Jana Rau is aanvaar om ballet by Brussel Internasionale Ballet te gaan studeer. Sy gesels met Cliffordene Norton oor haar tyd in die Belgiese stad.
Jy het onlangs in België gewoon. Wat was jou eerste indrukke van Brussel toe jy van die vliegtuig afklim?
Brussel is een van die mooiste Europese stede waar ek nog ooit was. Toe die vliegtuig land in Brussel, toe sien ek hoe al die geboue se dakke so ’n oranje kleur het. My eerste paar dae in Brussel was wonderlik. Een ding wat definitief uitstaan, is hoe gelukkig almal is wat in Brussel bly. Die vibe is so relaxed and gelukkig. Almal is so vriendelik en die straatjies so mooi! Daar is baie mooi parkies orals, wat vir my baie anders was as Suid-Afrika.
Wanneer het jy Brussel toe getrek? Waarom het jy daarheen getrek en hoe lank het jy daar gewoon?
Ek het begin September 2017 na Brussel toe getrek. Ek was daar tot omtrent middel-2018. Ek was in Brussel, want ek was deel van die preprofessionele afdeling by Brussel Internasionale Balletskool (BIBS).
Vertel asseblief meer oor jou werk by die balletskool.
By BIBS was ek in ’n klas saam met omtrent 15 ander internasionale studente. Om deel te wees van die skool was baie harde werk. Ons het geoefen van nege-uur die oggend tot partykeer sewe-uur in die aand.
Ons het elke dag ’n twee uur lange balletklas gehad. Dan sou ons vier ander klasse hê. Die klasse het gewissel tussen Pilates, stretching, cardio, Russian character, pointe work, repertoire, contemporary, en pas de deux. Ons het vreeslik hard geoefen en dit was ’n baie streng en kompeterende omgewing. Die onderwysers was baie streng en het ons gedruk om beter te word elke dag. Ek het baie goeie vriende en vriendinne gemaak by die skool; almal was baie vriendelik en dit was so interessant om van almal se lande te leer. Ons hoofafrigter, Anderson Santana, kon ’n klomp tale praat en sou Japannees praat met die Japannese meisies, Spaans met die Spaanse mense en soms Vlaams met my. Maar oor die algemeen was die klasse in Engels of Frans.
Het jy enige interessante geregte geëet?
Toe ek en my ma in Brugge was, toe eet ons mossels en potato chips met mayonnaise! Dit was so lekker! Ek het altyd vir my Belvita biscuits en bagels gekoop by die Delhaize, want ons kan dit nie in Suid-Afrika kry nie. Ek het ook altyd stroopwafels gekoop.
Het jy enigiets nuuts oor die Belgiese taal en kultuur geleer?
Ek het geleer dat die Belgiese Frans ’n bietjie anders is as die Frans wat hulle in Frankryk praat. Dit was baie interessant. Ek’t ook geleer dat Vlaams baie nader aan Afrikaans is as Nederlands.
Die Belgiese mense is baie behulpsame mense en hulle kan Engels praat, so dis ’n lekker plek vir toeriste om heen te gaan. Die Belgiese openbarevervoerstelsel is so maklik! Ek was mal daaroor om die metro en busse te vat. Die busdrywers sou ook altyd vir almal hallo sê – dit was baie oulik.
Watter alledaagse verskille is daar tussen hoe mense in Brussel leef in vergelyking met hoe Suid-Afrikaners leef?
Die mense in Brussel het ’n baie meer rustige lewenstyl. Almal daar vat die openbare vervoer in plaas van karre soos in Suid-Afrika. Mense in Brussel sit baie in die parkies as hulle ’n lunch break het.
Ek dink dis iets wat Suid-Afrikaans graag wil doen. Dit is baie veilig in Brussel. Party nagte dan sou ek eers 1 vm huis toe gaan met die laaste metro. Ek het so veilig gevoel om op my eie terug te stap na my huis toe. In Suid Afrika sal dit nooit gebeur nie!
Die mense in Brussel is ook baie environment-friendly met hoe hulle lewe. Hulle recycle alles en koop skaars plastieksakke vir inkopies. Ek het ook agtergekom hoe vinnig die kassiere is by die supermarkets. Jy moet so vinnig jou inkopies in jou sakke inpak anders sal jy ’n vuil kyk kry van die mense agter jou in die ry. Haha!
Wat was jou gunsteling- Belgiese dorp/stad/besienswaardighede?
Ek is mal oor Brussel en dit sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê. Maar ek was ook mal oor Dinant! Ek het die trein soontoe gevat en dit was ’n pragtige plek!
Sal jy graag weer in België wil woon?
As ek môre na België toe kan trek, sal ek! Ek hoef glad nie eers twee keer daaroor te dink nie. Hopelik kan ek eendag permanent daar bly!
Wat was jou hoogtepunte van jou Belgiese besoek?
Een van my hoogtepunte was definitief al die mense wat ek ontmoet het. Ek het ook Frans geleer by Alliance Française, wat baie fun was.
Grand Place is vir my so mooi – dit was definitief ’n hoogtepunt. Ek is ook mal oor treine, so om op train rides te gaan was vir my vreeslik lekker op die naweke! Nog ’n hoogtepunt was die sneeu. Ek’t nog nooit sneeu gesien nie, so om dit in Brussel te sien was ’n dream come true. België is naby aan ander Europese plekke, en dit was regtig lekker om na ander Europese lande soos Frankryk en Nederland toe te gaan – so maklik. En natuurlik die balletskool. My tegniek het so verbeter en ek was so sterk en soepel toe ek daar was.
- Foto’s: verskaf, tensy anders aangedui.
Lees ook
Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar
Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak
Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring
Buro: MvHBelgië-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson