...
’n Voetnoot lig toe, dit verduidelik of bevraagteken.
...
Die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam is ’n ruimte van waar die tale, kulture, kuns en mense van Suid-Afrika belig word.
Die gebou aan die Keizersgracht huisves die grootste versameling Suid-Afrikaanse literatuur in Europa, maar die personeel doen veel meer as om net ’n biblioteek en argief in stand te hou.
Danksy ’n aktiewe webblad en hulle YouTube-kanaal het die Zuid-Afrikahuis ontwikkel in ’n podium vir Suid-Afrikaanse kunstenaars. Deur die internet in te span word die ruimte meer as ’n huis; die web gee ook wêreldwye toegang tot die gebeure aldaar.
Soos hulle webruimte dit stel: “Van wetenschappelijk onderzoek tot koffieochtenden met expats: iedereen met hart voor Zuid-Afrika is baie welkom in het Huis” (oorspronklike kursivering).
...
Die titel en tema van die eerste episode is gekoppel aan ’n mooi woordspel: “Curating: caring, confronting, and curing through art”.
...
Footnotes
Die span se nuutste projek word genoem “Footnotes – Intersectional Strategies in (South) Africa”. Dit klink groot en hulle dink groot. Die webruimte beskryf dit so:
Our new bi-monthly interdisciplinary program on changemaking voices in artwork, books, films and other media. We’ll be talking about black feminism, queerness, violence, mermaids, struggle, post memory, heritage, myth busting, empowerment, and image making. In Footnotes we’ll connect countries and cultures, makers and theorists from interdisciplinary perspectives.
Die gesprekke is in Engels.
Kuratorskap
Die eerste episode, wat op 16 November uitgesaai is, het oor kuratorskap gehandel.
Die titel en tema van die eerste episode is gekoppel aan ’n mooi woordspel: “Curating: caring, confronting, and curing through art”.
Elkeen van die c-woorde is ondersoek en gelees aan die hand van ’n aantal kunsuitstallings en gesprekke daaromheen.
Die uwe is lief vir kuns, maar is glad nie tersiêr opgelei in ’n kunsrigting nie. Ek was dus nuuskierig, maar benoud dat ek dom gaan voel. Gelukkig is alles op ’n heerlike informele trant gevoer sodat ek alles kon volg. Ek het die skakel ook reeds aan ’n aantal ander persone gestuur en hulle aangemoedig om te luister.
Die deelnemers
Vier mense het aan die eerste uitsending deelgeneem.
Martina Vitackova is ’n kunstenaar wat interdissiplinêr feministiese navorsing doen op die gebied van letterkunde, genderstudies en postkoloniale teorie. Sy is tans ’n gasprofessor aan die Universiteit Gent in België.
Tandazani Dhlakama is sedert 2017 ’n assistentkurator by Zeitz MOCAA in Kaapstad. Voorheen was sy verbonde aan die National Gallery of Zimbabwe (NGZ) in Harare.
Khanyisile Mbongwa woon in Kaapstad. Sy is ’n sosioloog, kurator en kunstenaar. Boonop is sy ’n gekwalifiseerde sangoma.
Ethel Ruth Tawe is in Kameroen gebore, maar werk tans vanuit Nederland en Ghana. Sy is ’n multidissiplinêre kunstenaar wat argiewe en identiteit in Afrika en die diaspora verken.
Voetnote en interseksionaliteit
Die naam van die reeks “Footnotes – Intersectional Strategies in (South) Africa” het ’n interessante gesprek ontketen.
- ’n Voetnoot in ’n teks lei die aandag af, dit breek die gang van die gesprek en kan die leser in allerlei rigtings stuur wat uiteindelik niks met die teks te doen het nie.
- ’n Voetnoot lig egter ook toe, dit verduidelik of bevraagteken.
- ’n Voetnoot is by implikasie nie deel van hoofteks nie.
Die reeks gesprekke wil ook só na die wêreld kyk: bewus van die hoofstroom, maar nie noodwendig deel daarvan nie, juis om te mag bevraagteken of toe te lig.
Met bostaande in gedagte is die begrip interseksionaliteit ook ondersoek. Die webruimte sê daaroor:
Intersectionality has, in recent years, rapidly grown into a buzzword in cultural, academic and political debates across the world due to the ongoing need to foreground a much wider array of voices than was formerly the case. Voices that can speak to the often troubling ways in which the various intersections of race, gender, sexual or cultural inequalities in people’s lives wreak havoc for some, but not for others.
Gonswoord, ja. Maar daarmee saam die bewussyn van veelvuldige interseksies waarmee daar na die benutting van hulpbronne gekyk moet word.
Hulpbronne, die gebrek daaraan en die vreugde om soms te kan uitdeel voor en tydens ’n uitstalling, het ’n paar keer ter sprake gekom.
Die struktuur van die gesprek
Ná ’n kort inleiding waartydens die gesprekvoerders hulself bekendgestel het, is ’n video-onderhoud gespeel wat Ethel Tawe met Khanyisile Mbongwa gevoer het by haar uitstalling History’s footnote: On love and freedom wat 28 November 2021 in Marres, Maastricht, besoek kan word.
Ek het Tawe se vrae en Mbongwa se antwoorde so interessant gevind dat ek gewonder het hoeveel dié gesprek aanleiding tot die reeks gegee het. Hier is die relevante gedeelte, as uittreksel op die Zuid-Afrikahuis se YouTube-kanaal. Die volledige onderhoud word deel van die eerste episode.
Mbongwa is ’n sangoma, en om na die kunstenaars te luister, om te kies hoe om haar hulpbronne uit te deel en te verdeel, is alles deel van haar denke wanneer ’n nuwe uitstalling saamgestel moet word.
Daarna is ’n video gespeel oor die Zeitz MOCAA se keuse om hulle eerste uitstalling ná inperking ’n demokratiese proses te maak waar alle kunstenaars, oud en jonk, bekend of beginner, ’n kunswerk kon voorlê as hulle in Kaapstad woon.
Laastens is ’n onderhoud met Senzani Marasela gespeel oor haar uitstalling Waiting for Gebane.
Ná elke video is ’n kort gesprek oor die insetsels gevoer.
Die drie c’s van Curating se komponente
Ek het reeds verwys na Mbongwa wat haar geestelike kragte gebruik om diep te kan luister en te kan omgee vir die kunstenaars met wie sy saamwerk. So sorg sy vir die hele mens, nie net hulle beursies nie.
Tandazani Dhlakama het weer gesels oor die voorreg om ’n spasie soos die Zeitz MOCAA te hê om grootse kunswerke uit Afrika in Afrika uit te stal. Té gereeld het dit in die verlede gebeur dat Afrika se kuns in Europa te sien is, wat wonderlik is, maar dan sien Afrikane dit net in boeke, of deesdae dalk op die internet.
Deur om te gee en hulpbronne – ook geld – wat aan kurators beskikbaar gestel word, reg te gebruik, vorm ’n groot deel van die omgee (caring) vir kunstenaars.
Dat kuns egter uitdagend (confronting) is, is nie altemit nie. Hier is om te argiveer ook ondersoek as meeloper van kuratorskap. ’n Goed-saamgestelde uitstalling wat gedokumenteer word, kan ’n blywende argief word.
Hoe word omgegaan in die hede met ons toekoms? Hoe gaan toekomstige kykers sien wat ons vandag beleef?
In ons verlede is swart mense se liggame in argiewe gehou as wetenskaplike vreemdhede. Die lewende liggaam van enige lewende wese is egter ook ’n argief van alles wat aan daardie persoon gedoen is – goed of sleg. Hoe kan kuns daardie liggaamlike argiewe ten toon stel sonder om die liggaam bloot te objektiveer?
Mbongwa het ook genoem dat Westerlinge tyd suiwer lineêr sien, terwyl ’n sangoma enige persoon se teenwoordigheid lees in samehang met haar voorouers én die wat op haar gaan volg.
Wat die volgende c oproep: genesing (curing).
Bring gesprekke wat uit kuns voortspruit genesing?
Kan die aanspreek van trauma uit die verlede, ook trauma uit vroeëre generasies, die hede verbeter en dus ’n beter toekoms te weeg bring?
Ek het hierdie onderhoud geluister baie kort ná ek ’n potgooi geluister het waarin Wilhelm Verwoerd vertel hoe sy pa steeds gebuk gaan onder die teenwoordigheid van sy oupa, HF Verwoerd. HF Verwoerd was Wilhelm Verwoerd se pa se pa en een van die argitekte van apartheid. Wilhelm Verwoerd het uit eie ervaring gepraat om FW de Klerk se persoonlike reis na ’n verskoning vir apartheid te probeer verstaan – iets wat volgens baie waarnemers te kort geskiet het.
Die interseksies tussen Verwoerd se opmerkings en Mbongwa s’n was opvallend.
As argief beskikbaar
Interessant genoeg is daar gesels oor aanlyn uitstallings vs die bywoon van fisiese uitstellings. Sommige elemente, soos reuk, klank en tekstuur, kan eenvoudig nie oor die internet beleef word nie. Vir kurators is dit ’n uitdaging en daarom is mense se teenwoordigheid in kunsmuseums belangrik. Tog, dit is gewoon nie moontlik om alle uitstallings by te woon nie en daarom is ’n dokument, ’n argief, ’n opname van enige uitstalling belangrik.
Die eerste aflewering van Footnotes is beskikbaar en bly as ’n argiefstuk op die YouTube-kanaal van die Zuid-Afrikahuis.
Luister ook op LitNet
FW de Klerk en die laaste Rubicon
Lees ook:
Amsterdams symposium laat Karel Schoeman van zijn Nederlandse kant zien
Eybers-keur wys veral haar Amsterdamse gedigte het blywende seggingskrag
Boeken uit het Huis: Marita van der Vyver aan die woord oor haar jeugmemoires