......
“Dit gaan nie anders wees by ons nie. Ons kan en moet verwag dat infeksies hier ook sal styg namate meer mense terugkeer werk toe. Ons moet die werklikheid aanvaar, daarvoor voorberei en daarby aanpas.” – Cyril Ramaphosa
......
Suid-Afrikaners moet hulle voorberei om vir ’n jaar of langer met die koronavirus saam te leef. Diegene wat gedink het hulle kan binnekort weer soos gewoonlik kerk toe gaan of uiteet en gaan fliek soos in die verlede, kan dit maar op hulle maag skryf.
President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moet hulleself voorberei vir ’n nuwe realiteit waar die stryd teen COVID-19 deel word van hulle daaglikse bestaan vir die volgende jaar of meer.
Foto: Pixabay.com
Hy sê die land sal moet gewoond raak aan nuwe maniere van aanbidding, sosialisering en oefening. Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse brief aan Suid-Afrikaners gesê dit is onafwendbaar dat die getal koronavirusgevalle gaan styg terwyl baie mense terugkeer werk toe ingevolge vlak 4-inperkings, wat ook die druk op die gesondheidsektor sal verhoog.
Dit gaan volgens Ramaphosa meer werk van die regering, werkgewers, akademiese instellings en individue vereis om infeksies te bestuur. Hy het beklemtoon dat die geleidelike opheffing van inperkingsregulasies nie daartoe moet lei dat individue of ondernemings roekeloos optree nie.
Die President sê selfs ná die inperkingstyd sal daar steeds ’n veilige afstand tussen mense gehandhaaf moet word, maskers in die openbaar gedra moet word, gereeld hande gewas moet word en kontak met ander mense vermy moet word. “Ons sal ons werksplekke, skole, universiteite, kolleges en ander openbare plekke moet herorganiseer om die oordrag van die virus te beperk.”
Ramaphosa sê dit is ’n realiteit wat lande regoor die wêreld in die gesig staar. Selfs die lande wat reeds begin het om hulle inperkings te verslap, doen dit voorlopig en met groot omsigtigheid.
......
“Die uitdagings om ons skole te kan heropen is enorm. Minstens 50 000 skandeerders is nodig om koors te meet, sowel as 27 miljoen maskers vir 13 miljoen leerlinge en 400 000 onderwysers.”
......
Hoewel die land stadig maar seker na ’n meer normale situasie begin terugkeer, sal dit ’n nuwe normaal wees en glad nie gou weer soos voorheen nie. En hoe meer “normaal” mense se leef en werksomstandighede word, hoe groter is die kans dat ’n tweede vlaag infeksies die land sal tref, waarsku die President.
Ramaphosa sê verskeie lande, onder andere Duitsland, Iran en China, het reeds ’n styging in nuwe infeksies beleef sedert hulle begin het om sekere inperkings te verslap.
“Dit gaan nie anders wees by ons nie. Ons kan en moet verwag dat infeksies hier ook sal styg namate meer mense terugkeer werk toe. Ons moet die werklikheid aanvaar, daarvoor voorberei en daarby aanpas.”
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het Maandag die Oos-Kaap besoek na ’n skerp styging in die getal bevestigde koronavirusgevalle in die provinsie. Sowat 1 218 mense in die provinsie het Maandag reeds positief vir COVID-19 getoets. Die Nelson Mandelabaai-metro het 500 bevestigde gevalle gehad, berig RSG. Mkhize het tydens ’n besoek verlede maand ontevredenheid uitgespreek oor die provinsie se hantering van die pandemie. Die LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, het gesê die doel van Mkhize se besoek was om te bepaal of die provinsie vordering maak in sy hantering van die pandemie.
Daar heers ook nog onsekerheid oor wanneer onderwysers weer moet begin werk en skole sal heropen. Die Nasionale Onderwysersunie het Maandag ’n beroep gedoen op skoolhoofde, adjunkhoofde en departementshoofde om nog nie by die werk aan te meld nie. Die president van Natu, Alan Thompson, sê lede van vakbonde is nog nie in kennis gestel oor of skole ontsmet is en of beskermende drag teen die koranvirus beskikbaar sal wees nie.
Sommige onderwysers sou Maandag met voorbereidings by skole begin vir wanneer leerlinge, soos beplan, weer vanaf 1 Junie skool sal kan bywoon. Thompson sê provinsiale owerhede het egter versuim om die nodige maatreëls in te stel om kinders en onderwysers te beskerm soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie vereis. Hy sê die departement het ook nog nie besonderhede verskaf oor hoe sosiale distansiëring in klaskamers toegepas sal word nie.
Die uitdagings om ons skole te kan heropen is enorm. Minstens 50 000 skandeerders is nodig om koors te meet, sowel as 27 miljoen maskers vir 13 miljoen leerlinge en 400 000 onderwysers.
Lees ook
Staatsgreep in Suid-Afrika: Paranoia of "power to our people"?
Buro: MvH