Verengelsing van hoër onderwys kom wêreldwyd voor

  • 0

Die internasionale verskynsel van die verengelsing van hoër onderwys was onlangs die onderwerp van ’n virtuele konferensie gereël deur die afdeling ICLHE (Integrating Content and Language in Higher Education) van die Universiteit van Maastricht (UM) in Nederland. Die doel van ICLHE is die uitruil van standpunte, ondervinding, inisiatiewe en navorsing oor die raakvlakke tussen inhoud en taal van kursusse in hoër onderwys. Akademici uit lande so uiteenlopend as Hongkong, België, Mexiko, Korea en Suid-Afrika het deelgeneem.

Dit is gepas dat die konferensie deur die UM gereël is, aangesien die suidelikste stad in Nederland op ’n kruispunt in Europa geleë is met 55% van die ingeskrewe studente uit ander lande afkomstig. Dit is naby die Britse Eilande en geleë digby die grense met België en Duitsland, en trek dus baie Frans-, Duits- en Engelssprekende studente. Die UM sien homself terselfdertyd as streeksgebonde sowel as internasionaal.

Loop ’n mens in Maastricht rond, voel dit asof jy jou in ’n harmonieuse Toring van Babel bevind, want ’n besoeker word gewoonlik moeiteloos in Engels verstaan, al kom jy uit enige plek in die wêreld met ’n baie basiese woordeskat en uitspraak wat sterk deur jou eerste taal beïnvloed word.

Die tema van die konferensie was “The Englishization of higher education: A phenomenon of glocalization?” Die woord glocalization is ’n neologisme wat ’n vermenging is van die terme globalisasie en lokalisasie en is ’n konsep wat in die handelswêreld ontstaan het. Dit omvat nie net die voortdurende proses waardeur volke en gemeenskappe geïntegreer raak in ’n globale netwerk van uitruiling op allerlei gebiede nie, maar ook dat hulle terselfdertyd ’n eiesoortige, plaaslike stempel afdruk op die invloede van buite.

’n Goeie voorbeeld van glocalization op handelsgebied is die kettinggroep McDonald’s wat plaaslike voorkeure by sy basiese produk inbou. Terwyl die firma sy markaandeel vergroot deur kitskostakke in ander lande oop te maak, inkorporeer hy die smake en kultuur van die nuwe mark waar hy sake doen. So sal jy ’n kroketburger in Nederland kan koop, ’n kaasomelet genaamd “eggdesal” in ’n burger in die Filippyne en ’n groenkerrieburger in Maleisië. Globalisasie en lokalisasie is nie aparte verskynsels nie, maar twee kante van dieselfde muntstuk en selfs eerder konsentriese sirkels.

Kwok-kan Tam van die Universiteit van Hongkong het oor die verskynsel op taal- en akademiese gebied gepraat. Hy het gesê terwyl geleenthede vir Asiese studente en akademici van plekke soos Hongkong, Taiwan, Suid-Korea, Indië en Singapoer ontsluit word, maak hulle Engels hul eie. Ek het lank op die Chinese vasteland met studente gewerk en soos ander gevind dit gebeur net so deurlopend daar. Die meeste Suid-Afrikaners het ook al van “Chinglish” gehoor. Dit is wanneer nie-Engelssprekers die taal in hibriede variante verander wat uitdrukkings en metafore uit hul eie taal en kultuur absorbeer.

......

Hoewel hierdie voorkeur vir Engels nie deur konferensiegangers as ’n negatiewe tendens beskou word nie, is die effek van die proses in Suid-Afrika baie meer ingewikkeld en polities gelaai met die bagasie van Afrikaans en die konnotasie van prestige in die werksplek wat aan Engels ’n voorsprong gee wanneer dit by opleiding kom.

......

Dieselfde gebeur natuurlik ook met Afrikaans, en die meeste Afrikaanssprekendes wat nie taalsensitief is nie, doen lustig hieraan mee. Nederlandssprekendes doen dieselfde: Hulle inkorporeer baie Engelse uitdrukkings in hul eie taal se grammatika, maar verander dikwels die konnotasies daarvan. Al lyk dit so, word Engels dus nie klakkeloos oorgeneem nie en daarom word daar met goeie rede van “Englishes” (in die meervoud) gepraat.

Hoewel hierdie voorkeur vir Engels nie deur konferensiegangers as ’n negatiewe tendens beskou word nie, is die effek van die proses in Suid-Afrika baie meer ingewikkeld en polities gelaai met die bagasie van Afrikaans en die konnotasie van prestige in die werksplek wat aan Engels ’n voorsprong gee wanneer dit by opleiding kom. Dat daar ander bydraende faktore is wat ook elders aan die werk is, het duidelik uit die konferensie na vore gekom. Bob Wilkinson, hoof van ICLHE by UM, sê hy het in die 1980’s gevind dat studente uit Suider- en Wes-Afrika Engels gesien het as ’n bevrydende taal. Baie lande wat onder die koloniale juk van Brittanje was, sal dit as uiters ironies beskou.

Terwyl die gebruik van Engels op handelsgebied wêreldwyd lankal gevestig is, word dit ook in internasionale akademiese kringe toenemend gebruik. Die voordeel van ’n Engelsmedium universiteit is dat sy akademici navorsingsresultate net so kan publiseer, wat die instelling se prestige verhoog en dit met voordelige finansiële gevolge op internasionale rangordes van universiteite laat meeding.

Die UM het so onlangs as 1976 tot stand gekom met Engels as medium van onderrig en word gereken as een van die beste jong universiteite ter wêreld. Teen 2019 was byna ’n derde van alle BA-programme en meer as driekwart van alle MA-kursusse ten volle in Engels, met ’n verdere tiende van alle kursusse beskikbaar in beide Nederlands en Engels.

Die groei van EMI (English-medium instruction) kan toegeskryf word aan ekonomiese globalisasie wat nie net tot ’n algemene denasionalisering van beleid in baie lande gelei het nie, maar ook tot die verskynsel van ’n globale mark van onderwys en navorsing, verduidelik Wilkinson en sy medeskrywer René Gabriëls in hul boek English-medium instruction practices in higher education: International perspectives wat in 2022 gepubliseer sal word. Die neoliberale en maatskaplike beleidsrigtings het ’n konteks geskep waardeur universiteite verplig word om soos private organisasies in ’n kompeterende opleidingsmark te funksioneer. Om internasionaal te kan meeding, het Engels die norm geword. Oor ’n relatief kort tyd het die Nederlandse opleidingsmark radikaal verander en een van die hoofredes was die groei van EMI.

......

Nederlandse akademici soos Annette de Groot, emeritusprofessor in psigolinguistiek aan die Universiteit van Amsterdam, is krities oor die groot aantal universiteitskursusse in Nederland wat in Engels aangebied word. Sy gaan so ver om te sê Nederlandse universiteite het ’n Trojaanse perd gebou wat hulle binne hul eie mure ondergrawe. Sy skryf hoewel Engels te verwelkom is as alternatiewe taal naas Nederlands, dit selfdefeatisties is om Nederlands as akademiese taal so af te gradeer.

......

Die ommekeer na Engels by die UM het weerstand en omstredenheid uitgelok wat in 2018 op ’n hofsaak uitgeloop het toe die drukgroep Beter Onderwijs Nederland (BON) die UM en die tegniese Universiteit van Twente gedagvaar het sou hulle die Nederlandse wet oortree. Hulle is op ’n tegniese punt vrygespreek.

Nederlandse akademici soos Annette de Groot, emeritusprofessor in psigolinguistiek aan die Universiteit van Amsterdam, is krities oor die groot aantal universiteitskursusse in Nederland wat in Engels aangebied word. Sy gaan so ver om te sê Nederlandse universiteite het ’n Trojaanse perd gebou wat hulle binne hul eie mure ondergrawe. Sy skryf hoewel Engels te verwelkom is as alternatiewe taal naas Nederlands, dit selfdefeatisties is om Nederlands as akademiese taal so af te gradeer.

UM is vanjaar (2021) as die sesde beste jong (jonger as 50 jaar) universiteit geklassifiseer in die Times-ranglys van hoër onderwys (THE). Terwyl Nederlandse universiteite binne die land baie suksesvol is in terme van navorsing en onderwys omdat hulle oorsese talent lok, kies die meeste Nederlandse studente ook om in Engels onderrig te word. Nederlanders is tradisioneel bekend vir hulle aanpasbaarheid en pragmatisme. Pleks van om dadelik na Engels oor te slaan, glo Wilkinson, kan hulle hul eie taal beter dien deur vreemdelinge te help wat Nederlands probeer praat. Afrikaanssprekendes is ook so, buiten diegene wat voel hulle word taalgewys deur Engels gestoomroller en wat onbeskof raak as mense met wie hulle sake doen nie Afrikaans kan praat nie.

Baie Nederlandse universiteite maak deesdae staat op studente van ander lande en is onder druk om uit te brei omdat hul inkomste uit staatsfondse per capita verminder het. Hul voortbestaan en vermoë om te floreer is afhanklik van uitbreiding. Die Nederlandse teikengroep is daarvoor te klein en daarom word die net wyer gegooi. Daarvoor is ’n taal nodig wat deur die grootste moontlike studentetal verkies word en wêreldwyd in die werkplek gebruik kan word. Natuurlik leer min studente uit ander lande Nederlands, sê Wilkinson, al erken die groot getal Duitse studente wat by UM studeer dat hulle nie tuis in detail oor hul studies kan gesels nie.

Wilkinson gee toe dat taal ’n sekere kulturele visie van die wêreld oordra en dat daar verwag kan word dat studente wat in Engels studeer ’n effens ander siening van die wêreld sal uitdra as wanneer hulle in hul moedertaal sou studeer. Hy gee toe dat Engelsmedium-onderrig soms ingevoer word om redes wat nie altyd sin maak uit ’n onderwysoogpunt nie. Soms gebeur dit om beter te presteer op die internasionale rangorde of vir befondsing. In China is dit dikwels gedoen om ouers tevrede te stel en meer prestige aan die skool of opleidingsinstansie te verleen, maar sake is aan die verander daar.

Nadele vir een groep mag in ’n ander groep as voordele beskou word, selfs vir ’n individu wat aan beide behoort. Studente kry die voordeel van studie in Engels in terme van beroepsmoontlikhede en kontak met ander kulture, maar terselfdertyd mag hul eie mense dit as ’n nadeel beskou omdat lojaliteit teenoor hul eie taal as’t ware daardeur verflou word. Hierdie tendense speel sekerlik ook ’n rol in Suid-Afrika en in ander kontekste waar Engels ’n sterk teenwoordigheid het.

Ander deelnemers het verwys na die moontlike negatiewe invloede waardeur Engels soms indirek rasgedrewe ideologieë bevorder of dan geneig is om ander akademiese tale te “neutraliseer”. Deelnemers het beklemtoon dat ’n EMI-taalbeleid sensitiwiteit teenoor en ekstra hulp aan studente sowel as administratiewe personeel vereis.

Lees ook op Voertaal:

2021: Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

2021: Luister bo kibbel bou inklusiewe akademiese gemeenskappe

2021: Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

2020: Opperlandse overpeinzingen van een neerlandist

2020: De nieuwe leerstoel in Zuid-Afrika gaat verder dan de traditionele neerlandistiek

2019: Opleiding Nederlands verdwijnt bij Vrije Universiteit Amsterdam

2018: Verengelsing en taalbeleid in het hoger onderwijs

2018: Ook als neerlandicus ben ik dol op internationalisering

2018: Heeft de neerlandistiek nog een toekomst?

Lees ook op LitNet: https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top