Laai die elfde Tuin van Digters se volledige program hier af!
Die huldiging van die digter Antjie Krog, die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutbundel, ’n optrede deur die Nederlandse digter, skrywer en teatermaker Babs Gons, die amptelike bekendstelling van Ons Klyntji, besprekings van nuwe bundels van onder andere Antjie Krog, Adam Small, Philip de Vos en Loit Sōls en uitsonderlike musiektoonsettings van gedigte...
Dit is van die hoogtepunte by vanjaar se Tuin van Digters wat op Vrydag 7 en Saterdag 8 Oktober 2022 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind.
Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) klink ook op 7 Oktober ’n glasie op 25 jaar van SASNEV en op die Breytenbach Sentrum se ondersteuning van die Nederlandse taal in Suid-Afrika.
Tuin van Digters, wat oor die jare gevestig is as die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word in samewerking met NB-Uitgewers weer moontlik gemaak danksy ’n ruim bydrae van die Dagbreek Trust. Die Akkoordent word vanjaar geborg deur die ATKV en die Woordtent in die digterstuin deur Boland Cellars.
Antjie Krog, gevierde Afrikaanse digter, skrywer, joernalis en akademikus wie se werk in verskeie ander tale vertaal is, vier in Oktober ook haar 70ste verjaardag. Verskeie gespreks- en musiekitems om haar, haar skryfwerk en prestasies te vier, is op vanjaar se program. Sy sal ook self aan van die gesprekke deelneem.
Die tema van vanjaar se Tuin van Digters is *ek-is-jy-is. (’n Individu se menswees is geanker in ’n netwerk van menseverhoudinge: ek is omdat jy is; ons is omdat julle is.) Die groepkunsuitstalling, eensaam tesame, sluit hierby aan.
Ander hoogtepunte sluit in:
- ’n Spesiale viering van Antjie Krog in ’n program oor vertaling deur PEN Afrikaans wat insluit Jolyn Phillips, Pieter Odendaal, Shirmoney Rhode, Mbongeni Nomkonwana, Frazer Barry, Deniel Barry en Jerzy Koch.
- Antjie Krog gesels met van haar vertalers oor onder meer wat maklik en wat moeilik van vertaling is.
- ’n Gesprek deur Louise Viljoen met die digter en Hertzogpryswenner Johan Myburgh oor sy bundel, Narreskip.
- Gesprekke deur Daniel Hugo met die bekende Poolse akademikus Jerzy Koch oor Koch se tweede bundel in Afrikaans, Polkadraai, en met die sielkundige en visuele kunstenaar Gerhard Barkhuizen oor sy debuutbundel Smee, wat onder meer handel oor die wisselwerking tussen woord en beeld.
- Diana Ferrus se Mengelmoesdigters gaan liefhebbers van die digkuns op ’n dinamiese en kleurryke reis neem van die lewe self en jou noop om jou eie identiteit te ondersoek.
- Die digter Grant Jefthas praat saam met leerlinge van die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington oor sy moeilike lewenspaadjie tot waar hy uiteindelik sy roerende debuutbundel AfvlerkMens die lig kon laat sien.
- Dr. Thérèse Hulme, ’n bekende narratiewe terapeut, gesels oor haar boek Praat jy! Idees vir die skep van ’n skryfkultuur in die klas en oor die jongmense wat sy oor ’n tydperk van sewentien jaar aan die skryf gekry het in van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe in die Wes-Kaap.
- Daar is in die Cloete-gemeenskapsgalery animasies uit Antjie Krog se Mankepank deur kunstenaar Willem Samuel, vergesel deur ’n keuse uit sy comics en fantasie-kuns.
- Wat musiek en gedigte betref, vertel Catherine du Toit en José Dias in woord en musiek oor onder meer ongehoorde liefdes en gapings tussen woord en wording.
- Dan is daar Universum: ’n interaktiewe luisterervaring van die Afrikaanse mis Die Nuwe Verbond, ’n toonsetting van Antjie Krog se o Brose Aarde, ’n misorde vir Nuwe Verbond deur komponis Antoni Schonken.
- Protea Boekwinkel het weer ’n boeketafel met die jongste bundels en boeke en ’n besoek aan The Book Traders, die boekwinkel in die Breytenbach Sentrum, is ’n verrassing vir elke boekliefhebber.
- Frazer en Deniel Barry bring hulde aan Antjie Krog met nuwe toonsettings van haar gedigte, en Momo, al die pad uit die woestyn, sorg vir diep dink met haar stem en ukulele.
- Die afsluitingskonsert deur Riku Lätti en bekende en onbekende en verrassende musikante en digters gaan spesiaal wees.
Kaartjies kos R150 per persoon vir Vrydag se program, R250 per persoon vir al Saterdag se aanbiedings en R350 per persoon vir ’n tweedagpakket met Vrydag sowel as Saterdag se aanbiedings. Studente met ’n geldige studentekaart betaal R100 per dag en opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang.
Laai die elfde Tuin van Digters se volledige program hier af!
Die volledige program is ook op die webwerf beskikbaar by www.breytenbachsentrum.co.za.
Besoek ook die Breytenbach Sentrum se Facebookblad en Instagram vir inligting.
Besprekings
Jeannine du Frene: 061 156 5386
H/v Burger- en Malherbestraat, Wellington
Navrae
Francois Lötter, hooforganiseerder: francois@breytenbachsentrum.co.za
Lees ook:
Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)
Buro: MvHDie vertaler ontbind, verklaar en bewaar ’n ruimte tussen tale