
’n Bordjie verwelkom jou by die ingang van die dorpie
Baie mense ken die bekende Camino de Santiago en Santiago de Compostela wat Spanje, Portugal en dele van Frankryk deurkruis. In Suid-Afrika het verskeie pelgrimstogte ook die afgelope dekade of wat verrys. Dis egter in die valleie van Nieu-Meksiko in Amerika dat Chimayó my tot stilte dwing – en heel onverwags my eie pelgrimstog ontketen.
Ons reis onderweg na Sante Fe om Kersfees saam met vriende wat in Amerika woon, deur te bring. Hulle ry voor ons, wys dinge langs die pad uit en ons stop ook selfs een maal om mekaar met hande vol sneeu te takel. Kinderlik in ons vriendskap – dankbaar vir die wedersiens.

El Santuario de Chimayó se kapel, een van die belangrikste pelgrimsoorde in die Verenigde State
Met die herdenking van die verlies van ouers rondom hierdie tyd, is almal op hul eie manier in hul koppe op ’n heilige nostalgiereis onderweg, maar heel onwetend dat hierdie reis sal verdiep in ’n klein Meksikaanse kapel. Só reis ons deur die landskap.

Die uitleg van die perseel
Ons vriendin het iewers gelees van die mooi kapelletjie wat in 1816 deur Don Bernardo Abeyta gebou is, en ons besluit om ’n kort ompad te ry om dit te besoek.
Die pad na Chimayó kronkel deur die voorheuwels van noordelike Nieu-Meksiko, verby katoenbome wat in die wind wieg en kleihuise wat lyk asof hulle al eeue lank hier waghou, maar terselfdertyd in die landskap wegsmelt. Die huisies van klei staan bekend as adobe-huise. (Dink aan die PDF-program.)
Skaars 45 km noord van Santa Fe, voel Chimayó minder soos ’n bestemming en meer soos ’n stil onderbreking van tyd. Die bord wat jou buite die dorp verwelkom, vertel van ’n weeftradisie van meer as 250 jaar en dat die dorpie se oorspronklike uitleg van ’n nedersetting om ’n beskermbare vierkant behou is.
Daar in ’n vallei omring deur die Sangre de Cristo-berge ontvou ’n verhaal wat lank voor toerisme begin het en lank nadat ons almal onder die grond is, steeds sy magiese towerstaf oor besoekers sal swaai
In die hart van die dorpie staan El Santuario de Chimayó, een van die belangrikste pelgrimsoorde in die Verenigde State. Die klein adobe-kapel is wêreldwyd bekend vir sy tierra bendita – heilige grond wat volgens oorlewering genesende eienskappe het.
Die heiligdom is in 1970 as ’n nasionale historiese landmerk aangewys.

Die standbeeld getiteld Three cultures
Voor jy by die geboue kom, staan ’n standbeeld links van die sementpaadjie: drie figure, een Anglo-Amerikaanse soldaat met ’n oop boek in sy hande; een Indiaan met sy hande in die lug; en een Hispano-boer op sy knieë en sy hand oor sy oë. Dis getiteld Three cultures en verteenwoordig die diverse kulture van die streek, maar lyk ook asof die eerste mense van hierdie grond onderwerp is aan Europese kultuur en geloof.
Die standbeeld sal nog lank by my bly.

Eem van verskeie ikone met foto’s van gestorwe geliefdes wat die pelgrims met hul togte hier teen die mure aanbring.
Mens word weer herinner dat Chimayó se verhaal lank voor die kapel gebou is begin. Die streek is reeds in die laat 1600’s deur Spaanse koloniste gevestig en baie van die families wat vandag hier woon, kan hul afkoms oor verskeie geslagte naspoor. Chimayó is ’n plek waar die verlede nie ’n museumstuk is nie, maar deel is van die alledaagse lewe – met sy blydskap én smart.

Die rivier is ’n rustige teenwoordigheid
Die landskap self dra die spore van hierdie geskiedenis. Smal paadjies, besproeiingskanale (acequias) en lae klipmure getuig van ’n manier van lewe wat baie nou verbind is aan die grond. Hier word tyd gemeet aan seisoene en familiegebeurtenisse, nie aan horlosies nie. Jy voel soos ’n inkyker uit ’n ander era.

Die pragtige boogvorms met kruise in staan teen die Santa Cruz-rivier.
Ons is die eerste twee motors in die kapel se parkeerarea. Die winterlandskap het al die bome van hul blare gestroop; die gras is vaal geryp; die lug is vaalblou met wolke wat strepies teen die hemel teken. Dis koud; jy trek jou baadjie se kraag hoog op.
Ons lees dat duisende pelgrims jaarliks hierheen kom, veral gedurende Heilige Week – daardie week voor Paasnaweek. Party stap vir dae, party kom kaalvoet, ander in stilte. Hulle dra hul pyn, hul hoop en hul dankbaarheid saam, en laat dit alles by die heiligdom agter. Van die byna 300 000 besoekers per jaar, vergader sowat 30 000 gedurende die Heilige Week hier.

Die kenteken van die kammossel is oral.
Buite teen die klipmure met sy talle foto’s van oorledenes vir wie die pelgrims hul laaste hulde kom bring het, pryk die kammosselskulp: die internasionale ikoniese simbool van die pelgrimstogte. Dis ’n praktiese hulpmiddel as rigtingwysers onderweg na die eindbestemmings op die pelgrimstogte én ook bemoediging vir pelgrims. Die heiligdom word “die belangrikste Katolieke pelgrimsentrum in die Verenigde State” genoem en die heilige grond is ’n groot rede hiervoor.
Eenkant in ’n buitegebou lees ons oor die heilige grond. Mense vryf dit liggies op dele van die liggaam wat genesing benodig, meng dit met water vir ’n pap, of gebruik dit as deel van gebed vir leiding en krag. Ander neem ’n klein hoeveelheid huis toe as ’n geestelike herinnering. Wat almal gemeen het, is die wete dat dit nooit geëet of gedrink word nie. Die waarde lê nie in die grond self nie, maar in die geloof en bedoeling waarmee dit benader word.
Lank voor Spaanse setlaars aangekom het, het die Tewa Pueblo-mense die gebied bewoon en geglo dat die warmwaterbronne naby die Santa Cruz-rivier genesende kragte het. Nadat die warmwaterbronne opgedroog het, het die tradisie voortgeduur, met die oortuiging dat die genesende geeste in die aarde self gebly het. Die inheemse geestelike oortuigings het mettertyd met Katolieke geloof vervleg en die grond langs el pocito (die klein put) is deur gelowiges op hul lywe aangewend vir fisiese of geestelike genesing.
Daar is twee kapelletjies op die perseel: die kleiner Santo Niño de Atocha (Heilige Kind van Atocha) en Santuario de Nuestro Señor de Esquipulas, algemeen bekend as El Santuario de Chimayó op die Potrero-plein. Langs die muurtjie staan ’n standbeeld, The pilgrims’ priest – Casimiro Roca, die eerste pastoor van die kapel wat vir 40 jaar pelgrims hier verwelkom het.
By die kapelingang is ’n bord wat sê dat jy nie foto’s in die kapel kan neem nie; jy moet jou foon afskakel en “met God verbind. Bid, iemand luister.”
Net voor ons die groot houtdeur oopstoot, staan ’n granietgrafsteen met die woorde: “In memory of all innocent victims of abortion.” Teen die muur ’n klein teken dat die kerk tussen 1813–1816 gebou is en dat 2025 die Jubileum-jaar was.
Ten spyte van sy internasionale reputasie, voel El Santuario opvallend nederig. Die dik mure hou die wêreld se geraas buite en die sagte lig binne skep ’n gevoel van rus wat lank ná jou vertrek by jou sal bly.
Dis regtig asof tyd hier gaan stilstaan het en jy binne ’n tydkapsule vertoef.
Die klipvloer is koud en die enigste hitte kom van die glashouers met kerse met prente van monnike, die dissipels, Jesus en Maria. Teen die mure is reuse- gekerfde houtmuurpanele wat in ryk, bont kleure geverf is. Die swaar bankies uit donkerhout skraap oor die sementvloer as jy per ongeluk daarteen stamp. Die plafon se dik balke laat voel dit asof jy in die romp van ’n horingoue skip is.

Die mosaïek van St Francis van Assisi bring kleur aan ’n vaal dag.
Dan sit jy daar in stilte. Hoe wonderlik om alleen hier te kan wees met net jou vriende in die bankies om jou.
Elkeen is vasgevang in sy eie gedagtes, maar daar is geen swaarheid in die atmosfeer nie. Die reuk van kersrook en -was vul jou neusgate saam met die reuk van meubelpolitoer.
Ons ken mekaar se stories; mekaar se hartseer; mekaar se blydskap. Om dit hier in ’n geboutjie van meer as 210 jaar met hartsmense te kom vier, ’n voorreg. Een wat nie een van ons daardie oggend besef het ons sou meemaak nie.
Die besoek word onverwags iets baie persoonliks en wag nie om te hoor of jy gelowig is of nie. Dit raak jou dieper as wat jy besef.
Ons het ook gehoor een van die mees tasbare uitdrukkings van Chimayó se kulturele erfenis is sy beroemde weefwerk. Dit word wêreldwyd geprys vir hul ingewikkelde patrone en natuurlike kleurstowwe. Maar agter elke stuk skuil ’n verhaal: vaardighede wat van ouer na kind, van hand tot hand, oor dekades heen oorgedra is.

’n Besoek aan ’n plaaslike weefwinkel
’n Besoek aan ’n plaaslike weefwinkel is meer as net inkopies doen, vertel die vriendelike assistent ons by die kapelwinkel. “Dis ’n ontmoeting met lewende geskiedenis. Die ritmiese klank van die weefstoel, die reuk van wol en kleurstowwe en die trots waarmee wewers hul werk verduidelik is bewys dat hierdie kunsvorm nie net oor estetika gaan nie, maar oor identiteit en volharding.”

Een van hulle matte
Ons kan egter nie nog ’n mat huis toe dra nie en soek ’n ander soewenier. Gelukkig kry ons vinnig een: gedroogde brandrissies wat jy heel óf fyngemaal kan koop.

Die Chimayó-brandrissie is die tweede van voor.
Dis natuurlik nie enige klein dorpie wat sy eie brandrissie het nie. Maar Chimayó is ook nie enige klein dorpie – soos ons pas uitgevind het – nie. Die Chimayó-brandrissie (Capsicum annuum word gekweek van 300 jaar oue saadjies. Chimayó is ’n geregistreerde handelsmerk. Die brandrissie het ryk, aardse geure en is ’n regte bekbrandertjie, maar rokerig en soet op jou tong.
By die speserymark in Sante Fe ’n dag later verseker die handelaar ons dat “geregte wat hiermee gegeur word, dra iets van die landskap in hul smaak – die son, die grond en die hande wat dit verbou het. Dit is kos wat nie haastig voorberei of geëet word nie, maar stadig geniet word, dikwels in geselskap van familie en vriende.”
Die brandrissie verander in ’n dieprooi as dit ryp is en is sowat 10 tot 15 cm lank. Dis amper swartrooi as dit gedroog is. Ons koop ’n paar vir ons Kersmaal en ons vriende koop vir hul koskas in Texas, maar ons gaan dit nie deur Amerikaanse doeane waag met landbouprodukte in ons tasse nie.
Chimayó raak jou op ’n ander manier as wat jy gedink het: Dis nie ’n besienswaardigheid wat jy op Instagram wil plaas nie; dis ’n klein heiligdom wat jy in jou hart wil bêre vir later.
Die herinneringe aan daardie spesiale tye – en etes – saam met vriende was ons pelgrimstog net voor Paasfees.
Kitsfeite
- As jy van die pragtige weefwerk wil koop, loer by Ortega’s Weaving Shop by Plaza Del Cerro 53 in op die dorpie, of loer by https://ortegasweaving.com/.
- Die Chimayó-brandrissies is geredelik deur Nieu-Meksiko beskikbaar en ons kom dit ’n paar maal in restaurante en winkels daar teë. Dit bring daardie besoek aan die kapel terug in jou geestesoog as jou tong so aan die brand is! Maar dis soet en rokerig en dié geheime bestanddeel in posole (Meksikaanse sop wat tydens groot vakansiedae soos Kersfees en Nuwejaar bedien word) en carne adovada (’n Meksikaanse varkskouerbredie met brandrissie, knoffel, oreganum en asyn).
Foto’s: Clifford Roberts

