Openbare Beskermer klou soos ’n neet aan haar pos

  • 0

Die Openbare Beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, klou soos ’n neet aan haar pos terwyl die een geraamte na die ander uit haar kas peul. Sy weier botweg om te loop, selfs al sou die parlement bevind sy is onbevoeg om haar werk te doen.

Mkhwebane, wat reeds keer op keer in verskeie howe bloedneus gekry het oor die manier waarop sy haar werk doen, het haar nou ook teen die Valke vasgeloop.

Foto: YouTube

Die Valke is tans besig om Mkhwebane vir meineed te ondersoek, terwyl die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verlede week ’n ondersoek na haar belastingsake van stapel gestuur het – wat tot 2011 teruggaan. Die Valke gaan hulle ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys.

Verskeie politieke partye, burgerlike organisasies en kommentators het al haar kop geëis en gevra dat sy haar tas pak en loop, maar sy skop met alle mag vas. Sy sê sy sal hof toe gaan om haar pos te behou indien nodig.

Die jongste organisasie wat van haar wil onstale raak, is die burgerregtegroep AfriForum. Hulle het die OB Donderdag versoek om te bedank. Dié burgerregte-organisasie sê hulle beskou haar as onbekwaam vir die amp ná die onlangse verdoemende verwikkelings waarin sy betrokke is.

Die druk op Mkhwebane het dié week toegeneem toe Thandi Modise, die speaker van die Nasionale Vergadering, ’n mosie goedgekeur het om ’n geding in te stel om van Mkhwebane ontslae te raak. In Julie 2019 het die Konstitusionele Hof in die Absa/Bankorp-saak bevind dat die OB se ondersoekmodel in geheel gebrekkig is, dat sy oneerlik was oor haar afsprake tydens die ondersoek en dat sy tydens die verloop van die regsgeding ’n aantal valshede voorgehou het.

Sommige van die regters het selfs gesê dat Mkhwebane te kwader trou opgetree het, oneerlik en partydig was, verskeie valshede versin het, geen begrip van haar grondwetlike pligte het nie en onder eed gelieg het.

Die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone, het vroeër die week in ’n verklaring gesê Mkhwebane se uitlatings waarom sy nie in die pad gesteek kan word nie, wys dat sy ’n baie swak begrip van die reg het.

Volgens die OB is die parlementêre proses wat onlangs goedgekeur is om ontslae te raak van die hoof van ’n artikel 9-instelling ongrondwetlik. Die DA hou vol dat die Grondwet wel ruimte bied vir die verwydering van ’n OB op grond van wangedrag, onbevoegdheid of die onvermoë om sy of haar werk te doen.

Die OB se amp verleen aan haar die mag om enige optrede in staatsake of in openbare administrasie te ondersoek in enige sfeer van die regering wat van enige onbehoorlikheid verdink word of na bewering onbehoorlik of partydig is.

“Suid-Afrika het behoefte aan ’n onpartydige, gerespekteerde en bekwame OB in 2020, wanneer Suid-Afrika se demokratiese instellings deeglik getoets gaan word met kwessies soos onder meer onteiening sonder vergoeding en nasionale gesondheidsversekering wat op die horison lê en wag,” sê Ernst van Zyl van AfriForum.

“Neem ’n mens die 2020-SAID-ondersoek, die parlementêre mosie en ’n legio ander verdoemende uitsprake deur hoë gesag in 2019 teen haar in ag, kan ’n mens nie anders nie as om te wonder of Mkhwebane se gedrag nie inderdaad die presiese antitese van haar pligte as Openbare Beskermer is nie. Die Konstitusionele Hof se fel uitspraak laat dit heel duidelik blyk dat Mkhwebane enorme skade aan die aansien en status van haar amp aanrig. Op ’n fundamentele vlak behoort sy die toonbeeld van betroubaarheid, geloofwaardigheid en integriteit te wees. Die bogenoemde voorbeelde oortuig AfriForum egter dat sy eenvoudig nie oor die vereiste eienskappe beskik wat haar integrale amp vereis nie,” sê Van Zyl in ’n verklaring.

Lees ook 

Hof gee openbare beskermer nóg ’n hou op die ken

Openbare beskermer se loopbaan in weegskaal na onbeholpe uitsprake

Openbare beskermer se verslae verwar

Openbare beskermer wil hof toe

Buro: MvH
  • 0
Top