Skepselkos: Plantgebaseerde kookboek weer ’n wegholtreffer

  • 0

Skepselkos deur Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren (Naledi, 2024). Regs: Isabella Nieuhaus en Louis Jansen van Vuuren (Foto: verskaf)

Titel: Skepselkos
Skrywers: Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256836

Skepselkos, die nuwe vegankookboek van kokke Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren, is pas aangewys as die beste verkoper in die leefstylafdeling van die 2024-Stellenbosch Woordfees. Die Engelse weergawe, Earthling food, is binnekort beskikbaar en die boek is op die kortlys vir ’n toekenning by die Gourmand World Cookbook Awards in Portugal volgende jaar. Dis op die kortlys in die veganafdeling saam met vier ander van Denemarke, China, Japan en Pole.

Verlede jaar het dié twee vriende ook die Gourmand World Cookbook Awards in 2023 gewen met Daar’s ’n vegan op my veranda as die beste vegankookboek in die wêreld.

Louis is ­’n kunstenaar, digter en ervare skrywer. Sy vorige kookboeke is Festive France en The story of a house. Isabella is ook die bekroonde skrywer van Duinhuis – een van die min Afrikaanse kookboeke wat ooit as die beste in die wêreld aangewys is en dit maak ook Skepselkos se benoeming soveel meer kosbaar.

Die kort persvrystelling van Naledi Uitgewers verklaar:

Met hierdie unieke boek is dit nie net die twee glanssjefs wat hul kragte saamspan nie, maar hulle word ook bygestaan deur tien vriende wat almal bekende sjefs en kundiges op kosgebied is. Hierdie gesprekke tussen die skrywers en hul vriende skep­ besondere agter-die-skerms-situasies wat kyk na die inspirasie en kreatiwiteit agter Suid-Afrika se plantgebaseerde koservaring.

Lesers sal geïnspireer word deur die stories en resepte wat waardering skep vir plantgebaseerde kos. Die resepte is toeganklik met alledaagse bestanddele wat maklik beskikbaar is. Met Skepselkos/Earthling food nooi Isabella en Louis jou uit om op ­’n uitsonderlike kulinêre avontuur te gaan. Hierdie boek bied iets vir almal, of jy nou ervare sjef, of nuweling in die kombuis is. Dit is meer as net ­’n kookboek – dit neem jou op reis van geur, kultuur en kreatiwiteit wat ’n blywende indruk sal laat en jou ook sal inspireer om met plantgebaseerde disse te eksperimenteer.

Louis Jansen van Vuuren by die boekbekendstelling van Skepselkos in Riebeek-Kasteel (Foto: Clifford Roberts)

 Dis ’n loom dag op Riebeek-Kasteel waar ons vergader vir die bekendstelling van die kookboek op hul tuisgrond. Ons is by Villa Marakesh, soos Louis dit noem – sy en Hardy se “intussenhuis” terwyl hulle verder af in die straat ’n ekohuis bou. Isabella het ’n jaar gelede van Langebaan na Riebeek-Kasteel verhuis en Louis en Hardy het vroeër vanjaar uit Frankryk hierheen gekom.

Die Pieter Cruythoff Brut-vonkelwyn van Riebeek Valley Wine Co is koud en effens beskuitjierig op ons tonge; die tafels kreun onder varsgebakte brood en veganheerlikhede.

Bella vertel dat die boek haar baie na aan die hart lê, omdat dit al is wat sy sedert Februarie in die vallei gedoen het: agter haar rekenaar sit. Ook dat sy tog moet deel dat Louis een aand die hele Genesis in Engels gelees het om uit te vind wat skepsel in Engels is!

Louis Jansen van Vuuren en Isabella Niehaus by die bekendstelling van Skepselkos in Riebeek-Kasteel (Foto: Clifford Roberts)

“Die mense wat ons goed ken, weet daar is ’n baie spesiale band tussen my en Louis en om saam met hom aan nog ’n boek te werk, is regtig spesiaal. Ons dra die boek op aan die drie mense wat die naaste aan ons harte lê: my seun Taro, Louis se dogter Sky en Hardy, Louis se lewensmaat wat vandag boekverkope hier behartig.”

Sy vertel dat hulle met hierdie boek totaal uit die boks wou dink, al is dit ’n veganboek in dieselfde genre as hul vorige. Hulle is baie gelukkig dat dinge só uitgewerk het.

Vrae:

Louis Jansen van Vuuren (Foto: verskaf)

MR: Louis, jy is ’n vegan. Hoe het jy daarop besluit en hoe moeilik of maklik was dit om jou leefstyl te verander?

LJVV: Ek eet reeds vegan vir meer as 10 jaar en ’n mens vergeet hoe moeilik dit was, veral vir jou vriende wat paniekbevange bel en vra wat maak ek nou? Aan die begin was die veganleefstyl hoofsaaklik vir gesondheidsredes. Die rumatiek in my hande was spoedig iets van die verlede en toe ek suiwelprodukte laat gaan, verander my lewe ten beste! Ek moes allergies vir iets in suiwel gewees het.

MR: Wat mis jy van ’n dieet met vleis- en vis- en suiwelprodukte?

LJVV: Absoluut niks! Inteendeel, deesdae kry ’n mens soveel wonderlike produkte wat dikwels, in my beskeie opinie, beter is as die norm. Dink aan hawer- en klappermelk. So tussen hakies, dit maak die heel lekkerste roomys! In Stanford is daar ’n kaasfabriek wat ’n tipe camembertkaas van kasjoeneute maak, wat heerlik smaak. Hulle maak vir my groot wiele op bestelling wat ek gebruik as ek onthaal, natuurlik met siterkonfyt en geroosterde neute daarby!

MR: En wat in jou vegandieet geniet jy nou die meeste, wat jy dalk voorheen oorgesien het?

LJVV: Sampioene is my nuwe obsessie. Ek begin nou my eie kweek in Le Rembucher waar my groot kombuistuin is. Dan leer ’n mens lekker nuwe dinge by soos seitan en tofu en neutbotters.

MR: Is Hardy ook ’n vegan?

LJVV: Met ’n groot glimlag moet ek meedeel dat Hardy nie ’n vegan is nie! Hy doen sy weeklikse braai en dan is daar die onmiskenbare geritsel van die kardoessakkie met sy biltong en droëwors daarin. Ons het wel aparte yskaste, want mens moet êrens die streep trek. Maar deur die week eet hy saam met my alles wat plantaardig is.

........
Wat my opval, is dat my energievlakke konstant hoër as tevore is en dat ek nie moeg is ná ’n maaltyd nie. Daardie “ek moet ’n uiltjie knip” ná die tradisionele noenmaal is weg.
........

MR: Watter gesondheidsvoordele het die veganleefstyl vir jou?

LJVV: Wat my opval, is dat my energievlakke konstant hoër as tevore is en dat ek nie moeg is ná ’n maaltyd nie. Daardie “ek moet ’n uiltjie knip” ná die tradisionele noenmaal is weg. Met ’n onlangse mediese verslag is my proteïen- en mineraalvlakke hoër as Hardy s’n – én ek is 10 jaar ouer as hy!

Isabella Niehaus (Foto: verskaf)

MR: Bella, jy is nie ’n vegan nie. Hoe moeilik of maklik was dit om ’n hele kookboek daaroor te skryf?

IN: Dit was werklik nie moeilik nie; dit is ’n kopskuif. Die meeste van ons eet vegangeregte elke dag sonder om dit eers te besef. Jy vervang sekere diereprodukte met plantaardige produkte. Dit is ’n nuwe uitdaging!

MR: Hoekom is vegankookboeke nou skielik so gewild?

IN: Hopelik omdat daar ’n groter bewustheid van respek en omgee is, respek en omgee vir die planeet, maar ook vir dit wat ons in ons liggame sit.

LJVV: Dit is verblydend om te sien dat die jonger geslag ook beter begin eet en sorgsaam is oor wat op hulle borde verskyn en waarvandaan die kos kom. Ons is in elk geval dit aan ons planeet verskuldig om ’n ligter voetspoor te los.

MR: Is die etiket vegan nie vir sommige ’n afskrikmiddel nie?

LJVV: Ek hou nie eintlik van die naam vegan nie – en veral veganis. Ek wens daar was ’n beter naam daarvoor, maar ek is seker dit sal nog kom! Baie mense dink dat om plantaardig te eet, duurder en moeiliker is. Maar dit is werklik nie so nie, dis eintlik die kopskuif wat die moeilikste is.

IN: Dit is beslis. Maar so kortsigtig. Ons is nie aktiviste vir veganisme nie, ons vra bloot dat jy met meer sorg eet. Meer bewus wees van wat jy eet. Waar jou kos vandaan kom. Lees die etikette.

MR: Is jul boek uitsluitlik vir vegans of kan vleiseters en vegetariërs ook hierby baat?

IN: Die boek moet eintlik in elke kombuis wees. Dit is bykosse en hoofgeregte vir almal. Die resepte is hemels. Pas dit aan by jou eetgewoontes.

LJV: Alleman kan ons boek gebruik en net hulle verkose dierproteïne byvoeg – die resepte is van so ’n aard dat almal wat van kos hou, daarby sal baat.

........
Koop liewer by die plaaslike mark, of by die boer of by die kleiner winkels wat vars produkte voorsien. Beter nog: Plant iets in jou tuin of op jou balkon. Dit klink na ’n feeverhaal, maar as jy begin rondkyk, sien jy dat die meeste van wat ons nodig het, op ons drumpels beskikbaar is.
........

MR: Hoekom moedig julle mense aan om meer plantgebaseerde kosse te maak?

LJVV: As mens kyk wat dit aan die planeet doen om op fabriekskaal verskillende kosse te produseer, is dit noodsaaklik dat ons kos uit ons kontrei en ook seisoenaal moet eet. Koop liewer by die plaaslike mark, of by die boer of by die kleiner winkels wat vars produkte voorsien. Beter nog: Plant iets in jou tuin of op jou balkon. Dit klink na ’n feeverhaal, maar as jy begin rondkyk, sien jy dat die meeste van wat ons nodig het, op ons drumpels beskikbaar is.

IN: Ek is nie ’n vegan nie. Maar ek eet ten minste vyf tot ses dae van elke week net groente, of dan plantaardig. En wanneer ek wel seekos of vleis eet, weet ek presies by wie ek dit kry. So ek is mindful oor dit wat ek eet. Koop vars produkte waar jy ook al kan. Kweek groente self in klein houers op jou stoep. Dit kan: Ek het ’n kind wat dit op die kleinste balkon in Langebaan doen. Just be conscious.

MR: Bella, jy het by die bekendstelling genoem dat daar ’n ander boek as inspirasie gedien het vir Skepselkos. Vertel asseblief meer?

IN: Seker so ses jaar terug het ek in Glasgow by ’n vriendin gekuier. Sy het op die laaste dag ’n klomp boeke in ’n sak gepak met: “You have to have these.” Tussen die boeke was The table van Kinfolk wat reeds in 2012 gepubliseer is. Die boek was alles wat ek ooit in ’n boek wou doen: deur verskillende mense net uitstekende fotografie en stilering, ook stories. Dit was ons grootste inspirasie!

MR: Hoe het julle op die naam besluit?

LJVV: Ek het ’n ruk gelede vir ’n dis wat ek graag gemaak het, ’n Boeddha-bak, ’n naam gesoek. Ons was saam met Riana Scheepers in Frankryk waar sy ’n kursus aangebied het. Toe ek met die naam Skepselkos vorendag kom, was dit ’n onmiddellike wenner. Sy het toe die woord skepselkos vir my by die WAT geborg!

MR: Vertel van my die lewe op Riebeek-Kasteel, asseblief? Hoekom juis dié dorp en hoe ervaar julle die lewe?

LJVV: Ons het rondgery en na talle dorpies gekyk wat nader aan Stellenbosch en Kaapstad is. Met nader kennismaking, het ons egter geweet dat ons hier sal kan wortelskiet aan die voet van die Kasteelberg. Nou bou ons ons droomhuis uit industriële afvalmateriaal. ’n Groen huis!

IN: Riebeek was nog altyd vir my quaint. Ek het graag by my kosbare vriendin Hannetjie de Clerq kom kuier. Ek het gesoek na ’n plekkie binne ’n radius van 120 km van die Kaap. Dit het geklink na die perfekte soft landing vir iemand van amper 70!

MR: Het julle al kleindorpierituele daar ontwikkel?

IN: Haha, nee. Ek sal nooit ’n kleindorpieritueel kan ontwikkel nie. Dit is net nie deel van my persoonlikheid nie. Ek is ’n loner. In Langebaan was die see my mater. Hier is my rose en my groentetuin en natuurlik al ses my vierbeenkinders my saving grace. Maar ek mis die see, die gewoel van die water.

LJVV: Ja! Op ’n dag het iemand op die dorpsplein na my verwys as “die man met die lang klere” – ek dra nou kort klere as die kwiksilwer begin styg. Ons ervaar die mense as vriendelik en gulhartig soos dit maar in die meeste kleindorpies is.

MR: Wat geniet julle van die lewe in die Swartland wat julle nie voorheen ervaar het nie?

LJVV: Ons bly verstom oor die geil vallei met sy ryk fynbosgeskiedenis en die baie bome orals. Daar is op die koop toe besonderse wynplase om die dorp. Dit maak die skemerdrankietyd soveel meer genotvol as jy die wingerd waarvan jy drink van jou stoep af kan sien.

IN: My lekker groot tuin met rose en salvias en my wonderlike groentetuin. Tot nou was ek besig met boekskryf en nog ’n boek lê voor. Ek kan nog nie sê of daar werklik iets is wat my bekoor nie.

MR: Hoe voel dit as jy ’n kookboek skryf en dis ewe skielik ’n wenner – nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal?

IN: Duinhuis was my vuurdoop in Covid-tyd. Ek moes ’n jaar wag om my toekenning in Parys te kry. En toe kry ons dit vir Veranda. Dit was absoluut fantasties. En nou weer ’n kortlysbenoeming. Sjoe! Ek het in die inperkingstyd ook twee digitale boekies gedoen, wat albei Gourmand-podiumstatus gekry het as the best in the world. So, ek hoop en bid en vertrou dat Skepselkos die hoogste lof ook sal kry.

LJVV: Dit is ’n besonderse erkenning wat al die swoeg en sweet, die spoeg en plak die moeite werd maak.

MR: En watter druk ervaar mens dan as jy die tweede een in dieselfde genre aanpak?

IN: Jy weet jy moet iets anders doen, uit die boks dink. En ek glo ons het iets gedoen wat nog nie in Afrikaans gedoen is nie.

MR: Vertel ’n bietjie hoe julle ’n boek aanpak – is dit stapels vol handgeskrewe resepte, netjiese lêers op rekenaars, of hoe?

IN: LOL. Ja! Louis het netjiese lêers en is erg georganiseer. Ek is nie. Ek kook organies en ontwikkel resepte soos ek kook, maar beslis nooit sonder ’n plan nie.

LJVV: Ek begin met ’n rits lêers in verskillende kleure waarin ek resepte en gedagtes rondom geure en smake aanteken. Ek skryf uitsluitlik met potlode wat Bella spesiaal vir my kry. Ons gesels ook baie met mekaar en praat oor en weer totdat die storie begin vorm aanneem. Bella se geskiedenis in die uitgewersbedryf help baie met die finale plakboekstadium.

MR: Vertel asseblief van die skildery op die stoep van Villa Marakesh wat ook op die voorblad van die boek pryk?

LJVV: Die skildery is van ’n tafel in ’n woud vol lig, daar’s vars vrugte op die tafel en ’n onverwagse witborskraai, die boodskapper van die gode. Die idee was om ’n magiese tafereel te skep wat op verskeie vlakke kommunikeer, esteties en simbolies. Dit is ’n natuurlike ruimte vol goue lig en positiewe energie. Die kenners sê mos kunstenaars moet nie te veel verduidelik oor hul werk nie, so ek los dit dan nou maar daar, al sou ek nog ’n paar hoofstukke kon skryf!

MR: Kom ons gaan draai ver terug: Hoe het jul vriendskap begin en wat is dit wat julle so mal oor mekaar maak?

IN: Ek het in 1987 ’n kunsgalery in Groenpunt gehad en Louis was een van die eerste kunstenaars wat ek daarby betrek het. My nooiensvan is ook Jansen van Vuuren, so dit het net reg gevoel. Joined at the hip!

MR: Wat is die belangrikste ding wat julle bymekaar geleer het?

LJVV: Van Bella leer ek dat niks onmoontlik is nie en dat vriendskap, soos kos, iets is wat onopgesmuk en natuurlik behoort te wees, ook dat die gode in die detail is en dat elke asemteug wat jy neem, kosbaar is.

IN: Respek vir mekaar se sienswyse.

MR: Wat is volgende vir die Niehaus-Jansen van Vuuren-duo?

IN: Louis werk aan ’n baie opwindende nuwe projek en ek het by Penguin geteken vir nog ’n kookboek waarna ek geweldig uitsien.

LJVV: ’n Tong-in-die-kies storieboek!

Lees ook:

Bewaring en voortreflike kos op een bord

’n Suid-Afrikaanse Kersete vir Marinda se laaste 2024-kookklas

Herlewingslandbou hier die wagwoord – en jy kan dit proe!

Oud en nuut neem sommer lekkerbekkig hande op Vergelegen

Earthbox: Eetervaring onder die grond bring nuwe perspektief

Jong sjef oortref in die vlaktes

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top