Abu Dhabi is ook smulpaap-hemel

  • 0

Die sjefspan by Grand Hyatt Abu Dhabi Hotel & Residences Emirates Pearl wat ons elke aand met ander disse verras, maar hierdie heerlike halwe lam wat op rys met speserye en gedroogde appelkose bedien is, was só lekker dat ek nie eers nagereg kon bestel nie.

  • Foto’s: Maryke Roberts en verskaf
......
Die woestynbewoners het duisende jare gelede al die kuns van smaaklike etes met min – maar uitstekende – bestanddele ontdek.
......

“Min mense reis na Abu Dhabi vir die kos,” hoor ek ’n kollega wysneusig sê. Ek glimlag net in my mou, want dié stad spog met 48 Michelin-gids-restaurante en waar op aarde wil jy lekkerder dadels of koffie kry, of ’n beter samesmelting van die speserye van die Ooste en die Midde-Ooste, skryf Maryke Roberts.

Die woestynbewoners het duisende jare gelede al die kuns van smaaklike etes met min – maar uitstekende – bestanddele ontdek.

Harees is ’n grofgemaalde dis met koring of bulgarkoring, vleis en speserye. Trooskos op sy beste. Machboos of Kabsa is ’n rysgereg met vleis of vis en baie geurig omdat dit onder meer naeltjies, neut en swartpeper bevat – amper soos breyani. Die geregte koop jy by klein stalletjies regoor die stad en baie mense eet laasgenoemde met hul regterhand; sommige geklee in deftige pakke of in tradisionele drag – lang wit of swart klede met tulbande om teen die woestynson beskerm te word.

Ons hotel is self ’n smulpaap-hemel met allerhande lekker Midde-Oosterse geregte.

My eerste dadel word amper saam met my hotelsleutel by Grand Hyatt Abu Dhabi Hotel & Residences Emirates Pearl gegee. Daar is ’n klein bakkie by ontvangs en die ritueel word so dat ek elke oggend as ek uitstap ’n dadel in my kies stop en saans as ek terugstap by die hotel in weer. Ek wonder elke keer hoekom ek dit doen; ek is mos ’n erkende nie-dadel-eter ... Of is ek?

Saans is die sjefs van die hotel baie opgewonde om my en my Suid-Afrikaanse kollega te sien, omdat ons “so opgewonde oor hul kookkuns is” en hulle verras ons elke aand met heerlike tradisionele Midde-Oosterse geregte – maar kook vir 20 mense, nie vir twee nie!

Makdous is ’n tradisionele Levantynse (Siriese, Libanese, Jordaanse, Palestynse) gereg wat bestaan uit klein gevulde eiervrugte, gevul met ’n mengsel van okkerneute, knoffel en brandrissies en dan in olie gepreserveer.

My eerste kennismaking met gahwa (Arabiese koffie) wat in klein koppies saam met ’n vet, stroopsoet dadel bedien word, is by die souk of tradisionele mark. Die gange is koel en êrens in die agtergrond speel tradisionele musiek wat jou kan laat glo jy is iewers in die woestyn in ’n bedouin-tent.

Ek kan nie genoeg kry van die reuk van speserye nie: oorvloedig uitgestal met klein bekers of reuse-skeplepels sodat jy heeltemal oorboord sal gaan en net aanhou skep; bedwelmd deur die reuk. Die gawe stalletjie-eienaar los my in vrede om my koffie te drink en die dadel stadig te kou, terwyl ek in die winkeltjie rondkyk.

Kruie en speserye waarvan ek nog net in oorsese resepteboeke gelees het kan in die souk per gram gekoop word.

Die woestynhitte put mens gou uit en dan is jy nie altyd lus vir nog koffie nie. Só leer ek laban ken. Dis amper soos karringmelk, net meer souterig en die ideale teenvoeter vir die hitte en die groot dors. Dit word van joghurt gemaak en is natuurlik vol anti-oksidante ook.

Jy kan dit in bykans elke restaurant bestel, maar die supermarkte het verskeie handelsmerke en ek het ’n botteltjie of twee in my handsak saamgedra, terwyl ek die stad ontdek het.

Die stad het sy eie dadelmark naby die Minamark, maar my reise neem my nie soontoe nie. Tyd is net altyd te min!

Ek is verheug om in die Abu Dhabi Mall by Bateel in te draf. Dis ’n dadel-liefhebber se hemel en bestaan sedert 1936. Dadels word volhoubaar en organies geboer en jy kan elkeen van die verskillende dadels wat met neute en versuikerde vrugte gevul is, proe. Ek is mos nie ’n dadel-liefhebber nie, maar besluit om nie die assistent se geesdrif te demp nie en ook om een vir die span (my geliefde en my pa wat tuis moes bly) te neem ...

Bateel is ’n dadelliefhebber se hemel en bestaan sedert 1936. Jy kan elkeen van die verskillende dadels wat met neute en versuikerde vrugte gevul is, proe.

Sy vertel hulle het sewe verskillende dadelvariëteite: Ajwa wat nie te soet is nie, maar lekker kou soos ’n toffie en supersag is; Khidri is soeter; dit bied minder kou-genot maar proe soos rosyntjies en het ’n karamelnasmaak; Kholas is soeter as die vorige twee en sappig en word dikwels met Arabiese koffie bedien; Medjool – een van die gewildste dadels met karamel-en-vanielje-geure; Segai wat die minste soet en toffierig van almal is; Sokari wat sy Arabiese verklaring van “suiker” gestand doen; en Wanan – donker en soet en heerlik vir selfs dié nie-dadelliefhebber!

Ek koop pragtige geskenkpakkies vir die manne in my lewe en kies koers na die Magnolia Bakery in die Dubai Mall, Bloomingdale’s Home Store. Hulle bemarking sê: “The cupcakes that made Magnolia Bakery famous around the world. Adorned with our signature buttercream swirl, each of our cupcakes is made from scratch using the finest ingredients.”

Ek het gelukkig te veel dadels geproe en drink net koffie, maar die geure uit die kombuis wil-wil my verlei. Dis ook ongelooflik om te sien hoe almal eers hul kolwyntjies vir sosiale media afneem voor hulle daaraan byt. Soos ’n kelner een maal opgemerk het: “Mevrou, die kamera eet eerste ...”

In een supermark – waar ek net vir bottelwater gaan soek het – gaan staan ek by die dromme vol neute. Dit word geweeg en in dik plastiek verpak. Ek kyk heel belangstellend na die pryse en die kassiere vra of ek iets wil proe. Ek sê aanvanklik nee dankie, want my middagete was groot, maar sy skep ’n hopie vol pistasieneute in my hand en vinnig ’n lepelvol okkerneute. Dis vars en krakerig en my mond water sommer tussendeur.

Pistasieneut Halawa is heerlik in elke kies!

Danksy dié verleiding, peusel ek die res van my verblyf aan amandels, pistasieneute, pekanneute en okkerneute, wat soveel goedkoper is daar as hier in Suid-Afrika, en by elke supermark kan jy per gram koop soveel soos jou begroting en lus toelaat.

In een van die ander supermarkte sien ek ’n hele stapel sjokolade so groot soos ’n huis en mense wat, asof effe besete, hope in hul mandjies pak. Ek vra een van die winkelassistente en sy verduidelik dis nou die bekende Dubai-sjokolade wat peperduur is. Dis gevul met kataifi, daardie dun fillodeeg, en ’n romerige pistasieneut-en-sesamsaadroom (tahini). Dit het verlede jaar internasionale bekendheid verwerf toe dit op TikTok aandag getrek het. Dis deur Fix Dessert Chocolatier se Brits-Egiptiese stigter, Sarah Hamouda, uitgedink om haar swangerskapluste vir fillodeeg en pistasieroom te stil. Sy doop haar uitvinding “Can’t get knafeh of it” en voor sy haar oë uitvee, wil die hele wêreld dit hê.

Nou is dit ook in wit- en donkersjokolade-variasies beskikbaar, maar die oorspronklike uit hul fabriek is steeds net in die Verenigde Emirate beskikbaar. Groot sjokoladevervaardigers maak nou hul eie weergawes. Ek gooi ook twee in my mandjie, maar toe ek die omskakeling na rand doen, dop my oë amper om!

Ek is so al proeënde deur die stad, maar dis twee Michelin-ster-ervarings wat uitstaan. Die Michelin-restaurantgids is in 1900 deur die twee Michelin-broers, Andre en Edouard, gestig om meer toeriste aan te moedig om die pad te vat deur ’n klein rooi gidsboek te gebruik. Deur meer te ry sou meer motoriste natuurlik meer Michelin-bande koop.

Fouquet’s is so Frans soos kan kom – in die hartjie van die Midde-Ooste!

Dit was aanvanklik gratis, maar teen 1920 is die gids te koop aangebied. Daarna word daar ook lyste van hotelle en restaurante ingesluit, wat in verskillende kategorieë opgedeel is. Die gewildheid van die restaurantafdeling laat die gedagte van geheimsinnige eters (die restaurantinspekteurs van vandag) posvat en teen 1926 word die eerste sterre toegeken.

Teen 1931 word die stelsel van 0, 1, 2 en 3 sterre ingestel en teen 1936 word die kriteria vir die sterranglys gepubliseer. Vandag word meer as 30 000 restaurante jaarliks beoordeel.

Die eerste is Brasserie Fouquet’s Abu Dhabi by die Louvre Abu Dhabi Museum op Saadiyat-eiland (vertaal as “Geluk”-eiland en heel gepas as jy hier eet). Die dekor is duur en luuks en die spyskaart ’n wonderlike weergawe van ’n Franse bistro.

Die Louvre Abu Dhabi se interessante kurwes met die stad wat in die verte wink, is van die Fouquet’s-bistro se stoep te sien.

Beide instellings – Louvre Abu Dhabi en die restaurant – deel ’n diep Paryse siel en vier die kunste en kultuur in ’n ongeëwenaarde omgewing. Die restaurant het in oorleg met die sjef Pierre Gagnaire, wat al verskeie driester-Michelin-toekennings ontvang het, ’n spyskaart saamgestel wat geïnspireer is deur die gevierde Fouquet’s Paris, wat in 1899 gestig is. Vanaf die panoramiese terras van die bistro is daar ’n ongeëwenaarde uitsig oor die golwe van die Persiese Golf en kan jy al die bouwerk aan die Guggenheim oorkant die straat gadeslaan.

Sjef Gagnaire is bekend vir sy “brasserienomie”-konsep, waar Franse klassieke disse weer sexy gemaak word, vertel die kelner aan ons tafel.

Daar is al die klassieke Franse disse op die spyskaart en ek is verbaas dat my gashere van die museum almal pasta of vis bestel. Dis dié plek om fyn Franse kookkuns te ervaar. My oë gly oor die spyskaart se kammossels, Wagyu-biefstuk, steak tartare en ander, maar steek by klassieke bief bourguignon met truffel-kapokaartappel vas.

Ek steek by klassieke bief bourguignon met truffel-kapokaartappel op die Fouquet’s-spyskaart vas.

Ek maak ’n grappie oor my skoonma wat die beste bief bourguignon maak, maar oortuig kan word dat ’n restaurant wat saam met ’n Michelin-ster-sjef gewerk het, se weergawe beter is ... Daarby kom gestoomde groenbone met knoffel en ek is in die hemel. Al wat kort, is ’n glas Franse rooiwyn, maar my gashere drink nie.

Ek eet inderdaad elke laaste happie van my ryk vleisgereg met die vertroostende romerigheid van die aartappel met truffels. Was dit beter as my skoonma s’n? Wel ...

Vir nagereg is die Profiteroles almal se gunsteling, maar ek sien by die tafel aan die ander kant van die restaurant hoe Crêpes Suzette in Grand Marnier geflambé word en ek bestel dit. Die natuur speel saam en die hemele verklaar agter die jong kelner se skouers. Die geure van lemoen en bruinsuiker vul die lug en ek sien vele jaloerse kyke!

Die Crêpes Suzette word daar by ons tafel in Grand Marnier geflambé.

Crêpes Suzette is lemoenerig, soet en warm.

My ervaring by Fouquet’s was onvergeetlik. Met die son wat oranjewang oor die see hang en die hitte van die vlammetjie waaroor my Crêpes Suzette teen die skemer gemaak is, ’n herinnering wat ek nog lank sal saamdra.

Maar ek is nou maar trots Suid-Afrikaans en sien vir weke uit om by Suid-Afrika se vierde en jongste sjef wat met ’n Michelin-ster spog, Thinus van der Westhuizen, te gaan eet. Thinus volg op die hakke van Jan Hendrik van der Westhuizen, Jean Delport en Connor Toomey en ná hom Nick Honeyman.

Trots Suid-Afrikaans: Philani Ndlovu, ook ’n Pretorianer soos sjef Thinus van der Westhuizen, poseer graag saam met my voor die restaurant.

Thinus is die uitvoerende sjef by 99 Sushi Bar & Restaurant in Abu Dhabi. Die restaurant hang as’t ware oor die kant van die Four Seasons Hotel Al Maryah-eiland en kyk uit oor die Persiese Golf wat soos ’n luislang tussen die eilande deur kronkel.

.......
Die kelner arriveer en sê vriendelik: “Goeiemiddag, Maryke, en welkom ...” Ek val byna van my stoel af. Philani Ndlovu – ook ’n Pretorianer soos Thinus – lag tog te lekker.
.......

Thinus het met die toekenning van sy ster in 2022 in ’n onderhoud met die Michelin-gids en Asië se digitale redakteur Pearl Yan vertel dat om ’n Michelin-ster te ontvang “nogal ’n romantiese storie is, want in 2018 en 2019 het ons ’n Michelin-ster-restaurant in die groep genaamd 99 KŌ Sushi Bar in Spanje gehad. Dit was die vlagskiprestaurant van 99, so dié ster was een van ons spogpunte.

“Toe gebeur Covid, en die restaurant – wat baie klein in die omakase-styl was – moes hul deure sluit. Toe ons dus die ster vir ons Abu Dhabi-restaurant ontvang, was dit soort van ’n erkenning vir die groep en vir die eienaars.

99 Sushi Bar & Restaurant kyk oor die Persiese golf en die stad wink in die verte.

“Ek was ekstaties omdat ek nie Spaans is nie en dit het harde werk van my kant gekos om aan die begin ’n naam in die groep te maak en te bewys van watter stoffasie ek gemaak is.”

Hy kom verwelkom my by die deur en wys my na my tafel wat uitkyk oor die waters en wolkekrabbers. Die kelner arriveer en sê vriendelik: “Goeiemiddag, Maryke, en welkom ...” Ek val byna van my stoel af. Philani Ndlovu – ook ’n Pretorianer soos Thinus – lag tog te lekker.

Ek het ’n jaar of wat terug met Thinus gesels toe hy sy ster ontvang het en hy kom gesels voor die eerste dis arriveer met my. Sy pa Kobus was ’n meganiese ingenieur in die militêre mag en met drie kinders wat hy deur die skool moes kry, het hy ’n spyseniersbesigheid begin. Thinus en sy sibbe Veronique en Pieter het gereeld ingespring om te help.

Bo en onder: Sjef Thinus se kos is amper te mooi om te eet. Hy gebruik baie Oosterse geure en maak ook tradisionele Japannese soesjidisse.

Thinus sê die dissipline en die kameraderie onder personeel in die groot kombuise was die perfekte vermenging van alles waarna hy gestreef het. Later in sy hoërskoolloopbaan gaan help hy sy pa se vriend Stefan Jamneck in sy restaurant Transkaroo in Grootbrakrivier uit en dis hier waar die sjefsgogga behoorlik byt. Hy studeer later onder die bekende kospersoonlikheid Francois Ferreira, wat intussen oorlede is, by die Eden School of Culinary Art in George danksy die deposito en aanmoediging van Stefan.

“Dis eers toe my pa die lywige studierekening in die pos ontvang dat hy uitgevind het sy seun swot nou by die kookskool!” vertel hy laggende. Hy studeer ook by City and Guilds International en Steyns Culinary School in Pretoria. Hy werk regoor die wêreld en leer meer van Asiese geure en kombineer dit met Franse kookkuns.

Die een na die ander prentjiemooi dis word voor my neergesit.

Toe tref die noodlot hom. In Desember 2014 kry hy ’n epileptiese aanval terwyl hy vir die Kersvakansie by sy ouers kuier. Breinkanker word by hom gediagnoseer. ’n Operasie om ’n gewas te verwyder, bestraling en ’n vier maande herstelperiode sit sy planne vir ’n wyle op ys.

Thinus laat hom egter nie onderkry nie en is gou weer terug agter die kospotte. Die geleentheid om in die Midde-Ooste te gaan werk kom toe die eienaars van die Anantara Bazaruto Island Resort and Spa, waarheen hy na sy herstel teruggekeer het, hom nooi om by enige van hul internasionale restaurante te gaan werk. Hy kies die Qasr Al Sarab by Anantara in Abu Dhabi, toe die vlagskiphotel van die Anantara-groep. Hy werk ook by Westin Mina Seyahi in Dubai voor hy twee jaar later die mes by 99 Sushi Bar in Abu Dhabi opneem.

99 Sushi Bar & Restaurant se nageregte is klein kunswerkies en mens sal nooit sê vrugte en meringue kan so mooi wees nie.

Die een na die ander prentjiemooi dis word voor my neergesit. Thinus kom so halfpad deur die maal en vra of ek gelukkig is en ek vra hoe hy só getrou kan bly aan outentieke Japannese kookkuns in ’n restaurantgroep in Spaanse besit. “Ons gaan deur baie moeite om die regte produkte uit dele van Japan te kry, die regte tegnieke is ook baie belangrik. Die groep self is al 19 jaar oud en deur oefening en ondervinding maak ons seker dat egte Japannese produkte op elke menu vertoon.”

99 Sushi Bar & Restaurant se skemerkelkies is blykbaar legendaries in die stad en dis dié plek om die son te sien ondergaan.

Volgens die Michelin-gids se beoordelaars is “daar geen tekort aan finesse en presisie in die goed-gekonstrueerde en pragtige disse by hierdie sjiek restaurant nie”. Thinus is effe verleë, maar sê dis vir hul span ’n groot eer om te hoor, want almal werk ongelooflik hard in ’n stad met baie kulinêre kompetisie.

Thinus se pa is in 2021 oorlede – voor sy seun sy Michelin-ster verower het. Thinus kyk ver oor die see uit. “My pa se liefde vir kos het op my afgedruk én die vermoë om hard te werk. Ek weet hy sou ongelooflik trots op hierdie ster gewees het, en ek sou reken hy sou my aanmoedig om deur te druk vir die volgende ster.”

Uiteindelik kan ek ook sien hoe die gewilde Michelin-stertrofee lyk!

As dit van my afhang, verdien Thinus sommer nog twee sterre vir ’n onvergeetlike maaltyd. En ek haal my hoed af vir die wonderlike Suid-Afrikaanse wyne op die wynlys. Ek kan my indink wie se invloed dit was.

Ek wou nog by die stad se oudste restaurant Bu Tafish, wat in 1968 geopen het, uitkom, maar die tyd het my ingehaal. Dié restaurant is saam met ’n paar ander in 2023 as “Urban Treasures” aangewys. Gelukkig was een van die ander Urban Treasures Tripoli Sweets en daar kon ek darem uitkom. Dis een van die stad se gewildste plekke en hier kan jy tradisionele Libanese soetgoed koop. Ek ken Kunafa of knafeh, ’n tradisionele Midde-Oosterse nagereg van gerasperde fillodeeglae wat in soet stroop gedoop is en met lae soet kaas of room gevul word. Dit eet ek alles self op, want dit kan nie per vliegtuig reis nie!

Ten spyte van al die stappery in Abu Dhabi, sit my broeke agt dae later beslis stywer om my middellyf ... Die stad is beslis vir smulpape!

Kitsfeite:

Lees ook:

Gaan verken die wonderlike oud en nuut van Dubai

Hier respekteer almal mekaar

Unieke uitstalling in Midde-Ooste fokus op Afrika-kuns

Openbare ruimtes word met kuns versier

Salsify, die see en die magiese getal ses

Die Palm House Boutique Hotel and Spa is ’n statige dame

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top