Salsify, die see en die magiese getal ses

  • 0

Sekerlik een van die mooiste gesigte as jy oor Kloofnek aangery kom en die restaurant lê onder in die holte.

Foto’s: Clifford Roberts en Jan Ras

......
Selfs die ryk Kaapse geskiedenis wat terugdateer na die dae van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) en die Britse magte word hier ten toon gestel en word deel van die heerlike kos-en-wyn-ervaring.
......

Ons eet die afgelope 30 jaar elke jaar op ons huweliksherdenking by een van die land se voorste restaurante. Dit verg maande se beplan – en geld spaar – maar ons stap bitter min teleurgesteld weg. Vanjaar beproef ons die bekroonde Salsify at The Roundhouse, wat ’n paar weke voor ons besoek aangewys is as die Eat Out-restaurant van die jaar; drie sterre behaal het; en by die Luxe Restaurant-toekennings ook drie sterre behaal het. Ons verwagtinge is in alle opsigte oortref.

Selfs die ryk Kaapse geskiedenis wat terugdateer na die dae van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) en die Britse magte word hier ten toon gestel en word deel van die heerlike kos-en-wyn-ervaring.

Bedags is die atmosfeer heeltemal anders en jy kan oor die see sit en uit tuur soos die Nederlanders honderde jare gelede gedoen het.

Sjef Ryan Cole, mede-eienaar en uitvoerende sjef by Salsify en COY, was die Eat Out Woolworths Sjef van die Jaar 2023. Salsify is vir twee agtereenvolgende jare (2023 en 2024) aangewys as “Africa’s Best Landmark Restaurant” by die World Culinary Awards™, en het ook drie borde ontvang by die jaarlikse Jenny Handley Gourmet Guide Awards. Ryan het ook die Haute Posterity-toekenning ontvang.

Abigail Donnelly, Eat Out se kulinêre direkteur, het met die 2025-Eat Out-toekenning gesê dat Salsify “die hoogste telling van enige restaurant in die land behaal het”. Sy het gesê: “Dit is ’n restaurant wat die geskiedenis van sy unieke omgewing balanseer, wat sy verlede erken en kritiseer, terwyl sy onmiddellike omgewing gevier word deur hiper-plaaslike kossoekery. Hierdie storievertel loop deur sy spyskaart, aangevul deur oplettende, kundige en vriendelike diens. Hier is ’n wonderlike gevoel van vrygewigheid en gaste voel spesiaal van die oomblik wat hulle arriveer.”

Hoofsjef Nina du Toit en uitvoerende sjef en eienaar, Ryan Cole.

Ek het dié prysuitdeling via sosiale media gevolg en veral sjef Ryan se toespraak geniet: “Ses jaar van opoffering, ses jaar van meedoënlose strewe na verbetering – om nie beter as enigiemand te wees nie, maar om die beste weergawes van onsself te wees – en ses jaar van bemagtiging en verbetering en net probeer om ons stem in die Suid-Afrikaanse kostoneel te vind. Ons staan ​​vir baie min dinge – ons staan ​​vir geen snert nie, ons staan ​​vir eerlikheid en ons staan ​​​​vir ’n geur. Maar dit verg ’n hele gemeenskap om dit te vermag en op ’n bord voor te sit.”

Ryan het ook hulde gebring aan hoofsjef Nina du Toit se pogings sedert dag een, asook bestuurder Eden Danda en sommelier Sam Ross.

“Sonder almal in ons span sou niks hiervan gebeur nie en dit is net die begin,” het hy bygevoeg.

Ek moes glimlag, want ons troudag is die sesde, so voel my van nou af moet my gelukkige nommer ses – en nie sewe nie – wees! En boonop het ons met soveel van dié wenspan te doen gekry op ons spesiale aand.

Die liggies wink jou verwelkomend binne, terwyl die son oor die see ondergaan.

Ons arriveer teen sononder. Ver onder ons lê Kampsbaai en die hemele is oranje en pienk aan’t verkleur. Die dag groet, maar ’n heerlike aand is voor ons aan’t ontvou. Die laaste sonstrale kleur Leeukop soos ’n kleuter met vetkryte in.

Salsify beslaan die boonste vlak by die historiese gebou The Roundhouse. Dit dateer uit 1786 toe dit eers ’n waghuis vir die VOC en daarna ’n jaghuis vir Lord Charles Somerset, Kaapse goewerneur van 1814 tot 1826, was. Nie alleen kon vyandige skepe van ver gesien word nie, maar vars produkte kon ook na die hawe geneem word vir verkope en proviand van oorsee bekom word.

Salsify se dekor is ’n gesamentlike poging deur Ryan en die ontwerper Jean Francois de Villiers. Die ontwerp bly gesetel in Salsify se drie riglyne: geskiedenis, seisoenaliteit en volhoubaarheid. Die dekor bied nie net ’n blik op die gebou se geskiedenis nie, maar daag ook die leefstyl van daardie tydperk uit.

Bo en onder: Lady Salsify deur Jan Otto du Plessis begroet jou in die middel van die gebou.

Ons besoek begin met ’n handewas-seremonie. Dis ingestel om jou onmiddellik te laat ontspan en regtig in die oomblik te laat wees. Die tuisgemaakte fynbos-en-soutskrop se heerlike geur vul jou neusgate en met die hande afdroog, word jy intens bewus van die noodsaaklikheid om teenwoordig te wees en die sorg agter die ervaring te eer. Daarna stap jy in The Central Chamber by Jan Otto du Plessis se 1,3 m Lady Salsify verby. Dié standbeeld – half vrou, half hanekop – beskerm én begeester die span. Die ruimte dien as verposing tussen die ander luukse vertrekke, hoor ons.

Jou besoek begin eers met ’n handewas-ritueel by ontvangs.

 

Ons stap deur na The Preservation Chamber vir spesiale drankies en ’n peuseldingetjie. Die reuk van inheemse kruie en fynbos vul jou neus. Ons geniet ’n Impepho Fizz en perlemoen. Die idee agter die Impepho as inspirasie én bestanddeel, hoor ek later by Ryan, is omdat Impepho (wilde bergsalie) tradisioneel gebruik word om ’n ruimte te reinig. Dit word by Salsify in tee gebrou en dan as basis gebruik vir die verwelkomingsdrankie. Ryan sê in hul geval is dit amper ’n reinigingsdrankie vir besoekers wat hul ruimte betree.

Ons stap deur na The Preservation Chamber vir spesiale drankies en ’n peuseldingetjie. Die reuk van inheemse kruie en fynbos vul jou neus.

Terwyl twee sjefs werskaf, kom vertel een van die span ons meer van die gebou se geskiedenis en die pragtige vertrek waarin ons sit. Die oorspronklike messelwerk van die historiese gebou word hier gekontrasteer met rebelse graffiti deur die internasionale straatkunstenaar Louis de Villiers (Skull Boy). Die werk vertel die verhaal van een van die gebou se vroegste inwoners, James Barry, en dié anargistiese kunsstyl worstel met die gebou se moeilike geskiedenis. Die rak teen die muur is oortrek met gepreserveerde skatte uit die kombuis en dis ook hier waar die suurdeegplantjie, Bob, al vir ses maande in ’n fles leef.

Terwyl twee sjefs werskaf, kom vertel een van die span ons meer van die gebou se geskiedenis en die pragtige vertrek waarin ons sit.

Ons geniet ’n Impepho Fizz en perlemoen.

Langs my hang ’n skildery van ’n tipiese 18de-eeuse hertog of heer, getiteld The Damaged Duke, maar sy gesig en veral oë het ’n verfstreep deur. Hy verteenwoordig een van die vele gaste wat destyds by Lord Charles Somerset sou kom kuier het. Daardie worsteling met die gebou se geskiedenis is ook hier sigbaar.

The Damaged Duke depicts an 18th century figure – the likes of whom would’ve been similar to the guests of the then-master of the Roundhouse, Cape Sir Lord Charles Somerset. The print is complete with elaborate illusion frames that has been defaced by spray-paint, with a vivid orange line across the subject’s face.

Prince & Rebel the vandalised vicount in die ingangsportaal.

Ek kyk na die woorde teen die muur. James Barry (1789–1865) – ’n militêre snydokter in die Britse weermag – was toe al die tyd ’n vrou, maar in die 1800’s kon vroue nie dokters word nie en sy het haarself as man voorgedoen. Lady Salsify bring dus ook hulde aan haar, vandaar die half vrou, half voëlkop, omdat sy moes leef as iets wat sy nie was nie om in ’n manswêreld te kon werk en leef.

Die uitgekrapte name in die ruite van verliefdes wat voor ons hier hul ewige trou kom sweer het.

Deur die Seasonal Room word ons aangeraai om op te kyk. Die dak is ’n kunswerk op sigself. Duisende Salsify-spyskaarte van die laaste ses jaar is in origami-blomme gevou en vier die restaurant se geskiedenis en volhoubaarheidsreis. Dis alles deel van Jean Francois en sy span se skeppings.

Deur die Seasonal Room word ons aangeraai om op te kyk. Die dak is ’n kunswerk op sigself. Duisende Salsify-spyskaarte van die laaste ses jaar is in origami-blomme gevou.

Elke bottermessie is handgegraveer en bring hulde aan Lady Salsify.

By ons tafel in In the Sea Room, waar jy bedags die see kan sien net soos die mense van die VOC destyds die inkomende skepe kon sien, het ons ’n keuse van die wynpasmaat- en die Gem-wynpasmaat-spyskaarte. Ons kyk by die sagte beligting na die name wat in die glaspanele van die ou vensters ingekrap is. Dis van mense wat deur die jare hier getroud is, verduidelik die kelner. Ek voel sommer deel van nog ’n gemeenskap.

Sam Ross, Salsify se sommelier, wat kan raad gee oor al die spesiale wyne op hul spyskaart en in hul versameling.

Ons kies die Gem-weergawe, want dit bied wyne wat jy nooit weer – tensy jy die regte mense ken – sal kan proe nie. Daar is net een of twee bottels in Salsify se kelder oor.

Elke dis word in handgemaakte keramiekware bedien, Lady Salsify is op die eetgerei uitgekerf en elke wyn kry sy eie kultivar-spesifieke Riedelglas. Dié glasmaker se passie om die wyn op sy beste te laat smaak neem beslis hande met die passie van die sjefspan.

Aimee Dunn, een van Silwood se studente, met ’n mandjie vol sampioene, daardie oggend uitgesnuffel in Nuwelandwoud.

Halfpad deur die aand arriveer Aimee Dunn, een van Silwood se studente, met ’n mandjie vol sampioene, daardie oggend uitgesnuffel in Nuwelandwoud. Die restaurant se fokus op snuffelkos, antieke graan en volhoubaarheid is in elke dis verweef.

Een van die span kom neem ’n foto van ons twee, maar verdwyn weer, en ons neem aan elke gas word afgeneem. ’n Rukkie later keer sy terug met ’n mooi kaartjie met gelukwensinge op ons 30ste huweliksherdenking. Die woorde: “Dankie dat julle hierdie spesiale geleentheid met ons deel” het ons albei sprakeloos.

Varkwang, sultana en bokkomsous is met die Hamilton Russell Pinot Noir 2014 bedien.

Minute vantevore was hierdie sampioene nog vars in ’n mandjie, nou is dit ’n herfsverrassing wat met die AA Badenhorst White 2009 bedien word.

Sjef Ryan se liefde vir die see is ooglopend in die keuse van disse. Ek het iewers gelees dat hy uit ’n vissersfamilie kom en grootgeword het met pa’s en ooms en broers wat seekos vang en skoonmaak, en dat hy daar sy passie vir die oseaan en alles wat dit bied, gekry het.

“My pa Roy was ’n beroepsvisserman en my broer is ook een, dis in my DNS,” het Ryan my op ’n keer vertel.

Al die vis wat in die restaurant bedien word, word óf deur Ryan óf deur sy broer gevang.

Die sjef verander voortdurend die spyskaart op grond van beskikbare produkte.

Sjef Nina kom vertel tussen elke gang wat op ons borde is en dat Ryan die meeste Maandae visvang en homself voorberei vir die week wat voorlê.

Die De Trafford Chenin Blanc 2017 is saam met die tjokka, ertjies en boontjies bedien en het vars vertoon, al is dit agt jaar oud.

Die Zalto Gravitas Omega-glas het geen voetstuk nie en rus op sy sy om die mooi kleur van die wyn teen die wit tafeldoek te vertoon. Die groot rondings van die glas gee ook die wyn kans om asem te haal. Ons het die AA Badenhorst White 2009 daarin geniet.

Hy het ná sy sjefstudies in Londen gaan werk by van die wêreld se bekendste restaurante, Launceston Place – onder die twee Michelinster-sjef Tristan Welch – by The Square saam met die twee Michelinster-sjef Phil Howard en saam met Rob Weston by La Trompette.

Terug op tuisgrond werk hy eers by La Motte, voor sjef Luke Dale Roberts hom vra om by die span van The Test Kitchen – toe Eat Out se nommer een restaurant en 48ste op die World’s 50 Best List – aan te sluit. Vier jaar later open hy en Luke Dale vir Salsify en in 2020 neem Ryan alleenbesit oor.

Plaaslike kase en beskuitjies is met Overgaauw 1989 bedien.

Die Salsify-sjokoladenagereg met Bains 18 jaar oud roomys. Ons geniet dit saam met die Paul Cluver 2014.

Die afgelope ses jaar het hy behoorlik sy stempel afgedruk.

Dis amper middernag toe ons baadjies uit die kleedkamer aangegee word en die gawe jong man ons motordeur oophou. “Ek hoop julle het die aand geniet. Veilig reis huis toe.”

Ek draai vir oulaas om en kyk na die gebou in die sagte ligte en wonder wat die VOC-manne sou sê as hulle sien wat hul waghut en ou Somerset sou brom oor wat sy ou jaghut geword het!

Ons kaartjie met ’n foto’tjie in om ons onvergeetlike aand te onthou.

Tydens die hele rit na ons gastehuis, St James Manor Guesthouse, herleef ons elke klein detail van die aand. Toe ons in die bed kruip met die klank van die see in ons ore, loer ek vir oulaas na ons oulike kaartjie.

Ses jaar van uitsonderlikheid vir Salsify. Ek klink ’n glasie vonkelwyn op die volgende ses en die ses daarna en daarna!

Kitsfeite

  • Eat Out se stergraderingstelsel bly die goue standaard in Suid-Afrika, met restaurante wat een, twee of drie sterre verdien op grond van hul finale tellings. Die kriteria dek elke aspek van die eetervaring: van kosgehalte en -tegniek tot diens, atmosfeer en waarde. Die gesogte drie ster-gradering is vir restaurante wat meer as 90 uit 100 behaal. Salsify se drie sterre maak hulle een van slegs sewe wat erken word as “op die toppunt van kulinêre kuns”. Ryan se tweede restaurant COY is met die Eat Out VISI Style-toekenning bekroon.
  • Bespreek jou ete by Salsify by +27 21 010 6444 of reservations@salsify.co.za.
  • Bly eerder oor ná so ’n heerlike bederfaand en rek die genot nog langer uit. Bespreek jou verblyf by St James Manor Guesthouse by +27 (0)21 788 4543 of reservations@rovos.co.za.
Lees ook:

Die Palm House Boutique Hotel and Spa is ’n statige dame

Chardonnay ’n staatmaker danksy twee pioniers

Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte

Ontvlug na tradisie by Vriesenhof

Erfenis en die toekoms leef hier in harmonie

Geskiedkundige jaar vir dorp én wynplaas

Geskiedenis by La Motte met moderne flair gehuldig

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top