Regering tussen die duiwel en diep blou see oor COVID-19

  • 0

Die regering bevind hom nou tussen die duiwel en die diep blou see wanneer dit gaan oor die opheffing of verligting van die COVID-19-inperkingsregulasies.

Politieke partye het president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die inperkingsmaatreëls verder verslap gaan word, met gemengde gevoelens ontvang. Die land se twee grootste opposisiepartye het die aankondiging dat skoonheids- en haarsalonne, asook restaurante, binnekort kan oopmaak weens lynreg teenoorgestelde redes gekritiseer.

Foto: Canva.com

Die DA sê dit is te min en te laat. Die skade wat aan die bedrywe aangerig is, is volgens die party reeds te groot. Die EFF, daarenteen, glo weer die verslapping van vlak 3- regulasies is voortydig. Die party sê die land het nog nie die hoogtepunt van COVID-19-infeksies bereik nie. Die EFF sê dat die meerderheid van Suid-Afrikaners die virus sal opdoen en die land kan dit nie bekostig nie.

Die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, wil hê Ramaphosa moet vinnig optree om te verseker dat daar ’n duidelike ekonomiese-herstel-plan is vir die duisende werkers wat weens die inperking nie kon werk nie.

Die Vryheidsfront Plus sê die enigste logiese afleiding is dat die regering begin swig voor die druk van toenemende hofgedinge oor sy irrasionele inperkingsregulasies.

Die President het Woensdag aangekondig dat inperkingsmaatreëls op persoonlike skoonheidsdienste, insluitend haarkappers, opgehef gaan word. Hy het ook aangedui dat Suid-Afrikaners binnekort restaurante, rolprentteaters en casino’s sal kan besoek. Besonderhede oor wanneer salonne sal heropen en watter protokol gevolg moet word, sal later bekendgemaak word.

Dit geld ook vir aansitrestaurante wat weer sake sal kan doen. Niekontaksport – soos tennis – sal ook toegelaat word, terwyl mense wat kontaksport beoefen, wel sal kan oefen. Ramaphosa het geen melding gemaak van die verbod op die verkoop van tabak nie.

RSG berig dat die politieke waarnemer Angelo Fick ook sy kommer uitgespreek het oor die President se aankondiging wat die inperkingsmaatreëls bykans in die geheel ophef. Fick sê dit beteken dit is nou in die hande van die 58 miljoen Suid-Afrikaners – met ’n twyfelagtige rekord oor die nakoming van regulasies – om toe te sien dat die koronavirus nie versprei nie.

Gewone Suid-Afrikaners het ook gemengde gevoelens oor die jongste opheffing van sekere regulasies. Sommige meen dit is hoog tyd en sê die meeste Suid-Afrikaners steur hulle in elk geval nie meer daaraan nie. Ander glo weer die stap hou groot risiko’s in en sê hulle sal op eie stoom voortgaan om nie die openbare plekke te besoek wat weer sal kan sake doen nie.

Daar is ook wyd kritiek uitgespreek omdat mense nou toegelaat gaan word om restaurante te besoek en te gaan dobbel, terwyl die President niks gesê het oor vriende of familie wat by mekaar wil gaan kuier nie.

Die President is ook deur sommige gekritiseer omdat hy klem gelê het op geslagsgeweld maar niks gesê het oor plaasmoorde nie. Ramaphosa het in sy toespraak ’n skerp waarskuwing gerig aan diegene wat alkohol misbruik. Hy sê dit dra by tot misdaad en veral geslagsgeweld. Op vlak 3 van die inperking, wat op 1 Junie begin het, word die verkoop van alkohol van Maandag tot Donderdag toegelaat. Die President sê geweld teenoor vroue het egter sedertdien toegeneem en die meeste oortreders was onder die invloed van drank.

Die getal bevestigde COVID-19-gevalle in die land het die afgelope week met meer as 4 000 tot 80 412 gestyg. Sterftes het teen Donderdag met 49 toegeneem tot 1 674. Altesaam 43 van die jongste sterftes was in die Wes-Kaap en die ander ses in die Oos-Kaap. Altesaam 44 331, of 55,1 persent van pasiënte het herstel.

Lees ook 

Oos-Kaap se skokkende COVID-19-chaos

Druk neem toe oor "irrasionele" regulasies tydens inperking

Groter vryhede wink van Maandag vir Suid-Afrikaners

Minister en dokter haaks oor COVID-19

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top