Voorkamerfees oorbrug kultuur, genres en grense

  • 0

  • Foto’s: Clifford Roberts 

Twee buitelandse teatermakers se droom vervleg met ’n plaaslike, grensverskuiwende akteur en skrywer van meer as 22 jaar gelede, het ontwikkel in ’n unieke, volskaalse teaterervaring wat jaarliks op Darling gehou word. Hoe lekker om deel te kon wees van die pas afgelope Voorkamerfees op Darling. Wim Visser en sy vrou, Inge, is beide teatervervaardigers in Nederland en het deur hul vriendskap met Pieter-Dirk Uys op dié idee van ’n kunstefees in mense se voorkamers besluit.

........
Wat in September 2003 met vyf verskillende roetes begin het en 350 besoekers gelok het, het vanjaar 1 300 besoekers oor sewe roetes gelok. Altesaam 68 kunstenaars het in 21 verskillende aanbiedinge in huise bo en onder die treinspoor, met of sonder fênsie voorkamers, opgetree.

........

Wat in September 2003 met vyf verskillende roetes begin het en 350 besoekers gelok het, het vanjaar 1 300 besoekers oor sewe roetes gelok. Altesaam 68 kunstenaars het in 21 verskillende aanbiedinge in huise bo en onder die treinspoor, met of sonder fênsie voorkamers, opgetree.

Wim gesels uit Amsterdam met my. Hy vertel van die begindae: “Van die middel 80’s af het ek Pieter-Dirk Uys in Nederland bekend gestel as ’n impresario. Ek het in die daaropvolgende jare baie toere saam met hom gereël. Ons het goeie vriende geword. Inge en ek het só verlief geraak op jul land, dat ons in 2001 ’n huis in Darling gekoop het. Tydens ons verskeie vakansies daar in ons huis, het ons opgemerk dat daar ’n groot verdeeldheid in Darling was: Oudorp, Asla en die township. Dit lyk asof niemand met die ander praat nie. Nie eers ‘hallo’ gesê het nie.

“So het ons hierdie plan bedink: Nooi kunstenaars van alle soorte dissiplines, alle soorte nasionaliteite, om oor ’n naweek op te tree in die voorkamers van verskeie huise, waar mense van verskillende kulture en in die verskillende dele van Darling woon. Voordat ons dit regtig kon laat gebeur, het ons mense van alle gemeenskappe genooi en verduidelik wat ons wou hê. Uiteindelik het hulle almal saamgestem.

“Elke huis sou dieselfde ‘huur’ ontvang; kunstenaars sou dieselfde fooi kry (verskil tussen solo, duo, meer). Die enigste probleem wat nou opgelos moes word, was die finansiële aspekte daarvan.

“Ons het die Stichting Doen (’n nie-winsgewende deel van die Nederlandse lotery) in Nederland entoesiasties hieroor gevind. Hulle het belowe om ons met hierdie eerste fees te help, en met sukses het hulle belowe om ons die volgende drie jaar finansieel te help.

“En so gebeur dit. Besoekers was hoogs positief, kunstenaars en eienaars van die huise ten minste dieselfde. Ons het ook ’n paar kunstenaars van Nederland genooi om te kom speel. Hulle was so entoesiasties moontlik. Met die hulp van Pieter-Dirk het ons baie publisiteit in jul land gekry.

“Ons het aangehou organiseer tot 2013, met ’n plaaslike raad en vrywilligers. Van toe af het ons ons aan die organisasie onttrek. Dit was tyd vir die plaaslike inwoners om heeltemal oor te neem.

“Die eerste fees het vier verskillende tydgleuwe gehad: Vrydag 17:00, Saterdag 12:00 en 17:00 en Sondag 12:00,” vertel hy.

Ek dink terug aan die twee wat ons tussen 2004 en 2009 bygewoon het. Dit maak jou siel gelukkig om te dink aan die samehorigheidsgevoel wat jy daar ervaar het.

Musikante van Darling Music for All het feesgangers tussen die roetes deur by die feesterrein vermaak.

Ons arriveer Saterdagoggend om 10:30 by die feesterrein. Musikante van Darling Music for All sing, speel dromme en kitaar op die verhoog tussen twee skeepsvraghouers met ’n sinkdak tussenin, terwyl mense gou vir oulaas koffie, droëwors of biltong van die slaghuis koop as padkos. 

Daar is sewe rye bankies onder ’n bedouin op die grasperk. Elke ry is ’n roete wat met ’n ander kleur aangedui word. Optredes is 25 minute elk, daarna word jy in jou selfde taxi na die volgende vertoning aangery. Elke roete het drie vertonings.

Die kunstenaars wat opgetree het op die sewe roetes is: Anekin en Soloman (klassieke musiek), Memeza Trio met Dan Shout (jazz), Waterfront Theatre School (dans), Ramon Alexander (jazzklavier), Ensemble Tropical (orkes met Latyns-Amerikaans-, Karibiese en Afrika-musiek), Black Noise (Hip-hop-dans), Ghia van Huyssteen (toneel), Glyn Lewis (kitaar en sang), Was Daar (folkmusiek), Hayley Jade (sang), Florence Brothers (stories, mites en beweging), Ensemble Strelitzia (klassieke musiek), Cape Town Trio (klassiek), DMA (brass band), Anele Dyasi (musiek), Sabu (Afrika-instrumente), Operatunity (opera met Anelisa Mahlungulu, Xolane Marman en David Lubbe), Die boodskap (drama), Dave Ferguson (mondfluitjie), Jess King (harp) en Marimba All Stars (wêreldmusiek).

Sewe rye bankies vir die sewe roetes in verskillende kleure.

Verskeie borge, waaronder die Wes-Kaapse regering, is betrek, maar alle klassieke musiek is deur die Rupert Stigting moontlik gemaak. Drie multikulturele en multidiverse vertonings op elke roete.

Jy weet nie wie jy op jou roete gaan kry nie, maar die hele lucky packet-aspek is wat baie mense lok.

Mense sit met pienk of pers of blou of wat ook al se kleur armbandjies en wag met koffie of ’n bier of ysskommels om in groepies in die taxi’s gelaai te word. Geen drank of rook word in die taxi’s of by die voorkamers toegelaat nie.

Taxi’s met kleurplakkers toet wanneer hulle bymekaar verbyry. Vir baie is dié taxirit ’n eerste. Soms pomp die musiek dat selfs jou oordromme saam met die vensterruite vibreer, soos wat dikwels met taxi’s geassosieer word. Soms is daar stilte onder insittendes, al herkouend aan die ervaring wat hulle pas gehad het.

Feesgangers is per taxi tussen die verskillende vertonings vervoer.

Groepies feesgangers voor en na die vertonings het soms die bure se nekke laat rek.

Die voorkamers het omtrent almal iets gemeen: Dis die binnekamer van ’n gesin, met familiefoto’s, diplomas en sertifikate, skilderye, porseleinbeeldjies, plante – soms plastiek – ’n televisie en boekrak – met of sonder boeke. Dis waar gesegdes soos: “Huis is waar die hart is” teen mure pryk en jy dit kan voel as jy gaan sit.

Buite gaan die lewe aan: In die mindergegoede buurte is daar maer brakke wat blaf; taxi’s wat verbyry met oorverdowende musiek; buurvrouens wat hard met mekaar gesels en lag. Laaities speel bal of krieket in die straat. In die meer gegoede buurte is dit musiek wat oor tuine deur die wind aangedra word en goedversorgde blombeddings waarlangs ons wag vir vertonings om klaar te maak.

Die “teaters” in die voorkamers is ’n mengsel van safgesitte rusbanke en stoele, plastiekstoele, kantoorstoele, bankies en omgedraaide kratte met kussings op.

Ons sien Saterdag vyf optredes tussen die twee roetes: blou en geel. Een vertoning van 45 minute verhoed ons om die laaste te sien, sonder om ons restaurantbespreking te verbeur.

Die trio van Was Daar: Guy, Riaan en Hanna.

Ons begin met die blou roete en sien vir Was Daar, met Guy, Riaan en Hanna wat in ses tale kan sing, maar meestal in Afrikaans neurie. Ons sit in Somersetstraat 16, die tuiste van Cynthia Anthony. Die drie kunstenaars se folkmusiek is strelend en hees en jy word ver meegevoer na ander lande se rokerige kroeë met musikante wat in die agtergrond streel.

Daarna skuif ons aan na Glyn Lewis se huis in Hillstraat, wat vorige jare as gasheer vir ander kunstenaars opgetree het, maar vanjaar in sy eie voorkamer kan sing en kitaar speel. Sy vertoning is getiteld Video killed the radio star. Glyn sê hy hou van ouer musiek, want die lirieke het stories vertel van mense se lewens. Die nuwe generasie-musiek is net klanke en hol woorde. “Ons moet aanhou om die ou liedjies te sing, anders gaan die stories dood.”

Glyn Lewis kon vanjaar in sy eie voorkamer sing.

Die laaste vertoning op die blou roete is in Botterboomlaan, aan huis van Glen Daniels. Hier is Ghia van Huyssteen te sien in ’n solovertoning, Om (net) te wees, waar sy verskillende karakters speel wat in hul twintigs is – die natuurliefhebbende veganis wat almal en alles liefhet, omdat ons deel van die natuur se kringloop is; die Stellenbosch-tuisbly-ma; en ’n ambisieuse jong vrou wat glo sy het niemand nodig nie. Haar gevolgtrekking is dat dit soms net OK is om te wees.

Ghia van Huyssteen in haar eenvrouvertoning, Om (net) te wees.

Middagete sak almal op Darling Brew – die feesterrein se hartklop – toe en smul aan burgers en skyfies, drink yskoue bier in die Weskus-hitte en ruil gedagtes uit oor die oggend se vertonings.

Die tweede sessie is ons op die geel roete en sien Sinathi Mdingazwe (bekend as Snatty Hope), Sabu Jiyana en Khangelani Twani met Afrika-instrumente: uhadi (die Afrika-boog), die Nyunganyunga van Zimbabwe, klokkies en klawerbord. Ons sit op die stoep van Rina, Neels en Jay Solomons in Cimbidiumlaan, toe my oog ’n kennisgewing vang: “Always say yes to new adventures.” Hoe gepas! 

Bo en onder: Die tweede sessie is ons op die geel roete en sien Sinathi Mdingazwe (bekend as Snatty Hope), Sabu Jiyana en Khangelani Twani met Afrika-instrumente.

Sabu vertel die doel van hul vertoning is om te wys dat Afrika en sy musiek en sy instrumente kan bestaan in die groter wêreld en deur hul optredes voed hulle ook gehore op.

Sy hoop is dat Afrika-musiek meer in wêreldmusiek opgeneem kan word.

Hulle sing “Uthando luphelile”, “Izwi lam”, “Majola” en “Siyabelela” deur Sabu Jiyana, en vroue maak video’s van die musikante. Kultuur- en kleurgrense word so onbewustelik oorskry. My hart wil bars.

Zoli Markey en Marian Hooman as sussies in Die boodskap.

Ons laaste vertoning is aan huis van Cornelle Bobe in Sewende Laan. Hier kyk ons na Die boodskap met Zoli Markey en Marian Hooman. Paraffienlampies brand oral. Dis warm en effe ongemaklik. Twee susters sit aan verskillende kante van die tafel oor die wederkoms van Jesus in ’n ruimtetuig. Een is besig om voor te berei met blikkieskos en ’n ondergrondse bunker – ’n skeepsvraghouer wat perfek in haar swembad se gat gepas het – die ander een gooi nog wyn en lag haar suster se voorspellings af.

........
Tussen wasgoed, polisie-klopjagte op dwelmhuise, blaffende honde en ’n skreeuende kind verder af in die straat, ervaar taxi vir taxi se groepe vreemdelinge iets unieks in ’n vreemdeling se voorkamer.
........

Agter hul koppe hang twee olieverfskilderye van ’n laggende Cyril Ramaphosa en Nelson Mandela wat afkyk op die reënboognasie op ’n stoep met ’n sinkdak. Ek wonder wat hulle sou sê van dié toneelstuk.

Tussen wasgoed, polisie-klopjagte op dwelmhuise, blaffende honde en ’n skreeuende kind verder af in die straat, ervaar taxi vir taxi se groepe vreemdelinge iets unieks in ’n vreemdeling se voorkamer.

Die taxi’s het mense tussen die vertonings rondgery.

Ná die laaste vertoning word almal weer by die feesterrein afgelaai en verdwyn feesgangers in restaurante, kroeë of in hul selfsorgeenhede in die dorp of op plase in die omgewing. Mens kan amper die kunsvibrasie voel.

Ons ry vroegoggend deur vir die Sondag-vertonings. Op die koringlande buite die dorp maak stropers kuns van hul eie met patrone in die wuiwende, goudgeel koringlande en rol hopies soos dik olieverfhale op ’n skilderdoek.

Sondag sien ons drie vertonings op die pienk roete: Jessica King op harp in die ou waenhuis by die Darling Museum; die Marimba All Stars by Evita se Perron; en Dave Ferguson in Vyfde Laan.

Die taxi draai links na Evita se Perron. “Ahh, ons is by Evita se Perron,” kom dit in suidelike voorstede-Engels vanuit die taxi. “Wie is Evita?” kom dit in ’n swaar Duitse aksent. Die verbasing hang soos ’n wolkombers oor ons.

Ek wonder wat die antwoord gaan wees. Ek is verbaas dat iemand wat op Darling by ’n kunstefees kom kuier, nie weet wie Evita is nie.

“Dis daai shit stirrer van die apartheidsjare, Pieter-Dirk Uys. Hy het ’n rok aangetrek en as tannie Evita sy eie hervormingstog gelei.”

No way!” kom dit. 

Inderdaad. Ek wonder of die tannie gelukkig is met wat sy en Wim en Inge hier deur middel van die kunste vermag het.

By die Perron tree die Marimba All Stars op. Die vier musikante van die Marimba All Stars is Kim Masala, Thando Sishuba, Alizwa Tyala en Skhumbuzo Mhlauli.

Kim Masala, tenoor en marimba; Skhumbuzo Mhlauli op dromme; en Thando Sishuba op trompet van die Marimba All Stars.

Frits van Ryneveld, mede-eienaar van die Perron en Darling Sweet, wie se proelokaal ook hier is, verwelkom ons en vertel dat Pieter-Dirk Uys hier sou optree, maar 09:00 die vorige oggend – twee uur voor die eerste vertoning – moes kanselleer weens laringitis. Met wonderwerke aan die orde van die dag, het die Marimba All Stars van Langa sy plek gevul. “Die een oomblik was hierdie vier ouens nog in die bed op ’n Saterdagoggend, en die volgende oomblik het hulle hul eerste vertoning by die Voorkamerfees!”

Alizwa Tyala op marimba en Thando Sishuba op trompet van die Marimba All Stars.

Die kwartet is omring deur tannie Evita se portrette oor die reënboognasie en hier sit swart en wit en bruin al voettikkend in Crocs, vissieplakkies, velskoene met lang sokkies met kamme in en luister na die klanke van trompet, klokke, plastiekbotteltjies met droë rys in, dromme en xilofone. Linnehemde, T-hemde, geruite katoenhemde se hande is almal omhoog met pienk armbandjies om en dreunsang saam vir Afrika.

Op dié Sondagoggend verkondig vier musikante die meesleurende evangelie van Afrika-musiek.

Jessica se harp is ’n 100 jaar oue instrument met 46 snare in verskillende kleure. Sy verduidelik dis eintlik ’n vleuelklavier wat op sy sy gedraai is.

Jessica King met haar 100 jaar oue harp in die waenhuis van die Darling Museum.

Dié Brit speel al sedert haar 12de verjaardag professioneel harp en deel haar wêreldreise as musikant deur verskillende liedjies. Sy woon die afgelope jaar saam met haar Suid-Afrikaanse man in Kaapstad. Haar jaar as musikant in Indië het haar oë en ore oopgemaak vir nuwe maniere om musiek te maak, vertel sy daar tussen ossewaens en perdekarre uit dieselfde era as haar harp.

.......
Geskiedenis en musiek kry hier nuwe inslag en nuwe, jong lewe.
.......

Geskiedenis en musiek kry hier nuwe inslag en nuwe, jong lewe.

“Die musiekkultuur in jul land is ongelooflik en ek is mal daaroor om hier te wees,” vertel sy.

Dis op die hitte van die dag. Die sinkplate van die waenhuis sit uit in die son en skiet-skiet so af en toe. Jy is waarlik deel van die landskap hier.

Vir Dave se vertoning aan huis van Carl en Lizelle Dirks, ry ons na Vyfde Laan. In die strate stap mense van die kerk af, ander steek braaivleisvure aan en iewers blêr ’n radio.

Dave Ferguson met sy mondfluitjie en live looping.

Dave Ferguson speel mondfluitjie met verskillende mondgeluide daarby, wat hy met behulp van live looping opneem en terugspeel. Sy sang is so eg country en blue grass soos ek laas in Nashville, Tennessee in die blues-kroeë gehoor het. Dis sy woorde: “The past is gone; don’t worry about the future, it will never arrive; only this moment is alive” wat my nog lank sal bybly.

Dis Wim se wens dat daar behoorlike subsidies en borgskappe sal kom vir die toekoms om sewe roetes met vier tydgleuwe en ’n groot kunspartytjie vir die hele dorp aan te bied, wat my gevoel oor die fees saamvat. En Jessica se opmerking oor ons ryk musiekkultuur wat my hart die warmste laat klop.

  • Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiterspoed beteken aksiefoto’s kan in die teater of by boekbesprekings geneem word, sonder dat teatergangers die ewige gekliek-kliek hoor en die RF100-400-langlens bring daai akteur se gesigsuitdrukking tot amper op jou neus. Loer by www.canon.co.za.
Lees ook:

SASNEV Ontbytborrel was veel meer as netwerkgeleentheid

Blommeskou steel ook plaaslik harte

Faustus reis Europa plat om SA talent te vertoon, maar onderwerp is universeel

België bo!

Pareltjes uit Amsterdam: Straatmusikante stuur groete

Maskandi: Southern Africa’s Delta blues

Die dokumentêr Brasse Vannie Kaap nou op Showmax

Uitvoergehalte: In gesprek met Arno Carstens oor Sewe sakke hoop

Uitvoergehalte: ’n Onderhoud met Frieda van den Heever oor haar album Spoorsny

The anatomy of a jazz performance

Uitvoergehalte: In gesprek met Luna Paige oor Dis die dors

Gqeberha stamp die bas tydens ’n wêreldpremière

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top