Wynbedryf weer hof toe oor drankverbod

  • 0

’n Dringende interdikaansoek om die landwye verbod teen die verkoop van alkohol ongeldig te verklaar, sal waarskynlik Vrydag deur die Wes-Kaap se Hooggeregshof aangehoor word.

Die aansoek is die afgelope week deur die wynprodusente-organisasie Vinpro ingedien en is voorlopig geskeduleer om op Vrydag 2 Julie aangehoor te word.

Vinpro sê in ’n verklaring hulle is nie gekant teen redelike beperkings wanneer hospitale en veral trauma-eenhede onder druk is nie. “Ons is egter van mening dat nie net die verkeerde regeringsvlak die kleinhandelverkope van drank tydens die nasionale ramptoestand hanteer nie, maar ook dat die regering herhaaldelik ’n landwye verbod gebruik wat onnodig, ongegrond, onregverdig en inderdaad teenproduktief is.”

Die twee week lange verbod op die verkoop van alkohol wat tans geld, volg op ’n 19-weke-verlies aan inkomste oor die afgelope 16 maande, wat ’n verwoestende uitwerking op die wyn- en toerismesektor gehad het. Meer as 269 000 mense werk in die sektor.

Vinpro se bestuurshoof, Rico Basson, sê meer as 80% van die 529 kelders is klein en mediumgrootte-ondernemings wat afhanklik is van direkte verkope aan verbruikers. Hoewel wynuitvoere mag voortgaan, voer die bedryf steeds minder as 50% van sy jaarlikse produksie uit, en word die ander helfte plaaslik verkoop. Sonder enige finansiële ondersteuning van die regering aan hierdie besighede is die vooruitsig vir hulle en hul werknemers uiters droewig, sê Basson.

Hy sê alhoewel die drankverbod daarop gemik is om te verseker dat hospitale die nodige vermoë het om diegene wat siek word te behandel, raak die pandemie provinsies op enige tydstip verskillend. Die kapasiteitsbehoeftes in hospitale sal dus landwyd verskil. “Ten spyte hiervan het die regering nog nooit ’n onderskeid tussen provinsies getref wat die instelling of opheffing van die drankverbod betref nie. In plaas daarvan is ’n landwye verbod ingestel en dan weer opgehef, sonder inagneming van die omstandighede in die onderskeie provinsies.”

’n Meer buigsame, vaartbelynde benadering is volgens Vinpro nodig. Hulle sê dit moet gebaseer word op geloofwaardige empiriese data waar provinsies self besluit hoe om die verkoop van drank gedurende die res van die pandemietydperk te hanteer.

Provinsiale owerhede is normaalweg verantwoordelik vir die regulering van die verkope van drank én in beheer van gesondheidsorg en provinsiale hospitale. Volgens Vinpro is hulle daarom beter toegerus om die fyn balans tussen lewens en lewensbestaan te bestuur.

Vinpro het aanvanklik op 27 Januarie vanjaar die Hooggeregshof genader om te vra vir dringende verligting tydens die vorige verbod. Dit is uitgestel toe die beperkings opgehef is en die saak word nou op 23 tot 27 Augustus 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof voor ’n volbank regters aangehoor. Vinpro het egter die reg voorbehou om ’n tussentydse interdik in te stel indien ’n algehele verbod weer voor die hofdatum ingestel sou word.

Basson sê die wyn- en toerismebedrywe kan nie langer ly weens die versuim van die regering om die gesondheidsfasiliteite voldoende voor te berei vir die moontlike gevaar van addisionele golwe en om ’n toereikende en doeltreffende inentingsprogram uit te rol nie.

Hy sê die wynbedryf het die afgelope jaar onverpoos gewerk om deel te wees van die oplossing terwyl die land in die greep van die dodelike COVID-19-pandemie vasgevang is. “Dit sluit in samewerking met die regering en proaktiewe implementering van voorkomende maatreëls van plaasvlak tot die kleinhandel om die lewens en lewensbestaan van die mense wat in ons waardeketting en die breër gemeenskap werk, te beskerm.”

Dringende tussentydse regshulp word nou versoek, wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landwye verbod af te wyk ten einde die verkoop van drank op persele en vir tuisverbruik in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot ander provinsies sal ook versoek word.

Lees ook:

Breedekloof bekoor die reisiger

Wellington

Drankverbod se rimpeleffek dwing ekonomie op sy knieë

Verbod op verkoop van alkohol veroorsaak "korporatiewe bloedbad"

Wie hóé en wát drink, veroorsaak ’n korona-kopseer

 

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top