...
Dit is ook ’n teks wat midde in die dekoloniale moment en kansellasiekultuur wys dat die diskoers oor die koloniale allermins eenduidig is.
...
Bykans ses dekades ná die verskyning van die Afrikaanse skrywer Elsa Joubert (1922-2022) se debuutroman, Ons wag op die kaptein (1963), het een van die Lae Lande se voorste vertalers van Afrikaanse fiksie, Rob van der Veer, dit in Nederlands vertaal. Aldo Manuzio is die uitgewer. Willem de Vries berig oor ’n bespreking van die vertaling.
Hoewel Ons wag op die kaptein geruime reeds as ’n moderne klassieke werk in Afrikaans gelees word, het Nederlandse lesers nog maar onlangs kennisgemaak met die debuutroman van dié skrywer wat later met Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) internasionaal bekend geword het.
Die oorspronklike roman, asook die vertaling van Ons wag op die kaptein as We wachten op de commandant (2021), was onlangs die onderwerp van ’n program van Boeken uit het Huis. Die Suid-Afrikahuis in Amsterdam bied hierdie besprekingsprogram oor Afrikaanse skrywers en boeke aan in samewerking met de Taalunie. Hierdie program, sowel as ’n herdenkingsimposium oor Joubert is op die Suid-Afrikahuis se amptelike YouTube-kanaal beskikbaar.
Angelie Sens, direkteur van die Suid-Afrikahuis, het in haar inleidende opmerkings oor Ons wag op die kaptein gesê dat Joubert ongetwyfeld een van die belangrikste vroueskrywers van haar tyd is en het verwys na Die Swerfjare van Poppie Nongena waardeur Joubert talle wit Suid-Afrikaners se oë oopgemaak het vir mense se omstandighede en die uitwerking van die apartheidstelsel. Sens het genoem dat Joubert as jong vrou uit ’n konserwatiewe Afrikaner-omgewing reise oor die Afrika-kontinent alleen onderneem het en dat dit haar al vroeg van ander perspektiewe bewus gemaak het. Joubert is in 1964 met die Eugène Maraisprys vir Ons wag op die kaptein bekroon.
Publikasiegeskiedenis
Die deelnemers aan Boeken uit het Huis het die roman uit hul onderskeie leesagtergronde bespreek.
Samantha Miller het inligting verskaf oor die Suid-Afrikaanse uitgewerswese en Afrikaanse publikasies in die apartheidsjare. Tycho Maas het daarna ’n gesprek gelei waarin Martina Vitackova, Stacey Vorster en Kirby van der Merwe aan die woord was. Van der Veer het oor sy vertaling gesels en aandag geskenk aan die verskynsel van kwetsende begrippe en woorde uit die verlede en wat die taak van die hedendaagse vertaler in sulke gevalle is. Thys Human, redakteur van ’n Huldiging: Elsa Joubert – Die verste grens verby kon egter nie die geleentheid bywoon nie. (Lees ’n berig hier vir meer oor Ons wag op die kaptein en vir inligting oor die onderskeie sprekers.)
Miller het genoem dat Ons wag op die kaptein in 1963 by Tafelberg-Uitgewers verskyn het en ware gebeure as die vertrekpunt het: Joubert het ’n berig in ’n koerant gelees oor mense wat op ’n plaas in Noord-Angola aangeval is.
Die sosio-politieke omstandighede van die bepaalde tydperk reken Miller as deel van die kommersiële oorwegings en sakebesluite van ’n uitgewery.
“Tafelberg-Uitgewers het eintlik oorspronklik begin as ’n tak van De Goede Hoop Uitgewers in Kaapstad. Hulle hoofdoel was om soos ’n boekklub te funksioneer waar hulle ligte leesstof aan hul lesers bekendgestel het. Maar, namate ’n behoefte aan hoër literatuur ontwikkel het, het hulle begin om byvoorbeeld poësie te publiseer, van, onder andere, DJ Opperman.”
Tafelberg is aan die einde van die vyftigerjare ingelyf by Nasionale Pers en vandag is dit ’n druknaam van NB-Uitgewers. Miller het oorsigtelik verwys na die omstandighede in Suid-Afrika waarin Afrikaanse boeke onder apartheid uitgegee is en hoedat die nasionalisme van die tyd die publikasiegeleenthede en verspreiding van publikasies beperk het. Joubert was ’n lid van die Sestiger-beweging van Afrikaanse skrywers wie se veelal grensverskuiwende literêre werk vandag as moderne klassieke werke gelees word, maar wat destyds sensurende wetgewing mee te kampe gehad het.
In 2005 is Ons wag op die kaptein heruitgegee en is verwysings en woordgebruik wat met die verloop van tyd polities inkorrek geword het, daaruit verwyder, volgens Miller.
Betrokke skryfwerk
Maas het ook na Die Swerfjare van Poppie Nongena verwys en as betrokke skryfwerk, dat dit in die Nederlandse vertaling destyds ’n wesentlike bydrae gelewer het in bewusmaking van misstande weens apartheid en in die momentum dan daarteen in die Nederlande. Die statuur van die werk sien hy ook in die hedendaagse aandag wat daar vir Joubert se werk bestaan en dat dit enkele jare gelede verfilm is.
Vorster beskou Joubert se werk as belangrik vir die gesprek oor die verlede wat dan ook deel bly van die hede, en sê dat “wit mense nie moet weghardloop van daardie gesprekke net omdat ons ongemaklik is nie”. Reeds om daardie rede ag sy die herlees van Ons wag op die kaptein gerade.
Vir haar lees van Joubert kies sy invalshoeke uit Carli Coetzee se Accented Futures: Language activism and the end of apartheid en het dit dan oor vertaling wat gemotiveer word deur ’n drang om te verstaan, ’n begeerte om empatie te hê, maar sê dan dit kom met verskeie probleme en uitdagings. “Watter aksente word stilgemaak deur die begeerte om die ervarings van ’n ander te verstaan?” het sy gevra.
Leser, karakter en skrywer
Vitackova lees die boek as feministiese literatuurwetenskaplike en stel gevolglik belang in die ontwikkeling van die karakter van Ana-Paula. Sy het verwys na ’n punt wat Vorster gemaak het - dat die posisie van die betrokke leser ook ’n rol speel in hoe ons die boek begryp en dat ’n mens dit ingedagte moet hou. Vir Vitackova is dit dan ook belangrik hoe Ana-Paula geposisioneer word deur die skrywer en hoe sy as’t ware haarself eintlik posisioneer teenoor ander karakters, mense en die diere, in die verhaal.
“Wat enorm opval, is dat sy ook troos soek by Trixie, by die hond. Sy gaan nie na haar man nie, maar na die hond, ook as bron van vertroosting, wat ek nogal interessant vind. Die empatie is duidelik wel daar.”
Gegewe dat Vitackova self ook ’n vertaler is, is dit vir haar opmerklik hoe graag hierdie teks as’t ware vertaal wíl word. “Dan kom jy natuurlik by die moeilike passasies uit en dan dink jy: Hoe kan jy dit om godsnaam as vertaler oplos? Ek is dus heel nuuskierig oor hoe die Nederlandse vertaling, wat ek nog nie kon lees nie, daaruit sien.”
’n Boek wat die toets van die tyd deurstaan
Van der Merwe het gesê hy het nie die “gesaniteerde” Afrikaanse weergawe van 2005 gelees nie en wou ook meer weet oor die Nederlandse vertaling van die oorspronklike van 1963.
In sy lees van die roman resoneer dit vir hom met ’n ouer werk, dié van Sarah Gertrude Millin se roman God’s Stepchildren (1924).
Hy ag Ons wag op die kaptein ’n werk wat die toets van die tyd deurstaan het en wat nou in ’n diskoers oor ras, taal en hoe die ander gesien word, opnuut geaktiveer word.
Van der Merwe het vertel van kuiers saam met die skrywer Richard Rive aan huis van Joubert en haar man, die skrywer Klaas Steytler, in Oranjezicht en ook by hul huis op Onrus.
’n Karakter op die breuk van Europa as hartland en Afrika as tuiste
Daar is gesê dat Joubert aanmoediging nodig gehad het om ná reisverhale ’n debuutroman te skryf, het Maas gesê. Dan is daar ook vir hom die verleiding en uitnodiging om te probeer bepaal wat is dan die outobiografiese komponent aan die verhaal. In hoeverre is Joubert se eie verlede ’n invloed op die karakter van Ana-Paula, ’n karakter op die breuk van Europa as hartland en Afrika as tuiste? In hoeverre is Joubert of Ana-Paula ’n buitestander? Is dit problematies vir haar? En speel haar vrouwees daarby ’n rol? Hy het daarop gewys dat Ana-Paula belangrike dele van die roman fokaliseer.
In haar lees van die roman is nog iets wat Vitackova opgeval het dat die plantasie vergelyk word met ’n vrou in ’n “nogal afskuwelike” aanhaling van een van die vriende van Carlos, Ana-Paula se man. Carlos was drie maande in Europa en in dié tyd het die plantasie verder gegroei en “stort alkante uit soos ’n vrou uit haar borsrok”. Vitackova vind dit ’n “heel geseksualiseerde, geobjektiveerde representasie van die land en vrugbaarheid”.
In aansluiting by wat Willie Burger in ’n Huldiging: Elsa Joubert – Die verste grens verby geskryf het, het sy verwys na die rol van soort breuke in die verhaal wat meerdere kere in die teks voorkom en waar vuur en water ook voorkom.
Ana-Paula beskou sy as ’n soekende vrouekarakter, dat sy Carlos gebruik as ’n middel om iets te bereik en te ontsnap. Vitackova sê die vraag gaan vir haar om wie gebruik wie - dit is wedersyds onwetend - om doelwitte te bereik.
Sy sien dan ook ’n ontwikkeling in die roman wat haar herinner aan dié van ’n Bildungsroman, van die meisie wat droom en wat ambisie het, wat soekend is en die vreemde dít wat Ana-Paula najaag. Só ’n moment vind plaas op die skip op weg na Afrika: Ana-Paula is jaloers op die kinders van gemengde afkoms. Sý is die vreemde nie, terwyl sy wel later as vreemde uitgebeeld word deur haar minnaar. Ana-Paula word dan beskryf as die stil, donker vrou van Carlos. Ook wel onbekend, ondeurdringbaar. Niemand weet wat daar eintlik in haar omgaan nie. Behalwe, miskien wel haar honde, het Vitackova opgemerk.
Maas het vir bespreking aangehaal uit Burger se bydrae in die huldigingsbundel oor Joubert: “Reeds met haar debuutroman, Ons wag op die kaptein, is Elsa gemoeid met wat ons deesdae dekolonisering noem. Van hoe ’n Europese denkpatroon dit onmoontlik maak om Afrikaan te wees.”
Verlede en hede
Van der Merwe het dit oor die hantering van “die kinders van Carlos en die ander vrou, dié van gemengde bloed” en ’n hele denkwyse indertyd waarin altyd negatief verwys is na hierdie mense en wat vir sowel Amerika as Europa en Suid-Afrika geld. Dit het tyd geverg vir daardie tipe van denkwyse om te verander op alle vlakke van die samelewing, het hy gesê, ook dat dit nietemin steeds voorkom. Op die dorp waar hy woon, sien hy dieselfde kom byvoorbeeld Portugese mense oor wat handearbeid verrig. En dat kwetsende woorde van destyds steeds in “gewone dialoog buite die akademiese en woke-wêreld” voorkom.
Van der Merwe het spesifiek taalgebruik in verband gebring met sy onlangs verskene roman Eugene. Hy het daarin woorde gebruik wat hy in die bespreking nié sou nie, het hy gesê.
Naamgewing en die toeken van betekenis
Sluit die titel van Eugene aan by ’n bepaalde Suid-Afrikaanse verlede waarin dié naam bepaalde betekenisse dra, en neem Van der Merwe in die roman sosiaal-politieke verantwoordelikheid aan? wou Maas weet.
Só beskou is die romantitel bietjie van ’n red herring, het Van der Merwe gesê. “Almal ken ’n Eugene, maar ken hulle nie baie goed nie. As jy die boek lees, sal jy nou sien Eugene kom eintlik van Pink Floyd uit 1969. Dié Eugene is eintlik daai Eugene, nie Eugène Terre’Blanche of een van die ander nie. Maar dis ’n goeie red herring. Dis ’n lekker kapstok om mense te laat lees, maar dan kom hulle agter dit het níks met daardie mens te doen nie.
“Anders as by Elsa, en wat dit by my miskien maklik maak in Eugene, is dat ek al daai tipe van idees van ras en die politiek kon inbring by die karakter en die wêreld, sonder om enigsins die woorde te demaskuliniseer. So die k-woord, die h-woord word netso gebruik in sy konteks. Dit is juis die gebruik daarvan wat die gruwel, die wreedheid van die stelsel eintlik wys. As ek moes dink om dit sagter stel, sou die boek sy trefkrag verloor het.”
Naamgewing in Joubert se boek het vir Maas interessante vrae na vore gebring oor die toeken van betekenis: Óns wag op die kaptein ... Wie is die “ons”? Wíe maak die titel? In hoeverre stuur dit ons leeservaring? Is dit alleen die plaasarbeiders wat by Carlos en Ana-Paula betrek word? Is dit ook die “inboorlinge” soos wat die swart mense van Angola (in die boek) genoem word, wat op ’n gegewe moment die plaas bestorm? Álmal wag op die kaptein wat die laaste oordeel oor iedereen gaan vel.
Vorster wys daarop dat waar “ons” voorkom dit ’n gemeenskap veronderstel. “Ek dink dit is baie belangrik om te dink oor hoe ons oorgaan in daardie neiging om ‘ons’ te onderskei van ‘hulle’.
“My PhD-dissertasie fokus op ras en wat dit beteken om ’n wit mens te wees wat probeer werk in die rigting van dekolonisering en versoening, na afrekening met die lang einde van apartheid waarvan Carli Coetzee praat. Daardie ‘ons wag’ is ’n interessante spanning regdeur die boek.
“Die laaste sin is baie bruikbaar om miskien nou te lees (die toneel wanneer die helikopter neerstryk): ‘Die oë van die wagtendes word verblind deur die stof, sodat swart en wit vasklouend aan die hek wat tussen hulle is nie meer weet hierdie hand is swart en hierdie een is wit nie’.”
Teenstellings en kontraste
Vir Maas gaan ’n groot deel van die verhaal oor die aanwending van teenstellings. “‘Barbare’ teenoor ‘blanke’, en dit haal ek aan; ‘Carlos as man’ teenoor ‘Ana-Paula as vrou’, dis ‘halfbloede’ teenoor ‘swartes’, die ‘ek’ teenoor ‘jy’, die diere wat Ana-Paula haar kinders van maak. Maar tog kom dit my nié voor as ’n heel polariserende boek nie, veel eerder ’n problematiserende of ondermynende boek omdat jy nou eenmaal nie die oorgang kan bewerkstellig nie.”
Is die opposisies nie ongelyke teenoormekaarstelling nie en daarom onhoudbaar?, het hy gevra.
Vitackova lees die roman as “’n heel skerp analise van ’n heel komplekse hiërargie, ook tussen die wit mense in die verhaal”. “Die jong moeders word ‘soogdiere’ genoem in die boek. Daar sit dus ook wel ’n hiërargie tussen die wit mense, so dit gaan oor klas, gender. Ek weet nie of dit ’n ‘ons-en-julle’ verhaal dus is nie, wel op ’n maníér, maar dit gaan ook heel veel oor kontraste. Daar is ook Brandao (Ana-Paula se minnaar) en Carlos, ook wel ’n teenstelling: die manlike man en die vroulike man. ’n Gesonde manlike ego en ’n toksiese manlikheid is daar ook. Dit is ’n heel skerp observasie en analise van ’n heel komplekse magsituasie.”
Maas het verwys na ’n Nederlandse werk wat onlangs in Afrikaans vertaal is, Die tienduisend dinge, Ena Jansen se vertaling van Maria Dermoût se roman, wat syns insiens ook in die teken van komplekse magsituasies staan.
Hy is daaraan herinner toe hy die werk, ’n roman wat oorspronklik in 1955 verskyn het, gelees het. “Dit is die verhaal van iemand wat in Nederlands-Indië sit met ’n groeiende gevoel onder koloniste wat broei, maar waarop sy geen greep kry nie, sy kan haar nie daarmee vereenselwig nie.”
Die leser se verbeelding
Maas het ook verwys na ander besprekings van Ons wag op die kaptein, waaronder dié van JC Kannemeyer na wie se gevoel “die tragiek van die vrouekarakter nie deurgevoer is op die einde nie en dat die roman daarom teleurstel”, ook dat “die simboliese verdieping van die apokaliptiese einde misluk, want swartes se vrees vir hul man word nie aanneemlik gemaak nie”.
Vitackova sien intertekstuele aansluiting tussen Ons wag op die kaptein en Wachten op Godot van Beckett. “Hulle wag almal en hulle wag kollektief en daar gaan iets gebeur, maar eintlike gebeur daar niks nie. En die einde is heel antiklimakties. Ons weet eintlik nie wat daar gaan gebeur nie, en dit pas perfek by wat ek vroeër gesê het oor die heel komplekse magsituasie. Ek lees dit as: niemand kan hier wen nie. Almal is radeloos, niemand weet wat nog kan gebeur nie, die situasie het so geëskaleer dat dit nie te redde is nie. Ek lees dit as ’n hoogtepunt van die radeloosheid van ’n geëskaleerde situasie wat geen oplossing het nie.”
Vir Vorster is daardie oomblik aan die einde van die boek amper profeties. “Daar is hierdie kwessie van wie ‘ons’ is en hier sit ‘ons’ hoeveel jaar later, feitlik 80 jaar later en probeer steeds om dit uit te pluis, met daardie heining tussen ons wat verdwyn en ook nie verdwyn nie, en steeds probeer uitwerk wie ‘ons’ is. Dit is die gedagte wat die boek my laat.”
Annari van der Merwe het destyds ’n onderhoud met Joubert gevoer en daarin vir haar na Ons wag op die kaptein gevra. “Joubert het gesê daar is nie volledig uitsluitsel oor die uiteinde van gebeure in die verhaal self nie, maar die leser moet sy of haar verbeelding gebruik oor die moontlikhede wat kan voortvloei uit die aaklige toneel wat in die roman afspeel,” het Maas gesê.
Vertaler en vertaling
Een van die skokkendste sinnetjies wat hy in sy lang leesloopbaan teëgekom het, het Van der Veer vertel, staan in ’n roman van die Australiese skrywer Patrick White. ’n Geleentheid of ’n geselligheid êrens in die jare twintigs van die vorige eeu word beskryf, en daar staan daar opeens: “The Jewess entered the room.” Hierdeur is die karakter oombliklik apart gestel van alle ander aanwesiges, het Van der Veer gesê.
White wys daardeur dat sy daar duidelik nie hoort nie, en kan nooit iets anders wees as Jodin nie. Boonop beskryf White haar as oordadig geklee vergeleke met die ander, iemand wat met te veel sierade omhang is, het Van der Veer gesê. Afgesien van die vraag of dit hier gaan om ’n antisemitiese beskrywing is dit ’n harde konfrontasie met hoe daar in die jare twintig na mense van Joodse afkoms gekyk is, het hy gesê. As vertaler vra hy homself dan af, hoe vertaal jy dit in ons tyd? “Die Jodin”? “Die Joodse vrou kom die kamer binne?” Maar haal jy dan nie die angel uit die beskrywing nie? het hy gevra. Normaliseer jy nie dan iets wat ’n misstand is nie, en wat aan die kaak gestel is deur die skrywer?
In ’n bundel van die Suid-Afrikaanse skrywer Dana Snyman staan ’n gebeurtenis beskryf, ’n herinnering uit die jare tagtig, waarin ’n karakter teenoor ’n ouer persoon reageer met ‘Hou jou bek, ou meid’. En dat veertig jaar later, toe hy dit onthou, krimp hy daarvan ineen. Het hý dit destyds werklik gesê?
Toe Van der Veer die woorde gelees het, het hy opnuut gedink: Hoe vertaal jy dit op ’n manier dat nie net die neerbuigende en beledigende inhoud oorkom nie, maar ook die rassistiese strekking daarvan? En mag dit nog wel in die huidige tyd?
Daar was onlangs veel omstredenheid oor die vertaling van die woord ‘negro’ uit die Engels, het Van der Veer gesê en het genoem dat daar vandag uitgewers bestaan wat hul vertalers selfs verbied om die woord ’neger’ te gebruik, tot selfs wanneer dit gaan om iemand soos James Baldwin wat homself aanvanklik bestempel het as ’negro’, maar daarna, onder invloed van mense soos Stokely Carmichael, as ‘black’ wat veel minder negatiewe konnotasies het.
Wokeheid gaan tans so ver dat Amanda Gorman se bewustelik gekose woord “slave” wat sy opsetlik in een van haar gedigte gebruik om konfrontasie op te soek, in die Nederlands vertaal is met “slaaft gemaakt” waarmee Gorman eintlik gemuilband word. Alwéér word ’n swart persoon die mond gesnoer. Is dit die bedoeling?
Die ouer vrou in Snyman se verhaal word deur twee jong mans minderwaardig, tweederangs gemaak, louter op grond van haar velkleur. Het die vrou geen reg daarop dat die Nederlandse leser te wete kom wat haar met die woord aangedoen word nie? Dit is ’n woord wat spreek van onderdrukking en uitbuiting en wat vernedering inhou. Vergeet ook nie dat die skrywer self ook daarvan ineengekrimp het, het Van der Veer gesê.
Hy het ook die gebruik van “homo” in hierdie verband genoem. Hy was in ’n supermark toe hy hoor hoe een kollega ’n ander só aanspreek. Hy noem dat dit tans een van die mees gebruikte skeldwoorde onder Nederlandse skoliere is.
Hy moes dit ook meermale al aanhoor wanneer hy aantrek in ’n hokkie by ’n swembad en skoliere deur die gange stroom en daar dan hard op deure geslaan word. “Homo” word gebruik om aan te dui dat iemand hulle nie stoer genoeg gedra nie; jy kan, so beskou, jou persoonlike geskiedenis as heel pynlik ervaar, het hy gesê. Gestel jy skryf jou ervaringe op en jou Amerikaanse vertaler sê: “Die woord ‘faggot’ gebruik ons liewers nie in vertaling nie, want dit is beledigend. Ek maak daarvan ‘sissy’.” Is dit dan geen ontkenning van die leed wat jy deurstaan het nie?
Die afskaffing van seermaakwoorde in vertalings onder die noemer van beskawing behels ’n sekere vorm van vervalsing van die geskiedenis en daar ontstaan dan by die leser ’n vertekende beeld daarvan, het Van der Veer op gewys.
In Ons wag op die kaptein is die woorde “naturelle” en “kaffers” later met “inboorlinge” en “swartes” vervang. En daarmee klink die bejeëning van Afrikane deur Europeërs al weer ’n bietjie vriendeliker, maar klop dit met die werklikheid en met hoe dit was? het Van der Veer gevra.
Die leser moet die skrýwer kan lees
Jy sou die aanpassing van werke en in vertalings simptoombestryding kon noem, paternalisme, ’n manier om die lesers tegemoet te kom, maar wat jy ook al doen - dit beskryf rassisme, antisemitisme of seksisme - jy poets dit nie daarmee weg nie. Die harde feite bly bestaan, die verlede laat sig nie uitwis nie, het Van der Veer gesê.
As vertaler doen jy jou lewe lank niks anders nie as om jou te verplaas na die gedagtes en emosies van ander mense. As vertaler weet Van der Veer dan ook presies wat die uitwerking van bepaalde woorde is: woorde kan streel, maar ook striem. Maar of hul streel of striem, dít is afhanklik van die skrýwer. Die skrýwer bepaal wat daar te staan kom. Die leser moet die skrýwer kan lees, nie die korreksies of nuanseringe van die vertaler of die uitgewer nie, het hy benadruk.
Hy het die verdere voorbeeld genoem van ’n Nederlandse vertaler wat in die jare vyftig kort ná die (Tweede Wêreld)oorlog af en toe boeke oor die Nazisme vertaal het. As daar in die bronteks staan “die wandade van die Nazi’s” maak die vertaler daarvan dan “gruwelike, mensonterende wandade van die Nazi’s”. Bystelling en korreksie is dus iets van alle tye, net soos die idee dat die leser nie slim genoeg is om self alles te snap nie; Van der Veer is self een van die vertalers wat dus graag vertaal wat daar staan. En as leser wil hy in ’n so helder as moontlik spieël kyk. As Europeër wil hy homself dan kan afvra: Het ons dit gedink? Het ons dit gesê? Het ons dit gedoen? En doen ons dit nog steeds? Watter sin het dit om in vertalings die seermaakwoorde te verbied as die seermaakdade bly bestaan?
’n Boek wat saam met ’n leser groei
Van der Veer het ook aangesluit by die gedagte dat Ons wag op die kaptein relevant is vir lesers in watter era dan ook en dat die verhaal verskillende invalshoeke en soort aktualiteit absorbeer.
In die boek word die leser ’n blik gegun in die spieël en wat jy as Europeër sien, is die Europese aanwesigheid op ’n kontinent wat nie daarom gevra het nie. Só lees Van der Veer die boek tans en het gesê dat hy vyftig jaar gelede die boek wel anders sou gelees het. Sy simpatie sou tóé meer by Ana-Paula en haar familie gewees het, maar tans lees hy dit as Afrikane wat die kontinent vir hul opeis.
Dit is een van die dinge wat die lees van die boek so besonder maak. Die interpretasie kantel namate jy ouer word en jy meer meegemaak het. Die interpretasie groei dus saam met jouself, het hy gesê.
Of daar verskriklike woorde in staan of nie dit maak nie soveel uit nie, meen hy. Die verhaal bly keihard en die omstandighede ook. Dus of dit opgepoets, gesaniteer of gesteriliseer word, dís maar ’n bietjie “window-dressing”, die feite bly dieselfde, het hy gesê.
Op ’n vraag uit die aanlyn gehoor oor die keuse vir “commandant” in die Nederlands het Van der Veer daarop gewys dat dit gewoon die juiste Nederlandse vertaling van “kaptein” is. “Kaptein” het ’n ander betekenis in Afrikaans as in Nederlands, het hy gesê. En in die Afrikaanse “kaptein” sit die Engelse “captain”, en dit ag hy ’n breë begrip. Die Engelse vertaling se titel, To Die at Sunset, sou ’n kommersiële oorweging gewees het, het hy gesê, maar daarmee gee dit ’n deel van die verhaal weg.
Gesprek oor koloniale allermins eenduidig
In sy samevatting van die bespreking het Maas genoem dat dit blyk die verhaal kan inderdaad op vele maniere gelees en vertaal word, en voeg daarby vele sosiaal-politieke kontekste oorwegings en bedoelings.
Dit is ook ’n teks wat midde in die dekoloniale moment en kansellasiekultuur wys dat die diskoers oor die koloniale allermins eenduidig is, het hy gesê.
In sy voorbereiding vir die paneelbespreking het Maas afgekom op vraestelle van die Cambridge-eksamen vir Afrikaans, ’n internasionale eksamen waarvoor Joubert se boek voorgeskryf is. Daarvoor is geen bepaalde uitgawe voorgeskryf nie, iets wat vir Maas veelseggend is. Hy wys daarop dat die invalshoek wat gekies word in die eksamen nie direk betrekking het op die seermaakwoorde of verlede nie, maar het heel veel te doen met aktuele temas soos buitestanderskap, die bevraagtekening van die verhouding tussen man en vrou, en die status quo; dit gee die boek opnuut konteks in die groter samelewing as lewende erfgoed vir ’n toekomstige generasie.
Lees ook:
Ingrid Winterbach en Nederlandse vertaler gesels oor Die troebel tyd
Durende waardering en wedersydse betrokkenheid kenmerk Breytenbach se bande met Lae Lande
Boeken uit het Huis: Joubert en McLeod gesels oor geskiedenis en verhale