. Hy is nog áltyd ’n politieke digter. En dis belangrik dat mens vroeg reeds die beleidsverklaring daar kry.”
Durende belangrikheid van hibriditeit
Ander belangrike punte wat ook deurlopend is, is die feit dat hy die Afrikaner aanspreek en sê dat hulle in daardie stadium was wat hulle hul eie basterskap ontken. Sy noem ook dat hy die begrip “basterskap” in 1967 al gebruik het, ook in sy Somerskoollesing aan die Universiteit van Kaapstad (1973) en in 1998 in sy Engelstalige boek Dog heart. Dit is ’n idee wat hy oor die jare al hoe meer verfyn het, onder andere met die bywerk van Édouard Glissant se werk, The poetics of relation. Dit lê ten grondslag van die argumente wat hy nou in verband met die nodigheid van ’n taal soos Afrikaans in Suid-Afrika maak.
...
“Die idee van saam-mekaar-anders-maak, van kulturele hibriditeit, kreolisering en verbastering is vir hom essensieel, eintlik vir enige samelewing, veral vir die Suid-Afrikaanse.”
...
“Die idee van saam-mekaar-anders-maak, van kulturele hibriditeit, kreolisering en verbastering is vir hom essensieel, eintlik vir enige samelewing, veral vir die Suid-Afrikaanse.” En hiervoor ag Viljoen Afrikaans ’n goeie fasiliteerder.
As sy hierdie stukke uit 1967 en 1968 lees, val dit haar op hoe konsekwent Breytenbach by sy idees gebly het oor die loop van soveel dekades.
“Dit is eintlik merkwaardig. En dit is baie relevant vir ’n lesing van hoe Breytenbach vandag dink, hoe hy nog steeds as digter funksioneer, as skrywer en openbare intellektueel.”
Talle interessante vrae
In die gang van die bespreking het die deelnemers en lede van die gehoor interessante vrae en moontlikhede vir verdere ondersoek aangebied.
Die bydrae in Yang (en wat in T’Sjoen se artikel opgeneem is) waarin Breytenbach vra vir die steun van die Vlaamse en Nederlandse skrywers vir die vryheidstryd, ag Viljoen eweneens belangrik. Vir haar is een van die belangrike vrae daar rondom: Watter lig werp hierdie bydrae van Breytenbach op die literêre toneel in die Vlaandere van daardie tyd?
Ander vrae waartoe die stuk vir haar aanleiding gegee het, is: In watter mate was die tydskrifredakteurs wat Breytenbach se werk gepubliseer het verteenwoordigend van die literêre veld van die tyd? Hoeveel simpatie was daar vir ’n politieke of rewolusionêre Suid-Afrikaanse digter soos Breytenbach? Dit laat ’n mens interessante vrae vra oor hoe het dit gekom dat hierdie materiaal daar gepubliseer is. Watter refleksie is dit van die groter toneel? Hoe verskil dit van die Nederlandse toneel van die tyd?
...
“Vir my is dit dan veral interessant dat Breytenbach se beleidsverklaring dan ook in sy kreatiewe werk neerslag vind. Mens sou ’n studie kon uitvoer om te sien hoe sy literatuuropvattings in elke fase van sy skryfwerk weerklank vind in sy gedigte.”
...
Gorée-instituut
Roux werk tans aan postdoktorale navorsing oor Breytenbach se betrokkenheid by die Gorée-instituut in Senegal en bekyk spesifiek Breytenbach se werk in Wes-Afrika. Viljoen het reeds verwys na sy literatuuropvatting wat al in Yang na vore kom; sy politiek kan nie van sy skryfwerk afgesny word nie, het hy gesê. “Dit is al reeds vir my interessant, en is deel van die soort navorsing wat ek doen oor Breytenbach ten opsigte van die Gorée-instituut. Vir my is dit dan veral interessant dat Breytenbach se beleidsverklaring dan ook in sy kreatiewe werk neerslag vind. Mens sou ’n studie kon uitvoer om te sien hoe sy literatuuropvattings in elke fase van sy skryfwerk weerklank vind in sy gedigte.”
In die navorsing oor literêre beeldvorming is dit vir T’Sjoen belangrik dat transnasionaal te werk gegaan word om die rol van Vlaamse literêre netwerke en actoren daarin te bekyk. Syns insiens het Breytenbach reeds indertyd al aansluiting gevind by bepaalde tendense in die eietydse Vlaamse literatuur. Vroeër, in Oktober 1966, was die eerste vraaggesprek met Breytenbach in Vlaandere in ’n sosialistiese koerant, Vooruit, gepubliseer. (Dit is daarna afgedruk in Kentering, ’n Vlaams-Nederlandse tydskrif vir ’n temanommer oor sensuur.) “En Breytenbach wat toe in Parys woon, is toe op soek na konneksies ook met Nederlandse en Vlaamse skrywers en vind dit in Yang Kahier. Werkschrift voor literatuur, inderdaad ’n ideale biotoop om sy rewolusionêre en politieke militante tekste ’n platform te gee.”
Kunstenaarskap in transnasionale verband
Gedagtig aan sy verblyf in Parys, het Viljoen gewonder oor of die feit dat België tweetalig is, ’n rol sou kon speel, asook hoe hierdie beweging in Vlaandere verloop het in verhouding met sy kontak met Nederland.
Breytenbach het al in 1964 begin om sy skilderye uit te stal in Amsterdam; in watter mate het die interaksie tussen sy visuele kuns (as Juan Breyten) en sy woordkuns ’n rol gespeel in die manier waarop hierdie transnasionale bewegings plaasgevind het? het Viljoen gevra. Die grondslag van verdere ondersoek sou dié soort navorsing moet wees waarmee T’Sjoen reeds begin het, meen sy.
Die nuwe navorsing oor Breytenbach en sy bande met Vlaandere bied ’n geweldig boeiende ondersoek, en Viljoen het voorgestel dat dit in vennootskap of samewerkend aan te pak is. T’Sjoen is dit met haar eens. Vir hom betref dit dan ook aandag aan literêre sisteme, vir bepaalde estetiese paradigmas, met werke en instansies, strategieë en actoren, interpersoonlike netwerke wat uiteindelik saam die literêre klimaat bepaal en waarin Breytenbach gesitueer kan word.
Sosiaal-kritiese betrokkenheid en aansluiting
T’Sjoen wys daarop dat daar al met die Provo-beweging in 1965 politieke agitasie in Nederland was, maar ook in Vlaandere. En die rol van Breytenbach daarin vra dan spesifiek in Vlaandere om ’n voortgesette ondersoek daarna.
Hy het die vermoede uitgespreek dat wat ’n politieke, ideologiese diskoers betref, het Breytenbach makliker in Vlaandere aansluiting gevind. “Ek dink dat in Vlaandere die sosiaal-kritiese betrokkenheid wat ook verbonde is met literatuur veel nadrukliker was dan in Nederland in dié periode. In elk geval het Yang by monde van Fernand Auwera, redakteur en samesteller van ‘Antwoord aan Zuid-Afrika', hiervoor geleentheid gebied.”
T’Sjoen meen ’n transnasionale, interkulturele en politiek-ideologiese perspektief kan literêr-histories ’n interessante aanvulling wees oor die verhoudinge tussen Afrikaanse en Nederlandstalige skrywers en sisteme.
Uit die gehoor het Andries Bezuidenhout voorgestel dat ’n mens ook sou kon kyk na die wisselwerking tussen die oomblik van 1968 met die ontluikende werkersbeweging in Suid-Afrika en Marxistiese politiek buite die kommunistiese veld. Ook na mense soos Richard Turner, Jan Theron, Gerald Maree en Breytenbach se politieke skakels in Suid-Afrika in die vroeë 1970’s. T’Sjoen het daarop gewys dat ook die kultuurhistoriese studie van Geert Buelens oor die jare sestig insigte bied wat vir die ondersoek na Breytenbach se posisionering einde jare sestig in die Vlaamse en Nederlandse literêre en politieke landskap interessant sal wees.
Sowel Viljoen en Roux as T’Sjoen ag dit ’n belangrike punt vir verdere ondersoek.
Lees ook:
Persbericht: Webinar van het Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika