Openbare beskermer se uurglas loop uit

  • 0

.............

“Verskeie politieke partye, burgerlike organisasies en kommentators het al haar kop geëis en gevra dat sy haar tas pak en loop, maar sy skop met alle mag vas. Die OB sê sy sal hof toe gaan om haar pos te behou, indien nodig.”

.............

Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat al maande lank die een na die ander aanslag op haar beroepslewe soos die spreekwoordelike kat met nege lewens oorleef, se doppie kan dalk uiteindelik geklink word.

Sy klou al feitlik sedert die begin van haar ampstermyn soos ’n neet aan haar pos, terwyl die een geraamte na die ander uit haar kas peul. Sy weier botweg om te loop, selfs al sou die parlement bevind sy is onbevoeg om haar werk te doen.

Foto: YouTube

Die jongste terugslag wat haar getref het en dalk die finale spyker in haar doodskis kan wees, is nóg ’n hofuitspraak teen haar die afgelope week.

Sy is onder andere reeds deur die hooggeregshof in Pretoria oor die vingers getik toe die hof ’n verslag oor ’n beweerde geheime ondersoekeenheid, bekend as die rogue unit in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), tersyde gestel het.

Mkhwebane, wat reeds in verskeie howe die onderspit moes delf oor die manier hoe sy haar werk doen, het haar ook al teen die Valke vasgeloop.

Selfs die hoogste hof in die land, naamlik die konstitusionele hof, het vroeër in ’n meerderheidsbeslissing ’n verdoemende uitspraak gelewer waarin bevind is dat sy in kwader trou in die Reserwebank-geding opgetree het.  

Die DA het vroeër ’n klag teen Mkhwebane by die parlement ingedien. Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het die mosie goedgekeur om ’n geding in te stel om van Mkhwebane ontslae te raak.

Die COVID-19-pandemie het egter die proses om ’n parlementêre ondersoek teen haar in te stel vertraag.

Volgens Netwerk24 het die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone, dié week gesê die Speaker het in ’n brief aan haar verklaar dat sy moontlik vandeesweek nog sal sê wie die lede van die paneel is wat moet besluit oor Mkhwebane se toekoms.

Sy kan slegs met ’n tweederdemeerderheidsbesluit deur die parlement in die pad gesteek word.

Volgens die OB is die parlementêre proses wat goedgekeur is om ontslae te raak van die hoof van ’n artikel 9-instelling ongrondwetlik. Die DA hou vol dat die grondwet wel ruimte bied vir die verwydering van ’n OB op grond van wangedrag, onbevoegdheid of die onvermoë om sy of haar werk te doen.

.............

“Die DA het vroeër ’n klag teen Mkhwebane by die parlement ingedien. Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het die mosie goedgekeur om ’n geding in te stel om van Mkhwebane ontslae te raak.”

.............

In Julie 2019 het die Konstitusionele Hof in die Absa/Bankorp-saak bevind dat die OB se ondersoekmodel in geheel gebrekkig is, dat sy oneerlik was oor haar afsprake tydens die ondersoek en dat sy ’n aantal valshede tydens die verloop van die regsgeding voorgehou het.

Daar was selfs al ’n versoek deur die organisasie, Accountability Now, dat daar oorweeg moet word om haar van die rol van advokate te skrap.

Sy is egter geensins van plan om uit haar eie te bedank nie. Die afgelope week se uitspraak kan dalk een van die laaste spykers in Mkhwebane se doodskis as openbare beskermer wees, het Netwerk24 dié week berig.

Verskeie politieke partye, burgerlike organisasies en kommentators het al haar kop geëis en gevra dat sy haar tas pak en loop, maar sy skop met alle mag vas. Die OB sê sy sal hof toe gaan om haar pos te behou, indien nodig.

Die burgerregtegroep, AfriForum, het ook al gevra vir haar ontslag en beskou haar as onbekwaam vir die amp.

Sy en president Ramaphosa het ook al koppe gestamp in die hof, maar ook dáár het sy op haar baadjie gekry ‒ die hof het bevind sy het haar mandaat oorskry met ’n bevinding wat sy teen Ramaphosa gemaak het oor ’n skenking vir sy verkiesingsveldtog as ANC-president.

Lees ook 

Openbare Beskermer klou soos ’n neet aan haar pos

Hof gee openbare beskermer nóg ’n hou op die ken

Openbare beskermer se loopbaan in weegskaal na onbeholpe uitsprake

Openbare beskermer wil hof toe

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top