Die Toyota US Woordfees se Nederlandse niggie

  • 0
“Deel van vanjaar se geraasmaak-idee is vervat daarin dat ’n groot gedeelte van die program Nederlandse skrywers of skrywes oor Nederland of Nederlands ingesluit het. Daar was selfs gesprekke waar die wortels van Afrikaans uit Nederlands op onverwagse plekke opgeduik het. Die soeke na identiteit, die soeke na die vrouestem, die voortbestaan van taal en die aarde se behoud was van die temas wat herhaalde kere na vore gekom het.”

Die 21ste Woordfees, aangebied deur die Universiteit Stellenbosch met Toyota as naamborg, het onlangs op Stellenbosch ten einde geloop. Met meer as 1 200 aanbiedinge wat oor 10 dae aangebied is, was dit die grootste fees nog.

Die feeswebwerf verklaar:

Die Toyota US Woordfees is ’n unieke spanpoging wat ’n dorp, ’n universiteit, kunstenaars, gehore en gemeenskappe van dwarsoor die land bymekaar bring om die stories te vertel van ons grense, ons verskille, ons ooreenkomste, ons vrese, ons vreugdes, ons toevlugte, ons oorwinnings en ons sterk punte.

Saartjie Botha, direkteur: Toyota US Woordfees en WOW, skryf in haar verwelkoming in die feesgids:

Ons tema, “Aanhou beweeg en geraas maak”, geneem uit Jan Rabie se kortverhaalbundel 21 en allerweë beskou as die begin van die Sestiger literêre beweging, is ’n herbevestiging aan ons verbintenis aan die woord.

Saartjie Botha, direkteur: Toyota US Woordfees en WOW. Foto deur Merwelene van der Merwe.

Die Sestigers het die establishment van die dag tot in hul fondamente geskud. ’n Kunstefees behoort dit ook te doen; maar ook meer as dit – ’n fees moet motiveer, koester en troos, verwoord, vermaak en vernuwe. Slegs as die fees al hierdie funksies vervul, sal dit werklik impak hê.

Sorg dus dat jy saam kom geraas maak op Stellenbosch.

“Aanhou beweeg en geraas maak” is geneem uit Jan Rabie se kortverhaalbundel 21 en was vanjaar se feestema. Foto deur Clifford Roberts.

Sommige van Jan Rabie se korter prosas, waarvan talle later in verwerkte vorm in 21 opgeneem is, verskyn in die vyftigerjare in De Gids in Nederland. Rabie het vanaf 1948 vir enkele jare in Parys gewoon en van daar deur verskillende lande, oa Nederland, België, Italië, Switserland, Spanje, Oostenryk en Duitsland, gereis. Hy lees uitvoerig in die Europese letterkunde, wat hom ’n goeie basis van die klassieke en insig in die tendense in die moderne letterkunde gee, lees ’n skrywe op Wikiwand.

In die feeskoerant, Ink, van 9 Maart skryf Saartjie oor die Woordfees se afgelope 21 jaar. Dit is in 2000 begin in opdrag van US se Departement Nederlands en Afrikaans om “groter uitstraling” vir Afrikaans te bewerkstellig.

“Die nooiensfees is losweg gegrond op die Nederlandse Nag der Poësie, ’n deurnag voorleesfees met musiek en visuele kuns as afleiding. Die Nag van Passie, soos die eerste fees genoem is, was ’n klinkende sukses: al 2 000 beskikbare kaartjies is verkoop.”

Sy vertel aan Voertaal dat “hierdie ou taalverwantskap dus uit die staanspoor belangrik was en dit bly vir ons ’n kosbare band. ’n Beduidende aantal van ons feesgangers is besoekers uit die Lae Lande. Dit is altyd goed en gesond om jou kultuur deur ander mense se oë te sien en ’n vars perspektief te kry.”

Deel van vanjaar se geraasmaak-idee is vervat daarin dat ’n groot gedeelte van die program Nederlandse skrywers of skrywes oor Nederland of Nederlands ingesluit het. Daar was selfs gesprekke waar die wortels van Afrikaans uit Nederlands op onverwagse plekke opgeduik het.

Die soeke na identiteit, die soeke na die vrouestem, die voortbestaan van taal en die aarde se behoud was van die temas wat herhaalde kere na vore gekom het.

Dokumentêre film

Een item oor die voortbestaan van taal was die bespreking van die dokumentêre film Boere op die aardsdrempel: Afrikaans in Patagonië.

’n Unieke vorm van Afrikaans leef reeds meer as 120 jaar in die middel van die Patagoniese woestyn in Argentinië voort. Die fliek oor dié gemeenskap in Comodoro Rivadavia met Richard Gregory as regisseur het in 2015 verskyn en is weer op die Woordfees vertoon.

Foto: Menán van Heerden

Die vertoning is gevolg deur ’n paneelbespreking met Richard en ’n span van drie taalkundiges van die Universiteit van Michigan, Andries Coetzee, Nicholas Henriksen en Lorenzo García-Amaya, wat tans die Afrikaans van die laaste lede van hierdie gemeenskap dokumenteer.

“Ons doen ’n gevallestudie van migrasie en hoe dit jou identiteit beïnvloed,” het Nicholas Henriksen vertel.

Hul pad het heel toevallig met Richard s’n gekruis en hul navorsing het met sy aanvanklike verfilming saamgeval. Richard het eers self ’n kortfilm geskiet, voor hy later teruggekeer het om ’n vollengte- dokumentêre film saam met ’n volledige span te maak.

Die Afrikaanssprekendes wat vandag nog daar oorleef, is deel van die 650 wit boeregesinne en twee swart mans wat in 1902 uit die Kaap gevaar het, na Patagonië toe. In die dorpie is ’n monument met die name op van almal wat in 1902 daar arriveer het.

Richard Gregory, regisseur van die dokumentêre film Boere op die aardsdrempel: Afrikaans in Patagonië (heel regs), en die drie taalkundiges van die Universiteit van Michigan, Lorenzo García-Amaya, Nicholas Henriksen en Andries Coetzee. Foto deur Clifford Roberts.

Die navorsing wat hulle onderneem het, wys dat die destydse president, Julio Argentino Roca, in die vroeë 1900’s sy minister van landbou aangesê het om voormalige kolonies te besoek en boere te nooi om Argentinië toe te verhuis om daar onbewerkte dele van Patagonië in winsgewende plase te kom omskep.

 “Ons het selfs die advertensies in die Kaapse Argief gekry waar hierdie uitnodigings gepubliseer is,” vertel Andries. Die veldtog was nie net tot Suid-Afrika beperk nie; daar is ook vandag Walliese en Franse streke, waar die taal en kultuur van hul geboorteland onderhou word. In die 1900’s was Argentinië een van die wêreld se agt top ekonomieë. Patagonië is geadverteer as “die land van melk en heuning”.

Andries vertel hoe verstom hy was met hul aankoms daar, hoe maklik hy die mense se Afrikaans kon verstaan. “Hoewel hul grammatika en taal effe verander het, was dit nader aan die moderne Afrikaans as wat ek gedink het. In 1902 was Afrikaans nie ’n amptelike landstaal nie – Nederlands was nog tot 1925 – en dit was nie neergeskryf nie. Hollands is meestal gepraat, maar dit wys eintlik hoe taamlik gevestig Afrikaans toe al was, hoewel dit eers in 1925 ’n amptelike landstaal hier geword het en die Bybel eers in 1933 in Afrikaans vertaal is.”

Andries vertel wat hom ook opgeval het, is dat hierdie mense “nie deelgeneem het aan die apartheidsera nie en dus ’n heeltemal ander verhouding tot ras het as mense in Suid-Afrika. Hul stel baie daarin belang – feitlik elkeen van die 30 of meer met wie ek onderhoude gevoer het, wil dit graag verstaan. Hulle struggle internally oor hoe om sin te maak daarvan.

“Ek is ’n taalkundige; ek is nie antropoloog, of historikus of kultuurkundige nie, so dis gevaarlik om daaroor te praat. Maar ek glo vir die algemene wit, Afrikaanssprekende in Suid-Afrika – alhoewel ons 25, 30 jaar postapartheid is - is dit steeds ’n groot deel van ons definiëring van ons herkoms. Nie vir hulle nie. Hulle deel nie in daardie deel van Suid-Afrika se geskiedenis nie.”

Hy voeg by dat hulle baie minder bagasie het as ander Afrikaners, omdat hulle voor apartheid vertrek het en die woord Afrikaner vir hulle dus ’n baie minder “gelaaide” term is.

Andries en sy span het net voor die Woordfees teruggekeer van 10 dae in Namakwaland en besef die Afrikaans van die Patagoniese Afrikaners is soortgelyk aan die Afrikaans wat in Namakwaland gepraat word. Navorsing het getoon dat die meeste van die mense wat destyds oor is, van die Noord-Vrystaat en Noord-Kaap is.

In 1938, met die eeufeesvieringe van die Groot Trek, het die Suid-Afrikaanse regering besluit om mense wat wil terugkeer, te repatrieer. Met dié aanbod om hulp, het die NG Kerk ook gehelp en die helfte van die mense het teruggekeer. Die meeste met jong kinders. Hul lewe in Patagonië was beslis nie melk en heuning nie, maar toe hulle terugkeer Suid-Afrika toe, is hulle soos immigrante behandel. Hulle het ook nie weer maklik hier ingepas nie.

Die filmmakers lê besoek af by ’n paar mense wat destyds saam met hul ouers teruggekeer het en steeds Spaans magtig is.

Die meeste mense wat per skip oor is, het met skape gaan boer in ’n streek soortgelyk aan die Karoo. “Hulle is genader omdat hulle ondervinding gehad het van skaapboerdery in ’n waterskaars streek.”

Brian du Toit, ‘n antropoloog, het ’n boek geskryf met die titel Colonia Boer, an Afrikaner Settlement in Chubut, Argentina nadat hy baie tyd daar tussen die mense deurgebring en baie dokumente bekom het.

Sy boek lig uit dat die groep Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog nie hul lojaliteit aan die Britse troon wou verklaar nie en eerder na Chubut emigreer het. Met hul aankoms in Comodoro Rivadavia het waterskaarste hulle gedwing om 150 km die binneland in te trek. Die boek bevat omvattende opsommings van die dokumente en literatuur in Afrikaans, Nederlands, Engels en Spaans.

Brian het al sy navorsing en dokumente uit sy argief aan Yale-universiteit geskenk en Andries en sy span het toestemming gekry om sy argief te digitaliseer. Alles is nou op die internet.

Die span het gevind dat hoewel slegs die ouer mense Afrikaans praat, die kultuur baie sterk is: Daar word jaarliks boeresportdae gehou; daar is ’n klub wat gereeld byeenkom en Suid-Afrikaanse geregte bedien, saam langarm dans en liedjies soos “Sarie Marais” sing.

Boere-nedersetters in Pastos Blancos, Chubut-provinsie (Foto: Worldcitizen001 [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Die jonger geslag praat Spaans, maar die kultuur en kos van die destydse Afrikaner word sterk – ook deur hulle – ondersteun.

Andries voeg by dat die Afrikaanssprekendes op verskeie ander maniere egter baie meer Argentyns is. Hulle behoort onder meer nou aan die Anglikaanse Kerk.

Mens wonder hoe maklik dit vir Andries – ’n Afrikaner – is om net te dokumenteer en nie in te meng nie. Hy sê: “Jy verander die situasie bloot deur observasie. Ek is seker dat ons deelname in die gemeenskap ’n invloed het, of wat in die gemeenskap gebeur.”

Lorenzo het bygevoeg dat hul besoeke en die film wat daar vertoon is, beslis ’n nuutgevonde gevoel van trots onder die gesinne laat posvat het. Verskeie projekte tussen Argentinië en Suid-Afrika het ook daaruit voortgevloei en hoewel Afrikaans geen ekonomiese toekoms het nie, wil dit lyk asof die taal dalk kan voortbestaan, danksy die jonger geslag se nostalgie daaroor, veral nadat vier ouer mense Suid-Afrika besoek het as deel van die dokumentêre film se opnames.

Onze Taal

Die verhouding tussen Nederlands en Afrikaans is in ’n praatjie oor die organisasie Onze Taal, ’n vereniging vir taalliefhebbers in Nederland wat ook ’n spesiale belangstelling het in Afrikaans, uitgelig. Die praatjie is gelei deur Carel Jansen, emeritus professor Rijksuniversiteit Groningen. Hy het vertel dat Nederlanders Afrikaans graag beskou as ’n aantreklike “niggie”. Hy is die voorsitter van die Onze Taal-bestuur en ook navorsingsgenoot van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum.

Hy het meer oor Onze Taal en sy meer as 23 000 lede vertel, soos onder meer oor die gratis taaladviesdiens wat hulle bied en baie gewild onder studente is.

“Ons is die podium vir taalkwessies in Nederland.”

Hy het ook vertel hoe die organisasie se tydskrif sedert sy ontstaan in 1932 ’n deurslaggewende rol gespeel het in die aanslae teen Nederlands. “In die dertigerjare was Germanismes die grootste bedreiging vir Nederlands. Later het Anglisismes ons grootste vyand geword, maar dis ontsettend moeilik om dit uit ’n taal te hou.

“Nou tree ons baie meer observerend op: Ons berig eerder oor wat gebeur as om te probeer ingryp,” het hy vertel.

Hy het ook die algemeenste taalfoute wat sprekers in Nederland maak, uitgewys.

Hy het aan die gehoor vertel dat hulle nogal “jaloers is op Afrikaans se taalreëls. Ek sê gedurig daar vir die taalkenners hulle moet Kaap toe kom: die weer is baie beter en die reëls ook.”

Jansen het ook vertel dat sowat 15% van die Nederlandse bevolking lae geletterdheidsvlakke het en dat daar ’n doelbewuste poging aangewend word om die persentasie te verklein. Dit is mense wie se Nederlandse lees-, verstaan- en skryfvermoë nie goed genoeg is om in die moderne samelewing te funksioneer nie. Prinses Laurentien van Oranje is die projek se beskermvrou.

Die verhouding tussen Nederlands en sy “aantreklike niggie”, Afrikaans, is in ’n praatjie oor die organisasie Onze Taal, ’n vereniging vir taalliefhebbers in Nederland wat ook ’n spesiale belangstelling het vir Afrikaans, uitgelig. Die praatjie is gelei deur Carel Jansen, emeritus professor Rijksuniversiteit Groningen. Foto deur Clifford Roberts.

Ander kwessies wat Nederlands vandag in die gesig staar, is dat baie universiteite Engels as onderrigtaal aanbied en dat Nederlands as taal al minder onderrigtyd ontvang. “Julle in Suid-Afrika herken beslis dié situasie. Nederlands is ook altyd die minste gewild op skool en ons sukkel om leerlinge te oortuig om Nederlands te gaan studeer.

“Ons besef die voordele van internasionalisering, maar die skadelike effekte hiervan op jou moedertaal moenie agterweë gelaat word nie,” het hy verklaar en bygevoeg: “Ek besef die politieke situasies is totaal anders, maar daar is groot ooreenkomste in die taalkwessies.”

Nadat hy vrae en kommentaar uit die gehoor aangehoor het, het hy volstaan met dié woorde: “Nederlands is bietjie argaïes; Afrikaans is meer modern en makliker en boonop het julle sulke pragtige beskrywende woorde.”

Uit die gehoor het verskeie Nederlanders en Vlaminge hul waardering en liefde vir Afrikaans se “uitsonderlik mooi en beskrywende” woorde soos “bromponie”, “hemelkinders” (Downsindroom-kinders) en ander woorde soos “rekenaar” in plaas van “komputer” uitgelig.

Karien Brits, bestuurder: Taal van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV), het hom bedank vir sy positiewe houding jeens Afrikaans en gehoorlede ook aangemoedig om by die ATKV en Vriende van Afrikaans aan te sluit.

Karien Brits (Foto: Menán van Heerden)

Volgens die sensusopname van 2011 het meer as 600 000 swart, 3,4 miljoen bruin, 58 700 Indiër- of Asiër- en 2,7 miljoen wit Suid-Afrikaners Afrikaans as eerste taal.

Die opname wys ook dat Zoeloe die grootste persentasie verteenwoordiging het; Xhosa is tweede en Afrikaans het die derde grootste taalverteenwoordiging in die land. Statistiek SA het verlede jaar statistiek vrygestel wat egter wys dat hoewel Engels die sesde grootste persentasie verteenwoordig, dit tweede is as praattaal buite die huis. Zoeloe bly eerste binne en buite die huishouding.

Dit is interessant dat vele van die besprekings by die Adam Small Ouditorium plaasvind. Die bekroonde bruin skrywer Adam Small, wat ook dramaturg, digter, politieke ikoon en professor was, is in 1976 na Nederland genooi om ’n kongres, “Art contra apartheid”, oor die rol en funksie van skrywers in die Suid-Afrikaanse gemeenskap by te woon. Die skrywer James Matthews is ook genooi, maar sy paspoort is geweier. Die konferensie is gereël deur ’n Nederlandse kultuurgroep, De Populier, in Amsterdam.

Behalwe Adam Small het Suid-Afrikaanse skrywers van drie vastelande die kongres bygewoon: Alex la Guma, Dennis Brutus, Lewis Nkosi, Vernon February en James Ravell – opmerklik almal mans!

In 1976 het die land gebrand met die Soweto-optogte, waar swart leerders geweier het om in Afrikaans – nie hul moedertaal nie – onderrig te word.

Domestic Noir

Christy Weyer-Loedolff, die vrou agter die nuwe Grabouw-krimifees, gesels met die Suid-Afrikaanse skrywer Deborah Steinmair, die Roemeens/Nederlandse skrywer Mira Feticu en Margriet van der Waal, wat die Amsterdamse leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis beklee, onder die titel Domestic noir: Behind closed doors.

Christy Weyer-Loedolff (Foto: Menan van Heerden)

Hulle kyk hoe al hoe gewilder die “domestic noir”-genre (of verhoudingsrillers) word. In As jy van moord droom skryf Deborah Steinmair oor ’n middeljarige vrou wie se dogter op ses gesteel is maar op 26 weer voor haar staan – oorgewig, vlotter in Chinees as in Afrikaans, verslaaf en woedend, en hulle moet opnuut ’n woordeskat vind. Die Roemeens-gebore Mira Feticu skryf in Al mijn vaders oor ’n akademikusvrou en haar man, wat die hoofverdagte is wanneer sy verdwyn.

Deborah vertel sy wou die kompleksiteit van die ma én die dogter se lewens ontgin. “Hoe gaan jy aan met jou lewe nadat só iets met jou gebeur? Die kind is getraumatiseer; het geveg om oorlewing en moet nou weer aanpas in haar ouerhuis. Die ma het haar kind verloor; moes daarmee saamleef en nou weer ’n ma-figuur wees vir ’n kind wat so lank weg was. Sy gebruik ’n liefde vir digkuns wat die jong Maryna by haar ma geleer het, as enigste stukkie hoop waaraan dié dogter vir jare vasklou.” Deborah sê “Gedigte gee ’n stem aan jou innerlike stem.”

Deborah Steinmair (Foto: Menán van Heerden)

Letterkunde as anker is ook ’n sterk tema in Mira se roman. Sy woon die afgelope 15 jaar in Nederland en vertel dat letterkunde nie net haar grootwordjare in Roemenië draagliker gemaak het nie, maar dat dit nou in Nederland aan haar geloofwaardigheid gee. Mense wat haar as immigrant sien, kyk dadelik anders na haar as hulle hoor sy is ’n skrywer.

“Ek het onder kommunisme grootgeword, maar na dit tot ’n val gekom het, het ek ’n goeie loopbaan as joernalis en skrywer in Roemenië gehad. Toe ek saam met my man na Nederland verhuis, was ek niemand, niks; en het ek besluit om in Nederlands se skryf.

“Hierdie boek is ook ’n ode aan literatuur. Literatuur was my redder en is steeds my hoop om as mens aanvaar te word.

“Die boek is baie persoonlik; ek het dit geskryf om ’n stem te gee aan my pyn. Ek het ’n psigiater besoek wat regressieterapie probeer het, maar dit was nie so doeltreffend soos my eie poging tot regressieterapie, wat hierdie boek was nie. Dis eintlik ’n X-straal van my verlede.

“Ek is nog nie seker of ek dit misdaadfiksie wil noem nie.”

Mira Feticu (Foto: Menán van Heerden)

Sy het voorts vertel dat sy vir ’n joernalis in Nederland geantwoord het, toe sy gevra is of die boek outobiografies is, dat dit eerder ’n selfportret is. “As dit outobiografies is, is elke aaklige detail jou storie.”

Die twee vroue se boeke kyk albei indringend na die verhouding tussen ouer en kind: Deborah se boek na ma en dogter en Mira se boek na ‘n dogter en die soeke na ’n pa. “Dis moeilik om ’n pa te vind as daar nie ’n biologiese pa is nie. In my verhaal is dit byna ’n kwessie van ’n dogter wat op te veel verkeerde knieë gesit het in haar soeke na vaders.”

Sy het vertel dat haar eerste besoek aan Suid-Afrika as’t ware vir haar ’n tuiskoms was. “Ek het so baie van die probleme van Roemenië hier kom vind. Ek dink die wonde van Myra, die karakter in my boek, sal hier goed kan genees.”

Margriet het gesê die genre van domestic noir dui op die feit dat die morele orde deurmekaar gekrap is. “Dis meer as misdaad, want die orde word nie noodwendig herstel nie. Daar is heel dikwels geen ontknoping nie en die kyker of leser word met meer vrae as antwoorde gelaat.”

Margriet van der Waal (Foto: Menán van Heerden)

Sy het ook gesê dat dié genre baie van die stereotipes van misdaadromans systap.

Sy het bygevoeg dat vroueskrywers nie dieselfde aansien geniet in Europa as mans nie, maar dat ’n boek deur ’n vroulike skrywer nooit net fiksie is nie – jy gee altyd iets van jouself ook.

“Ek dink dit is wat mense na die genre lok: om te lees van iemand wat beheer verloor. Om rillers of misdaadfilms te kyk, gee ons ’n geweldig lekker gevoel as die ontknoping gebeur. Maar mense herken ook geweldig baie van hul eie worstelinge in hierdie genres.”

Mira het gesê dat vroue gewoonlik net ’n lyf in boeke is; maar in hierdie genre het hulle ook ’n stem. Sy hoop haar boek bring troos aan vroue wat hulself in die boek herken.

Deborah het gesê as sy mense met haar boeke “minder alleen; minder eienaardig kan laat voel”, is sy gelukkig.

Soos familie

Ena Jansen se Soos familie / Like family, haar baanbrekersboek oor die rol van huiswerkers in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en letterkunde, is in woord én beeld uitgebeeld.

Sy het eers met Ingrid Winterbach, Clementine Mosimane, wat Poppie speel in die film Poppie Nongena, en Myrtle Witbooi, hoofsekretaris van Suid-Afrika se grootste vakbond vir huiswerkers, SADSAWU, oor haar boek gesels. Haar unieke kunsversameling, byeengebring deur die Rupert-museum se direkteur, Robyn-Leigh Cedras, en kurator, Eliz-Marie Schoonbee, met van die oorspronklike werke wat in die boek gewys word, soos dié van Zanele Muholi, Marlene Dumas en David Goldblatt, was ook deel van twee rondleidings met die kurators en Ena.

Die kurator van die Rupert-museum, Eliz-Marie Schoonbee (links) en Ena Jansen, voor die rondleiding. Foto deur Clifford Roberts.

Ena het by die rondleiding gesê haar boek, wat aanleiding tot die kunsversameling gegee het, het ontstaan toe sy by Amsterdam-universiteit aangesluit het en ’n “tussenganger” as navorsingsonderwerp gesoek het wat as skakel sou dien tussen haar tuisland en Nederland. Sy het so ’n tussenganger gevind in Krotoa, wat die Nederlander Jan van Riebeeck, wat in 1652 ’n verversingspos in Kaapstad begin het, se kinders opgepas het. “Die huiswerkerfiguur is van daar uitgebou.”

Die rondleiding en uitstalling is breedvoerig in die feeskoerant, Ink, bespreek. Foto deur Clifford Roberts.

Ena Jansen tydens die rondleiding. Agter haar aan haar regterkant is ’n voorstelling van Krotoa deur die kunstenaar Marlene Dumas (2016). Regs is swart-en-wit foto’s uit Ena se familie-album met haar as kind by hul gesin se huiswerker en oppasser, Cecilia Magadlela. Foto deur Clifford Roberts.

Penny Siopis se werk My lovely day 1997 wat by Ena Jansen se uitstalling vertoon is. Foto deur Clifford Roberts.

Die rondleiding deur Ena Jansen het groot belangstelling ontlok. Foto deur Clifford Roberts.

Vir die uitstalling het sy ’n interdissiplinêre blik gegee op die geskiedenis van huiswerkers in Suid-Afrikaanse literatuur en die visuele kunste. Haar boek, Soos familie - stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste, is in 2015 gepubliseer. Die tema het internasionaal aandag gewek. In 2016 is dit in Nederlands vertaal, met die titel, Bijna familie.

Foto van Ena Jansen: Menán van Heerden

My moeder se moeder se moedertaal

My mother’s mother’s mother – South African women’s writing from 17th-century Dutch to contemporary Afrikaans is die grootste boek nóg oor Afrikaanse vroueliteratuur.

Dit strek vanaf 17de-eeuse Nederlandse tekste wat op Suid-Afrikaanse bodem geskryf is tot hedendaagse Afrikaanse letterkundetekste. Dié magistrale werk van byna 1 000 bladsye, wat in Amsterdam in ’n stampvol saal bekendgestel is, het op die Woordfees sy plaaslike buiging gemaak. Anastasia de Vries het met die skrywers, Annemarié van Niekerk en Pieta van Beek, onder die titel “My moeder se moeder se moedertaal” gesels. Anastasia het die vroue gelukgewens met hul reuseboek, waarin meer as 60 vroue gehuldig word: “Dit is ’n ma se boek hierdie!”

Anastasia de Vries (Foto: Menán van Heerden)

Verskeie skrywers wat in die bundel aangehaal is, het stukke voorlees. Elkeen moes hul oermoeder kies. Skrywers wat voorgelees het, het Ronelda Kamfer, Rachelle Greeff, Marita van der Vyver, Karin Brynard, Jeannette Ferreira en Riana Scheepers ingesluit. Die vroue het onder meer, nadat hulle hul oermoeder, of ‘n voorbeeld uit die letterkunde beskryf het, tot die gevolgtrekking gekom dat vroue deur al die struggles in Suid-Afrika se geskiedenis by mekaar gestaan het en oorwin het en weer sal oorwin.

Ronelda Kamfer (Foto: Menán van Heerden)

Marita van der Vyver (Foto: Menán van Heerden)

“Die boek bied troos, want ons leer by hierdie vroue hoe hulle in moeilike tye hulself bymekaar gehou het en oorleef het.”

Pieta se Nederlandse en Annemarié se Suid-Afrikaanse navorsing is saamgegooi om hierdie boek moontlik te maak. Hulle het voorheen afsonderlike werke publiseer.

“Dit was baie interessant om te sien hoe vroue verteenwoordig word in bundels, op panele en in redaksies. Ons gevolgtrekking na hierdie omvangryke projek was dat vroue nie in die Suid-Afrikaanse literatuur na waarde geskat word nie; dat baie van hulle onder manlike skuilname geskryf het of bloot as onder meer ‘Totius se suster’ bekend gestaan het.”

Ook dat die ontwikkeling van Afrikaans aan Nederlandse tekste gemeet kan word. Dat daar baie in Afrikaans geskryf is lank voor dit in 1925 as amptelike landstaal verklaar is.

Pieta het vertel dat dit onkuis vir vroue was om hul werk te publiseer. Dat alles verander het – maar baie stadig – nadat die Britte die eerste drukpers in 1796 Suid-Afrika toe gebring het. “Eers 100 jaar daarna het die eerste vrou in Afrikaans publiseer: Johanna Grobbelaar van die Paarl, wat ‘n joernaal oor ‘n reis na Damaraland geskryf het.”

Sy sê baie male is tekste eers ná die skrywer se dood gepubliseer en nadat mans daaraan geskaaf het.

Pieta van Beek (Foto: Menán van Heerden)

Annemarié het bygevoeg dat hulle ’n baie streng keuring moes maak oor wie ingesluit kon word. “Ons het op die ou einde besluit dit moet direkte geskrewe tekste deur vroue wees. Nie tekste wat deur mans ‘verbeter’ is nie. Die enigste uitsondering was Krotoa, omdat sy die eerste, belangrike tolk tussen haar mense en die koloniste was.

“Sy was die intermediêr tussen twee groepe en word verbatim in Jan van Riebeeck se dagboeke aangehaal.”

Op ’n opmerking van Anastasia dat Krotoa se eie stem nie neergeskryf is nie en sy dus ook onderwerp is aan ’n tipe redigering deur ’n manlike skrywer, het Pieta geantwoord: “Hy het haar verbatim aangehaal. Dis waarheid en ons moet dit aanvaar. Dis al wat ons het.”

Annemarié van Niekerk (Foto: Menán van Heerden)

Argitektuur

Argitektuur in Vlaandere en Suid-Afrika het dieselfde uitdagings, insluitend vernuwing, gehalte, duursaamheid, respek in verbondenheid en aandag aan die genius loci.

Drie argitekte wat wydsbeen tussen dié twee lande staan, het by die fees gesels.

Die Vlaamse argitek Jan Keymis, met ’n meestersgraad van Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth, verduidelik die verskille tussen, asook die voor- en nadele van, onder- en bogrondse boukuns. Hy het sy verhandeling geskryf oor die konsep van “terug na die baarmoeder”. Hy is ’n groot voorstander van die argitek Malcolm Wells, wat nie net energiebesparende, groen argitektuur aanhang nie, maar ook glo ons moet ondergronds bou.

Volgens sy webwerf beteken ondergronds bou nie bunkeragtige strukture wat pikdonker is nie. Dit beteken jy bou ’n sterk, waterdigte gebou en bedek dit aan twee of drie kante met grond en plant inheemse plante bo-op.

Jan het bygevoeg dat jy nie alleen geraas én instandhouding verminder nie, maar ook meer privaat kan leef. “Ek weet koste en die geskikte grondtoestande is groot nadele, maar na ’n paar jaar speel die huiseienaar gelyk, want sy onderhoudskostes is minimaal en sy lopende energiekostes soveel minder. Ná twee jaar van intensiewe navorsing glo ek dis die volhoubare toekoms.”

Jan het gesê dat argitekte hul kliënte moet oorreed om hierdie boustyl te oorweeg, maar dat mense se persepsie oor ondergrondse leefruimtes gewoonlik negatief is. “Maak die ontwerp oop en interessant, met baie natuurlike lig.”

Argitektuur in Vlaandere en Suid-Afrika het dieselfde uitdagings, insluitend vernuwing, gehalte, duursaamheid, respek in verbondenheid en aandag aan die genius loci. Drie argitekte met bene wydsbeen tussen dié twee lande het by die fees gesels. Van links is die Vlaamse argitek Jan Keymis, emeritus professor en argitek Dolf Wieërs en die Suid-Afrikaanse argitek Rudolf Perold. Foto deur Clifford Roberts.

Hy sê in Suid-Afrika is daar verskeie voorbeelde van hierdie “beskeie” argitektuur: Stellenbosch-universiteit se biblioteek, die Wieg van die Mensdom se besoekersentrum, en die Langebaan-fossielpark. Die geboue laat die omgewing of historiese geboue wat dit omring, na vore tree. Ook in KwaZulu-Natal is huise só gebou dat “die berge die aandag kry wat dit verdien”.

Hy sê in ’n wêreld waar grond al hoe kosbaarder word en besoedeling en ontbossing skrikwekkend toeneem, is die oplossing om ou, gebruikte lappies grond te herbenut.

“Ons is so behep met ons eie probleme dat ons die enigste realiteit vergeet: die natuur.”

Die Suid-Afrikaanse argitek Rudolf Perold, wat sy doktorale ondersoek aan die Universiteite van Hasselt en Stellenbosch voltooi het, het gesels oor hoe mense wat nie oor die algemeen met argitekte sou werk nie – soos mense in informele woonbuurte – ook by argitekte se insigte kan baat.

Hy het gesê dit berus op die beginsels van volhoubaarheid, effektiewe energie-aanwendings en om as’t ware lig op die aarde te trap.

Die emeritus professor en argitek Dolf Wieërs het die sessie afgesluit met ’n praatjie oor die rykdom van Afrikaanse en Nederlandse volkswysheid in gesegdes en idiome wat verband hou met bouwe en wone.

In my vel

Azille Coetzee vertrek Nederland toe om verder te studeer. Sy raak op ’n Nederlander verlief en besluit om aan te bly. Maar sy bly haar vasloop teen die vraag: Watter herkoms is meer bindend, Afrika of Europa? In ’n tyd gekenmerk deur geweld teenoor vreemdelinge, geweld teenoor vroue en rassehaat gesels die historikus Lindie Koorts, politieke joernalis Martie Meiring en Mercy Kannemeyer, wat spesialiseer in toegepaste teater, met haar oor generasie- en kleurgrense. Azille se boek In my vel is die vertrekpunt. Azille, ’n akademikus en filosoof, vertel dat sy die boek geskryf het om deels vir haarself dinge uit te werk; om sin te maak van haar plek in Suid-Afrika. “Suid-Afrika is ’n moeilike plek. Ek was bang om myself bloot te lê in die boek en ook bang dat my storie die hooftema sou oorheers. Maar die meeste engagement wat ek kry ná die boek, is oor kwessies van identiteit, en dan het my boek geslaag.”

Sy het gesê sy het teruggekom omdat dit vir haar belangriker is om in ’n land te leef waar haar identiteit uitgedaag word as om in die luukse van ’n Europese land haar potjie te krap. “Die matrix van onderdrukking is groter. Ons leef baie nader aan die ongelyke struktuur wat ons middelklas bestaan moontlik maak.

“Dieselfde ongemak heers hier en daar (Suid-Afrika en Nederland): Aan albei kante is ons nie baie lus om te kyk na ons verlede nie. Hier word ons net meer gedwing om te kyk na ons geskiedenis as Afrikaners, maar Nederland begin nou eers kyk na hul goue era wat op die rûe van slawe gebou is.”

Mercy het haar gelukgewens: “Jy het dit reggekry om hierdie kwessies oop te skryf – vir jonger mense veral. Jy het die wit-gesprek toeganklik gemaak. Ek kan van buite inkyk en het so baie om te leer oor dit waarmee wit Suid-Afrikaners worstel. Kleur is nie meer vir ons jongmense so ’n struikelblok nie.

“Ek wroeg nie meer so baie nie. Ek dink nie mense moet daardie ruimte opneem met skuld en spyt nie. Ons moet vorentoe kyk en die land laat werk.”

’n Vinnige foto voor die Boektent volgeloop het vir die bespreking In my vel met Azille Coetzee (heel regs). Saam met haar is Martie Meiring, politieke joernalis, en Lindie Koorts, historikus. Foto deur Clifford Roberts.

Die debat oor identiteit is in volle swang rondom Azille Coetzee se boek In my vel. In ’n tyd gekenmerk deur geweld teenoor vreemdelinge, geweld teenoor vroue en rassehaat gesels, van links, die historikus Lindie Koorts, politieke joernalis Martie Meiring en Mercy Kannemeyer, wat spesialiseer in toegepaste teater, met haar oor generasie- en kleurgrense. Azille, ’n akademikus en filosoof, vertel dat sy die boek geskryf het deels om vir haarself dinge uit te werk; om sin te maak van haar plek in Suid-Afrika. Foto deur Clifford Roberts.

Martie het gesê dat naeltjiekykery ’n luukse is. “Ons moet die land weer bou en boggher jou identiteit. Dis nou die Swart Swaan-tyd. Ons armoede en werkloosheid is uitdagings wat die hoof gebied moet word. Suid-Afrika vra nie vir sissies nie; dis nou ons almal se job om weer te bou.”

Azille het bygevoeg dat skuldgevoelens onproduktief is, maar dat skulderkenning noodsaaklik is voor daar groei kan kom. “Ons wit Suid-Afrikaners is steeds bevoordeel; die hangover van die sisteem hou steeds.”

Lindie het bygevoeg: “Om erkenning te gee aan die verlede, beteken nie ons is nie kritiese burgers vandag nie.”

Die vier vroue het volstaan met die gedagte dat die enigste manier om die verlede se skuld te vereffen, samewerking en betrokke-raak is. Dat elkeen ’n verskil kan maak en kan help bou aan die toekoms.

Maar Azille se laaste woorde was: “Dis moeiliker as wat ek gedink het.”

Hendrik Witbooi

Ander aanbiedinge wat interessante insigte gebring het, was onder meer Ek is Hendrik Witbooi (deur Connie Braam), waar Albert Grundlingh, en ’n agterkleinseun van Hendrik, die Afrikaanse rapper Simon “HemelBesem” Witbooi, in gesprek was met Tilman Dedering. In 1884 trek Hendrik Witbooi en sy Namavolk noorde toe om weg te kom van die droë Kalahari-woestyn. Terselfdertyd stap die keiserlike afgevaardigde dr Göring aan wal in die nuwe Duitse kolonie Suidwes-Afrika (vandag Namibië). In 2016 eis Namibië dat Duitsland die uitwissing van tienduisende Namas en Herero’s erken. Hoe behoort ons Witbooi te onthou? As vryheidsvegter of wrede krygsheer?

Blues vir die wit man

Tussen die blues van Amerika se Diep Suide en die traanrook van #FeesMustFall probeer die Nederlandse Fred de Vries deur middel van musiek verstaan wat dit beteken om wit te wees in ’n plek waar die verlede sinoniem is met vernedering vir soveel van jou landgenote. Andries Bezuidenhout het met hom gesels oor sy Blues vir die wit man (Wiegelied voor de witte man) ná ’n paar kort uittreksels uit ’n dokumentêr oor omstrede Mississippi-landmerke, Monumental Crossroads, wat ook by die Woordfees vertoon is.

Fred de Vries (Foto: Menán van Heerden)

Andries Bezuidenhout (Foto: Menán van Heerden)

Veeltalig speel met verse

Andries Visagie en Nederlandse skrywer Benno Barnard (Die trouservies, vertaal deur Daniel Hugo) tydens “Veeltalig speel met verse”. Foto deur Menán van Heerden.

Daniel Hugo (Foto: Menán van Heerden)

Dis met Saartjie Botha se woorde dat ek wil afsluit:

’n Kunstefees bied ’n wonderlike platform om anders na die wêreld te kyk. Die wêreld van die kunste is ’n sagter wêreld. Dis soms konfronterend, ja, en dit moet ook so wees, maar dis ’n wêreld wat hom bemoei met die menslikheid. En uiteindelik genade skep vir die menslikheid.

’n Fees se impak word gevoel lank nadat die tente afgeslaan en die stoele weggepak is. ’n Fees kweek ’n groter bewustheid en ’n kultuur van selfbesinning binne ’n gemeenskap. Dit is ’n platform vir kritiese uitdrukking en genuanseerde formulering. Feeste bevorder diversiteit en onthul wat verswyg is of onsigbaar was.

Die aanbieding van en meedoening aan ’n fees skep ’n geleentheid vir burgerlike trots. Dit maak gemeenskappe en individue psigies gesonder en bevorder kreatiwiteit. Die belegging wat in en deur ’n fees gemaak word, maak die wêreld ’n beter plek om in te bly.

......

  • Teks: Maryke Roberts
  • Foto’s: Clifford Roberts, Menán van Heerden
Lees ook

Toyota US Woordfees 2020: Foto’s van die SASNEV-borrel

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top