Blaauwklippen: huldeblyk aan ’n statige dame

  • 0

Die Blaauklippen-wynplaas buite Stellenbosch

Op 9 November 2023 het die historiese Blaauwklippen-wynplaas buite Stellenbosch 341 jaar oud geword. Agt vriende bly in die historiese herehuis, lê smiddae op die grasperke en kyk na die Jonkershuis en hoe die vierde geslag uile – almal na vorige eienaars vernoem – in die reuseakkerbome sit en slaap; een oog oop om seker te maak die snaakse wesens op die grasperk oorweeg nie boomklim nie.

Verlede jaar het die plaas se leefstylaanbieding ’n dramatiese gedaanteverwisseling ondergaan: Die voormalige deli is in ’n familierestaurant, De Blaauwe Kitchen, verander; die proelokaal is omskep in ’n Italiaans-geïnspireerde proehuis wat deur die gewilde Cucina Di Giovanni-restaurantgroep bedryf word; daar het ’n oulike fietspark vir kinders bygekom; en die geboutjie daar neffens verkoop onder meer tuisgemaakte roomys en daaragter kan jy by die fietswinkel inloer. Die plaas is ook twee maal per jaar die tuiste van Kamers/Makers.

Die katedraal by Blaauwklippen

Die historiese herehuis wat uit 1789 dateer en die Jonkershuis wat nog ouer is en uit 1720 dateer, is nou alles deel van die luukse akkommodasie-aanbieding. In die veld pronk ’n pragtige glaskatedraal waarteen die wynlande en Hottentots Hollandberge afgeëts word.

Ek en my geliefde slaap heel voor in wat ek vermoed destyds die reusesitkamer kon wees.

Vyf maande later gaan al daardie geskiedenis in een kort nag in vlamme op. Die herehuis en Jonkershuis; afgewitte geboue van bykans drie eeue oud wat tot as en bourommel verneder word.

Blaauklippen ná die verwoestende brand

Ek wonder of die uile ongedeerd kon ontsnap en waar hulle die vyfde geslag sal grootmaak, want hierdie statige dame sal weer uit die as moet verrys.

Dis ongelooflik hoeveel van ons historiese Kaaps-Hollandse herehuise die afgelope twee eeue deur vloed, vuur en die vagevuur van ’n aardbewing tot in hul fondamente geskud is, maar weer opgebou is om trots in hul volle glorie te skitter.

Ek het daardie Vrydagmiddag – wat nou soos gister voel – op die stoep van die Blaauwklippen-herehuis gesit, my voete in die sonnetjie, my lyf in die koelte. Agter pryk die jaartal op die mooie gewel. Hierdie dame het skaars vyf jaar gelede ’n nuwe jas gekry.

’n Glas van die plaas se De Blaauwe Klip 2018 in my hand. Die gelag en gesels van sewe baie goeie vriende in my ore van iewers elders in die huis waarvan al die luike en vensters oopgegooi is om die somer en die lewe en vriendskap in te laat om hande te neem en te tiekiedraai op ingeleefde vloerplanke van meer as drie eeue oud.

Die plaas se wynmaker, Narina Cloete, het vroeër die middag toe sy ons die wyn laat proe het opgemerk dis ’n wonderlike somerrooiwyn as hy verkoel word tot 18 grade Celsius, en met sy donker bessie- en sigaarboksgeure, die “perfekte wyn vir ‘serious game dishes’”. Hoewel sy wildsvleis bedoel het, het ons klomp besluit dis dié wyn vir ernstige speletjies en eetgoed, want kaarte en ander speletjies is altyd in die kattebak as ons klomp weggaan.

Sorgeloos kuier ons daar, maar intens bewus van die herehuis, Jonkershuis en wynkelder weerskante, anderkant die grasperk se erfenis; dat ons deel in iets baie besonders. Die historiese plaas net buite Stellenbosch is een van die land se oudste wynplase, het Chrisma Kok, die plaas se akkommodasiebestuurder, vertel toe sy laatoggend gehelp het om bagasie aan te dra en kamers aan te wys.

“Alhoewel die gewel se datum 1780 reflekteer, is die Jonkershuis vroeër gebou. Geskiedenis vertel dat daar eers ’n ander woning was voor die Jonkershuis, maar ongelukkig bestaan dit nie meer nie. Die Jonkershuis is ’n langwerpige gebou wat in fases ontwikkel het. Die huidige kamer 7 en 8 was die oorspronklike kombuis en daar was ’n buite-bakoond buite die gebou wat ook nie meer bestaan nie. Spore van die kombuis kom gereeld voor met stukkies Delft-skerwe wat elke nou en dan in die tuin voor kamer 7 verskyn.

“Een van die kamers naaste aan die herehuis is gebruik as ’n koetsstoor en skuur. As die verf van die buitemuur afgeskuur sou word, kom die beeld van ’n vorige ovaal ingang te voorskyn waar skuurdeure voorheen gesit het. Aan die einde van die 1800’s is dié spesifieke kamer ook gebruik as ’n klein plaasskool vir die kinders op die plaas en in die omgewing.

Blaauklippen voor die verwoestende brand

“Die gebou is ’n rare en waardevolle voorbeeld van ou Kaapse argitektuur van die 1700’s,” het HN Vos, die historiese argeoloog en konsultant, in 2002 geskryf in ’n verslag “De Blaauwe Klippen, Historical Survey and Structural Research of an 18th Century Farm Yard”.

Chrisma voeg by: “Volgens oorvertelling het Sybella (Issie) Krige, later die vrou van die bekende staatsman Jan Smuts, ’n rukkie voor haar huwelik in 1897 hier onderwys gegee.”

Die Jonkershuis is geleë langs die Bloukliprivier. Dis in 1953 bedreig toe die rivier in vloed afgekom het. Hierdie vloedmerk, wat agter die swembadhuis aangedui is, is presies 70 jaar later in Augustus 2023 met nog ’n verdere 2 cm oortref toe nog ’n Kaapse vloed die rivier in ’n modderige monster verander het wat geen respek vir walle en argitektuur of mense getoon het nie. “Gelukkig is geen skade aan die Jonkershuis of herehuis verrig nie.”

Ons het almal ’n diep dankbaarheid jeens Moeder Natuur gevoel, want hierdie ou geboue wat so mooi gerestoureer is, het vir my ’n teenwoordigheid, iets wat groter is as ons.

Chrisma het ’n paar van ons dié vloedlyn gaan wys en op pad terug na die imposante herehuis verder vertel: “Soos jy afstap na die herehuis, lê die ou oorspronklike kelder aan die linkerkant. Dit dateer uit 1707. Dit is opgerig deur die tweede eienaar, die Franse Hugenoot Guillaume Niel (Willem Nel) wat tussen 16901722 die plaas besit het. Dié gebou is eers as ’n skuur gebruik en is later in ’n wynkelder omskep, waaruit Willem in 1709 – vir die eerste keer op rekord – wyn geproduseer het.”

Die tweede gebou langs die ou kelder dateer uit 1820 en is deur Frans Rossouw, die eienaar op daardie stadium, opgerig in ’n tyd toe die brandewynproduksie vergroot is.

“Teen 1818 is die plaas vergroot deur die byvoeging van sogenaamde ophouhuurgrond (quitrent). Ophouhuur is ’n grondbelasting wat gehef word op bewoners van vry of gehuurde grond, in plaas van dienste aan ’n hoër grondbesit-owerheid, gewoonlik ’n regering of sy toewysers.

“Hierdie grond was voorheen in staatsbesit en slegs vir weidingsgebruik toegestaan. In 1833 is nog van hierdie grond bygevoeg. Die maak van wyn en brandewyn het al hoe belangriker op die plaas geword en ’n tweede wynkelder is gebou. ’n Toename in brandewynproduksie het waarskynlik die uitbreiding van die kelderkapasiteit genoodsaak, aangesien die belastingopgawes van 1825 ’n halwe leaguer brandewyn, 70000 wingerdstokke en 30 leaguers wyn aandui.”

En voor sy groet, het sy ons onder die akkerboom laat staan om die pragtige uilgesin met jong kuikens in die akkerboom bo ons koppe te sien. “Tans is ons in die vierde generasie uile, maar vermoedelik was daar wel meer generasies voor hulle waarvan ons nie weet nie. Ek het die eerste twee vernoem na die eerste eienaar, Gerrit Jansz Visser en sy vrou Jannetjie. Die tweede is vernoem na hulle kinders, Hendrick en Alida, derde Johannes en Magriet en nou het ons oorgegaan na die tweede eienaar, Willem en Johanna (haar alternatiewe naam, sy is eintlik Jeanne de la Batte). Hulle broei elke jaar in verskillende ou eikebome op die historiese werf en in die skemer, as jy gelukkig is, kan jy hulle sien hop op die gras, op soek na iets om te knibbel. Hulle is nie bang vir mense nie en sal salig in die boom sit, selfs terwyl mense op die gras staan.”

Bakstene lê soos Lego-blokkies in hopies

Dis vroeg Sondagoggend toe ’n vriend my die foto’s van Blaauwklippen se brand op sy foon wys. Hoe vlamme gulsig aan daardie mooie gewels lek; hoe die mure klap en skiet en die bakstene wat daardie dik mure gevorm het, soos Lego-blokkies in hopies val. Antieke vensterrame en luike wat soos papier tot vaalwit as brand.

’n Reuseakkerboom wat omval en waarvan die wortels wat daardie boom vir twee eeue in die grond gehou het, soos ’n vuurwerk gloei.

Aanvanklik wil ek glo hy kan nie ernstig wees nie. Dit is die herehuis waar ons net nou die dag om ’n houttafel met gietysterstoele gesê het dit lyk of jy gestileerde video’s op Instagram kyk, met wit gordyne wat saggies in die briesie bol, nostalgiese musiek as agtergrond en skaduwees wat patroontjies teen ’n Kaaps-Hollandse gewel teken. Amper te goed om waar te wees!

Die voorstoep waar ons teen sononder elkeen sy verbeelding vrye teuels gegee het oor hoeveel mense voor ons teen skemer daar gesit het. Hoe die voëls al rasend verbyvlieg in V-formasies teen pienk, oranje en blou hemele; Tafelberg wat in die verte wink. Ons dink ons in hoe donker dit moes wees as die son gesak het en die berge wat miljoene jare oud is en voorheen as beskermend gesien is, omdat hulle klein lappies aarde beskerm het, nou in die donkerte wegsmelt.

Ek moet myself telkemale tydens ons verblyf knyp om te besef ons bly waarlik in ’n nasionale gedenkwaardigheid. Ons eet by ’n reusetafel en jou verbeelding gaan op loop oor wie al die afgelope twee eeue só saamgekuier het om die tafel. Jy is ewe skielik ook sommer van jou nietigheid en vlietende bestaan bewus. Ons sal lankal onder die grond wees en ander vriende sal hier op die stoep sit en na die uile staar.

Soggens gooi jy die swaar luike oop en die sonskyn lek tot teen jou voete. Ek dink aan al die ander vroue voor my wat die afgelope 200 jaar hul dae só begin het.

Jy probeer jou indink hoe dit destyds was met perdestalle en hoenderhokke en brood wat in ’n vuurherd gebak is. Toe vroue met hoepelrokke en kappies gewerskaf het en koperware in die son blink gepoets is.

En dat dit half onwerklik is dat hierdie oomblikke werklik bestaan.

En dan hoe onwerklik dit is dat dit alles net weg is.

Sondagmiddag land die persverklaring in my inboks. “Die brand wat Sondag in die vroeë oggendure by die buurplaas uitgebreek het, het tot die verwoesting van sommige van Blaauwklippen-landgoed se ikoniese geboue gelei. Die brand het van die dam se kant af na die herehuis versprei, toe na die Jonkershuis en uiteindelik die katedraal. Al drie geboue het tot op die grond afgebrand.

“Ses brandbestrydingspanne, insluitend Blaauwklippen se rampbestuurspan en die van naburige plase, was binne minute op die toneel om die brand op te los, een van vyf in die omgewing. Met winde van tot 139 km per uur was daar gelukkig geen beserings nie, alhoewel die brand verwoestend was.

“Weens veiligheidsredes sal die eiendom tot verdere kennisgewing vir die publiek gesluit wees.”

Die statige dame sal weer uit die as verrys.

Die HUB van Newmark Hotels and Reserves, Neil Markovitz, die plaas se gasvryheidsvennoot, sê die eienaars het reeds onderneem om die herehuis te herbou en die Newmark- operasionele span sal hulle daarmee bystaan.

Ek onthou weer hoe ek daardie Sondagoggend vroeg in die breë vensterbank in ons kamer met my koffie gesit het en gekyk het hoe die son oor die berge opkom en die eekhorings in die tuin baljaar.

Ek gaan weer só daar sit. Dalk nie gou nie, maar ek gaan. En my vriende se gelag sal weer van diep uit die huis weerklink en ons sal dankbaar wees dat dié statige dame weer uit die as verrys het.

Ander herehuise waar ons ook al herinneringe gemaak het:

Daar is nie baie van hierdie historiese herehuise oor wat in so ’n goeie toestand is en boonop vir die publiek beskikbaar is om in oor te bly nie. Tog was ons die afgelope 20 jaar baie bevoorreg om in verskeie te vertoef. ’n Paar hiervan is:

Hazendal

Hazendal se Kaaps-Hollandse herehuis wat uit 1790 dateer, is nou ook ’n luukse akkommodasie-opsie op die historiese plaas in Kuilsrivier. Daar op die grasperk kan dagbesoekers ook met tuisgebak en ’n heerlike bottel van die plaas se wyn ontspan.

Meerendal

Ook Meerendal se herehuis is ’n boetiekhotel en hoewel die herehuis eers in 1936 deur William Starke gebou is, het hy dit met twee Kaaps-Hollandse gewels versier, wat die gebou baie ouer as sy bykans 90 jaar laat lyk.

La Motte

• La Motte buite Franschhoek se herehuis, aanvanklik ’n T-vorm-plaashuis, is rondom 1751 gebou en het ’n indrukwekkende Neo-klassieke en Barokgewel wat uit 1836 dateer. Dit vertoon die voorletters van die eienaar van daardie tyd, Gideon Jacobus Joubert en sy vrou Susanna Francina Retief. La Motte het vier provinsiale monumente, waaronder die herehuis wat in 1758 gebou is, die Jonkershuis (1752), historiese kelder (1782) en die watermeul (17701782). Al vier die strukture is tot hul vorige glorie herstel toe Anton Rupert die plaas in 1970 gekoop het. Ons het die voorreg gehad om twee wonderlike nagte in die herehuis te slaap. Dis ook nou die ontvangskamer van etes by die Veepos oorkant die pad, ’n klein gerestoureerde skaapwagterhuisie waar die Michelin-ster-sjef, Jan Hendrik van der Westhuizen, sy opskietrestaurant bedryf. Lees meer oor daardie ervaring hier.

Groot Constantia se herehuis dateer uit 1778, maar het in 1925 omvangryke opknapping ondergaan nadat dit baie erg in ’n brand vernietig is. Dis vandag deel van die Iziko Museums en vertoon meubels, skilderye, tekstiele, keramiekware, brons- en koperware van die afgelope drie eeue.

Groote Post

Groote Post se herehuis staan sedert 1808 op die plaas buite Darling en was ’n groot verskaffer van vars vrugte, groente en lewende hawe vir die Oos-Indiese Kompanjie. Vandag huisves dit die bekende Hilda’s Kitchen. ’n Pragtige ode aan die gasvryheid aan die Kaap die Goeie Hoop, meer as twee eeue later. Hildagonda (Hilda) Duckitt, outeur van die bekende Hilda’s “Where is it?” of recipes en Hilda’s diary of Cape housekeeping, het die pragtige gebou ’n “lieflike ou tuiste” genoem.

Montpellier de Tulbagh in die Tulbagh-vallei, wat uit 1714 dateer, se mooi herehuis is tussen 1815–1820 gebou, maar die verwoestende aardbewing van September 1969 het ook dié herehuis erg beskadig. Die herehuis is later deur De Wet Theron herstel, maar dit het weer verval, tot die Johannesburgse advokaat, Lucas van Tonder, dit in 2001 gekoop het en herbou het. Die herehuis is ’n nasionale monument en bekend vir sy pragtige holbolgewel. Die herehuis is gemeubileer met Kaaps-Hollandse meubels en ’n wonderlike plek om oor te bly en jou in die geskiedenis te omgewe.

Spier

• Die Spier-herehuis buite Stellenbosch is in 1822 gebou. Die wynkelder agter die herehuis is in 1767 deur Albertus Myburgh gebou, ’n familie wat steeds in die omgewing boer, hoewel nie op Spier nie. Die werkswinkel se sentrale gewel dateer uit 1778. In daardie pragtige gebou het ons al ’n paar maal teen sononder saam met die plaas se keldermeester, Johan Jordaan, aangesit vir ’n intieme wyn-en-kos-fees.

Vergenoegd buite Somerset-Wes is in 1696 aan die vryburger Pieter de Vos toegeken en die naam kom van die feit dat dit bloot ver genoeg van Kaapstad is, maar steeds naby genoeg is. Ander glo die naam Vergenoegd beteken “tevrede”. In 1786, toe Johann Georg Lochner die eienaar was, het ’n Nederlandse predikant en later beroemde kunstenaar, Jan Brandes, ’n jaar op Vergenoegd gebly. Hy het panoramas van die omgewing, flora, fauna, visse en voëls geskilder en ook die opstal vasgelê.

Die detail is só akkuraat dat planne van die erfenisargitekte kon bepaal dat hierdie een van die mees behoue wynplase van die Kaap is. Anders as ander bekende wynplase, het Vergenoegd ook nie skade en herbouings as gevolg van brande ervaar nie. Toe ek dit met ons verblyf daar hoor, het ek nie besef hoe kosbaar dit is nie. Sedert die huidige eienaar, Peter Löw, ’n Duitse ondernemer, nyweraar en erfenisliefhebber, die plaas in 2015 gekoop het, staan dit bekend as Vergenoegd Löw Die Wynlandgoed. Die opstal is ’n nasionale monument en volgens erfeniskenner, Bridget O’Donoghue, bestaan die herehuis sedert 1745 of selfs vroeër.

Bosjes

Bosjes buite Wolseley. Die plaas spog met ’n oorspronklike Kaaps-Hollandse herehuis wat uit 1790 dateer en is sedert 1831 in dieselfde familie, die Bothas/Stofbergs. Dis verbasend om te sien hoeveel daar op die plaas vermag is sedert dit in Maart 2017 geopen is. Die herehuis is nou ’n luukse boetiekgastehuis met ’n spa. Daar is wonderlike tuine, ’n Bosjes Spens en Bosjes Winkel en die mooiste kerk wat lyk asof dit op water dryf. As jy voor die herehuis staan, pryk twee dekoratiewe pynappels op die gewel. In die Victoriaanse tye was die pynappel ’n simbool vir warmte en gasvryheid. Mense sou dit in die voorportaal van hul huis sit om gaste te verwelkom en as hulle jou regtig wou vereer, sou hulle ’n skyf gesny het om te probeer. Slegs die rykes kon hierdie lekkerny bekostig, wat met skepe vanaf die trope in Europa aangekom het. Gou het die gewoonte onder die minderbevoorregtes posgevat om die ingang van hul huise, en dikwels die gewels, met pynappels te versier.

Die ou stalle langsaan die herehuis is omskep in die Stalle Spa. Vandag bied dit verskeie ontspannende behandelings en hidroterapie-kamers, maar ná WO2 was dit ’n tydelike skuiling vir die Italiaanse krygsgevangenes. Lees meer oor die ervaring by Bosjes hier.

Moet dan ook nie buite rekening laat nie die mooie Laborie-herehuis uit 1750 wat in The old houses of the Cape deur Hans Fransen en Mary Cook as die belangrikste huis in ’n argitektoniese sin in die Paarl-omgewing beskryf is; of die mooie Vergelegen-herehuis wat in 1706 deur Willem Adriaan van der Stel gebou is; of die Lanzerac-herehuis wat uit 1830 dateer en waar ’n brand naburige geboue in 2017 verwoes het.

Dit is maar enkele van die pragtige herehuise aan die Kaap waar ek en my geliefde stukkies van ons harte agtergelaat het. Daar is vele meer.

Foto’s: Clifford Roberts, Charl Loftie-Eaton en verskaf

Lees ook:

Elders gesien: Ons word al armer

Van laventellande en pastis tot nostalgie en goeie SA wyne

Die sus van ’n trem laaf die siel

Vind vrede in mooie Pearly Beach

Wonderlike Wolseley in Witzenberg

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top