
Die pragtige Palm House Boutique Hotel and Spa in Wynberg is vanjaar 125 jaar oud.
......
Met haar pragtige kurwes, verstaan ek heeltemal hoekom die Nederlander Max Jong en Kapenaar Shelagh Wood hul harte in 2023 op dié praggebou verloor het. Dit was eens ’n statige woning, maar nou blom sy as boetiekhotel. Onder hul keurige sorg is sy tot haar volle glorie herstel en gereed vir die volgende 125 jaar!
.......
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
In die hartjie van Wynberg staan ’n statige dame wat uit 1900 dateer. Binne klop haar hart stylvol warm en is die Palm House Boutique Hotel and Spa ’n vertoonstuk vir die beste Suid-Afrikaanse kookkuns – danksy ’n passievolle snuffelsjef – én daar vloei wyn in haar are danksy ’n bedrewe sommelier.
My man stap eers in nostalgiestraat af, voor ons in Oxfordstraat indraai om by die hotel oor te bly. Net ’n blok weg is sy ou laerskool, wat vandag ’n opvoedingsmuseum is. Sy gedagtes het ver geloop daar voor die gebou: Dinge het soveel makliker gelyk toe hy 10 jaar oud was en sy ouers oor alles moes besluit!
Met haar pragtige kurwes, verstaan ek heeltemal hoekom die Nederlander Max Jong en Kapenaar Shelagh Wood hul harte in 2023 op dié praggebou verloor het. Dit was eens ’n statige woning, maar nou blom sy as boetiekhotel.
Dit was eens ’n statige woning, maar nou blom sy as boetiekhotel.
Onder hul keurige sorg is sy tot haar volle glorie herstel en gereed vir die volgende 125 jaar! Die gebou is ’n nasionale gedenkwaardigheid en moes met groot omsigtigheid opgeknap word. Dis ontwerp deur ’n protégé van die bekende argitek Sir Herbert Baker. Vandag is dit die perfekte vervlegting van oud en nuut, met stylvolle elemente, vars blomme en sagte geure wat om die houtwerk dartel.
“Dit was vir ons belangrik om Palm House as ’n ware tuiste weg van die huis vir reisigers te maak,” vertel Max my. Hy is ’n ervare reisiger met ’n goeie begrip van luukse gasvryheid. “Of jy nou een keer per week van Johannesburg af kom vir vergaderings, of van die buiteland af invlieg vir die somer, ons het ’n ruimte geskep waar mense dadelik tuis sal voel wanneer hulle by die voordeur instap.”
Die pragtige dekor bring hulde aan die historiese gebou.
Die pragtige reusepalmbome langs die historiese gebou wieg ritmies in die windjie en ek verstaan vanwaar die naam kom. Ek kyk van ons motor af na die kamer regbo die ingang met sy groot balkon en dink dis seker die bruidsuite en ons nie beskore nie, maar so wraggies, die Deluxe King Suite is toe ons s’n!
.......
Toe die portier ons kamerdeur oopstoot en ek die naam op die plaatjie – Shiraz – gewaar, weet ek sommer dubbel en dwars dat ek op die regte plek is. Die wintersonnetjie nooi gul dat ons daar op die sonstoele buite moet sit en lees, terwyl Tafelberg in al haar glorie in die verte waghou.
.......
Toe die portier ons kamerdeur oopstoot en ek die naam op die plaatjie – Shiraz – gewaar, weet ek sommer dubbel en dwars dat ek op die regte plek is. Die wintersonnetjie nooi gul dat ons daar op die sonstoele buite moet sit en lees, terwyl Tafelberg in al haar glorie in die verte waghou.
Elke kamer in die boetiekhotel is anders in ontwerp en kleur, maar bied luuksheid en gerief.
Ons het ’n paar peuselgoed saamgebring en met die kombers oor ons bene, wyn in ons glase, lees ons, dut dan, lees weer en raak later aan’t gesels.
Van die skool oorkant die straat kom die vrolike gelag van skoolkinders en ek weet hulle is net so bly soos ons dat die naweek luilekker voorlê.
Die hotel bestaan uit die oorspronklike huis en ook luukse tuinsuites buite om, wat ideaal is vir gesinne en dié wat langer wil bly.
Die wolke hang laag oor die balkon toe ons met die reusehouttrap afstap na onder. Die musiek en hitte van die knetterende kaggel maak sommer jou hart warm.
Die hotel bestaan uit die oorspronklike huis en ook luukse tuinsuites buite om, wat ideaal is vir gesinne en dié wat langer wil bly.
Ons sit vroegaand voor die kaggel in die sitkamer en raak aan’t gesels met twee Britte van Cambridge. Die sommelier Richard Gosa se passie vir ons land se wyne bruis oor en hy hou hul glase vol.
Dié paartjie is al etlike dae in die hotel en het reeds Kirstenbosch, Robbeneiland, die Waterfront en die Constantia Wynroete, ’n klipgooi weg, verken en hy het klaar begin planne beraam oor hoe hy wyn huis toe gaan verskeep. Maar hy het sy hart verloor op Van Ryn se 15 jaar oue brandewyn; die beskuiterige droë borrels van Simonsig se klassieke Kaapse Vonkel. Min weet hulle dat my geliefde lid van die SA Brandewyngilde is en ek absoluut borrelgek is. Dié vriendskap is ’n goeie pasmaat!
Sjef Gregory is bekend vir sy snuffelkos.
Die spyskaart van die 1920 Bar kreun onder die kroon van ons land se wyne en my bors swel van pure trots.
Die boetiekhotel het twee restaurante: de Tafel en The Palm Terrace, onder leiding van sjef Gregory Henderson. Hy is bekend vir sy snuffelkos en slim gebruik van staatmakers soos rooibos, heuningbos, boegoe en bokkoms. De Tafel is die deftiger weergawe en ons trek mooi aan. Albei restaurante is oop vir gaste wat oorbly en die publiek.
Die boetiekhotel het twee restaurante: de Tafel en The Palm Terrace (foto bo), onder leiding van sjef Gregory Henderson.
Gregory kom stel hom voor en sê: “Ons is jagter-versamelaars en ons vier dit hier met die kos wat ons voorsit.” Hy is self gereeld in die woude om die woonbuurt besig om allerhande wonderlike bestanddele uit te snuffel.
“Kaapstad is ’n multikulturele stad, en ons wil dit regtig op ons spyskaarte eer,” voeg hy by. “Ons wil inheemse geure en aromas soos boegoe, roosmaryn en wilde salie inbring, en ons sal ook soektogte aanbied vir mense om te leer oor die wilde amandels en blaasneute, die eetbare varings, en natuurlik die eetbare sampioene wat wild groei in die woude net ’n entjie van die hotel af.”
Gregory is ’n trots ambassadeur vir World Wildlife Fund’s South African Sustainable Seafood Initiative (SASSI).
Mooi en vars en heerlik.
Die spyskaart is ’n pragtige vertoonstuk van ons plaaslike inheemse flora.
Die spyskaart is ’n pragtige klein gebinde boekie waarvan die blaaie klein kunswerke is. Die waterverfwerk van sampioene, blomme en voëls is mooi genoeg om te raam. Dis die gedagte wat deur my kop gaan, voor die eerste dis bedien word. Dis nou ware koskuns!
.......
Die feesmaal is ingedeel onder opskrifte wat wissel van “Sewejaartjie”, “Oesters”, “Peruviaanse kammossel”, “Elgin appel”, “Joostevlakte eendbors” en “Kaapenaar”.
.......
Selfs die brood is op ’n ander vlak: Die gegeurde botter kom in pragtige patroontjies. Ons geniet die pasmaat-spyskaart saam met ons Britse vriende en by elke gang het Richard en Gregory saam op ’n gepaste wyn besluit. Die feesmaal is ingedeel onder opskrifte wat wissel van “Sewejaartjie”, “Oesters”, “Peruviaanse kammossel”, “Elgin appel”, “Joostevlakte eendbors” en “Kaapenaar”. Dis gemarineerde beetblare; soetpatat-terrine; Saldanhabaai-oesters met bokkoms; seesoutslaai en vinkel; silwervis met seewier-lekkergoed; en visgraat-aartappels met Strandveld-olie en vele ander.
Gemmer-brandrissie en vars Knysna-rivierkrap.
Gemmer-brandrissie en vars Knysna-rivierkrap.
Die feesmaal eindig met “Bioclimate” – fynbosheuning-panna cotta, heuning-boegoeroom en gekrummelde neut.
Dis die wyne van Stellenbosch wat ons nuwe vriende se harte gesteel het en ons stel aan die einde van die aand voor dat hulle die Stellenbosch Wynroetes gaan verken en dan by al hul nuwe gunstelingplase aangaan vir proeë.
Laatmiddag stap jy af na die sitkamer met sy eie kroeg voor die kaggel. Die wynlys is ’n keurig saamgestelde een met die beste van ons wynlande.
Ek is dankbaar dat ons aandete in die hotel was en ons nie hoef te reis nie. Net op by die trappe, 20 tree en in die bed!
Ná die vorige aand se groot eet, het ons besluit op ’n baie laat ontbyt en ek is nie verbaas toe die Britse vrou met ’n glas Villeria Tradition Brut ontspan, terwyl sy sosiale media-inskrywings afhandel en aan salm en avokado knaag nie.
Daar is nie veel tyd vir ginnegaap nie, want ons het ’n salige paartjiemassering by die hotel se Açaí Spa bespreek. Onder die bekwame oog van spabestuurder Leandra de Villiers en met die geurige produkte van die Healing Earth-reeks, word jy sommer weer mens onder die masseerder se hande.
Ná ’n glas vonkelwyn en 90 minute se pamperlang in die knus, skemer kamer, is ons bloot sleg en gaan knip ’n “vinnige” uiltjie. Dis eers toe ek ’n boodskap op my foon kry dat die Britte vir ons wag vir skemerkelkies, wat ons deur die mis ontwaak en besef die son sak al!
Die sommelier Richard Gosa se passie vir ons land se wyne bruis oor en hy hou ons glase met elke dis in de Tafel vol.
Hoe heerlik om weer net by die trappe af te stap, op die fluweel-hoekbankies te gaan sit en ons gesels van vroeër op te tel. Dit voel regtig of ons hulle al jare ken.
Aandete is by The Palm Terrace en elke dis word weer afgerond met wyne uit die land se oudste wynroete. Die Britte het toe inderdaad ’n wyntoer met ’n toergids bespreek vir die komende dae en belowe om terugvoer te gee oor watter ander Stellenbosse plase hul harte gesteel het.
Toe ons die laaste oggend gereedmaak om te vertrek, sit hulle twee by die swembad en lees. Die dag is helder en oop en op die ingewing van die oomblik vra ons of hulle iets wil gaan doen. Hulle het teen motorhuur besluit en ons voorstel van toergids speel geval hulle onmiddellik.
.......
Ons mae én ons harte is vol toe ons huis toe ry. Hierdie juweel in die hartjie van Wynberg sien ons beslis gou weer.
.......
Ons ry om Chapmanspiek, gaan eet vis en chips met ons hande in Kalkbaaihawe en geniet ’n bottel yskoue Kleine Zalze Vintage Brut 2015 wat ons onderweg as verrassing vir die Britte gekoop het. Ek is dankbaar dat ons altyd met wynglase in ons kattebak rondry en dié bekroonde borrels behoorlike behandeling kan gee!
Dit het vir 60 maande op die gismoer verouder en het bykans elke prys moontlik ingepalm. Die Chardonnay (60%) en Pinot Noir (40%) versnit is ’n wonderlike manier om van ons nuwe vriende afskeid te neem én hulle finaal van Franse sjampanje te laat afsien.
Laatmiddag groet ons aan die voete van die palmboom voor die boetiekhotel met beloftes van kuiers in Brittanje. Hulle is net betyds vir namiddagtee by The Palm Terrace met soet, sout, koffie, tee of vonkelwyn op die spyskaart.
Ons mae én ons harte is vol toe ons huis toe ry. Hierdie juweel in die hartjie van Wynberg sien ons beslis gou weer.
Kitsfeite
- Daar is altyd iets nuuts aan’t gebeur op die restaurantspyskaarte: Elke Dinsdagaand kan jy The Palm Terrace Spice Route-spyskaart geniet – ’n driegang-maaltyd wat deur sjef Gregory se reise deur Kenia en Zanzibar geïnspireer is. Vrydagaande is dit steak-aand en Sondae is ’n daar ’n Sondagmaaltyd soos jy laas by jou oupa en ouma op die plaas geniet het. Daar is deelbordjies en plattelandse gulheid in diep bakke wat rojaal op jou bord geskep word.
- Bespreek jou luukse bederf by Palm House in Wynberg se Oxfordstraat by 021 745 5008, explore@palmhouse.co.za of besoek https://palmhouse.co.za/.
- As jy die wyne van die Eikestad so baie soos ons Britse vriende geniet, ontdek die land se oudste wynroete, Stellenbosch Wynroetes, by https://wineroute.co.za/.