Twee lande, twee skole: Marni Bonthuys deel haar ervarings as migrant

  • 0

Marni Bonthuys (foto: verskaf)

.........
Sedert 2019 woon ek en my gesin met een voet in die Belgiese Kempen en een in Somerset-Wes, Suid-Afrika.
.........

Sedert 2019 woon ek en my gesin met een voet in die Belgiese Kempen en een in Somerset-Wes, Suid-Afrika. Ons situasie het ontstaan na die maatskappy waarby my man in Suid-Afrika gewerk het, toegemaak het en hy ná maande van werkloos- en moedeloosheid ’n pos in België gekry het. Sy werk is met die Europese Unie (EU) geaffilieer. Een van die voordele is ’n privaatskool net om die hoek van sy kantoorgebou waar internasionale werknemers van organisasies met ’n EU-affiliasie se kinders gesubsidieerd kan skoolgaan. Die skoolgeld is aan die duur kant, selfs in Europese terme, en dis nie ’n skool wat ons andersins maklik sou kon bekostig nie. Dit is ’n redelik groot skool met leerlinge van voorskool tot die finale jare van “middelbare school” (hoërskool). Volgens die skool se webtuiste is daar 53 verskillende nasionaliteite onder die leerlinge en onderrig word in 22 tale verskaf. Daar is drie taalseksies in elke jaar: Nederlands, Engels en Frans. Die veronderstelling by hierdie skole is dat jy kan aanspraak maak op taalhulp in enige amptelike taal van die EU en geakkommodeer moet word. Dit help veral die leerlinge wie se ouers vir internasionale maatskappye werk om maklik heen en weer te skuif. Kinders wie se ouers vir werk migreer, is volgens die skool se webtuiste een van hulle teikengroepe. My man se kollegas is dan ook van óral in die EU, dikwels in soortgelyke lewensomstandighede as ons s’n. In die eenheid waar hy werk, is daar Spanjaarde, ’n Oostenryker, Franse, Russe en ’n Italianer met ’n Japannese vrou. Die buitelanders se kinders is almal in hierdie internasionale skool.

My eie werk is in Suid-Afrika en ons huis, hond en harte is ook steeds hier. My kind gaan hier na ’n goeie staatskool wat ons situasie al sedert 2019 akkommodeer. Ook in Suid-Afrika, sê die skoolhoof van hierdie Bolandse skool, sien hulle al meer ouers en kinders in soortgelyke omstandighede as ons s’n. Ten spyte van die welwillendheid in beide skole, bring Covid egter ’n sakvol nuwe logistieke uitdagings vir ons en ander migrante soos ons. Ons sit afwisselend in Suid-Afrika en België vas tydens die talle reisbeperkings. My man se kollegas beleef soortgelyke omstandighede – die Rus se vrou moet onbepland by ’n ginekoloog in België kraam na alles al in Rusland gereël is vir die bevalling, en die Italianer se xenofobiese Vlaamse bure bel die polisie vir rusverstoring omdat sy twee kleuters skynbaar te raserig raak in die piepklein Belgiese woonstel waar hulle noodgedwonge heelwat meer tyd tydens die inperkings moet spandeer as in die verlede.

........
Wat my opval, is die impak van algemene welvaart én goeie staatstrukture (van werkloosheidversekering tot kindersorg) by my kind se twee skole tydens die Covid-tydperk. Die Somerset-Wes-skool is ’n staatskool, maar in ’n welaf area geleë. Die skool het ongetwyfeld toegang tot meer hulpbronne as die deursnit- Suid-Afrikaanse skool.
........

Wat my opval, is die impak van algemene welvaart én goeie staatstrukture (van werkloosheidversekering tot kindersorg) by my kind se twee skole tydens die Covid-tydperk. Die Somerset-Wes-skool is ’n staatskool, maar in ’n welaf area geleë. Die skool het ongetwyfeld toegang tot meer hulpbronne as die deursnit- Suid-Afrikaanse skool. Tydens die streng grendelstaat van Maart tot Julie 2020 stuur die skool huiswerk via die klas se WhatsApp-groep en Teams. Om egter aanlyn klasse aan te bied, is moeilik, laat die skoolhoof via stemnotas weet. Dit is ’n skool waar baie ouers beide werk (in hierdie tyd tuis) en dus nie kinders heeldag kan bystaan nie. Laerskoolkinders in die vroeë grade het uiteraard nog baie hulp nodig as hulle alleen agter ’n skerm sit. Verder het nie almal goeie internettoegang of toestelle waarop kinders kan les kry nie, veral as Ma én Pa skielik tuisrekenaars moet inspan vir werk. Dit blyk verder dat talle ouers by die skool in hierdie tyd hul inkomste verloor. Die skool het ’n Covid-fonds begin wat sommige ouers gehelp het met kos en elektrisiteit – vergeet van selfoondata en tablette of rekenaars. As die skool op aanlyn klasse sou steun, sou ’n onbillike, ongelyke situasie dus binne die skool ontstaan waar sommige kinders baie meer onderrig ontvang as ander.

.........
Die skool het ’n Covid-fonds begin wat sommige ouers gehelp het met kos en elektrisiteit – vergeet van selfoondata en tablette of rekenaars. As die skool op aanlyn klasse sou steun, sou ’n onbillike, ongelyke situasie dus binne die skool ontstaan waar sommige kinders baie meer onderrig ontvang as ander.
.........

In Julie 2020, steeds in Suid-Afrika, begin ons kind en sy maats teruggaan skool toe – halwe klasse van 15 kinders, drie ure per dag, geen pouse nie. Party ouers word gevra om soggens voor skool begin, kinders se hande te ontsmet, temperatuur te help meet en seker te maak dat hulle mooi soet in hulle banke sit tot klas agtuur begin. Ek help by my kind se graad 2-klas. Die verskrikte gesiggies agter die maskers, oë soos pierings (“Tannie, my nommer is 36” as jy die gemete temperatuur moet opskryf) sal my altyd bybly. Ons jare lange huishulp se dogter, wat skoolgaan in dieselfde dorp as my kind, se skool bly egter toe. En hulle kry ook nie juis huiswerk nie. Familie en vriende in ander Suid-Afrikaanse dorpe se kinders gaan net elke tweede dag skool.

Met ons terugkeer na België, waar my kind sy laaste kwartaal van 2020 voltooi, is die skoolsituasie merkbaar beter – ook by Belgiese staatskole. Die Belge, wat enorm streng was (en steeds is!) wat die res van die samelewing betref – restaurante, cafés en haarkappers was in totaal sewe of agt maande toe tussen Maart 2020 en Maart 2021 – probeer die skole so normaal moontlik hou. Die skoolure, klasse, pouses en skoolsport gaan dus soos gewoon aan (in 2020 by my kind se skool ook maskerloos), met die uitsondering dat oueraande aanlyn plaasvind. Hierdie bestendiging van skole is natuurlik ter wille van die kinders, maar verder om die ouers te help, aangesien kinderoppassers daar ’n rariteit is en die meeste ouers beide werk. Kinderopvang (voorskoolse sorg) bly ook sover moontlik oop. Vakansies is egter telkens langer, veral in tye wanneer infeksiesyfers hoog is. Na die Desembervakansie van 2020 is daar ’n paar positiewe gevalle in my kind se skool en hy kry dus vir twee weke klas via Teams. Dit word heel terloops aangekondig met ’n e-pos. In Vlaandere, en veral waarskynlik in die huise waar hierdie skool se kinders grootword, is internettoegang en rekenaars nie die probleem wat dit in Suid-Afrika is nie. Die aanlyn lesings werk verbasend goed, hoewel ek uiteraard ook vir twee weke graad 2 in Vlaandere bywoon en snags my werk moet probeer inhaal.

In 2021 begin die Suid-Afrikaanse skole aansienlik later in die jaar as beplan as gevolg van die tweede golf. Die meeste maak darem wel hulle deure oop. Dis nog halwe skooldae by my kind se skool, maar die reëls verslap effe en die kinders kan byvoorbeeld weer sport beoefen en ‘n bietjie rondhardloop tydens liggaamsopvoeding in skooltyd. Pouses is egter nog van die baan af, ’n groot teleurstelling vir die meeste kinders. Junie–Julie 2021 sien ons hoë infeksiesyfers in Suid-Afrikaanse skole, ook in my kind s’n. Na die derde golf afplat teen Augustus–September 2021, gaan my kind uiteindelik weer terug na ’n normale 6-ure-skooldag, danksy ’n fondsinsameling vir enkelbanke, skenkings deur ouers en harde werk deur die skoolbestuur. Ons huishulp se kind gaan egter steeds net elke tweede dag skool.

........
Na die derde golf afplat teen Augustus–September 2021, gaan my kind uiteindelik weer terug na ’n normale 6-ure-skooldag, danksy ’n fondsinsameling vir enkelbanke, skenkings deur ouers en harde werk deur die skoolbestuur. Ons huishulp se kind gaan egter steeds net elke tweede dag skool.
........

In my kind se Belgiese skool is daar sedert Desember 2021 die Covid-skooluitbrake wat daar in Junie–Julie 2021 in Suid-Afrika was. Covid-tuistoetse is in Januarie 2022 oral in Belgiese kruidenierswarewinkels teen 3,50 euro (ongeveer R60) beskikbaar – in skrille kontras met die R600 wat ek middel-Desember 2021 nog vir ’n “rapid antigen test” by ’n deurrytoetssentrum in Suid-Afrika betaal het! My kind se skool versoek dus dat kinders na die Desember–Januarie-vakansie ’n selftoets moet doen voor hulle skool toe kom. Die hele gesin moet voorts in kwarantyn sit as boetie of sussie blootstelling aan positiewe gevalle in ’n klas gehad het. Met die hoogs aansteeklike Omikron wat oorgeneem het as dominante variant in België, beteken dit dat die hele gesin kort-kort toegesluit is – erg frustrerend as jy meerdere kinders in die skool het en in ag neem dat gesinne ook moet kwarantyn as ouers ’n hoërisikokontak gehad het. Onlangs word dié kwarantynreël darem grotendeels deur die regering geskrap en die aanbeveling is toenemend dat burgers ná ’n Covid-blootstelling van ’n selftoets gebruik maak. My kind se skool raai ouers selfs aan om álle kinders elke Sondagaand te toets deur van ’n selftoets gebruik te maak.

Die skooljaar van 2022 is sover baie meer normaal in Suid-Afrika. Ek kan selfs na my kind se sport op die paviljoen sit en kyk en hoef nie meer in die straat buite die skool soos ’n vink oor die heining te hang nie. Ons huishulp se kind gaan nog stééds net elke tweede dag skool. Die koerante beloof dat alle Suid-Afrikaanse skole binnekort na “normaal” sal terugkeer. Mens wonder wat hierdie “normaal” sal behels – pre-Covid normaal? As dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland het ek op 16 Maart 2020 laas voor ’n klas gestaan. Alles het tot op hede aanlyn geskied in my departement en ek begin hoop verloor dat ek ooit weer die energie van in-persoon lesings met groot groepe studente gaan beleef. Wat ook al die toekoms mag inhou, die pandemie het die ongelykhede in onderwys in ons land onderstreep, maar ook geïllustreer dat daar nie hier in Suid-Afrika, soos elders, die sosiale strukture bestaan om die skooldeure oop te hou as die nood druk nie.

Lees ook:

Emigrating to the Netherlands: “So much is so different.”

Emigrasie na Nederland: Wat jy moet weet

Hoe wend voorskoolse Afrikaans-Nederlandse kinders kodewisseling aan?

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

"Brussel sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê"

Lees ook op LitNet:

’n Donker wolk en ’n nuwe skooljaar: ’n gesprek met ’n skoolhoof van Kuilsrivier

COVID-19: die perspektief van Marni Bonthuys, ’n Suid-Afrikaner in België

Storieboeke vir "vrylees" net so belangrik as Wiskunde in Nederlandse skole

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top