’n Druk, byna frenetiese seisoen van kunstefeeste kenmerk die eerste halfjaar. In vele opsigte het hierdie feeste eerder die markplek van die menings van die land geword.
Vanjaar, soos te verwagte met ’n nasionale verkiesing in Mei, is die politieke profiel op so ’n fees natuurlik baie hoog.
Die 20ste US (Universiteit Stellenbosch) Woordfees van Stellenbosch het onlangs die feesseisoen afgeskop op die universiteitsdorp.
Dié fees kry gewoonlik hoë lof vir die standaard van produksies, maar dan is daar ook iedere jaar ernstige besware oor die vloekery op verhoë, of die persentasie Engelstalige produksies by die oorwegend Afrikaanstalige fees.
Uiteraard is dit ook die ontmoetingsplek van die oue met die nuwe; van die uitdagende protes van studente, werkloses, rashaatdraendes en, veral, genderaktiviste, teenoor die snydende innigheid van verlies van bestaande ordes, vertroude menseverhoudings en bowenal sekerheid. Onaanpasbaarheid, ouderdom en gesinsworstelinge borrel op.
Musiek, komedie en visuele kunste verteenwoordig al hierdie aspekte in ’n land waar identiteit hoog staan in die algemene bewustheid.
Die US Woordfees gebruik die woord Jonk as leitmotief. Dit dui op nuwe insigte, denke en aanpasbaarheid. Onderliggend hier is ook die huidige gees van transformasie, dekolonisering en aardbewustheid.
’n Voorbeeld is een van die merkwaardigste opvoerings, die Mis(SA) – ’n Afrikaanse mis. Met woorde geskryf deur Antjie Krog en regie deur die meester Martinus Basson, is hierdie Mis gerig op die vernietiging van die natuur, onder meer deur die plastiekbedreiging vir die land en see. Met die tema “’n Nuwe Verbond” kom die elegiese en die woedende hier bymekaar – ’n mis wat seker nog sterk in die Afrikaanse musiekskat en op die verhoog herbesoek sal word.
Nuut op die taaltoneel is die uitgesproke aandrang op erkenning van die “ou” Khoi- en Santale, waarvan daar talle variante is. Tans is daar een 90-jarige dame wat ’n Santaal kan praat. Na haar dood is ook gesprekke in haar taal dood.
Die verwysings na die vroeë “Eerste Mense” geskied in toneelstukke en hieruit begin die toenemende “bruin” bewussyn sterk aandag eis dat van die oudste tale én nuwe variante in sommige bruin gemeenskappe herbesoek en erken moet word.
Die “bruin problematiek” word in ’n produksie, In Slavenhuis 3, gespits op die aanpassing van vier jong bruin mans wat eerste-geslag-universiteitstudente is en met die moderniteit teenoor die ou diepgewortelde kultuur van hul ouers worstel. Hulle word blootgestel aan ’n wêreld waarin bruin mense in bendes opgeneem word, homoseksualiteit-identiteit erken word en ook ou gevestigde geloofskwessies aangespreek word. Die jong skrywer Herschelle Benjamin vra dus uiteindelik wat beteken dit werklik om ’n jong bruin man te wees.
Ook op ander gebiede, soos die Skrywersfees, is die onderwerp “Hot noot” (aanduidend van die kwetsende verwysing na bruin mense as “hotnots”) deur intellektuele bruin mense aangespreek. En ten slotte het die vraag bly hang: Is bruinwees gelyk aan witwees? Of in die woorde van aanbieder Heindrich Wyngaard na aanleiding van die hoogs gehuldigde Adam Small: Was (is) hulle “net jollie meelopers”?
Op die diskoersreeks het vooraanstaande kenners gedebatteer oor die broeiende kwessie van grondonteiening deur die staat sonder vergoeding aan die eienaars (lees wit eienaars). Hier het die ANC-struggle-veteraan en huidige parlementariër van die opposisieparty Cope, Mosiuoa Lekota, duidelik teen hierdie poging gepraat. Opvallend in baie gesprekke het swart intellektueles die huidige regering afgemaak as onherstelbaar korrup en ondoeltreffend.
Dekolonisering het ’n dwingende tema in die studentegesprekke geword. Die eis is dat huidige kurrikulums moet aanpas, dat ou ingesetelde opvattings vervang word met oa begrip en navorsing oor “swart” geskiedenis.
Ook is eise gelug vir voorbereiding vir tegnologiese toeganklikheid vir selfs voorskoolse kinders, en veral op studiegebied in die hoër onderwys. Hoewel studenteprotes op die universiteit nie op straat voorkom nie, is die drif en aandrang van die studente besonder vurig.
Vanjaar is die aanbod uit sg swart geledere by die fees aansienlik hoër as voorheen. Die swart woongebied Kayamandi se twee teaters word druk besoek. Veral musiek en stand-up-komedie word deur aansienlik meer wit mense besoek as in die verlede.
Die visuele-kunste-afdeling het byna oorweldigend die kwessie van swartwees aangespreek.
Soms is Afrikaanse feeste al beskryf as boerebasaars, of selfs sekulêre nagmaalvieringe, maar wat hier weer eens sterk bewys is, is dat die samekomste ook in wese konferensies (met vrye spraak) is.
’n Verhewe poespas van idees, vrese, en beslis nuuskierigheid voed die feeste, en in wese, hoe bedreigd die voortbestaan van Afrikaans, of die koste van feeste, ook mag wees, bly die feeste ’n onontbeerlike deel van die tans soms woedende nasionale diskoers, ’n spieëlbeeld van ’n land wat met homself baklei.
Lees ook
US Woordfees 2019 op Stellenbosch: Nederlandse en Vlaamse komponent
US Woordfees 2019: Afrikaans se Afrika-komvandaan, video en foto's
Buro: MvH