CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap 2021: ’n onderhoud met Wannie Carstens

  • 0

.........

Ek het taalkunde vroeg as dissipline ontdek en dit my loopbaan gemaak. Maar die volheid van Afrikaans as taal het my passie geword en my gemotiveer om aan te gaan met navorsing en betrokke te wees by aktiwiteite wat Afrikaans raak.

.........

Wannie Carstens is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap bekroon. Hy praat met Naomi Meyer oor die toekenning en sy jare lange betrokkenheid by Afrikaans.

Wannie, baie geluk met die CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap wat onlangs aan jou toegeken is. Om met woorde en Afrikaans te werk, is jou lewensroeping, wil dit voorkom. Hoe sou jy dit beskryf? En waar het hierdie pad begin en jou passie daarvoor ontstaan?

Baie dankie, ek waardeer die goeie wense. Dit is inderdaad ’n lekker erkenning vir dit wat ek oor bykans 50 jaar met Afrikaans opgelewer het. In ons bedryf is erkennings skaars en juis dit maak die prys so besonders vir my. Ek was in 2003 as lid van die destydse Taalkommissie ’n medeontvanger van die prys – wat ook wonderlik was. Maar dit is anders om dit as individu te ontvang, want dan word net jy erken.

Ek was gelukkig om goeie Afrikaansonderwysers te kon hê toe ek Afrikaans as vak moes neem tydens my hoërskooljare aan die Hoërskool Jan Möhr in Windhoek, waar ek einde 1970 gematrikuleer het. Veral meneer Hennie Brand het in sy klasse vir my die wêreld van Afrikaans oopgemaak. Dit was daarom logies dat ek Afrikaans as hoofvak (saam met Duits) sou neem toe ek in 1971 as eerstejaarstudent op Stellenbosch aangekom het.

En op Stellenbosch het my oë verder vir Afrikaans oopgegaan toe taalkundedosente soos Meyer de Villiers, Willem Kempen, Henning Snyman en Annette Snyman (Theron) vir my klasgegee het. Ek het ook vroeg besef dat ek en letterkunde nie werklik “kliek” nie. Daarom het ek reeds vanaf my tweede jaar in taalkunde gespesialiseer. So het ’n lewenslange verbintenis met taalkunde begin – en bykans 50 jaar later is ek steeds daarmee besig. Die lewe loop sy draaie met ’n mens, maar myne het maar altyd teruggegaan na die taalkunde en na Afrikaans.

Ek het ook vroeg besluit ek gaan op Afrikaanse taalkunde fokus. Die algemene taalwetenskap, wat ek darem tot op derdejaarsvlak geneem het en wat in die vroeë 1970’s ’n opwindende nuwe dissipline was met iemand soos Rudolf Botha as dosent, het vir my die basis gevorm van wat ek wou doen met Afrikaans. Daar was soveel dinge om te ondersoek en die wêreld van die taalkunde het vir my geslag oopgelê. En ek was gelukkig om op my eie tempo en voorwaardes die taalkundewêreld te verken. Onthou dat Afrikaans toe nog betreklik “jonk” was (maar 45 in 1971) en daar was soveel gapings in ons kennis oor Afrikaans. Tydens my doktorale studie (1984 voltooi) het ek ook besef dat my heil meer lê in ’n soort toegepaste taalkunde eerder as teoretiese taalkunde. Dit is ook uiteindelik op hierdie terrein waar die fokus van my werk en my publikasies geval het.

Dus: Ek het taalkunde vroeg as dissipline ontdek en dit my loopbaan gemaak. Maar die volheid van Afrikaans as taal het my passie geword en my gemotiveer om aan te gaan met navorsing en betrokke te wees by aktiwiteite wat Afrikaans raak. As ek terugkyk, dink ek het ek darem wel deur my publikasies gehelp om Afrikaans verder te ontsluit as wat die geval was toe ek begin het. Ek was werklik bevoorreg om meer as 50 jaar van die ontwikkeling van Afrikaans as taal, maar ook as vakgebied mee te maak. Noudat ek aan die einde van my loopbaan is, hoop ek dat ek Afrikaans en die Afrikaanse taalkunde op ’n beter plek agtergelaat het as toe ek begin het. Die prys is ’n aanduiding dat dit wel die geval mag wees.

Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt

LitNet Akademies-resensie-essay: Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika. Deel 2 deur WAM Carstens en Edith Raidt

Van Norme vir Afrikaans tot Die storie van Afrikaans (Deel I en Deel II): Jy het al soveel boeke in die taalwetenskap gepubliseer. Enersyds is taal ’n wetenskap – daar is eksakte reëls, en daar is norme en maniere van doen. Andersyds is dit iets wat groei en dinamies ontwikkel. Hoe gaan mens as ’n werk en ’n wetenskap met Afrikaans om, met al sy variëteite en ook sy ideologiese bagasie?

.........

Ja, ’n mens se publikasies hou maar verband met dit wat die akademie op ’n tydstip van jou verwag as dosent. Dit het ook ’n impak op jou spesialisasieterrein. Dit word in ’n groot mate bepaal deur jou doseerverpligtinge. Jy ontdek dan leemtes in die veld waaroor jy moet doseer en so begin ’n opwindende reis.

..........

Ja, ’n mens se publikasies hou maar verband met dit wat die akademie op ’n tydstip van jou verwag as dosent. Dit het ook ’n impak op jou spesialisasieterrein. Dit word in ’n groot mate bepaal deur jou doseerverpligtinge. Jy ontdek dan leemtes in die veld waaroor jy moet doseer en so begin ’n opwindende reis.

So was ek in die 1980’s dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad (UK) en ek moes ’n kursus aanbied om studente voor te berei vir die wêreld ná universiteit – wat hulle dus moes kan doen met hulle kennis van Afrikaans. Dit het gelei tot die totstandkoming van Norme vir Afrikaans – aanvanklik in 1989 gepubliseer (JL van Schaik) – sodat ek die studente kon leer hoe om keuses oor taalgebruik te maak. Die boek was ’n groot sukses en dit word tans steeds aan talle universiteite in Suid-Afrika as handboek gebruik. Dit is lekker om terug te kyk en te weet dat ek iets kon vestig wat nog nie behoorlik te boek gestel was nie. Die boek het reeds verskeie hersienings beleef (die 6de hersiene uitgawe in 2018) en ek beplan die volgende een in 2023 as alles goed uitwerk. VivA word dan my vennoot en so sal Norme bly voortbestaan.

Ek het die wêreld van tekslinguistiek ontdek terwyl ek met my proefskrif besig was. Wat is ’n teks en hoe bepaal ’n mens dit? Opwindende vrae! Die uitkoms van ’n navorsingsproses van meer as 15 jaar was Afrikaanse Tekslinguistiek – ’n Inleiding wat in 1997 (JL van Schaik) verskyn het. Weer eens was dit die eerste omvattende publikasie hieroor in Afrikaans.

Toe ek in 1991 as dosent aan die ou PU vir CHO (nou NWU) aangestel is, moes ek ’n nuwe honneurskursus aanbied oor taal en die praktyk van taal. Dit het gelei tot Teksredaksie wat in 2010 (African SUN Media) saam met Kris van de Poel geskryf is. Ook die resultaat van ’n lang bemoeienis met ’n besondere probleem, maar ek het toe besef dat die oplossing lê in ’n kombineer van die kennis van normatiewe taalkunde en tekslinguistiek. Die resultaat was ’n opleidingsmodel – gebaseer op die CCC-model van Jan Renkema van Tilburg – wat ek en Kris ontwikkel en wat nou as die K3-model as basis dien vir die opleiding van teksredakteurs in Suid-Afrika. Die model word ook reeds vir hierdie doel in Engels en Sesotho gebruik. En ek kon medewerker wees van boeke wat hieroor in Engels en Sesotho verskyn het. Dit het dus vir my en Kris gegaan oor hoe ons ons kennis en insigte ook vir ander tale toeganklik kan maak. Weer eens was die boek ’n eerste vir Afrikaans.

........

Wat is ’n teks en hoe bepaal ’n mens dit? Opwindende vrae!

..........

My laaste groot projek is saam met Edith Raidt aangepak. Die uitkoms hiervan is die twee dele van Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal (Protea, 2017 en 2019), waarin ons probeer het om die verhaal van Afrikaans se herkoms te dokumenteer.

Daar is nie twyfel oor Afrikaans se historiese verbintenis met Nederlands nie, maar ons wou dit deeglik beskryf sodat dit vir almal duidelik is (deel 1 van Storie). In deel 2 het ons uiteengesit hoe die 17de-eeuse Suid-Hollandse dialek in nuwe omstandighede aan die voet van Afrika ’n nuwe taal kom word het, hoe dit beïnvloed is deur ander tale (uit Europa, Afrika, Asië), hoe dit in hierdie proses ’n nuwe struktuur gekry het, waarvoor die sprekers van die nuwe taal dit gebruik het, die foute wat hulle gemaak het, hoe dit die taal onder druk gebring het, wat die stand van Afrikaans vandag is, en ook wat gedoen kan word om Afrikaans voortgeset te behou. Ons wou ’n inklusiewe geskiedenis van Afrikaans daarstel. Dalk het ons nie heeltemal daarby uitgekom nie, maar ons kon wel die pad voorberei vir ander om dit beter te kom doen. En dit is op sigself ’n beduidende bydrae.

Wat ek as taalkundige kon doen, was om soveel as wat ek kon van Afrikaans te dokumenteer – oor sy gebruik, oor sy natuurlike variasie, oor sy politiek, oor die ideologie van Afrikaans. En daaraan het ek ’n loopbaan gewy.

Wat is sommige van die interessantste ontdekkings van Afrikaans wat jy op jou pad met die taal teëgekom het?

Hier bo het ek uitgelig hoe ek kon help om gapings in ons kennis oor Afrikaans te vul, in die besonder op die terreine waarop ek gewerk het: normatiewe taalkunde, tekslinguistiek, teksredaksie en ook taalgeskiedenis. Ek weet ek het geëksperimenteer met aspekte van die taal en maar gekyk waarheen dit my sou lei. Ek weet vandag dat Afrikaans nog jonk is, dat daar nog soveel leemtes in ons kennis oor Afrikaans is – op soveel terreine (struktuur, geskiedenis, politiek) – en ook dat daar soveel potensiaal is vir ondersoeke in die lig van nuwe benaderings tot taalkundige studie, soos korpuslinguistiek en historiese sosiolinguistiek. Ek is ’n mate spyt dat ek nie die kans sal kry om verder te ontgin nie, maar dit gun ek vir die volgende geslag. Ek hoop hulle begryp hoeveel geleenthede nog op hulle wag!

Jy het al dikwels in ander lande oor Afrikaans lesings aangebied en in gesprek getree. Wat is van die mees algemene dinge wat jy gevra word en watter stereotipes rondom Afrikaans moet jy die nekslag toedien wanneer jy met buitelanders oor Afrikaans gesels?

Ek het inderdaad gereeld tydens reise lesings aangebied oor aspekte van Afrikaans. Dit is altyd lekker om te weet jy dra iets nuuts aan ander oor. So was ek bevoorreg om te kon help om verskeie uitruilooreenkomste met universiteite in die buiteland (Nederland en België) te sluit en telkens het dit gehelp dat Afrikaans as vak aan van die universiteite gevestig kon word. Dit is nogal bevredigend om vandag terug te kyk op suksesvolle ooreenkomste met Antwerpen, Gent, Leiden. En ook op ander plekke in Europa en selfs die VSA waar ek kon help om Afrikaans as vak gevestig te kry.

Maar my hoogtepunt was toe ek in April en Mei 2019 verskeie universiteite in Europa kon aandoen om lesings te gee oor Afrikaans en ook oor aspekte van die Afrikaanse taalkunde. Ek was toe in Duitsland (Berlyn, Frankfurt, Münster, Essen-Duisburg), Oostenryk (Wene), Switserland (Zürich, Basel), Kroasië (Zagreb) en Serwië (Belgrado).

Die onkunde oor Suid-Afrika as land, en oor Afrikaans as taal, was opvallend. Ek moes dikwels eers met ’n geografiese oorsig begin om te wys waar Afrika en Suid-Afrika is, en dan moes ek vertel wie in Suid-Afrika woon, wat die mense hier doen, hoe die Afrikaanse gemeenskap lyk, watter vorme van Afrikaans voorkom, hoe apartheid Afrikaans geraak het, ens. Vir baie van die studente is Afrikaans ’n interessantheid omdat dit dalk verband hou met hulle tale (Nederlands, Duits) en vir ander is kennis van Afrikaans weer van nut vanuit die hoek van ’n studie van Germaanse tale.

Hoe lyk ’n dag in die lewe van ’n taalwetenskaplike?

Kennis is iets wat met verloop van tyd verkry word. Dit is nie iets wat sommer net so ontstaan nie. Dit is ook die geval met taalkundiges. Ons lees en lees en eksperimenteer dan met dit wat gelees is. So gaan nuwe deure oop deur gedagtes wat stadigaan geslyp word. Daar word van die wetenskap gesê dat een geslag op die skouers van die vorige geslag staan. Dit is inderdaad so. Ons lees daarom oor dit wat reeds gepubliseer is en dan help dit om ons gedagtes te slyp om nuwe dinge te probeer. Soms lees ’n mens dae lank voordat iets helder word.

Ek het dikwels in die buiteland aan boeke gesit en werk, en daar was baie dae waarop daar geen nuwe insigte na vore gekom het nie, maar op ander dae was dit weer beter. Ons gaan dus voetjie vir voetjie vorentoe deur te lees, te dink, te eksperimenteer, te speel met idees, te praat met kollegas en dan uiteindelik daaroor te publiseer. Dit is nie opwindend nie en ook nie glorieryk nie, maar wel op lang termyn lonend.

.........

Kennis is iets wat met verloop van tyd verkry word. Dit is nie iets wat sommer net so ontstaan nie. Dit is ook die geval met taalkundiges. Ons lees en lees en eksperimenteer dan met dit wat gelees is. So gaan nuwe deure oop deur gedagtes wat stadigaan geslyp word.

..........

Onthou ook dat taalkundiges moet les gee, die administrasie van die akademie moet hanteer, in bestuursposte beland (so was ek 16 jaar lank direkteur van die Skool vir Tale op die NWU se Potchefstroomkampus en ook lank departementshoof), by organisasies betrokke raak (ek was by geleentheid voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook van die Afrikaanse Taalraad en van die direksie van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument). So het ’n mens ’n vol loopbaan. Dit is dus nie net taalkunde en taalkunde nie. Dat ’n mens ten spyte hiervan kans kry om steeds volhoubaar kontak te behou met jou vak en op datum te bly met verwikkelinge, nuwe teorieë en benaderings, is waarskynlik ’n prestasie op sigself.

Hoe het die Afrikaanse landskap verander vandat jy in die vakgebied Afrikaans begin studeer het tot hoe dit vandag lyk?

Toe ek nog student was, was ons studiemateriaal dikwels los aantekeninge. Daar was nog betreklik min standaardwerke soos wat ons vandag gewoond is. En na bykans 50 jaar is ek in die posisie dat van my eie boeke, of boeke waarby ek betrokke was (soos Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde), vandag standaardwerke is. Dit is natuurlik bevredigend! Ek kon dus belewe hoe Afrikaans ’n selfstandige vakgebied geword het, en hoe verskeie subdissiplines selfstandige dissiplines geword het.

Ek beny die jonger geslag wat vandag met die voordele van tegnologie soveel meer sal kan doen as die ouer geslag. Kyk na die werk van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) – die produkte wat hulle oplewer en hoe gemaklik hulle nuwe terreine verken. Opwindend!

Ek was bevoorreg dat ek twee opwindende nuwe boeke kon help saamstel, een oor Toegepaste taalkunde in Afrikaans en een wat gemik is op die Engelse mark – oor die stand van die hedendaagse Afrikaanse taalkunde, getitel Contemporary Afrikaans linguistics. Laasgenoemde boek is juis die gevolg van ’n behoefte wat ek geïdentifiseer het toe ek in 2019 wyd in Europa vir Afrikaans gereis het. Beide boeke sal in 2022 gepubliseer word.

.........

As jy werklik belang stel in die taalkunde, maak seker dat jy jou voorgraadse kursusse goed slaag sodat jy die basis kan lê van die soort kennis wat jy nodig het. Dan volg die honneurskursus waar jy kan begin om jou belangstelling uit te leef oor die taalkunde. Jy sal dan agterkom waar jou talent en belangstelling lê.

..........

Wat sal jy vir enige jongmens wat belangstel in die taalwetenskap aanbeveel? Is dit ’n maklike roete om te stap? Watter slaggate is daar om te vermy? Waarna moet mens oplet langs die pad?

Die taalkunde is nie ’n maklike en gewilde studieterrein nie. Studente verkies so dikwels eerder die letterkunde as fokus van hulle studie. Dit is goed en reg so, omdat elkeen van ons ’n unieke talent het.

As jy werklik belang stel in die taalkunde, maak seker dat jy jou voorgraadse kursusse goed slaag sodat jy die basis kan lê van die soort kennis wat jy nodig het. Dan volg die honneurskursus waar jy kan begin om jou belangstelling uit te leef oor die taalkunde. Jy sal dan agterkom waar jou talent en belangstelling lê. In die MA-program neem jy dit verder en ondersoek wat jy wil en nie wat aan jou voorgesê word nie. En as jy tot hier gekom het en nog nie moed opgegee het nie, dan is jou kop reg vir die taalkunde! Dit is ’n opwindende pad om te volg, maar ongelukkig ook een wat onsekerheid inhou, omdat werk skaars is. Maar as dit die pad is wat jy wil loop, doen dit. Dalk is jy gelukkig genoeg om een van die min poste in taalkunde te bekom. Sterkte!

Wat beteken so ’n bekroning van die Akademie in hierdie tyd, waar mense se lewens onafwendbaar deur die pandemie beïnvloed is?

Vir iemand soos ek wat afgetree is en in ’n sekere mate al irrelevant geword het (ongelukkig ja – dit is verstommend om te ervaar hoe jou opgeboude kennis skielik ná jou aftrede van min nut is – so ’n soort van “from hero to zero”), is so ’n toekenning ’n motivering om tog voort te gaan om my belangstelling uit te leef. Daarom my konseptualisering van en betrokkenheid by komende boeke soos Toegepaste taalkunde in Afrikaans asook Contemporary Afrikaans linguistics – dit gee my die kans om my loopbaan op ’n hoogtepunt te begin afsluit.

Verder is dit goed vir my gesin om te weet en te ervaar dat die tyd wat ek afgestaan het aan my loopbaan, waartydens ek hulle onvermydelik afgeskeep het, wel waarde en nut het. En dat ons opoffering as gesin nie vergeefs was nie.

En ja, ek is ook maar mens en dit is tog lekker om die erkenning te kry dat my bydrae sinvol en nuttig was en dat dit help om my vakgebied, die Afrikaanse taalkunde, en my taal Afrikaans beter agter te laat as toe ek in 1971 daarmee begin het.

Lees ook:

Op reis vir Afrikaans – Europa bied oneindige moontlikhede

Vijf vragen voor Wannie Carstens over Die storie van Afrikaans (Deel 2)

Wannie Carstens: voorzichtig optimisme over het Afrikaans

Wannie Carstens: "Iedereen verliest bij een te dominant Engels"

Wannie Carstens: “Die wit geskiedenis is nie die geskiedenis van Afrikaans nie”

Het verhaal van het Afrikaans

Commendatio met die oorhandiging van die Van Ewijck Stigting se prestasieprys aan Wannie Carstens

"Keuze voor Afrikaans is keuze voor meertaligheid"

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top