......
“Ontlaering van Afrikaans verg ’n voortdurende bewustheid van die grense wat wit bevoorregting (in al sy verskuilde vorme) daarstel.”
......
In Januarie woon Azille Coetzee Ontlaering 2020 by en sy skryf hier oor haar ervaring.
Soveel Afrikaanssprekende studente wat jonk is, swart of bruin is, queer is, vrou is, stel vandag nie daarin belang om die Afrikaanse letterkunde te bestudeer nie. Sommige Afrikaans-departemente aan universiteite moet op veldtogte gaan om studente te werf. Die studente dink Afrikaanse literatuur is simpel, of hulle vind dit vervreemdend, onderdrukkend, en onmoontlik om hulself en hul eie leefwêrelde daarin te herken.
Die Afrikaanse letterkunde as establishment verteenwoordig steeds ’n laer, in formasie getrek om dit wat binne is te beskerm teen dit van buite. ’n Strewe na tydlose suiwerheid, gekenmerk deur vrees vir dit wat vreemd is, melankolie oor alles wat altyd reeds anders is.
Vandag, in ’n wêreld waar die verloop van tyd meedoënloos versnel, en waar ’n soeke na suiwerheid altyd verdag is, is daar ’n argument te maak dat ontlaering van die Afrikaanse letterkunde ’n voorvereiste is vir die voortlewing daarvan. Of dan ten minste vir die morele regverdigbaarheid daarvan, en die relevansie natuurlik.
Dit is met hierdie vraagstuk dat ons (’n groepie akademici en studente) Oos-Vrystaat toe reis in Januarie 2020 vir die tweede Ontlaering-kongres by die QwaQwa-kampus van die UV. Die organiseerders van Ontlaering (waarvan ek nie een is nie) probeer platforms skep waardeur die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde herverbeel kan word deur die Afrikaanse letterkunde te situeer in ’n globale konteks, oor fisiese en metafisiese grense heen. Hulle vra: Hoe kan ons Afrikaanse letterkunde aanbied vir nuwe generasies studente op ’n manier wat die skanse van die laer deurbreek? Hoe word die studie van Afrikaanse letterkunde in verhouding gebring met ander geskiedenisse, tale, literêre tradisies en invloede? Hoe kultiveer ons die soort gemak met beweging, fragmentasie, interne verskil en teenstelling waardeur die Afrikaanse letterkunde sal oopgaan eerder as toe?
Die ligging van die kongres is versigtig gekies om die desentralisering van kennisproduksie te bevorder, om ander soorte denke te stimuleer as waarby ons sou uitkom in Pretoria of Stellenbosch, om die kongres toeganklik te maak vir ’n ander publiek. Die QwaQwa-kampus van die UV is geleë in Phuthaditjhaba, ’n deel van Moshoeshoe se eertydse beroemde Basotho-koninkryk, oorspronklik bewoon deur die San. Phuthaditjhaba beteken “ontmoetingsplek van die stamme” en is histories ’n plek van vermenging en beweging oor grense. Hier is entanglement (in hierdie konteks “verweefdheid”) die mees gepaste intellektuele modus, sê Jared McDonald, visedekaan van Geesteswetenskappe by QwaQwa. Dit gaan daaroor om onsself en die kennis wat ons genereer te verstaan in interafhanklike en dinamiese relasie met wat anders en Ander is, verduidelik hy – sonder om te probeer om die onteiening, uitwissing en geweld van die verlede en die hede te verbloem of te vergeet. QwaQwa is ’n voormalige tuisland van die Suid-Afrikaanse apartheidstaat.
......
“Om oor ontlaering te dink is anders as om te ontlaer. En makliker.”
......
Phuthaditjhaba is ure weg van die lughawe af. Dit is duur om daar uit te kom; jy moet ’n motor hê of huur. ’n Week voor die kongres het deelnemers wat die afstande en gepaardgaande koste onderskat het, begin onttrek. Dit is net ’n klein groepie van ons wat uiteindelik daar uitkom, meestal wit en middelklas. Ontlaering van Afrikaans verg ’n voortdurende bewustheid van die grense wat wit bevoorregting (in al sy verskuilde vorme) daarstel. Die organiseerders neem hulle voor om volgende jaar se kongres in Mowbray in Kaapstad te hou.
Vir die twee dae van die kongres woon ons almal in Clarens. Om die kampus te bereik ry ons soggens vir ’n uur lank deur die Golden Gate Nasionale Park. Die landskap is onheilspellend mooi – elektriese kleure en oeroue rotsformasies van ’n wetenskapfiksiefilm. Daar is tekeninge van die San in die grotte en dinosouruseiers in die klip.
Die kongrestema hierdie jaar is “Transnasionale Pedagogiek: Afrikaans & X – wat is die simboliese, realistiese, en politiese implikasies daarvan om Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem te bedink en onderrig?” Die praatjies is uiteenlopend as gevolg van al die onttrekkings. Die fragmentasie word ’n tema wat die verskillende referate saambind.
......
“Die laaste vraag waarby ons stilstaan, is of dit belangrik is vir studente en leerders om hulself in die voorgeskrewe tekste te herken.”
......
’n Spreker daag ons uit om te vra wat gebeur as ons aan die Afrikaanse letterkunde in risomatiese verbintenis met ander letterkundes dink, eerder as ’n totaliserende, verdringende penwortel. Ontlaering verg ’n aanvaarding van onsekerheid, dubbelsinnigheid, interafhanklikheid en onstabiliteit, ’n omarming van swerwerskap en verplasing.
Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is geheuewerk, die ontwrigting van wit nostalgie. ’n Spreker lê vir ons uit hoe Heidi, die Afrikaanse kinderprogram van ouds, ’n oorklanking was van ’n Japannese anime-reeks van die 1970’s (gebaseer op ’n Switserse kinderboek van die laat 19de eeu). Die dinge wat so suiwer wit en Afrikaans voel, is dit selde.
’n Ander spreker ondersoek Ronelda Kamfer se bundel Grond/Santekraam in die konteks van die kultuurstudie van die Swart Atlantiese en Indiese oseane. Sy lees dit as ’n bundel wat ontstaan nie netjies binne die grense van die Afrikaanse letterkunde nie, maar vanuit die beweging, verplasing, geweld, vermenging en veelvuldigheid van die Transatlantiese slaweroetes as ruimte van gekreoliseerde kulturele konstruksie. ’n Mens sien die invloed van Antjie Krog op Kamfer se werk, maar so ook die komplekse genealogieë en ryk argief van transnasionale swart denke. Die werk van ontlaering vra watter geskiedenisse en betekenisse ons verdring wanneer ons Afrikaanse letterkunde eenvoudig situeer binne die amptelike weergawe van die kultuurgeskiedenis van die (wit) Afrikaner.
......
“Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is geheuewerk, die ontwrigting van wit nostalgie.”
......
Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde verg ernstige, literêre omgang met die woede in die werk van skrywers soos Kamfer, die skrywers wie se swartheid, vrouwees en weiering om stil te wees in sigself ’n transgressie verteenwoordig in die libidinale ekonomie van die laer. Ontlaering is nie net ’n projek wat witheid uitdaag nie, maar ook manlikheid. Die verdringende penwortel is fallies; in die laer van Afrikaanse letterkunde geld die wet van die (wit) vader. Ontlaering van die Afrikaanse letterkunde en die pedagogiek vereis ’n verqueering, die uitdaging van rigiede binêre teenstellings, ondermyning van die hiërargieë.
Ons kyk die rolprent Die stropers (2018) (gemaak deur Etienne Kallos), waarin ’n Oos-Vrystaatse boeregesin ’n dwelmverslaafde seun aanneem van die strate van Johannesburg af, waar hy ’n bestaan gemaak het deur sekswerk te verrig. Daar is van meet af ’n sterk seksuele energie tussen hierdie aangenome seun en die boerseun van die huis, selfs terwyl hulle meeding vir die eersgeborene se reg om die grond te erf. So lê die film die arbitrêre aard van die eersgeboortereg bloot, die broosheid/vreemdheid van die heteroseksuele manlike bloedlyn, die lukraakheid van die godgegewe reg op grond, die kunsmatigheid van die genderbinariteite, en die geweld wat die instandhouding van patriargale mag onderlê. Die fliek speel af in dieselfde deel van die Oos-Vrystaat waar ons ons bevind vir die kongres; op die skerm flikker dieselfde sondeurdrenkte landskap as die een wat ons omring.
’n Spreker wonder hardop of Marlene Van Niekerk se Agaat, benewens die feit dat dit as die laaste plaasroman getipeer word, nie ook die laaste Afrikaanse literêre roman is nie. Ons verstaan nie meer genoeg oor die ruimtes van Suid-Afrika om dit te kan allegoriseer nie. As van Niekerk dit nie meer kan doen nie, wie kan? Die argument is elegant gestruktureer en aanloklik in die eenvoud daarvan. Maar ons dink daardeur. “Oh please,” sê iemand later die aand, met ’n glas wyn in die hand, net omdat dit nie nou meer moontlik is om weer Agaat te skryf nie, beteken dit nie ons skryf nie ander dinge nie. Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde vereis jeugdige bravade en ongehoorsaamheid.
......
“Ontlaering is nie net ’n projek wat witheid uitdaag nie, maar ook manlikheid.”
......
Die uitdagings verbonde aan die onderrig en dosering van Afrikaanse letterkunde op skole en universiteite word deurentyd bespreek. Die laaste vraag waarby ons stilstaan, is of dit belangrik is vir studente en leerders om hulself in die voorgeskrewe tekste te herken. Baat die tieners van die Noord-Kaapse platteland spesifiek by Anzil Kulsen se jeuglektuur waarin hul eie konteks en gemeenskappe weerspieël word? Nee, is een argument. Die funksie van literatuur is om ons na ander wêrelde te neem, om iets oor die universele menslike kondisie uit te beeld waarmee iedereen identifiseer, onafhanklik van plek en tyd, klas en ras. Maar baie van die jong dosente stem nie saam nie. By studente en leerders wie se subjektiwiteit histories radikaal afwesig is in die wêrelde van die Afrikaanse kanon, gaan jy nooit ’n liefde vir Afrikaanse letterkunde kweek deur die “tydlose” classics voor te skryf nie. Die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde in Suid-Afrika vandag word irrelevant en oorbodig as dit nie kan slaag in die relativering van die wit subjek wat aanspraak maak op universele ervaring nie. In die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is identiteitspolitiek onvermydelik.
Hierdie week is ek terug in Kaapstad, nog ’n laer. Om oor ontlaering te dink is anders as om te ontlaer. En makliker.
Lees meer oor Ontlaering 2018:
Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde
Lees meer oor transnasionalisme:
Suid-Afrikaanse letterkundes en transnasionale bande: in gesprek met Louise Viljoen
Winternachten fokus al hoe meer op transnasionale gesprek in die letterkunde