
Die pragtige landgoed buite Stellenbosch
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
As jy op die stoep by Glenelly-wynlandgoed in Idasvallei buite Stellenbosch sit, kom dans die geskiedenis in sulke stadige walse om jou enkels. Dis nie net die eienaar, May de Lencquesaing, wat vanjaar rede het om fees te vier met haar 100ste verjaardag nie, hier is soveel ander mylpale om te gedenk.
Maar kom ons draai eers die horlosie terug na haar geboortejaar: 1925. Afrikaans het amptelike landstaalstatus gekry; Pinotage is op Stellenbosch gekruis; die eerste televisieseine word uitgesaai; en Chrysler word gestig.
Die wêreld het net weer begin kop oplig na die verwoestende Eerste Wêreldoorlog. May Eliane word in die bekende Miailhe-familie op Bordeaux se Château Pichon Longueville Comtesse de Lalande gebore. Dié familie se Bordeaux-wynbande strek terug tot die vroeë 1800’s en hier leer sy alles wat sy vandag van wynmaak weet.
Sy sou in haar leeftyd nie net hierdie landgoed tot verdere hoogtes aanspoor nie, maar ook Glenelly op die wêreldkaart kom plaas. En natuurlik kan jy skaars glo dat die sterre so in pas was dat die statige May in Mei gebore is!

May in 1945 as 20-jarige jong meisie
Sy vertel: “Toe ek in Bordeaux grootgeword het, het ons gedink wyn is wat jy met pêches au vin (perskes in wyn) gehad het of suikerwater getint met Bordeaux – iets soet en groot, maar nooit ernstig nie. Maar danksy my oom, Louis, is ek vroeg aan wyne buite ons grense blootgestel, en dit het alles verander. Ek het besef wyn is nie net tradisie nie, dit kan verkenning, uitdrukking en elegansie ook wees.”
Haar pa, Edouard, en sy broer (dieselfde Louis van hierbo) was mede-eienaars in verskeie van Médoc se bekendste landgoedere, waaronder Châteaux Pichon Lalande, Palmer, Siran, Dauzac en Coufran. Tog, ten spyte van hul aristokratiese afkoms, was Bordeaux in die 1930’s in krisis. Die Groot Depressie het wynmarkte verlam en legendariese oesjare soos 1928 en 1929 tot ’n fraksie van hul ware waarde verminder. Teen die middel dertigs het selfs uitsonderlike oesjare gesukkel om volhoubare pryse te behaal. Toe kom die Tweede Wêreldoorlog.

May saam met haar pa Edouard
Toe Bordeaux onder Nazi-besetting geval het, het die Miailhe-familie Duitse bevele verontagsaam deur twee Joodse gesinne by Château Palmer te huisves. Toe Duitse magte skielik die landgoed oorneem, het May, nog ’n tiener, gekyk hoe haar pa en oom ’n baie gewaagde ontsnapping na Argentinië uitgevoer het. Vir baie sou hierdie herinneringe later vervaag. Vir May het dit ’n lewenslange filosofie geword: om te volhard, aan te pas en te herbou.
Teen die tyd dat May Château Pichon Lalande in 1978 geërf het, was Bordeaux steeds ’n geïsoleerde en manlik gedomineerde bedryf. Sy was in haar vyftigs en neem die grootste uitdaging van haar loopbaan op.

May en haar pa Edouard en haar ouer suster, Monique
Ten spyte van sy historiese 1855 Second Growth-klassifikasie, het Pichon Lalande finansieel onstabiel geword. Baie het haar aangeraai om te verkoop. Maar May staan by haar oorwegings en moderniseer wingerdbestuur, herstruktureer wynmaakpraktyke en sluit – teen die norm in – meer Merlot in haar tradisioneel Cabernet-gedrewe wyne in. Dié besluit onderskei haar wyne van dié van haar Pauillac-bure.
Haar instinkte was reg en onder haar leierskap produseer Pichon Lalande van die wêreld se gesogste oesjare, waaronder die legendariese 1982 en 1983, wat steeds van Bordeaux se mees versamelbare wyne is. In 1994 vereer Decanter haar as “Woman of the Year” en teen die vroeë 2000’s is Pichon Lalande op sy kruin.
Toe vele ander mense sou aftree, neem haar lewe ’n interessante wending: Die bekende wynbeoordelaar en -skrywer, Michael Fridjon, nooi haar in die negentigs na Suid-Afrika. May is in haar laat sewentigs en lus vir ’n nuwe uitdaging. Suid-Afrika is ’n jong demokrasie; die wynbedryf by ’n kruispad. Die letsels van apartheid het diep gelê.

Glenelly is lid van die Stellenbosch Wynroetes, die land se oudste en grootste wynroete, wat vanjaar sy 54ste bestaansjaar vier.
Maar Stellenbosch – met sy granietgrond en koel seeluggie wat wingerde afkoel – steel haar hart. Daar is vele ooreenkomste met haar geliefde Bordeaux. Teen vele se vermaninge koop sy in 2003 die vrugteplaas teen die hange van Simonsberg. May is 78.
May onthou dat wyle Anton Rupert vir haar gesê het as jy in Suid-Afrika belê, moet dit in Stellenbosch wees. “Ek het nie hierheen gekom om Bordeaux te dupliseer nie. Ek het gekom om ’n nuwe hoofstuk in nuwe grond te skryf, met dieselfde waardes, maar met ’n ander stem.”
Sy verkoop Pichon Lalande kort nadat sy Glenelly se baas geword het. Op Glenelly maak die ou vrugteboorde plek vir wingerde wat teen die hellings gedy: Cabernet Sauvignon, Merlot, Petit Verdot en Cabernet Franc. Nie lank nie, of die lof vir die landgoed se Bordeaux-styl-versnitte begin instroom.
.......
Om haar 100ste verjaardag te vier, stel die landgoed – wat nou deur haar kleinseun Nicolas Bureau bestuur word – die Lady May 2020 bekend.
.......

May op haar 100ste verjaardag op die pragtige wynplaas buite Stellenbosch.

Om haar 100ste verjaardag te vier, stel die landgoed die Lady May 2020 met ’n spesiale etiket bekend.
Om haar 100ste verjaardag te vier, stel die landgoed – wat nou deur haar kleinseun Nicolas Bureau bestuur word – die Lady May 2020 bekend. May is steeds daagliks betrokke, maar Nicolas dra die grootste verantwoordelikheid. May kry daaglikse verslae van die wynmaakproses in Switserland waar sy nou woon. Haar belangstelling in wingerdbesluite, kelderpraktyke en selfs etikette het beslis nie getaan nie.

Die landgoed word nou deur haar kleinseun Nicolas Bureau bestuur.
Dirk van Zyl, die landgoed se wynmaker sedert 2022 en ook Afrika-verkoopsbestuurder, sê as daar nou een oesjaar is wat May se deursettingsvermoë versinnebeeld, dan is dit 2020: Dit was ’n droë, warm somer en danksy inperking, was oestyd ’n moeilike een om te navigeer. Maar die wingerde, amper 20 jaar oud, het hul slag gewys.
Dis vir 24 maande in 300 liter Franse eikehoutvate verouder en eers individueel verouder en toe ná versnyding weer vir drie jaar in die bottel verouder.

Moenie jou besoek afsluit sonder om in die kelder na May se glasversameling in die Glasmuseum te gaan kyk nie. Daar is meer as 600 raar stukke wat meer as 2000 jaar se glasmaak-geskiedenis verteenwoordig.
Die wyn spog ook met ’n spesiale verjaardagetiket. Die Bordeaux-versnit is die perfekte vermenging van sy Stellenbosch-wortels en Franse erfenis en bestaan uit 59% Cabernet Sauvignon, 23% Merlot, 13% Cabernet Franc en 5% Petit Verdot. Dirk hou sy pragtige kristalglas teen die lig en sê dis die laagste persentasie Cabernet Sauvignon wat nog in enige Lady May gebruik is. Hy sê hoewel die uitdagings van 2020 groot was, is hy gelukkig met die wyn. Hy erken dat mens maar altyd krities is wanneer jy oes. “Wyn moet tyd en plek vasvang,” verklaar hy.

Die proelokaal het pragtige uitsigte oor die berge en wingerde.
“Lady May 2020 het gekonsentreerde geure van cassis, swart kersie, pruim en donker bessies op die neus, met sederhout, mokka, swart olyf en sagte spesery as ondertoon. Op die tong is dit afgerond met ’n fyn tannienstruktuur en elegante, talmende nasmaak.”
Kenners voorspel die digtheid, fokus en Bordeaux-agtige struktuur sal maak dat die wyn tot ver in die 2040’s nog goed sal proe.

Besoekers kan die hele wynreeks proe en ook saam met middagete geniet.
En hoewel die wyn skaars bekendgestel is, word die hoogste lof reeds van die pieke verkondig: die befaamde wynskrywer, Tim Atkin MW, gee dit 97 punte en verklaar die wyn is gebou om dekades te hou.
Dirk vertel daar is net minder as 31 000 bottels beskikbaar en dis beslis een vir wegbêre in die kelder.
.......
En dit bring ons met ’n lang ompad terug na die ander groot mylpaal van die jaar: Pinotage se eeufeesviering. Ook hier is May ’n integrale deel.
.......
Ons kyk uit oor die plaas.
Die 120 hektaar plaas aan die voete van die berge buite Stellenbosch met sy indrukwekkende betonkelder het 58 hektaar wingerd en kan nie hul aanplantings uitbrei nie. Die wingerde is oorwegend rooi met minder as 10% wit. Dirk vertel hulle het tans 45% Cabernet Sauvignon en wil dit graag vermeerder na meer as 55%, en hulle beplan om ook hul Merlot-wingerde te laat groei.
En dit bring ons met ’n lang ompad terug na die ander groot mylpaal van die jaar: Pinotage se eeufeesviering. Ook hier is May ’n integrale deel. Sy het enkele dae na haar 100ste verjaardag – en ter voorbereiding van die Pinotage-vieringe in Oktober vanjaar – ’n goue munt saam met die Kaapse Munt geslaan.

May het onlangs ’n goue munt gedruk vir Pinotage se 100ste verjaardag.

Daar is net ’n beperkte hoeveelheid munte geslaan.
Hierdie geleentheid is meer as bloot simbolies, het sy vertel. Sy sê die feit dat sy en Pinotage ’n geboortejaar deel, is ’n “pragtige storie dat ons lewens só kruis. Ek het nog altyd groot bewondering vir Pinotage se kompleksiteit en karakter gehad en is baie geëerd om deel van hierdie oomblik te kan wees.”
Izak Perold was die pionier wat Pinot Noir en Cinsaut gekruis het om Pinotage te skep. Die 24 karaat suiwer goue munt is ontwerp deur Natanya van Niekerk, bekroonde numismatikus en direkteur van die Kaapse Munt. Dit vorm deel van ’n beperkte uitgawe-reeks wat die Pinotage-eeufees vier, met slegs 300 munte. Die klein, gegraveerde engeltjie wat oor ’n kristalwynglas babbel, is geïnspireer deur ’n familieverhaal wat deur Perold se kleindogter gedeel is oor hom wat uitsonderlike wyn “engeltjiepiepie” genoem het.
“Hierdie oomblik is die hoogtepunt van waaroor numismatiek gaan,” het Natanya by die geleentheid gesê. “Die storie van Pinotage – gebore uit Franse kultivars en vervolmaak in Suid-Afrikaanse grond – en die teenwoordigheid van Madame May – ’n simbool van Franse erfenis en Suid-Afrikaanse aanneming – maak hierdie oomblik spesiaal. Dis meer as kuns; dis ’n nalatenskap gegiet in goud.”

Tydens die glansgeleentheid waar die munt geslaan is, is agter van links, Craig Bergsma, Marc Trout, Peter Steyn (al drie van Kaapse Munt) en Dirk Coetzee (Pinotage Assosiasie). In die middel is Lucille Botha, Elsabe Ferreira, Beyers Truter en Belinda Jacobs (al drie van Pinotage Assosiasie) en Natanya van Niekerk (Kaapse Munt). May sit heel voor.
Kitsfeite
- Bespreek vir middagete by die restaurant Vine Bistro by 021 809 6444 of stuur ’n e-pos aan bistro@glenelly.co.za. Die restaurant is van Dinsdag tot Sondag vir middagete oop en Vrydag en Saterdag vir aandete.
- Glenelly-wynlandgoed is deel van die Stellenbosch Wynroetes, Suid-Afrika se oudste wynroete wat meer as 200 wynplase en druifprodusente verteenwoordig. Die roetes vier vanjaar hul 54ste verjaardag.
- Moenie jou besoek afsluit sonder om in die kelder na May se glasversameling in die Glasmuseum te gaan kyk nie. Daar is meer as 600 raar stukke wat meer as 2000 jaar se glasmaak-geskiedenis verteenwoordig. Sy het op ’n keer met my besoek aan die landgoed vertel: “Glas – soos wyn – vang tyd en lig vas. Jy moet dit versigtig vorm, anders breek dit. Maar as jy dit goed doen, hou dit vir ewig. Ek het nog altyd daarvan gehou om dit wat die wêreld as arm sien – sand, grond, vrugte – se skoonheid, en selfs die rykdom wat daarin vasgevang is as jy dit met sorg hanteer, te vertoon.” May de Lencquesaing se glasversameling is een van die grootste versamelings in privaat besit ter wêreld. Die uitstallings wissel van die 1ste en 2de eeu tot moderne klassieke werke, insluitend stukke deur Salvador Dalí en Lino Tagliapietra.
Lees ook:
Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte
