Nederland is die afgelope maand opnuut met sy koloniale verlede gekonfronteer. Die Nederlandse ministerie van kultuur in Den Haag het aangekondig dat Nederland ’n aansienlike aantal waardevolle kunswerke en ander skatte wat tydens die koloniale era gebuit is, aan die lande van herkoms gaan terugbesorg.
Van die waardevolle voorwerpe wat teruggegee sal word, sluit in die “Lombok-skat”, ’n versameling van honderde edelstene, silwer voorwerpe en goud wat in 1894 deur die Nederlandse koloniale weermag van die eiland Lombok in Indonesië gebuit is. Die Nederlandse regering het reeds in 1977 ’n deel hiervan teruggegee aan Indonesië.
Die 484 voorwerpe wat nou ter sprake is, is die eerste wat Nederland aan sy voormalige Asiatiese kolonies teruggee nadat ’n 2020-verslag deur ’n advieskomitee die regering aangemoedig het om geroofde kulturele artefakte “onvoorwaardelik” terug te gee, indien dit deur hul lande van herkoms versoek word.
Die Nederlandse staatsekretaris vir kultuur en media, Gunay Uslu, het dit as ’n geskiedkundige oomblik beskryf.
Uslu het beklemtoon dat dit nie net gaan oor die terugbesorging van die voorwerpe nie, maar ook oor die herstel en versterking van samewerking met Indonesië en Sri Lanka.
Die etiese vraag oor die besit van geplunderde kunsskatte deur Europese lande tydens die koloniale era is een wat by verskeie Europese lande spook.
Daar is toenemende internasionale druk op Nederland en ander Westerse lande om dit terug te besorg aan die lande waar dit oorspronklik vandaan kom.
Daar is groeiende erkenning dat baie van hierdie artefakte tydens die koloniale konflik gesteel of onregmatig verkry is.
Tydens Europese lande se koloniale bewind in Afrika is daar ook duisende kulturele artefakte op die kontinent geplunder. Baie Afrika-lande eis ook hulle kunsskatte terug en groot museums regoor Europa het reeds ingestem om daarvan afstand te doen.
In Frankryk is daar byvoorbeeld ’n verslag bekendgestel waarin gevra word dat duisende stukke Afrika-kuns in sy museums na die vasteland terugbesorg moet word.
Die Britse regering, wat ’n groot aantal betwiste voorwerpe in die Britse Museum hou, was tot dusver die huiwerigste om soortgelyke stappe te doen.
Nederland se jongste besluit om ongeveer 478 voorwerpe terug te gee aan die lande van oorsprong is geneem ná oorweging van die aanbevelings van die regering-aangestelde kommissie wat gekyk het na die onwettige Nederlandse koloniale verkrygings van items wat tans in Nederlandse museums uitgestal word.
Die Rijksmuseum gaan ook vanjaar ses voorwerpe aan Sri Lanka terugbesorg. Die ses voorwerpe wat na Sri Lanka terugbesorg moet word, is ’n ryklik versierde, grootkaliber bronsgegote geweer bekend as die kanon van Kandy wat tans by Amsterdam se Rijksmuseum te sien is, asook goue en silwer seremoniële swaarde, ’n Singalese mes en twee gewere.
Volgens Uslu is dit die eerste keer dat die aanbevelings van die komitee gevolg word om voorwerpe terug te gee wat nooit na Nederland gebring moes gewees het nie. “Maar ons gee nie net voorwerpe terug nie. Ons begin eintlik ’n tydperk waarin ons meer intensief met Indonesië en Sri Lanka saamwerk.”
Uslu sê hulle het opgetree volgens die aanbevelings wat gemaak is in ’n verslag wat in 2020 deur die Nederlandse komitee gepubliseer is wat die artefakte wat tydens die koloniale era gesteel is, ondersoek het.
Die regering is deur die komitee versoek om bereid te wees om enige kulturele artefakte wat in voormalige Nederlandse kolonies geplunder is, onvoorwaardelik terug te gee as dit deur die bronland gevra word.
“Nederland moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy koloniale verlede deur die erkenning en regstelling van hierdie onreg ’n sleutelbeginsel van die beleid oor koloniale versamelings te maak,” lui die verslag.
Die Advieskomitee oor die Nasionale Beleidsraamwerk vir Koloniale Versamelings in Nederland sê in ’n verslag die erkenning van onreg en die bereidwilligheid om dit sover moontlik reg te stel behoort die sleutelbeginsels van die beleid oor koloniale versamelings in Nederlandse museums te wees.
Die komitee is ’n onafhanklike advies-orgaan wat die regering en parlement van Nederland adviseer oor die beleid en bestuur van koloniale versamelings en artefakte wat in Nederland bewaar word. Die komitee het die historiese agtergrond van die koloniale versamelings ondersoek en het bevind dat baie van hierdie artefakte onregmatig verkry is, dikwels deur geweld en koloniale uitbuiting. Die koloniale era het groot menseregte-oortredings en onregverdigheid veroorsaak.
Daar is toenemende druk in die internasionale gemeenskap vir die restitusie van gesteelde koloniale artefakte aan hul oorspronklike lande en gemeenskappe. Die komitee het aanbeveel dat Nederland ’n proaktiewe benadering moet volg om restitusie te fasiliteer en om eerlike, moreel-relevante en etiese beginsels toe te pas.
Die komitee het benadruk dat restitusie nie net ’n vraagstuk van teruggawe van artefakte is nie, maar ook ’n geleentheid vir herstel van menseregte en ’n nuwe erkenning van die impak van die koloniale era op gemeenskappe wat benadeel is.
Nederland het ’n verskeidenheid instansies, museums en komitees wat betrokke is by die bestuur, die beleid van koloniale versamelings en artefakte. Die Nederlandse Openluchtmuseum het byvoorbeeld ’n komitee wat verantwoordelik is vir die beleid en bestuur van die museum se koloniale versamelings. Die Nederlandse Instituut voor Beeld en Geluid hou toesig oor die bewaring van die Nederlands-koloniale erfenis op die gebied van media en beeldmateriaal.
Die restitusie van koloniale artefakte is ’n komplekse en sensitiewe kwessie. Dit vereis deurlopende gesprekke en aksies om regverdigheid en herstel te bewerkstellig. Die komitee se verslag en aanbevelings is deel van die breër internasionale debat oor koloniale erfenis en die dekolonialisering van kulturele versamelings.
Gespreksvennote van bronlande het ook ’n begeerte uitgespreek om met Nederland saam te werk. Hulle wil byvoorbeeld vollediger inligting hê oor die teenwoordigheid en herkomsgeskiedenis van die koloniale kultuurvoorwerpe wat deur Nederlandse museums gehou word. Hulle wil ook saamwerk om toepaslike museuminfrastruktuur te ontwikkel en uitruilings van studente en akademici en internskappe in Nederlandse museums te reël.
Versoeke om kulturele erfenisvoorwerpe terug te gee wat nie geplunder is nie, of wat afkomstig is uit lande wat nie Nederlandse kolonies was nie, moet volgens die komitee se aanbevelings ook oorweeg word, veral as dit van besondere kulturele, historiese of godsdienstige belang vir die land van herkoms is.
Maar anders as versoeke om kulturele voorwerpe wat uit voormalige Nederlandse kolonies geplunder is, terug te gee, sal sulke versoeke om terugbesorging nie onvoorwaardelik gehonoreer word nie. Die onafhanklike advieskomitee sal die redelikheid en billikheid van hierdie versoeke beoordeel en die betrokke belange opweeg.
Nederland het handelsposte en kolonies in Asië, Afrika en Noord- en Suid-Amerika van die begin van die 17de eeu gehad. Vir meer as vier eeue het die Nederlanders ’n teenwoordigheid gehad by baie plekke op hierdie kontinente as handelaars, koloniste en besettingsmagte.
Vir die inheemse bevolkings was dit ’n tyd wat gekenmerk is deur uitbuiting, geweld, rassisme en onderdrukking.
Dit was ook ’n tyd waarin baie kulturele, historiese en godsdienstige voorwerpe, wat vandag nog in Nederlandse museums te sien is, vanaf hierdie lande na Nederland gebring is. Dit sluit kulturele erfenis in van voorwerpe wat teen die wil van hul eienaars in Nederlandse hande gekom het, byvoorbeeld deur diefstal of militêre optrede.
In totaal is daar honderdduisende sulke voorwerpe. Benewens museums wat uitgebreide en belangrike koloniale versamelings huisves, soos die Nasionale Museum van Wereldculturen, Museum Bronbeek en die Rijksmuseum, het baie kleiner museums ook koloniale versamelings.
’n Opname van Nederlandse museums wat deur die komitee en die Nederlandse Museumvereniging uitgevoer is, toon dat daar nog baie vrae is oor die wyse waarop koloniale kultuurvoorwerpe in Nederlandse besit gekom het. Sommige museums erken dat hulle steeds voorwerpe huisves wat sonder die eienaar se toestemming verkry is gedurende die koloniale tydperk.
Die hantering van versoeke om kulturele voorwerpe terug te gee, is egter nie soseer ’n wetlike as ’n etiese vraag nie.
Dit is te wyte aan die verjaring in die Nederlandse reg en die feit dat internasionale konvensies wat relevant is tot koloniale kulturele voorwerpe, geen terugwerkende effek het nie.
Die standaarde en beginsels van internasionale humanitêre reg en die etiese kodes van internasionale maatskaplike organisasies voorsien wel ’n effektiewe gids vir die etiese hantering van terugkeerversoeke. Dit vra vir ’n tegemoetkomende reaksie aan versoeke om teruggawe, met die rigtinggewende beginsel dat wat gesteel is, terugbesorg moet word.
Die terugsending van gesteelde artefakte bly egter ’n ingewikkelde kwessie wat historiese, kulturele en etiese aspekte betrek. Dit is nog nie in alle gevalle suksesvol nie. Dit bly steeds ’n onderwerp van aanhoudende debat en daar is nog nie ’n universele ooreenkoms oor die proses van terugsending nie.
- ’n Volledige opsomming van die verslag van die Advieskomitee oor die Nasionale Beleidsraamwerk vir Koloniale Versamelings kan hier gelees word.
Bronne:
Lees ook:
“Wat gestolen is, zal terug moeten gaan” – Wat te doen met koloniale roofkunst?
Nederlandse koning biedt excuses aan voor rol Oranjes in slavernijverleden
Buro: MvH