“Eintlik behoort ek hierdie brief in Frans te skryf, maar ’n tweede of derde taal sal altyd ’n taal van die verstand eerder as die hart wees.”
Só begin die jeugmemoires van die meermale bekroonde Afrikaanse skrywer Marita van der Vyver. Dit is in Maart vanjaar uitgereik as ’n Baie lang brief aan my dogter en is gerig aan haar Franstalige dogter, Mia. In die boek bespreek Van der Vyver ’n verskeidenheid temas wat vormende ervarings binne die tydgees van haar eerste 18 lewensjare in Suid-Afrika insluit.
As deel van Boeken uit het Huis, ’n reeks skrywersgesprekke wat die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam en die Taalunie op YouTube aanbied, het Van der Vyver vrae van Francine Maessen beantwoord. Die gesprek tussen Van der Vyver (Afrikaans) en Maessen (Nederlands) is volgens die idee van luistertaal gevoer. Hiervolgens verstaan sprekers van twee tale mekaar tot só ’n mate dat ’n bykomende taal, soos Engels, nie nodig is nie.
Die lewe het ingrypend verander
In ’n Baie lang brief aan my dogter rig die skrywer haar spesifiek op die verskille tussen haar eie jeug en dié van haar dogter in Frankryk. Van der Vyver het grootgeword onder apartheid, Mia in die tyd van die Black Lives Matter-beweging en #MeToo, het Maessen op gewys. In Van der Vyver se jeug was byvoorbeeld seks ’n taboe-onderwerp, maar vir Mia is dit ’n ope gespreksonderwerp.
Hoekom het Van der Vyver die boek nou geskryf? het Maessen gevra.
Die sterfte van sowel Harry Kalmer as Ryk Hattingh was vir Van der Vyver “daardie vonk wat nodig was om ’n vuur aan te steek”. Sy het albei skrywers, min of meer haar tydgenote, bewonder en deur die jare het sy met hulle bevriend geraak. Sy het ook lank reeds daaraan gedink om aan haar memoires te skryf.
“Vroeër het ek altyd gedink ek is te jonk. ’n Mens moet 90 jaar oud wees. Almal oor wie jy kan skryf, moet al dood wees, anders kan jy nie eerlik wees nie. Dít was altyd my verskoning. En toe tref ek my 60ste verjaardag. ’n Mens moet baie dom wees as jy teen 60 nie besef dat die pad wat voorlê korter is as die pad agter jou nie. So, hoewel ek nog jonk van gees voel en my lyf gesond, besef ek ’n mens word meer bewus van die dood. En toe dié twee skrywers sterf toe ek gedink het hulle is nog jonk – en so onverwags sterf – het dit my geruk. Dit het my laat besef: Ek kan nie (memoires) vir ewig uitstel totdat ek eendag 90 jaar oud is nie. Want soos ek gelewe het, sou ek nie noodwendig 90 jaar oud word nie.”
Die finale aansporingsfaktor vir die boek was vir haar die koms van COVID-19.
“Indien ek ’n bewussyn, ’n groeiende bewussyn, van my eie sterflikheid gekry het ná my 60ste verjaardag, dink ek het Covid die héle wêreld bewus gemaak meer as ooit tevore van hoe fragiel die lewe is, van hoe vinnig alles kan verander. Ons lewe het so ingrypend verander. Dis ondenkbaar waardeur ons nou lewe vergeleke met ’n jaar en ’n half gelede.”
COVID-19 het haar die tyd gegee om te kan skryf; alles anders het weggeval, het sy gesê. “Daar was niks anders om te doen nie. Daar was nie feeste om aan deel te neem nie. Daar was nie toere nie. So ek kon werklik intensief skryf. Miskien meer intensief as wat ek ooit in my lewe geskryf het.”
Herinnering se delfwerk
Aangesien die boek as ’n brief aan haar dogter gerig is, wou Maessen by Van der Vyver weet of die skryfproses ook daardeur anders was as wanneer sy byvoorbeeld aan ’n roman skryf.
“Ek dink met fiksie en met niefiksie is die groot verskil vir my dat met fiksie is daar niks nie. Dis ’n leë skerm. Dis alles in my kop. Ek moet dit uitdink. Ek moet elke karakter uítdínk, skép.” Vir ’n ander soort niefiksie as memoires moet ’n mens heel veel navorsing doen, maar met memoires moet jy dan wel diep in jou eie onderbewussyn delf om werklik te onthou en om jou te herinner aan alles wat gebeur het.
“So daar was iets om mee te begin, tussen my geboorte en my 17de, 18de lewensjaar waaroor ek wou skryf. Maar wat laat jy uit? Wat sit jy in?”
“Ek was verstom gewees oor wat uitgekom het terwyl ek skryf, dinge wat ek gedink het ek het heeltemal vergeet, omdat ek so intens besig was om te skryf en geen ander afleidings gehad het nie. Dit het dit selfs miskien meer intens gemaak as ’n roman, omdat ek heeltyd ook bewus was dat ek werk met die ‘waarheid’. Ek sit dit altyd tussen aanhalingstekens, want ek besef ook dat dit mý waarheid is, my persoonlike weergawe van die waarheid ... Dit was ’n onthouproses en ’n uitsorteerproses gewees, dag vir dag.”
En soos wat sy aan die skryf geraak het, was dit vir haar soos om voel-voel by ’n donker kamer in te stap. Haar oë moes as’t ware gewoond word aan die donker voordat sy kon sien.
“Ek was verstom gewees oor wat uitgekom het terwyl ek skryf, dinge wat ek gedink het ek het heeltemal vergeet, omdat ek so intens besig was om te skryf en geen ander afleidings gehad het nie. Dit het dit selfs miskien meer intens gemaak as ’n roman, omdat ek heeltyd ook bewus was dat ek werk met die ‘waarheid’. Ek sit dit altyd tussen aanhalingstekens, want ek besef ook dat dit mý waarheid is, my persoonlike weergawe van die waarheid. En dis anders as my broer of my suster se waarheid van dieselfde situasie. Dit was ’n onthouproses en ’n uitsorteerproses gewees, dag vir dag.”
En in daardie kamer waaraan sy geleidelik gewoond moes word, het sy weldra begin “vorms uitmaak”, waaronder dinge wat gebeur het wat sy soms doelbewus onderdruk het, het sy gesê. “Daar is ook dinge waaroor jy net nooit gepraat het nie, en in die skryfproses kom dit uit.” Sy haal Susan Sontag aan oor geheue: “Memory is inventive. Memory is a performance. Memory invites itself, and is hard to turn away.” Sy vertel sy het dít “oor en oor ervaar”.
“Dit is eintlik harde werk, want dit is nie net dat jy daar gaan sit en hier kom dit nie. Jy moet werk en delf. En diep duik om dit boontoe te bring.”
Gesprekke
As minder bronne dan nodig is vir memoires, watter het sy dan ingespan? Was daar by die skryf foto's of dagboeke of gesprekke met familielede?
Van die laaste twee jaar waaroor Marita skryf, haar laaste tienerjare toe sy nog ’n skoolkind was, het sy wel dagboeke en foto's en briewe. Haar hele werkkamer is vol fotoborde, wat wel help, maar sy moes ook haar feite nagaan, iets waarvoor sy ook aanlyn bronne geraadpleeg het, het sy verduidelik.
Terwyl sy aan die boek gewerk het, kon sy veral met haar pa gesels. Hy is oorlede op die dieselfde dag waarop sy die boek ontvang het, het sy gesê.
“En ek is so dankbaar dat ek vir hom nog kon uitvra, want my moeder is lank reeds oorlede, 20 jaar gelede. So vir haar kan ek lankal nie meer vra nie. Maar vir my pa hét ek, spesifiek die laaste keer wat ek hom besoek het. Net voor Covid laas jaar het ons eendag gaan sit en ek het hom gevra oor sy vroeë jeug, oor sy skool, oor stories wat hy tevore aangeraak het, en dit het ook baie gehelp.
“’n Mens dink altyd te laat. Met my moeder was ek spyt. Ek het ’n goeie verhouding met my moeder gehad. Ons het oor alles gepraat, maar daar was so baie wat ek nog vir haar kon gevra het. En ek het dit eintlik eers besef nadat sy nie meer daar was nie.”
Iets wat vloeiend lees verg veel herskryfwerk
Maessen het die vertelling in die boek geniet en wou weet of die skryf daarvan net so maklik was as wat die lees daarvan is.
“Dit is harde werk om dit te laat lyk asof dit sommer net so vloei,” het Van der Vyver gesê. “As jy werklik net gaan sit en jy skryf ’n bewussynstroom, dan gaan dit heel waarskynlik onleesbaar wees. Die harde werk is om oor en oor te skryf totdat dit lyk asof dit maklik is.”
“Jy moenie die nate kan sien waar die skrywer nou vreeslik hard gewerk het nie. En ek probeer altyd daarna mik. Dis vir my ’n groot kompliment as mense vir my sê my boeke lees maklik. Want dan weet ek, ek het dit reggekry.”
In hierdie verband bewonder sy die oënskynlike moeiteloosheid in die skryfwerk van die Suid-Afrikaanse skrywer Herman Charles Bosman. Vir haar het dit gelyk of hy net daar in ’n kroeg gesit en neerskryf het wat mense rondom hom sê. Hy het egter wel op ’n keer gesê die moeilikste aan skryfwerk is "to make it seem seamless", dat jy nie die nate kan sien nie, soos as jy ’n rok maak as jy ’n kleremaker is. “Jy moenie die nate kan sien waar die skrywer nou vreeslik hard gewerk het nie. En ek probeer altyd daarna mik. Dis vir my ’n groot kompliment as mense vir my sê my boeke lees maklik. Want dan weet ek, ek het dit reggekry.”
’n Boek vir ’n dogter
Terwyl sy aan die boek gelees het, het Maessen gewonder: Waarom is die boek aan spesifiek haar dogter gerig en nie aan haar seuns nie?
Marita verduidelik dat Mia heelwat jonger is as haar ouer seuns en sy was die regte ouderdom wat die verhaal betref.
“Sy het pas 21 geword, maar sy was eintlik 19 toe ek daaraan begin geskryf het en dit was min of meer die ouderdom waarop ek my memoires wou staak.”
“En ek wil vir my dogter miskien ’n wapenrusting gee om hierdie wêreld mee aan te durf. Ek wil vir haar sê staan jou plek vol. Moenie in die skaduwee wees nie. Soos wat ek altyd gesê is jy moet altyd ’n entjie agter die man stap, dis hoe ék grootgemaak is. Ek wil nooit vir my dogter dít hê nie. Jy stap langs die man. Jy staan jou plek vol.”
Die waarskynlikste, belangrikste rede is dat sy voel daar loop ’n sterk feministiese streep in die boek. “Daar is sekere dinge wat ’n ma, dink ek, vir ’n dogter wil sê wat anders is as wat sy vir ’n seun sê. Waarmee ek nie sê dat ons ma’s ons seuns nie ook as feministe kan grootmaak nie. Ek dink dis belangriker nog miskien dat ons vir ons seuns reg leer.”
Die storie van “haar ma se ma se ma en hoe om ’n vrou te wees in hierdie tydperk is nog steeds nie dieselfde as om ’n man te wees nie”. “Daar is nog steeds soveel dinge wat mans kan doen, veral in ander wêrelddele as mens buite Europa gaan, wat vroue nie mag doen nie. En ek wil vir my dogter miskien ’n wapenrusting gee om hierdie wêreld mee aan te durf. Ek wil vir haar sê staan jou plek vol. Moenie in die skaduwee wees nie. Soos wat ek altyd gesê is jy moet altyd ’n entjie agter die man stap, dis hoe ék grootgemaak is. Ek wil nooit vir my dogter dít hê nie. Jy stap langs die man. Jy staan jou plek vol.”
Literêre voormoeders
Wie ag sy haar eie literêre voormoeders? het Maessen gevra.
“Virginia Woolf, een van hulle wat ek baie bewonder, skryf in A room of one's own hoe ons almal, elke vrou wat skryf, eintlik ’n hele ry vroue voor haar het. Voor wie se voete sy blomme moet lê om dankie te sê vir die pad. Want nóú is dit so maklik. Dis nie noodwendig maklik om gepubliseer te word nie, maar jy kan dit doen onder jou eie naam.
“Daar is waarskynlik net soveel vroueskrywers as manskrywers nou deesdae, indien nie meer nie. Maar ’n mens moet darem altyd dink aan die vroue soos Aphra Behn wat in die Engelssprekende wêreld die eerste vrou was wat haarself ’n skrywer genoem het. Ander het gesê ag hul skribbel sommer net so bietjie briefies, of dit was ’n tydverdryfie. En Aphra Behn het gesê: ‘Ek skryf. Dis my werk. Dis wat ek wil doen.’
“Lank voordat ek geweet het ek gaan in Frankryk opeindig eendag, was daar Franse skrywers wat ek bewonder het. Meer vir hulle leefwyse as noodwendig wat hulle geskryf het, soos George Sand of Colette, vroue wat mansklere gedra het, vroue wat affairs gehad het met mans en vroue. Dit het vir my as ’n klein Calvinistiese jong meisietjie gewys daar is ’n ander pad. Ek hoef nie op hierdie klein straight and narrow van nou trou jy, nou kry jy hier jou kindertjies en dan gaan dit so nie. Daar is ander maniere om te lewe.”
“Daar was mense soos Simone de Beauvoir, wie se Second sex, Le deauxième sexe, ek gelees het as ’n jong meisie, ’n jong vrou. Ek was dalk so 20, 21 en dit het ’n geweldige indruk op my gemaak. Nie net op my skryfwerk nie, maar ook hoe jy aan jouself dink as vrou.
“Lank voordat ek geweet het ek gaan in Frankryk opeindig eendag, was daar Franse skrywers wat ek bewonder het. Meer vir hulle leefwyse as noodwendig wat hulle geskryf het, soos George Sand of Colette, vroue wat mansklere gedra het, vroue wat affairs gehad het met mans en vroue. Dit het vir my as ’n klein Calvinistiese jong meisietjie gewys daar is ’n ander pad. Ek hoef nie op hierdie klein straight and narrow van nou trou jy, nou kry jy hier jou kindertjies en dan gaan dit so nie. Daar is ander maniere om te lewe.”
Sien sy haarself ook as ’n wegbereider? het Maessen gevra.
“Weet jy, ek probeer nie aan myself so dink nie. Dan sal ek myself miskien te ernstig opneem. Maar ek sou tog hoop dat daar ’n paar jongmense is wat miskien my boeke lees en dink, maar goed. Omdat ek ook vir die jeug skryf, dink ek, preek jy nie vir die bekeerdes nie. Jy kan nog ’n kersie in iemand se oë aansteek en dit is miskien mense wat jy wel nog werklik kan beïnvloed. En dit gee miskien vir iemand net die moed om dit te doen en ook ’n ander paadjie te stap.”
Verhuisings en selfvertroue
In haar grootwordjare moes Van der Vyver-hulle telkens verhuis wanneer haar pa van werk verander het. Dan moes sy na ’n nuwe skool gaan. Maessen het haar gevra na haar ervaring daarvan.
Dit was erg moeilik vir ’n skaam kind, het Van der Vyver gesê. “Ek was skugter, skaam, ek was ’n boekwurm, nie ’n sportiewe kind nie, nie ’n kind wat maklik maats gemaak het nie. En om keer op keer dan in ’n nuwe skool te wees waar jy niemand ken nie en te moet maats maak en jouself te moet bewys ... Kinders kan wreed wees. Al die dinge was vreeslik moeilik vir my, maar op ’n vreemde manier het dit my seker ook gehelp om my eie skaamte te oorwin.
“As ek vandag vir mense vertel hoe erg skaam ek op skool was, glo mense my partykeer nie, want ek kom nou voor asof ek heel gemaklik is. Ek het selfvertroue. Ek kan voor skares mense staan en gesels as ek moet. Dit het miskien daarmee te doen dat jy jouself moet dwing, keer op keer, om jou skaamte weg te steek, want anders gaan jy net daar sit en jy gaan glad nie maats maak nie. En om dit te oorkom ... Ek dink daar is heelwat skaam mense wat kan baat by ’n bietjie drama-opleiding, want dit leer jou ook om weg te steek, voor te gee dat jy selfvertroue het en dan oortuig jy wel mense en jouself.”
Momente van bewuswording
Maessen het genoem dat op verskeie plekke in die boek die apartheidsamelewing aangestip word en dat dit teenoor die volwassewording van Mia geplaas word, ook hoe normaal die sisteem in daardie tyd vir Van der Vyver gelyk het en hoedat, in die loop van die boek, die jong Van der Vyver meer bewus geword het van die onderdrukkende aspek van apartheid. Wat was vir haar die belangrikste momente van bewuswording?
“Dit was werklik in die gloriejare van apartheid, die ’60’s en ’70’s, wat ek grootgeword het. Ons het in so ’n afgeslote borrel gelewe in Suid-Afrika. Ek moet byvoorbeeld keer op keer vir my kinders verduidelik dat ons nie eens televisie gehad het nie. Die hele res van die wêreld het al in die jare sewentigs televisie gehad. Maar ons het eers in 1975, 1976 vir die eerste keer televisie gekry. Die koerante was gesensureer en heelwat boeke is. Dit was maklik gewees vir die owerheid om mense blind te hou. En veral natuurlik kinders wat gebreinspoel word op ’n manier.
“Maar tog, dan gebeur daar dinge as jy ’n denkende mens is. Selfs as ’n kind is daar oomblikke wat jy vrae begin vra. As jy nie blind en doof is nie. Ek stip spesifiek een of twee van hierdie momente aan in my boek.”
Een so ’n moment was toe sy seker so 12 jaar oud was in Pretoria by ’n atletiekbyeenkoms van skole. "Natuurlik, al die kinders en die onderwysers en die toeskouers op die pawiljoene is spierwit. Dit was vir my normaal. En agter die pawiljoene staan die roomysverkopers, smouse met lekkergoed en roomys, wat meestal swart was.
"Nou staan ek in ’n tou om vir my ’n roomys te koop. En ’n jong man wat ’n entjie voor my staan, miskien twee mense voor my, begin skel op die heelwat ouer roomysverkoper. Ek kan nie onthou waaroor dit gegaan het nie. Ek weet nie hoekom nie. Of hy gedink het die swart man spreek hom nie reg aan of wat nie. Ek onthou ek het skaam gekry, ek het begin brand van skaamte en gedink mens sal nie met ’n hond of ’n dier praat soos hy nou met hierdie ouer man praat nie. Ek het nie die roomys gekoop nie. Ek was te skaam. Ek kon nie die swart man in die oë kyk nie. Ek het sonder my roomys weggestap.”
Vrae eerder as antwoorde
Die naweek na dié insident het sy kerk toe gegaan en aan haarself begin vrae stel. “Want ek het gewonder: Hoekom? Wat gee ons die reg? Kan die dominee, kan die prediker hierdie vraag vir my beantwoord? Kan die skoolhoof of die onderwysers vir my sê hoekom? Wat gee ’n jong man of ’n kind die reg om met ’n ouer swart persoon só te praat? Was hierdie jong man ook ’n Christen gewees? Ek het gedink alle Afrikaners is Christene. En Christen beteken ook jy het jou naaste lief soos jouself. So dis die begin gewees, die klein beginnetjie van vrá.
"En as jy eers hierdie vrae begin vra en jy kom agter jou ouers en jou onderwysers en die kerkmense wat jy geleer is om na op te kyk kan nie noodwendig vir jou antwoorde gee nie, dan begin jy natuurlik meer en meer vrae vra.”
Wat was dan die reaksie van volwassenes op die soort vrae wat sy gestel het? wou Maessen weet.
“Die reaksie was dikwels iets soos: Dit is normaal. Dit is soos dit is. Of: Ons is reg. Ons is hierdie klein uitverkore volk. En ons het God aan ons kant. En wat ons doen, is reg en is vir almal se beswil. Dit het mens dikwels gehoor. Afsonderlike ontwikkeling beteken nie jy is beter as die ander nie. Dis goed vir die swart mens om nie na dieselfde skool as ons te gaan nie.
“Dit is geregverdig op maniere wat amper ondenkbaar is vandag.
“Ek dink baie wit mense het dit opreg geglo, dat dit die beste is vir almal van ons, so dit was moeilik. Jy kan nie werklik in daardie klein Afrikaanse wêreldjie waarin ek grootgeword het, antwoorde gevind het nie.
“My eie ouers kan ek nou vandag sê was nie rassiste nie – ons mag nie skelwoorde gebruik het om van ander mense te praat nie. Maar die feit dat my pa die Nasionale Party ondersteun het, het tog vanuit ’n rassistiese plek gekom.
“So dit is baie moeilik om daarna te kyk en dit is iets wat ek ook aanraak in die boek. Hoe kyk jy na die skuld, na die aandadigheid van die mense wat jy lief het? Want ek is lief vir my pa en ma en my ouma en oupa. Maar ek moet ook erken dat hulle verkeerd was. Dat hulle dinge gedoen het wat jy nie kan verduidelik vir my dogter nie.”
Diensplig
Ná skool, toe Marita universiteit toe sou gaan, was daar vir die seuns diensplig gewees. Maessen noem dat talle van die seuns wat teruggekom het van die oorlog, getraumatiseer was en dat Marita verder hiermee gewerk het in haar roman Grensgeval. Wanneer ’n mens pas klaar is met skool en diensplig nader, het dit dan soos ’n bedreiging gevoel? het sy gevra.
“Selfs die jongelinge wat so gebreinspoel is dat hulle geglo het hulle gaan om kommunisme uit te roei of so, was tog bang,” het Van der Vyver gesê. “Jy kon dink jy moet dit doen vir volk en vaderland en om die wit volk te beskerm en al dié soort van goed wat vir mense ingeprent is, maar die jong seuns was bang. Hulle kon dit miskien nie erken nie, maar jy kon doodgaan.
“En baie hét doodgegaan, of het verlam of beseer teruggekom. Maar dis soos soldate in enige oorlog. Daar is soveel patriotisme en breinspoeling betrokke dat jy amper nie daaruit kan kom nie. So dit word gesien as iets normaal. Dit is nou maar wat jy moet doen.
“Dit het geweldig baie moed gevat vir jong Suid-Afrikaanse wit mans om op die ouderdom van 17 of 18 wanneer jy opgeroep is te sê: ’nee, ek doen dit nie.' Want jy kon ’n gewetensbeswaarde wees wat sou beteken het jy sou tronk toe gaan. Of jy moes die land verlaat en nie weer terugkeer nie. Jy moes in exile gaan. Daar was soveel swart mense wat in exile gegaan het wat nie ’n ander keuse gehad het nie.
“Maar ek dink tog mense is soms verbaas, as ek met Europese vriende nou praat, oor hoekom nie meer jong mans net gesê het ek gaan dit eenvoudig nie doen nie, dit is ’n onregverdige stelsel.
“Ek dink ’n mens kan nooit die breinspoeling, die geslotenheid van dié wêreldjie onderskat nie. Daar was eintlik vir die meeste jong wit seuns nie ’n keuse nie, al het hulle saamgestem. Daar was ’n keuse, maar dit was so ingrypend en sou hul hele lewe verander dat min jong seuns – ek noem hulle seuns, want hulle was nog nie mans nie – op daardie ouderdom daardie keuse kon uitoefen. Baie van hulle was in latere jare baie spyt. Baie het ná diensplig betrokke geraak by die End Conscription Campaign wat ’n hele veldtog was om diensplig te probeer beëindig. Maar op daardie oomblik, as jy ’n tiener is, dan doen jy maar wat jou pa en die skoolhoof vir jou sê jy moet doen.”
Maessen ag iets soos diensplig moeilik voorstelbaar vir haar eie generasie.
“Ek kan nie dink hoe ek dit sou kon doen om vir my seun te laat grens toe gaan nie,” het Van der Vyver benadruk. “Ek weet nie hoe die moeders dit gedoen het en die vaders nie, tensy hulle heeltemal gebreinspoel was. Die idee dat jy jou kind stuur om mense te gaan doodmaak en om self doodgemaak te word, moontlik, is vir my ondenkbaar.”
Hoe het sy omgegaan daarmee dat mense uit haar eie omgewing en leefwêreld opgeroep is? het Maessen gevra.
In die tydperk waarin die boek afspeel, tot by haar 17de jaar, was dit maar iets wat jy gedoen het, het Van der Vyver by terugskoue gesê. Haar matriekjaar was 1975. “Jy was daarvan bewus dat baie van jou seunsmaats miskien skrikkerig is daarvoor. Maar dit is nou maar net iets wat gedoen is. En jy as meisie het briefies geskryf, kospakkies gestuur vir jou broer, neef of kêrel op die grens.
“So daar sit jy. Jou broer of jou boyfriend of wie ook al is diep in Angola besig om geskiet te word en mense dood te maak. Maar die regering sê: Nee, nee, nee hulle is nie daar nie. Hulle ontken dit.
“Ek dink daardie soort van leuens het miskien meer oë oopgemaak. Want toe ons uiteindelik besef maar die regering lieg vir ons, dan vra jy vir jouself maar waaroor anders lieg hulle nie ook nog as hulle oor so iets belangriks kan lieg nie?"
Sy het nooit gevoel sy kon werklik wegkom van die grensoorlog nie, omdat daar te veel mans in haar eie lewe was wat daardeur benadeel, gedood of gewond is.
Ouers en rebellie
Teen die einde van ’n Baie lang brief aan my dogter, dus ook die einde van Van der Vyver se herinneringe aan haar puberteit en jeugjare, lyk dit of die verhouding met haar ouers, veral met haar vader, versleg. Hoe het dit gebeur? het Maessen gevra.
“Ek dink die antwoord, kortliks, is ek was ’n normale tiener,” het Van der Vyver gesê. “Daarna het ek ’n ma geword van tieners en daar’s min tieners wat nie deur ’n vorm van rebellie teen hulle ouers gaan nie. In vele opsigte was ek miskien ’n goeie tiener. Ek het nie aan dwelms verslaaf geraak of die huis verlaat of weggeloop van die huis af nie, en ek het altyd heel goeie punte op skool gekry.”
Haar rebellie was meer en meer deur vrae te vra, het sy gesê.
“Die soort vrae vra wat jou ouers nie kan beantwoord nie, nie net oor politiek nie, oor godsdiens, morele kwessies. Ek kon nie werklik met my ouers oor seks praat nie. Maar ek sou byvoorbeeld iets vir my pa sê soos: 'Ek gaan nie eendag trou nie. Ek gaan ’n kind kry sonder om te trou.' En dan sou dit hom so ontstel.
“En op die ou end hét dit gebeur, heelwat later in my lewe. Ek net nie getrou nie en ek het ’n kind gekry. En my pa was fíne daarmee, later. As jy dit op 16, 17 sê ... Ek dink baie daarvan was provokasie ook. Jy is in rebellie. Jy voel jammer vir jouself en alles is intens as jy ’n tiener is.”
Sy skryf steeds jeugboeke, dus bly sy in voeling met die tiener in haarself.
“En ek dink altyd aan daardie intensiteit van gevoelens. As jy hartseer is, is jy verskriklik hartseer, as jy vreugdevol is, is jy over the moon. Ek dink volwassenes vergeet gou hoe intens dit is.
“’n Groot deel van my vashaak met my ouers was doodgewone, normale tienerrebellie gewees. Met my ma het dit oorgegaan, gou oorgewaai. Ek dink teen die tyd wat ek op universiteit was, was dit reeds fine. En toe ek self ’n moeder word ... Ek dink dit gebeur baie keer met vroue wat opstandig is teen hulle ma’s dat as jy self ’n kind kry, begin jy besef waardeur jou ma was. En toe het ek werklik my ma begin waardeer. En ons het werklik na aan mekaar gekom. My pa was daar, maar altyd so haak-haak, maar ons het ook. Soos jy self ouer word, vergewe jy jou ouers. Jy sien dinge wat jy nie kon sien as kind nie.
“En soos ek gesê het, my pa is nou heel onlangs dood. Dis vir my swaar. Want ek dink op die ou einde het ons goed klaargekom. Ten spyte van ons verskille het ons respek gehad vir die verskille wat ons het.”
’n Ander land
Wat was vir haar die belangrikste verskille tussen hoe sy en Mia grootgeword het?
“Ek rig die boek aan my dogter omdat sy letterlik in ’n ander land grootword as ek. Maar ek sê ook ek dink ook aan die verlede as ’n ander land waarna jy nooit kan terugkeer nie. So selfs vir jongmense wat vandag in Suid-Afrika grootgeword het ... dis ’n ander land as die land waarin ek was. Jy kan nie teruggaan na daardie land nie.”
Nie net wat Suid-Afrika en Frankryk geografies betref nie, ook die verlede gemeet aan die hede is ’n ander land, het Van der Vyver laat blyk.
“Ek rig die boek aan my dogter omdat sy letterlik in ’n ander land grootword as ek. Maar ek sê ook ek dink ook aan die verlede as ’n ander land waarna jy nooit kan terugkeer nie. So selfs vir jongmense wat vandag in Suid-Afrika grootgeword het ... dis ’n ander land as die land waarin ek was. Jy kan nie teruggaan na daardie land nie.”
Wanneer Van der Vyver na Suid-Afrika kom as jeugboekskrywer, besoek sy gereeld skole om met jongmense te praat en om hulle aan te moedig om Afrikaans te lees.
“Ek het ’n projek met spoken word, praatpoësie, wat ek met skole doen. En dan kom ek agter hoe ver weg dit vir hulle is. Vir my is dit in my leeftyd. Dit is vir hulle soos die Middeleeue as jy praat van die jare sewentigs of die jare tagtigs. Dis iets waarvan jy in geskiedenisboeke lees.
“Om vir jongmense daarvan te vertel, of hulle sê nou maar na die apartheidsmuseum in Johannesburg te neem, is nogal ’n ervaring, want as jy daar ’n kaartjie koop, dan kry een ’n kaartjie vir blankes, wit mense, en die ander ’n kaartjie vir swart mense, en dan moet jy by twee verskillende ingange ingaan. En dit vind ek ruk jong mense nogal. En besef jy wat dit beteken het op ’n dag-vir-dag-basis. Jou kleinste stappie wat jy doen. Dis nie net dat jy nie kon trou of woon saam met iemand al is jy lief vir iemand nie, dis elke enkele dag, alles wat jy doen. Jou skool, jou kerk, die winkel waar jy kos gaan koop.
“En ja, in vergelyking daarmee is Mia natuurlik vry. Sy het gereis van baie jongs af. Sy was twee maande oud toe reis sy van een kontinent na ’n ander. So gou ek haar paspoort kon kry om haar Suid-Afrika toe te kon neem. Ek was 18 jaar oud toe ek die eerste keer in ’n vliegtuig was."
Die enigste ander land wat Marita ooit deur haar jeugjare heen geken het, was Mosambiek, omdat haar laaste twee skooljare in die Laeveld in Oos-Transvaal (Mpumalanga vandag) aan die grens van die Krugerwildtuin was. Mosambiek was vir haar nader as Pretoria gewees.
“So ons het soms naweke daarnatoe gegaan. En dit was eksoties. Hulle het Portugees gepraat. En dit was heel iets anders, die naaste wat ek aan oorsee gekom het.”
Weergawes van die werklikheid
Aangesien Marita vir ’n Baie lang brief aan my dogter regstreeks uit haar omgewing put, moes sy bepaalde keuses maak oor mense wat nog lewe? het Maessen gevra.
“Ek probeer aanhoudend ook in die boek sê ek vertel my persoonlike waarheid, maar as ek met my broer en my suster praat oor ’n spesifieke insident in ons kinderlewe, dan onthou ons elkeen ’n verskillende weergawe.”
Vir Marita was dit miskien die moeilikste van alles. “Ek was heeltyd bewus van die feit dat mense nog lewe en dis ook miskien een van die redes hoekom ek dit beperk het tot by my jeugjare, ’n spesifieke tyd in my lewe wat ver weg is. So dis makliker, minder moeilik, om na terug te kyk. En dit was ’n tydperk in my lewe waar eintlik my familie die grootste rol gespeel het. Ná skool, op universiteit, in die werkende lewe, raak dit baie moeiliker. Mense vra my maar gaan hier ’n opvolg nou wees, en wat verder? Dan dink ek, dit gaan éérs moeilik wees, want dan betrek jy baie meer mense. My hele lewe het so uitgebrei met vriende en minnaars. Ek was die eerste keer getroud gewees, daar is so baie ander mense, wat beteken jy kan nie jou eie storie vertel sonder om hulle storie ook te vertel nie. So dit besef jy die hele tyd. Hoe ver kan jy iemand anders se storie vertel?
“Ek probeer aanhoudend ook in die boek sê ek vertel my persoonlike waarheid, maar as ek met my broer en my suster praat oor ’n spesifieke insident in ons kinderlewe, dan onthou ons elkeen ’n verskillende weergawe. Die een onthou die dialoog haarfyn, die ander een onthou nie eintlik die dialoog nie, maar sal presies onthou hoe die dekor gelyk het van waar ons gesit het, hoe die weer was, en die ander een sal iets onthou van een of ander aksie wat gebeur het daar. Van die kat wat hard gemiaau het skielik. En dit laat my besef dat ons elkeen net ons eie weergawe het.
“So ek vertel my weergawe. Ek raak aan my broer, my suster, my ma, my pa, my maats, my onderwysers, maar ek probeer om nie inbreuk te maak op hulle stories nie. Want ek voel ek het nie die reg nie. Maar dis ’n fýn balans waarvolgens jy heeltyd moet loop, want jy kan nie oneerlik wees nie. Ek moet my storie so eerlik moontlik vertel.”
Lees van die geskiedenis
Maessen wou weet of sy senuagtig was oor reaksies op die boek.
“Die enigste mens oor wie ek miskien werklik senuweeagtig was, was my dogter. Want ek het ook vir haar gesê ek was nie senuweeagtig oor wat sy sou dink van wat ek skryf nie, ek was senuweeagtig oor wat mense vir haar gaan vra ... 'So wat dink jy van jou ma se boek?'
“Ek het ook vir haar gesê, toe dit nog in manuskripvorm was, dat as sy wil, sal ek vir haar die manuskrip gee om te lees. As daar enigiets is waarmee sy ongemaklik is, kan sy dit vir my sê, dan praat ons daaroor en ek kan dit uithaal. En sy het vir my gesê: ‘Nee, Ma. Ek vertrou jou. Ek wil dit lees as dit in boekvorm is.’ En sy hét dit intussen in boekvorm gelees. In Engels natuurlik. Sy lees nie Afrikaans nie, en het ’n baie goeie reaksie daarop gehad.
“Wat die ander mense betref, ek weet nie. Miskien is daar van my ou skoolvriende ... Hier en daar het ek skuilname gebruik. Dalk is daar enkele mense wat hulleself sou herken. Maar nee, ek het nie enige reaksie tot dusver gehad wat my laat voel het ek het inbreuk gemaak op ander mense se stories nie.”
Veranderende tye en maatstawwe
Wat wou sy vir Mia en miskien ook die leser saamgee met hierdie boek? het Maessen gevra.
“[E]k dink altyd as ek ’n roman skryf, glo ek altyd ek moenie probeer om ’n boodskap oor te dra nie. Elke mens moet sy eie storie, sy eie boodskap uit die boek neem. Maar as jy ’n brief skryf, of memoires in die vorm van ’n brief, dan het jy klaarblyklik tog een of ander vorm van ’n boodskap wat jy wil oordra.”
“Dis interessant, daai vraag, want ek dink altyd as ek ’n roman skryf, glo ek altyd ek moenie probeer om ’n boodskap oor te dra nie. Elke mens moet sy eie storie, sy eie boodskap uit die boek neem. Maar as jy ’n brief skryf, of memoires in die vorm van ’n brief, dan het jy klaarblyklik tog een of ander vorm van ’n boodskap wat jy wil oordra. En ek het heelwat hieraan gedink al.
“Ek wil hê ons moet so eerlik as moontlik kyk, terugkyk na wat gebeur het in Suid-Afrika in ons jeug, enige jeug. As ons terugkyk na ons jeug, al sit jy in Nederland of in Amerika of waar ook al, daar het dinge gebeur in die wêreld ... Jou ouers, miskien jou grootouers, familielede het dinge gedoen waarmee jy nie saamstem nie en waardeur jy selfs geskok kan wees, maar ons kan nie die verlede oordeel met die maatstawwe van vandag nie.
“En dit is miskien die boodskap wat ek die hele tyd probeer oordra: Ons moet probeer verstaan én ons moet oordeel, want selfs in ’n tydperk was daar mense wat meer verkeerd was as ander mense. Maar ons moet ook die hele tyd onthou dat die maatstawwe verander."
As mens regtig teruggaan in die geskiedenis, dan gaan mense al hul groot helde verloor. “Want hulle was almal slawe-eienaars gewees, of hulle was oorlogsvoerders, of hulle het hul vroue mishandel of hulle was pedofiele. Daar is soveel dinge in die verlede wat ons vandag met ons morele standaarde net eenvoudig nie kan verduur nie.
“En ek sê dit ook teen die einde van die boek: Sekerlik is daar heelwat wat ons vandag doen wat ons as normaal beskou wat die volgende geslag ons voor gaan kwalik neem, soos hoe ons die aarde verwoes het, hoe ons goeters weggegooi het, sonder om te dink aan wat gebeur, hoe ek rondgevlieg het in die wêreld in vliegtuie. Dit is dinge waaroor die volgende geslag ons gaan kwalik neem. En ek hoop die volgende geslag sal ons darem ook nie net oordeel volgens dié standaarde nie, maar ook volgens ons tyd. Dat daar dinge was waarvan ons nie eens bewus was nie.”
Woordprente
Mense wat die gesprek op YouTube gevolg het, het die geleentheid gekry om vrae te stel. In die uitsending van die onderhoud is verskeie foto’s gewys en Ingrid Degraeve wou weet of die foto’s in die boek is en of dit in die skryf daarvan ’n rol gespeel het.
Dit was ’n baie doelbewuste besluit om nie foto's in te sluit in die boek nie, het Van der Vyver gesê. “Die enigste foto is die een op die omslag. Dis ek self op ’n jong ouderdom. Ons het dit spesifiek gekies. Heelwat mense dink dis my dogter, want dis half tydloos. Dit kan eintlik enige meisie wees van die afgelope 100 jaar."
Sy het vertel dat haar dogter videospel- en bewegingontwerp studeer en dat haar wêreld baie visueel is. “Al die jongmense word in ’n visuele wêreld groot nou, baie meer as in my tyd. So my uitdaging was om hierdie storie vir my dogter in outydse woorde te vertel. Want dit is waarmee ek die gemaklikste voel. En om met my woorde genoeg prentjies te teken dat sy kan sien. So ek het geen foto's in die boek gesit nie. Ek het dit wel as visuele hulpmiddels vir myself gebruik.”
Van der Vyver het mense genooi na die Facebookblad Marita van der Vyver Official Group waar sy die afgelope maand van tyd tot tyd foto’s geplaas het en wat mense sal interesseer wat die boek gelees het.
’n Praatstem wat steeds skryfstem is
Aangesien Maessen ook iemand se dogter is, voel sy dat sy ook aangespreek word omdat die boek in briefvorm geskryf is en of die briefvorm ’n ekstra laag daaraan gee? wou Degraeve weet.
Sy is sewe jaar ouer as Mia, het Maessen gesê. Sy vind aanklank by die stukke oor Mia en kan haar indink dat Mia haarself miskien daarin kon sien. Sy weet nie of dit spesifiek die vorm van die boek was of die dialoog wat Van der Vyver self met Mia aangaan nie, maar Maessen ag die ope gesprek wat Van der Vyver met haar dogter voer ’n belangrike onderdeel van dit wat tot haar gespreek het in die boek.
Van der Vyver het gesê die briefvorm het gehelp om “die trant reg te kry, die toon”. Elke boek wat ’n mens skryf, het ’n sekere toon en dis partykeer die moeilikste vir ’n skrywer om daar uit te kom, het sy gesê.
“Ek wou dit informeel hou en soos ’n gesprek met ’n geliefde. Maar nie ’n dagboek nie, nie so intiem soos ’n dagboek nie. ’n Brief was dus vir my die ideaal. Dis die naaste wat ek aan ’n praatstem kan kom maar wat steeds ’n skryfstem bly, as jy ’n brief skryf aan iemand.
Maessen wou by haar hoor: Is die res van haar memoires op pad?
“Ja. En dis ’n kompliment as mense vra waar is die volgende aflewering. In hierdie stadium kan ek eerlikwaar sê: as ek die regte vorm kan kry. Dit sal nie weer ’n brief wees nie. Dit sal anders moet wees, want my lewe het anders geword ná skool. As ek die regte vorm kan kry, sal ek dit doen.”
Reaksie en kritiek
Ingrid Glorie het Van der Vyver gepols oor Grensgeval en het gesê dat sy in die nuwe boek ook krities staan teenoor die apartheidsverlede. Is daar lesers wat dit ook te krities vind? Wat was hul reaksie dan daarop?
Van der Vyver laat blyk dat die reaksie met veral Grensgeval “besonders” was. Sy meen daar is “’n groot klomp middeljarige en ouer mans veral wat voel enige bevraagtekening van daardie oorlog en hulle rol in die oorlog laat hulle baie onseker voel. Want hulle voel daar is opofferinge gemaak. En daar is mense dood en nou kom iemand soos ek en sê basies dit was nie nodig om daardie oorlog te hê nie.”
Met die verskyning van Grensgeval het “ouens in weermaguniforms opgeruk" na haar toe en Van der Vyver het vertel hulle was “soms heeltemal belaglik” en dat die kritiek “so erg soos doodsdreigemente” was. “Jy word gesien as ’n volksverraaier. Hoe kan jy as wit vrou nou hierdie oorlog bevraagteken?”
Sy het dit met ’n knippie sout gevat en vroeg al gesê mense moet net eers die boek lees voordat hulle kritiek lewer. “Dit sê ek oor en oor. En met Grensgeval, toe een of twee mense wat die sterkste daaroor gereageer het, wél die boek lees en vir die ander ouens sê maar kyk dit is nie kritiek op elke wit ou wat army toe gegaan het nie, die boek gaan nie daaroor nie, die boek gaan oor die hele opset van die oorlog waarin ons was ...
“Daar sal sekerlik mense wees wat sê: ‘Ag jy weet, hoekom wil sy nou die heeltyd jammer sê?’ Ek het nie ’n probleem daarmee nie. Ek is seker ’n snowflake. Noem my ’n sneeuvlokkie. Ek voel ek moet kan erken wat my mense verkeerd gedoen het. As ek dit nie doen nie, sal ek lafhartig wees.”
’n Mikrokosmos van Afrikaans, miskien
’n Baie lang brief aan my dogter is, soos die res van Van der Vyver se oeuvre, in Afrikaans geskryf. Die boek is geskryf aan Mia wat nie Afrikaans kan lees nie en sy het die Engelse vertaling gelees. In die boek sê die skrywer sy woon in haar taal. Maar hoe is dit om in ’n taal te woon en te skryf wat sommige van haar naastes nie beheers nie? het Maessen gevra.
“Dit is ’n vreemde ervaring,” het Van der Vyver gesê en genoem dat dit vir ’n skrywer soms ook voordelig is. “Ek het nooit ’n man wat oor my skouer kan loer terwyl ek besig is om aan ’n manuskrip te werk nie. En dit is vir my goed, want ek hou nie daarvan nie. Omdat ek ’n bietjie van ’n beheervraat is, hou ek daarvan om dit te wys wanneer ek reg is om dit te wys vir iemand ander om te lees.
“Ek herskryf geweldig. Ek sou nie daarvan gehou het as my familielede, my gesinslede, stukke lees van wat ek skryf nie. Nou hoef ek nie daaroor bekommerd te wees nie. Ek kan ’n halwe manuskrip op my rekenaar los. Ek kan gaan rondloop. Hulle kan dit in elk geval nie lees nie. So dis die voordeel.
“Dis ’n mikrokosmos van wat in my eie gesin gebeur, miskien, van wat besig is om met Afrikaans in die algemeen te gebeur, en wat baie van ons Afrikaanssprekendes mee probleme het.”
“Maar op ’n ernstiger trant: Ja, dit is tog vreemd soms, heel vreemd, dat ek so lief is vir my taal en so geanker voel in my taal en tog ... My kinders hou van Afrikaans, omdat dit hulle herinner aan die stories wat hulle vertel is toe hulle klein was. Hulle het ’n goeie gevoel daaroor. Maar ja, dis iets anders vir hulle. Hulle gaan nie noodwendig hierdie taal voortsit nie, maar dit gaan saam met die hele kwessie van Afrikaans. Dis ’n mikrokosmos van wat in my eie gesin gebeur, miskien, van wat besig is om met Afrikaans in die algemeen te gebeur, en wat baie van ons Afrikaanssprekendes mee probleme het. Want dit is ’n taal wat van alle kante af aangeval word oor dinge wat gebeur het in die verlede, wat ek verstaan. En mens weet nie hoe lank die taal nog kan staande bly teen dit alles nie.”
Suid-Afrikaans in Frankryk
Solet Scheeres wou weet of Van der Vyver voel dat sy haar ná al die jare in die buiteland wegdraai van haar Suid-Afrikaanse self.
Sy voel haar meer Suid-Afrikaans ná 25 jaar in Frankryk, het Van der Vyver gesê.
“Ek dink dit gebeur soms met ander mense ook. ’n Mens word meer bewus van die dinge wat jy miskien, nie geminag het nie, maar wat jy nie werklik na waarde geskat het as jy die hele tyd in ’n land is nie. Ek het ’n groter blik, so ek sien al die foute van Suid-Afrika met ’n wyehoeklens. En ek vergelyk dit met die res van die wêreld. Maar ek sien ook die goeie dinge wat ’n mens nie in Suid-Afrika altyd waardeer nie. Baie Suid-Afrikaners smag so om in ander lande te woon, maar hulle besef nie hoe hulle dit daar het nie.
“Mense sê te maklik hulle wil in ’n ander land gaan woon, sonder om werklik te besef hoe swaar dit is om jouself oor te sit in ’n ander land.”
“Daar is soveel goeie dinge nog daar. Daar is soveel fantastiese natuurskoon. Daar is ’n standaard van lewe wat die meeste wit mense in elk geval nog steeds het. Mense sê te maklik hulle wil in ’n ander land gaan woon, sonder om werklik te besef hoe swaar dit is om jouself oor te sit in ’n ander land.”
***
– Zuid-Afrikahuis is van 12 Julie tot 9 Augustus gesluit.
– Die reeks skrywersgesprekke Boeken uit het Huis word hervat met uitsendings van gesprekke op die laaste Donderdag van elke maand vanaf Augustus.
– In Augustus gaan die historikus Albert Grundlingh aan Bas Kromhout vertel van sy biografie oor Frederik van Zyl Slabbert, Slabbert. Man on a mission. A biography.
– In September is die romanskrywer PP Fourie aan die woord oor ’n Hart is so groot soos ’n vuis.
– In Oktober gesels Adriaan van Dis met Annemarié van Niekerk oor literêre niefiksie uit haar pen.
– In November gesels twee skrywers van historiese romans, te wete Irma Joubert, skrywer van onder meer Na ’n plaas in Afrika, en Cynthia McLeod, skrywer van onder meer Hoe duur was de suiker?.
– In Desember praat Margriet van der Waal met Ingrid Winterbach oor Robert Dorsman se Nederlandse vertaling van haar roman Die troebel tyd.
Lees meer oor vorige skrywersgesprekke:
Veelsydige Deon Meyer stel nuwe Bennie-en-Vaughn-boek in vooruitsig
Lees ook:
Buro: MvH’n Baie lang brief aan my dogter deur Marita van der Vyver: ’n resensie