
The Rooftop at The Silo Hotel in die Kaapse V&A Waterfront
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Die strewe na die hoogste piek, die hoogste gebou, die hoogste woonstel of die hoogste toring is so oud soos die mensdom self. My enigste aanspraak op die oorwinning van hoogtes is die drankies en kougoed wat ek al in baie hoë kroeë – dikwels in geboue se dakrestaurante – geniet het.
Om só van bo af oor die stad, vallei, see, woude, veld of sand af te kyk, laat jou werklik voel asof jy ’n berg oorwin het.
Danksy ’n diefstal tydens ons trek na ons huidige huis, is ons baie van vakansiefoto’s kwyt en daarmee saam ook spesifieke name van plekke waar ons gebly het tydens ons verblyf. Maar dan troos ek myself dat baie van die plekke waar ons sulke goeie tye geniet het heel moontlik deur die pandemie verpletter is en ons almal net die mooi herinneringe oor het – maar dié is so duidelik soos gister.
Hoe dit ook al sy, as daar geleentheid is om net duskant die wolke te sit, is ons daar.
Hier is ’n paar gunstelinge.
Turkye
’n Oornagbusrit – nie vir die faint hearted nie – van Istanboel deur Cappadocia, waar ons ’n paar dae vertoef, en toe verder aan na Pamukele en nog verder aan na Selçuk in Ïzmir, is allesbehalwe pret. Die busse is soos ou skoolbusse met ongemaklike sitplekke, niks te ete nie en geen toiletgeriewe nie. Ek is die enigste vrou aan boord. Stopplek vir toiletbreke is dus nie gereeld nie en elke keer as daar wel vir my gestop word, sug die hele bus in een manlike steun!
Toe ons uiteindelik by ons hotel kom, is ons albei busvoos en koud. Die aand oor vinnige aandete, vertel die kelner dat hy met sy afdae kus toe vlug vir sonskyn en net daar besluit ons om ’n motor te huur vir ’n dag. Ons visier is op Bodrum. Ná twee weke van sneeu en ysige koue beloof die kusdorp se gematigde temperature ’n welkome breek.
.......
“Dis hemel op jou tong en daar ver is hemel op jou oog,” vertel hy gul.
.......
Die motor word na ons hotel gebring en dis in gietende reën wat ons in die donker wegtrek. Nie ver op ons rit nie is ’n Starbucks oop en met stomende cappuccino’s kies ons koers. Halfpad soontoe – 80 kilometer of so – druk ek my hand in die handskoenkassie en hier lê ’n CD. “Road trip” staan in koki daarop geskryf. Dis toe heerlike musiek wat ons bevrore voete vergete laat.
Dis lekker warm in Bodrum. Ons gaan stap op die strand, eet by ’n strandrestaurantjie ’n paar mezze-disse en wil so teen laatmiddag terugkeer na Selçuk, maar ’n man met wie ons by die tafel langsaan aan’t gesels geraak het, nooi ons vir ’n drankie by sy gunsteling-dakkroegie met uitsigte oor die see. Hy glo vas mens kan nie sê jy was in Bodrum as jy nie Raki saam met ’n local geniet het nie. Dit herinner aan Griekse ouzo en het ’n anyssmaak. My geliefde moet nog bestuur, maar selfs daarvoor het die gawe heer ’n antwoord: verdun met koue water en ys, en geniet met spanspek en kaas. “Dis hemel op jou tong en daar ver is hemel op jou oog,” vertel hy gul.
Dis toe inderdaad ’n heerlike ervaring voor ons die reis terug aanpak.
Britse Maagde Eilande

Ons verlate kroeg in Tortola in die Britse Maagde Eilande.
In 2017 reis ons na die Britse Maagde Eilande om by vriende te gaan kuier. Die eiland is platgevee deur die mees onlangse orkaan. Ons vriende probeer hul bes om die katamaran-onderneming wat hulle bestuur, op dreef te hou, tussen gesonke bote, beskadigde huise deur. Dis een middag dat hulle ’n bode vra om ons bietjie rond te neem en ook spesifiek by die rumdistilleerdery Arundel te stop.

Om op die strand in Tortola te lê met jou drankie en dis wat die natuur jou gee ...
Ook hier lyk dit – letterlik – of ’n orkaan die plek getref het. Die helfte van die dak is weg, mure het ingetuimel en die span ruim op en maak skoon. Maar eenkant is ’n klein opslaanstalletjie waar al hul onbeskadigde rumbottels verkoop word. Daar is ook klein botteltjies waarvan sommige verouder is en ander nie. Ons koop ’n paar en skuif aan. Later by ’n kafeetjie stop ons vir kola en met ons terugkeer na Road Town, stop ons by ’n kroeg wat hoog bo die see lê en ’n amper 180 grade uitsig oor die tropiese hange van die eiland het en die potblou oseaan wat in die verte wink. Die kroeg is toe, maar daar staan plastiekstoele en ons het skyfies, rum en kola. “Ons is lekker op die dakkroeg, nee, ons is op die dak van die eiland ...” lag die jongman. Inderdaad.

Ons koop van die onbeskadigde klein botteltjies rum.
Japan
Ná ’n holderstebolder dag van uitstappies om Berg Fuji van oral te bekyk; al die heilige staproetes onder die eeue-oue bome deur tot op die swartstrand te doen; en groentee by verskeie plekkies te proe, is ons laatmiddag terug aan boord die luukse passasierskip Norwegian Spirit. ’n Vinnige stort, rugsakke neersit en fone laai, voor ons na die boonste dek gaan om ’n drankie te gaan drink, terwyl ons by die hawe uitvaar en die berg al kleiner word. Ek moet myself knyp om te glo dat ons regtig aan die voete van die majestueuse berg was enkele ure tevore en sy hier ons brein se raampie volmaak.

Ons het nie vir Fuji só gesien nie, maar jy kry die idee.
In Tokio enkele dae later is ons omtrent net so hoog bo die aarde as op die skip se boonste dek, by die nuwe The Tokyo EDITION, Ginza se restaurant Sophie at EDITION op die 14de vloer. Ons sit by die venster vanwaar ek die eerste maal die Tokyo Tower sien, terwyl ek aan sjampanje teug en my amper wil verbeel ek is in Parys!

The Punch Room ’n paar vloere laer af in The Tokyo EDITION, Ginza, waar die drankiespyskaart se konsep “Wonderland” is.

The Tokyo EDITION, Ginza se restaurant Sophie at EDITION op die 14de vloer vanwaar ek die eerste maal die Tokyo Tower sien.
Ons het die aand begin by The Punch Room ’n paar vloere laer af in die hotel, waar die drankiespyskaart se konsep “Wonderland” is. Hier word drankies gemaak deur tradisionele Japannese gisting, gefermenteerde produkte soos tee en verskeie Japannese whiskies en ander drankies. Jy kan ook drankies per tafel bestel wat in een pragtige ponsbak met kristalglase gebring word. Die heel boonste kroeg The Roof is dié plek vir foto’s, maar ons is moeg en keer huiswaarts.

The Tokyo EDITION, Ginza se heel boonste kroeg The Roof is dié plek vir foto’s.
Kaapstad
Hier staan drie geleenthede uit: ’n laatmiddag drankie in Seepunt by Top of the Ritz, die bekende Ritz-hotel se draairestaurant op die 23ste vloer. Vriende het as verrassing vir my geliefde daar bymekaargekom op sy verjaardag. My oorlede skoonpa was in die lugmag en was SA se attaché in Parys, Frankryk vir vier jaar. Met hul terugkeer na SA het hulle vir ’n paar weke in die hotel gebly, terwyl hul amptelike huis opgeknap is. My man was mal oor die etes wat hy daar as jong seuntjie geniet het. Om terug te wees nadat sy pa intussen oorlede is, was ’n emosionele kuier. Maar die vonkelwyn was koud en die vriendskap warm.
Vir ons 20ste huweliksherdenking in Mei 2015 het ons drankies bespreek by The Rooftop at The Silo Hotel in die Kaapse V&A Waterfront. Die kroeg is op die 11de vloer en bied die mooiste uitsigte oor Tafelberg, die stad en die Waterfront. In ons mooiste uitgaanklere is ons daar vir sononder. Die hotel is sekerlik een van ons land se indrukwekkendste – nie net weens die ligging nie, maar ook weens die argitektuur.

Bo en onder: The Rooftop at The Silo Hotel in die Kaapse V&A Waterfront. Die kroeg is op die 11de vloer en bied die mooiste uitsigte oor Tafelberg, die stad en die Waterfront.
Maar die weer wil nie saamspeel nie – die wind waai toe só sterk dat die drankies in ons glase golfies gemaak het soos klein mini-seetjies en van ons eetgoed sommer bo-oor die balkonreling gevlieg het! Maar ons het onder die kombers by die gasverwarmer opgekrul gesit en ons beste lewens geleef! Geen Suidooster sou ons pret bederf nie. Ons was intussen terug saam met vriende op mooi aande en dis waarlik iets om te beleef.
Meer onlangs op ’n perfekte, potblou, wolklose dag in die Moederstad kuier ons by Marble Kaapstad. Die Waterfront is vol toeriste. Die somer is in volle glorie hier.
Ons is met die glashysbak na die dak van die ikoniese, historiese Union Castle Mail Steamship-gebou wat in 1919 gebou is, waar Marble Kaapstad nou pryk en die uitsigte oor die hawe, stad en Tafelberg ontvou soos groot skilderdoeke voor jou.

Marble Johannesburg se dakrestaurant en -kroeg is stylvol en het die mooiste uitsigte oor die stad.
Enkele maande vantevore het ons in die Johannesburg een in Rosebank drankies gedrink en toe saam met vriende gaan eet. Ons het gedink dié mense weet hoe om ’n kroeg en restaurant hoog in die lug in te rig én hul gaste te laat welkom voel. Daar is ’n wonderlike, sagte muskusreuk in jou neus, polsende agtergrondmusiek en stylvolle dekor wat vol tekstuur onder jou vingers lê. Die sononder was ekstra goud en mooi en mens kan verstaan hoekom Johannesburg in meer as een opsig die Goudstad genoem kan word.
Engeland
Hier staan drie kroeë vir my uit: die Michelin-sjef Adam Handling se Ugly Butterfly Restaurant and Bar in Saint Ives is vol tot enkele dae ná ons terugkeer na Suid-Afrika, maar daar is plek by die kroeggedeelte. Hier kan gaste ook heerlike snoepgoed met mengeldrankies geniet. Ons twee en my skoonsus en swaer wat in Dorset woon, is in ons beste geklee vir dié ervaring. Jy sit nou wel nie meters in die lug nie, maar die Carbis Bay Hotel waarin die restaurant geleë is sit hoog bo ’n privaat blouvlagstrand en die mooiste baai wink bloublink onder jou. Ons word soos konings behandel deur die gewilde mengeldrankie-spesialis Josh Linfitt en sy regterhande. Hul eksotiese geure – in vloeistof- en vastestofvorm – slaan jou asem weg.

Bo en onder: Ugly Butterfly Restaurant and Bar in Saint Ives waar selfs drankies en peuselgoed jou heelaand kan besig hou.
In Londen het ons plek bespreek by die Sky Garden op die 43ste vloer van die Walkie Talkie-gebou waar die binnenshuise tuin jou omring, terwyl die glaskas jou uitsigte regoor die stad gee. Dis drie verdiepings glas, plante en atmosfeer, 155 meter bo die stad. Die musiek dans tussen die gros plante en bome en mense deur. Om die son oor die stad te sien ondergaan met yskoue sjampanje in jou hand, ’n ervaring wat ek nie gou sal vergeet nie.
Die GŎNG by die Shangri-La Hotel, At The Shard op die 52ste vloer is die hoogste hotelkroeg in Londen en bied ook pragtige uitsigte oor die stad. My niggie en haar lewensmaat het vir ons daar bespreek. Ons vier arriveer met die son wat pas gesak het en die maan wat bleekwang begin opkom. Die stad se goue gloed verdwyn en die liggies kom aan. Dis te mooi vir woorde. Daar is drie areas: ’n skemerkelkiekroeg, sjampanjekroeg en Sky Pool.

Bo en onder: Die Sky Garden op die 43ste vloer van die Walkie Talkie-gebou waar die binnenshuise tuin jou omring, terwyl die glaskas jou uitsigte regoor die stad gee.
Terwyl ons wag vir ons tafel, kyk ons na die spyskaart. Met die wisselkoers op ’n ongekende hoogte, sou vier drankies en iets te peusel meer as R3 000 kos. Ons besluit op die Taylor’s 10 Jaar Tawny port; gebruik die badkamer met sy glasruite wat voel of jy in die lug hang; neem foto’s; en groet. Vir dieselfde geld is ons toe teater toe – met sjampanje – ’n paar aande later, maar ons kan sê ons het drankies in GŎNG gedrink!

Die GŎNG by die Shangri-La Hotel, At The Shard op die 52ste vloer is die hoogste hotelkroeg in Londen en bied ook pragtige uitsigte oor die stad.
Korea
Dit was met die afklimslag by die busstop in Itaewon naby die park dat my oog die naam “Cliff” teen ’n gebou raaklees. Die drieverdiepinggebou lê meer as 250 meter bo die stad. Onder is ’n kafee, die middelste vloer is ’n restaurant en die dakkroeg het net 10 klein tafeltjies en jy kan drankies en iets lig te ete daar geniet.
Ons klim die steil trappies van bo teen die pad af; kom daar net betyds vir sononder. Die ontvangsdame by ons hotel het nie verniet gesê dit het die mooiste uitsig in Seoel nie. Ons geniet klein eetgoedjies en drink Franse wyn terwyl die son sak, die eerste liggies aangaan en die stad ’n tweede asem vir die naglewe kry.
Ysland
Dis weer op die boonste dek van ’n luukse passasierskip, die Norwegian Prima, wat ons spesiale oomblikke het. Ons hoor met ons vertrek uit Reykjavík dat daar ’n kans is om die noorderligte (aurora borealis) daardie nag danksy onverwagte weerpatrone te sien. Ons kuier tot ounag saam met nuwe vriende by die kroeg – almal in stille afwagting vir dié ontwykende natuurwonder. Teen 01:00 is ons almal half verkluim; die kelners pootuit; en almal al bed toe. Ons gooi handdoek in en gaan slaap. Die aand was heerlik en vriendskapsbande is gesmee.

Die Veuve Clicquot-middag by die Soleil-kroeg heelbo op die Norwegian Prima onderweg op die Noorweegse See.
Die volgende oggend hoor ons dat mense dit wel gesien het, teen 03:00, maar vanuit hul beddens. Ons troosprys kom twee dae later op die oop see, toe ons genooi word na die Veuve Clicquot-middag by die Soleil-kroeg heelbo. Dis ysig, maar elkeen het ’n oulike skaapvelkombersie en ons gaan sit in een van die ronde nesagtige stoele en kyk hoe die reuseskip skuim maak op die Noorweegse See.

Die wonderlike kroeg op NCL Prima, waar ons kon sien hoe Reykjavík, Ysland kleiner word. (Foto: NCL Prima)
Amerika
Ons gaan kuier by Mambo’s, die enigste dakkroeg in Bourbon Street, New Orleans vir laatnag musiek en iets om te drink. Ons teug aan Sazerac-skemerkelkies, wat volgens ons kelner Amerika se eerste skemersopie was en eie aan New Orleans is. Dit dateer uit 1838 toe Antoine Peychaud die drankie in ’n kroeg in die Franse kwartier gemeng het en na sy gunsteling- Franse konjak Sazerac-de-Forge et fils vernoem het. In 1873 is dit met Amerikaanse whisky gemaak en ’n bietjie absint is deur die kroegman Leon Lamothe bygevoeg. Vandag word hy gereken as die pa van die Sazerac. Toe absint in 1912 verban is, is bitters gebruik.

Die gesellige en besige Bourbon Street in New Orleans.
Die kroegman vertel ons dat die eintlike plek om die Sazerac te drink, die historiese Roosevelt Hotel is, wat uit 1893 dateer en in 2009 heeltemal opgeknap is en nou spog met die Sazerac Bar. Hier is jou kanse blykbaar ook baie goed om bekende akteurs, musikante en skrywers raak te loop. Dis nie ver van ons hotel af nie en ons gaan loer een aand in, maar toe ons die pryse sien, kies ons weer koers Bourbon Street toe – natuurlik net ná ons ’n paar selfies geneem het om te wys ons was daar!

Die kroegie by Zannier Oomanda buite Windhoek, waar jy op stelte oor die vlaktes sit en uitkyk.
Daar was ander by die Sky Bar in Windhoek, Namibië én die kroegie by Zannier Oomanda buite die stad, waar jy op stelte oor die vlaktes sit en uitkyk; die Skyline Bar in Riga, Letland; en die Monkey Rooftop Bar in die Scandic Hotel in Helsinki, Finland. Eintlik te veel om te noem, maar elkeen absolute goue herinneringe.

Die Sky Bar in Windhoek is een van ons gereelde kuierplekke as ons in die stad kuier.
Lees ook:
Korea en Japan: Word deel van die geskiedenis aan boord ’n luukse skip
Laat die Hanrivier en eggo’s van lag ’n Seoel-simfonie speel



