Nuwe informasie mbt vlak drie-inperking in Suid-Afrika (29/05/2020):
..........
“Die regering is die afgelope tyd uit verskeie oorde skerp gekritiseer oor sy hantering van die koronaviruspandemie. Daar is verskeie hofsake hangende om die regering se regulasies as ongrondwetlik uit te daag.”
..........
Suid-Afrikaners hou duim vas dat die meeste van hulle reeds dié week ’n groter mate van vryheid sal geniet onder die rampregulasies wat die land reeds meer as sewe weke lank ingeperk hou.
Die adjunkdirekteur-generaal vir die Nasionale Gesondheidsversekering, Anban Pillay, het Maandag gesê na verwagting sal dele van die land reeds vandeesweek na vlak drie van die nasionale inperking oorskakel. Hy sê daar is egter ’n sterk saak uit te maak dat strenger inperkingsmaatreëls op sekere plekke van krag bly. Pillay sê dit is noodsaaklik dat mense, veral in stedelike gebiede, streng voorsorg tref om te keer dat hulle die virus opdoen.
Foto: Canva.com
Op vlak drie kan meer bedrywe heropen en word mense toegelaat om vryer te beweeg. Soos wat die regulasies tans daar uitsien, sal mense tydens fase drie sigarette en tabak mag koop en drankwinkels sal gedurende beperkte ure oop wees. Mense sal ook toegelaat word om vryer en meer dikwels te oefen en meer besighede sal kan sake doen.
Die regering is die afgelope tyd uit verskeie oorde skerp gekritiseer oor sy hantering van die koronaviruspandemie. Daar is verskeie hofsake hangende om die regering se regulasies as ongrondwetlik uit te daag.
..........
“Daar was en sal steeds robuuste en skerp kritiek wees op verskeie aspekte van ons nasionale reaksie op die koronavirus en die data en projeksies wat die effek van die inperking op die ekonomie het asook die regulasies.” – Cyril Ramaphosa
..........
Die bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, het dele van die regering se strategie as onwetenskaplik bestempel. Sy het op die radiostasie SAfm gesê inperkingsregulasies in Suid-Afrika is noodsaaklik om te verseker dat hospitale gereedgemaak word en die kapasiteit vir COVID-19-toetse verbeter word. Sy sê egter die doel van alle regulasies behoort te wees om die verspreiding en oordrag van die virus te stuit. Gray sê regulasies wat nie daarmee verband hou nie – soos regulasies oor watter tipe klere of skoene Suid-Afrikaners mag koop – maak nie sin nie.
President Cyril Ramaphosa het intussen gesê hy verwelkom die onderskeie standpunte oor die hantering van die koronaviruspandemie, omdat dit die regering help om beter en slimmer te werk te gaan. Hy sê in sy weeklikse brief aan Suid-Afrikaners vryheid van spraak en uitdrukking is ’n barometer van ’n gesonde demokrasie. Hy sê net soos wat die regering aanvaar dat mense wat hof toe gaan in die belang van Suid-Afrikaners optree, moet die publiek ook aanvaar dat die regering ook in die beste belang van die nasie optree. Ramaphosa sê die Grondwet bly die belangrikste riglyn wat gevolg moet word om die pandemie te oorkom.
“Daar was en sal steeds robuuste en skerp kritiek wees op verskeie aspekte van ons nasionale reaksie op die koronavirus en die data en projeksies wat die effek van die inperking op die ekonomie het asook die regulasies.” Ramaphosa sê die regering verwag nie dat die stemme van kritiek gedemp of stilgemaak moet word nie.
“Inteendeel, konstruktiewe kritiek help ons om aan te pas en met behendigheid te beweeg in reaksie op die veranderende omstandighede. Dit verryk die openbare debat en gee aan almal ’n groter begrip van die kwessies wat ter sprake is,” het Ramaphosa in sy nuusbrief geskryf.
From The Desk of the President - Monday, 18 May 2020 - https://t.co/KT0utsTfiu We often take our healthy and robust democracy for granted. Yet it is probably our greatest asset in our momentous struggle to overcome the coronavirus pandemic. pic.twitter.com/lKA1SACSn6
— Presidency | South Africa ?? (@PresidencyZA) May 18, 2020
Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, sowel as KwaZulu-Natal se premier, Sihle Zikalala, sê hulle provinsies is gereed om na vlak drie te skuif. Die Wes-Kaap het die meeste bevestigde gevalle van COVID-19 (10 639 bevestigde gevalle teen Woensdag). Daar was Woensdag 17 200 bevestigde gevalle landwyd, waarvan 767 nuwe gevalle binne die laaste 24 uur aangemeld is. Daarvan was ongeveer 60 persent in die Wes-Kaap.
Sowat 1 616 van die land se meer as 17 000 bevestigde gevalle is in KwaZulu-Natal. Zikalala sê dit is noodsaaklik dat meer ekonomiese bedrywighede in die provinsie toegelaat word om te hervat. Hy sê die provinsie se vermoë om die pandemie te hanteer het reeds verbeter, en KwaZulu-Natal het ook goed gevaar in sy pogings om inwoners oor die virus in te lig. Volgens Zikalala was die werkloosheidsyfer in die provinsie reeds voor die staat van inperking hoog, en moet inwoners se gesondheid teen die ekonomie en werksgeleenthede opgeweeg word.
Lees ook
Buro: MvH