Notre-Dame herrys wéér

  • 0

Foto’s: Clifford Roberts en Ingrid Jones

Op 8 November lui die gerestoureerde kerkklokke van die historiese, Gotiese Notre-Dame-katedraal op Île de la Cité in die hartjie van Parys vir die eerste maal in vyf jaar. Die katedraal wat uit 1163 dateer, het in April 2019 afgebrand. As alles volgens plan verloop, heropen dit weer op 8 Desember.

Notre-Dame beteken “Onse dame” – mense het ’n baie persoonlike verbintenis met die gebou.

Om vir die eerste maal in 30 jaar weer voor die indrukwekkende gebou te staan, al is sy hewig onder konstruksie, neem my terug na 1993, toe ek in absolute ongeloof na dié argitektoniese kunswerk gestaar het.

Die eerste maal dat ek die katedraal weer sien, is op die bo-dek van die bus vroeg in Desember. (Foto: Maryke Roberts)

Ons het net ná ons studies deur Europa geryloop: Ek en die man van my drome, wat later my eggenoot sou word. Dis lank voor selfone, toepassings en rekenaars, selfs voor die internet. Ons het groot oopvoukaarte in ons rugsakke, gebruik tiekiebokse wat munte opslurp vir oorsese oproepe en kry ons nuus uit gedrukte koerante.

Toe ons teen die vierde maand van ons jaarlange sabbatsreis in Parys aankom, is die Notre-Dame, die Eiffeltoring en die Sacré-Cœur van die geboue wat ek eerste wil sien, want dis danksy ons totale “afgesnydheid” van die wêreld tydens my grootwordjare op die platteland, al geboue wat ek sal herken. Of so het ek gedink. Daar gekom, besef ek toe hoe bekend baie meer van die stad is, danksy flieks, televisie en tydskrifte.

Maar terug by die Notre-Dame. Ons is brandarm en loop half verlangend by straatkafees verby waar ooms aan sterk koffie teug en tannies botterige croissants met hul hande eet. Ons daaglikse rantsoen is blikkies ravioli (wat ek tot vandag toe nie kan eet nie) en droë baguette (die vorige dag s’n, want dis halfprys). Maar ons stap die stad plat, kyk, hoor, ervaar alles.

Maar dan is ons een dag weer op pad en om die volgende draai doem die Notre-Dame voor ons op. Skielik is ons plat sakke, die koffie en croissants vergete. Dis sekerlik die mooiste gebou wat ek al ooit gesien het. Die wolke teken patrone bo die indrukwekkende gebou.

Bo en onder: Deur die loop van ons meer as drie weke kuier in die stad, is ons gereeld daar. (Foto’s: Clifford Roberts)

 

Die katedraal is op die ruïnes van twee vorige kerke gebou en is danksy die idees van die destydse biskop van Parys, Maurice de Sully, in 1160 tot die werklikheid omskep. Die hoeksteen is in 1163 deur Pous Alexander III gelê.

Die koor – die spesiale gedeelte waar die koorlede en die kerkraad sit – die westelike fasade en die middelste sitplekke is teen 1250 voltooi, en stoepe, kapelle en ander versierings is oor die volgende 100 jaar bygevoeg.

Notre-Dame se bekende sentrale spits is tydens restourasie in die 19de eeu bygevoeg en het die oorspronklike vervang wat in die 18de eeu verwyder is weens onstabiliteit.

Die binnekant van die katedraal is 130 by 48 meter en die dak is 35 meter hoog. Twee massiewe vroeë Gotiese torings (1210–1250) versier die westelike fasade, wat in drie verdiepings verdeel is en die sydeure is met fyn vroeë Gotiese houtsnywerk en ’n ry figure van Ou-Testamentiese konings versier.

Die agterkant van die katedraal, waar die steierwerk en bouwerk amper duideliker is. (Foto: Clifford Roberts)

Die twee torings is 68 meter hoog; die torings waarmee hulle gekroon sou word, is nooit bygevoeg nie. Aan die katedraal se oostelike punt is groot kerkvensters (bygevoeg 1235–1270) en dit word ondersteun deur enkelboog-steunpilare van die meer gewaagde Rayonnant-Gotiese styl.

Die katedraal het deur die eeue al baie skade gely en baie agteruitgegaan. Ná die Franse Rewolusie het Napoleon – wat homself in 1804 tot keiser van die Franse in die katedraal gekroon het – dit van moontlike vernietiging gered.

Notre-Dame het in die middel van die 19de eeu groot restourasies deur die Franse argitek Eugène-Emmanuel Viollet-le-Duc ondergaan.

 

Jy kan onder die plaveisel voor die katedraal gaan kyk na hoe die bouplanne uiteengesit is. (Foto: Clifford Roberts)

Ons lê in die komende weke saam met Parysenaars langs die Seine (met ons klere aan, dankie), ons vind straatkafees weg van die toeristekern en kan af en toe ’n sterk koffie bekostig. Met gratis museumdae is ons eerste in die ry. Maar om een of ander rede loop ons voete ten minste drie maal per week weer tot voor die Notre-Dame. Die vrede in die Middeleeuse katedraal, die oudheid van die kunswerke, beelde en preekstoel, groter as wat my 20-jarige brein kan inneem.

.......
... Ek weet hoe spesiaal dit is om ’n reuse katedraaldeur oop te stoot – die handvatsel blink gevat; die drumpel holrug getrap; die hout donkerder bo waar geen volson kom nie. Om binne op die houtbankies te sit wat al houding het, ongelyke vloerteëls koel onder jou voete en die gedagte van bykans 1 000 jaar se gebruik alomteenwoordig.
.......

Toe word ons een oggend in April 2019 wakker met die skokkende nuus: Die katedraal het grootliks afgebrand. Dis tydens restourasiewerk wat die brand in die solder van die katedraal uitgebreek het en die grootste gedeelte van die dak, Viollet-le-Duc se 19de-eeuse toring en gedeeltes van die ribgewelf is verwoes. Emmanuel Macron, Frankryk se president, het onmiddellik belowe dat die katedraal herbou sal word en dit sal binne vyf jaar geskied.

Foto’s van hoe dinge agter die hoë skermmure lyk. (Foto: Clifford Roberts)

Ek het nie regtig toe gedink dit sal gebeur nie, veral nie toe Covid ’n jaar later uitbreek en die wêreld tot stilstand gebring het nie. Natuurlik is daar mense wat meen dis geldmors om in ’n tyd van internasionale swaarkry geld op ’n katedraal te “mors”. Die koste sou uiteindelik meer as €700 miljoen (R13,3 miljard) beloop.

Juan Sebastián Pinto, ’n argitektuurskrywer, berig op 20 April 2019 op Forbes.com:

Alhoewel die argitektuur en struktuur van Notre-Dame breedvoerig gedokumenteer is en vooruitgang in restourasietegnologie ’n getroue rekonstruksie van die verlore toring en dak kan maak, is daar geen restourasiewerk wat die ouderdom en die ruheid van die katedraal weer kan laat opvlam nie. Niks kan die organiese sy van argitektuur wat na vore kom uit die gebruik van geboue, die wedersydse verhouding tussen plekke en hul inwoners terugbring nie.

My hart huil.

Hy is reg, want ek weet hoe spesiaal dit is om ’n reuse katedraaldeur oop te stoot – die handvatsel blink gevat; die drumpel holrug getrap; die hout donkerder bo waar geen volson kom nie.

Om binne op die houtbankies te sit wat al houding het, ongelyke vloerteëls koel onder jou voete en die gedagte van bykans 1000 jaar se gebruik alomteenwoordig.

Vir die afgelope halfdekade moes ondersteuners tevrede wees met virtuele toere (https://www.friendsofnotredamedeparis.org/virtual-tour-notre-dame/) wat danksy die Mediasentrum vir Kunsgeskiedenis van die Universiteit van Colombië moontlik gemaak is.

Die fotografie is uitgevoer onder die Mapping Gothic-projek wat deur die Andrew Mellon Foundation (2008–2011) onder leiding van Stephen Murray en Andrew Tallon befonds is.

Wanneer jy jou virtuele toer uitvoer, kan jy volskerm gaan en zoem om besonderhede te bestudeer. Jy kan die rigtingpyltjies volg of op die plan klik om na nuwe plekke te beweeg.

Hierdie foto van Patrick Zachmann van Magnum Photos gee ’n goeie idee van hoe hoog die hyskraanoperateurs bo die stad werk. (Foto: Clifford Roberts)

Toe ons nie kon reis tydens Covid nie, was ek ’n paar maal op daardie virtuele toer vir ’n bietjie Europese kuns én vertroosting. En natuurlik die versugting dat ek dalk eendag weer daar in die skemerkerk sal kan staan.

In 2021 bespreek ons kaartjies Parys toe. Ons gaan op al ons ou spore terugstap. Maar twee weke voor ons beplande vertrek, sluit Frankryk weer hul grense vir Suid-Afrikaners en ses ander nasionaliteite nadat die Omicron-variant na Suid-Afrika teruggespeur word.

Dit voel asof die pandemie nooit tot ’n einde gaan kom nie. Of ons nooit weer internasionaal gaan reis nie; nooit weer sonder maskers gaan leef nie.

Draai die horlosie twee jaar vorentoe. Ons land bitter vroeg in Desember 2023 in Parys. Ons bly aan die oorkant van die stad en die eerste kans wat ek sal kry om die katedraal te sien, is ’n week ná ons aankoms, wanneer ons met die toeristerooibus die stad gaan verken.

’n Houtbeeldjie van hoe die katedraal weer uiteindelik daar sal uitsien. (Foto: Clifford Roberts)

Dis weer toe ons om ’n draai kom op die bo-dek van die bus, dat die katedraal voor ons opdoem – hyskrane en steierwerk wat haar pragtige fasade verdwerg. Daar is hoë heinings om nuuskieriges uit te hou, maar ’n tydelike pawiljoen is gebou waar mense vir ’n paar minute gaan sit en die bouwerk gadeslaan.

Die volgende dag is ek op daardie pawiljoen. Dis koud en grys. Die windjie is snerpend. Ek sit in stille verwondering oor die vordering wat in vier jaar gemaak is, maar ook in groot vertwyfeling of die katedraal binne vyf jaar voltooi sal wees, soos wat Macron in 2019 beloof het.

Saans stap ons wye draaie om weer by die katedraal verby te gaan. Op ons laaste dag in die stad op 7 Januarie maak ek my oë vlugtig toe en stuur ’n skietgebedjie op. Soos wat ek destyds met ’n kersie in my hand gedoen het. Wie weet hoe lank voor ek ooit weer hier sal staan? Wie weet of ek ooit weer binne die Gotiese kunswerk sal kan vertoef?

Ek skryf ook hier oor die kersie wat ek daar aangesteek het.

Op 23 September kuier ’n vriendin, Ingrid Jones, in Parys. My hart trek sommer ’n punt toe ek sien sy pos foto’s waar sy voor die katedraal staan en ek vra opslag dat sy foto’s van die vordering stuur. Dis merkwaardig hoeveel daar in minder as agt maande gebou is.

Bo en onder: Ingrid Jones neem hierdie foto’s in September vanjaar en die vordering is opmerkbaar.

Op 30 Oktober hoor ons oor die nuus dat mense in opstand is oor die voorgestelde vyf Euro toegangsfooi wat die kulturele minister voorstel. Die toegangsfooi aan die ongeveer 12 miljoen jaarlikse besoekers sal glo gehef word om al Frankryk se historiese kerke en monumente te bewaar. Die Katolieke Kerk skop teë en hou ’n 1905-wet voor dat kerke verniet moet wees. Die regering voer aan dat kulturele besoekers kan betaal, maar aanbidders dalk nie. Die toegangsfooi met die jaarlikse getal besoekers kan al die kerke in Frankryk red. Daar is glo bykans 5 000 kerke regoor die land wat in verskillende fases van agteruitgang is en amper 500 wat tans gesluit is vir die publiek, omdat dit bloot te onveilig is.

Ek gaan kyk en luister op Instagram hoe die klok op 8 November lui. Daardie aand staan ek by die opening van ’n nuwe wynkroeg in Kaapstad. Een van die gaste is ’n jong IT-ingenieur van Johannesburg, wat op pad is na Parys. Ons klink glase rooiwyn op die lewe en die stad van die liefde. Hy sal net voor Kersfees arriveer.

“Het jy vanoggend die Notre-Dame se klokke hoor lui?” vra hy half uitasem. Ek kyk in ongeloof na hom. Nog ’n Notre-Dame-malletjie, soos my geliefde my noem.

Ek vra mooi dat hy na die Notre-Dame gaan vir my part.

“Ek sal en as ek kan ingaan, sal ek ’n kersie vir jou gaan aansteek ...” Ek wonder hoe hy geweet het?

Tot ek weer daar in die effense muwwerige skemer kan staan, sal ek hieraan vashou.

Kyk en luister hier hoe die kerkklokke Vrydag gelui het.

Die laaste dag dat ons in Parys was, 7 Januarie, lyk die katedraal só. (Foto: Clifford Roberts)

Lees ook:

Kersies aansteek bring innerlike vrede

Sprokieskuier in die hartjie van Parys

Bekyk Parys van ’n lekker rustige bootrit op die Seine

Waarlik die mooiste dorpie nog!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top