Die Nederlandse vertaling van Ingrid Winterbach se voorlaaste roman, Die troebel tyd, is onlangs bespreek as deel van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam se reeks oor Afrikaanse skrywers en boeke, Boeken uit het Huis, ’n projek van die Zuid-Afrikahuis in samewerking met die Taalunie.
Margriet van der Waal is as hoogleraar verbonde aan die Universiteit van Amsterdam en die Ryksuniversiteit Groningen en tree gereeld as gespreksleier op vir Zuid-Afrikahuis-gesprekke.
Sy het met Winterbach en die Nederlandse vertaler van die roman, Robert Dorsman, gesels. Die geleentheid is op YouTube uitgesaai. Dit en ander aanbiedings is op die Zuid-Afrikahuis se amptelike kanaal beskikbaar.
Angelie Sens, direkteur van die Zuid-Afrikahuis, het in haar inleiding die boek, wat in Nederlands Roerige tijden heet, soos volg opgesom: Magrieta Prinsloo, ’n Suid-Afrikaanse soöloog, maak ’n krisis deur en besoek daarom ’n psigiater, maar onder die invloed van verkeerde medisyne keer sy haar af van vriende en kollegas en maak ’n abrupte einde aan haar briljante akademiese loopbaan. Uiteindelik aanvaar sy ’n posisie by die Buro vir Voortgesette Onderwys waar Markus Potsdam haar nuwe baas word. In haar nuwe baan moet sy deur die hele land reis en kom sy dinge teë wat haar op ’n heel ander spoor plaas. En as Potsdam op ’n oggend verdwyn word die lewe nog ingewikkelder.
Winterbach is naas beeldende kunstenaar ook een van die mees bekroonde hedendaagse Suid-Afrikaanse skrywers. Sy het in 2018 vir Die troebel tyd die Groot Afrikaanse Romanwedstryd gewen. Van haar werke is ook in Engels en Frans vertaal. Sy rig haar sedert 2002 heeltyds op haar werk as kunstenaar en skrywer, het Sens gesê. Roerige tijden is Winterbach se derde roman wat in Nederlands vertaal is.
Sens het genoem dat Dorsman ’n vertaler van Suid-Afrikaanse, Britse, Amerikaanse en Karibiese skrywers is. Hy spits hom veral op werke van Afrikaanse skrywers toe. Uit Afrikaans het hy werk van onder andere Etienne van Heerden, Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Charl-Pierre Naudé vertaal; saam met Adriaan van Dis het hy O wye en droewe land, ’n bundel met 101 gedigte in Afrikaans, saamgestel.
Winterbach het uit Die troebel tyd voorgelees en Dorsman uit Roerige tijden.
Van der Waal het die eerste uittreksels soos volg toegelig: Magrieta word getoets deur allerhande ervarings wat sy op verskillende reise beleef en op die spoor van Potsdam, haar verdwene baas by die Buro vir Voortgesette Onderwys, bring sy besoek aan sy ouers op die Weskusdorpie van Johannesbaai, want sy is op soek na hom en inligting oor hom.
In die uittreksel wat Winterbach voorgelees het, gaan dit om Magrieta wat tentatief vrae stel aan Potsdam se ma oor hom, en dan bekendgestel word aan sy pa, Samuel, en Markus se jongste broer, Joshua, iemand wat pas terug is uit Sirië en Palestina, waar hy in oorloggeteisterde gebiede as vrywilliger gewerk het.
Holocaust-geskiedenis
Nadat Dorsman sy vertaling daarvan voorgelees het, het Van der Waal gesê dit gaan in hierdie stuk om ’n geskiedenis wat vanuit ’n Suid-Afrikaanse, Afrikaanse perspektief nie so dikwels sentraal staan nie. “Maar dit is vandag 27 Januarie, Wêreldwye Holocaust-herdenkingsdag, en die feit dat hier ’n besonderse, pynlike en diep verlies aangespreek word, Ingrid, maar - mens sal dit nie terloopse manier noem nie - baie versigtig, is miskien baie betekenisvol.”
Winterbach het gesê dat die Sjoa haar diep interesseer, “maar dis ’n enorme tema en ek het gewonder of ek die legitimiteit het om daaroor te skryf as Suid-Afrikaner wat dit nie direk meegemaak het nie, en ook omdat Suid-Afrika tog op ’n manier ook meer verwyderd daarvan is as Europa ... Ek het dit as motief wat my interesseer so versigtig as moontlik ingebring. Ek was werklik bang dat ek eintlik op ’n manier oortree, en tog het die karakter Potsdam homself aangebied as Joods. Ek dink dit is al wat ek op die oomblik gaan sê. Dis dan ’n klein skakel met ’n baie groot, indringende Europese geskiedenis.”
Van der Waal het daarop gewys dat Dorsman die teks sou gelees het vanuit sy bepaald Nederlandse agtergrond en perspektief op gesprekke aangaande die Sjoa en antisemitisme.
Dorsman het vertel dat hy nog altyd baie belang gestel het in die Holocaust-geskiedenis en baie daaroor gelees het. Die besoek aan die Potsdam-egpaar en jongste seun was vir hom een van die ontroerendste momente in die boek. Hy beskou dit ook as ’n skakel tussen Suid-Afrika en Europa.
Van der Waal het ook verwys na ’n latere gesprek tussen Magrieta en Joshua en haar herinneringe aan die innige kennismaking.
Van der Waal het gesê naas die swaar tema van die Jodevervolging, die ongelooflike tragedie en ramp, is die boek in sekere sin vol soorte gebrokenheid, soos karakters wat nie goed funksioneer nie, wat stoei met psigiese gebreke, swaar depressie en andersheid.
“Magrieta het periodes en insidente van sware depressie – die boek begin daarmee. Dit kos haar haar werk en dit kos haar omtrent haar huwelik en vriendskappe, en kollegiale verhoudings ly daaronder.” Sy noem dat Winterbach oor karakters in enorme finansiële armoede skryf.
Verkenning van temas
Van der Waal het haar gepols oor al die swaar temas in die roman.
“Wel, ek dink dis gewoon interessanter om oor gekompliseerde mense te skryf as oor mense wat ongekompliseerd en stralend gelukkig is. En ek dink dat die boek wérk met swaar dinge. Ek dink byvoorbeeld aan Potsdam. En sy hele geskiedenis vorm ’n soort donker basis, ondergrond of matriks, en daarbo, dink ek dan, in téénstelling amper ... humor. Ek sien humor as tegelyk verskriklik verskriklik, maar ook verskriklik snaaks. En ek dink hierdie donkerte word afgewissel deur dinge wat gewoon snaaks is."
Van der Waal het een voorbeeld uitgesonder waarvoor sy nog “selde so hard gelag (het) vir ’n bitter snydende en ironiese vlymskerp kritiek wat terselfdertyd baie, baie snaaks” is. Sy het verwys na ’n toneel waar die Houellebecq-lesende Uber-bestuurder Alta Meyer en Magrieta terugry van Kaapstad na Stellenbosch en dan ’n betoging langs die pad aanskou. Mense wat die Baden Powell-afrit van die N2 na Stellenbosch ken, sal weet dat daar mense staan wat sekswerk verrig, het sy gesê. Hulle betoog oor hul werksomstandighede. Dít sien die twee vroue in die motor en terselfdertyd speel oor die radio die program U eie keuse. Só byvoorbeeld speel die gebeure in die verbygang dus af terwyl die programaanbieder aankondigings maak soos oor die “Elizabeth Serenade” wat volgende aan die beurt is, “aangevra deur Poppie Griessel vir haar broer Joppie in die Strand en vir haar vriendin Karlien in Bredasdorp”.
Vir Van der Waal lê die humor in die stukkies wat die aankondiger voorlees, die plate wat aangevra en dan gekies word, teenoor dit wat rondom Alta en Magrieta aan die gebeur is.
Oor vertaling
Winterbach wou by Dorsman hoor hoe vertaalbaarheid hierdie humor vir Nederlandse lesers is.
Vir Dorsman werk dit in Afrikaans en Nederlands ewe goed, omdat hy as ekwivalent die radioprogram U vraagt, wij draaien in die plek van U eie keuse aangewend het. Dit het dieselfde soort humor tot gevolg, het hy laat blyk.
Van der Waal vind dat die toneel “ook pragtig werk in Nederlands omdat die voorbeelde universeel genoeg is en terselfdertyd die spesifisiteite heel mooi behoue bly”.
Winterbach sonder as ’n belangrike motief in die roman dié van die bevoorregte witte uit teenoor die ontheemdes, mense wat eintlik niks het nie.
“Magrieta is meermale bewus van haarself as iemand wat eintlik fisies afgeskerm is, twee keer, in ’n motor (met verwysing na die fisiese ruimte van die voertuig en dié van haar bevoorregting).”
Oor die titel in die Nederlands wou Van der Waal hoor wat die verskuiwing van “die ‘troebel’ tyd” na “‘roerige’ tijden” in die vertaling inhou.
Die titel is in oorleg met die uitgewer gekies, het Dorsman gesê en ag dit ’n heel voor die hand liggende keuse. Hy vind ook die Engelse vertaling se titel mooi, naamlik The troubled times of Magrieta Prinsloo.
Terwyl hy aan die vertaal was, het hy soms Michiel Heyns se Engelse vertaling geraadpleeg, maar verreweg meestal met die Afrikaanse teks gewerk, het hy gesê.
In die woordeskat wat in verband gebring word met ’n karakter soos Ashley Fondant, waarin veelal Engelse woorde voorkom, het Dorsman dit oorgeneem en genoem dat Nederlandse twintigers al om die drie woorde ’n Engelse woord inspan. Hy het ook genoem dat Engels voortdurend in die Afrikaans deurwerk. Hy was vir die vertaling gesteld daarop dat waar hy kon, hy stelwyses na aan Nederlands hou. Hy moes wel voortdurend wik oor juis die Engels wat in die Afrikaanse teks deurwerk.
Winterbach gebruik doelbewus anglisismes in haar werk. Vir die Nederlandse vertaling het hy dus gevind hy moes op die hoede wees daarvoor. En hoewel Afrikaans en Nederlands baie op mekaar lyk, verskil hulle hemelsbreed, het hy benadruk.
Dorsman het laat blyk hy was daarop gesteld dat waar ’n verduideliking nodig was in die teks vir die Nederlandse leser, moes dit só plaasvind dat lesers nie voortdurend gesteur word deur woorde en begrippe wat hulle nie ken nie. Soms was die konteks sprekend – hy kon nie voortdurend met voetnote werk nie. Maar soms moes hy dit wel doen ten einde lesers nie te vervreem van die verhaal nie, soos by ’n verwysing na die Modimolle-monster se moordparty.
Wat Winterbach opgeval het van Dorsman se vertaling, is hoe idiomaties dit is en hoe dit gesteld is met Nederlands teenoor hedendaagse Afrikaans. Nederlands is ’n ander taal met heeltemal ander ritmes, en dit kom vir haar voor of dit fyner en hegter as die Afrikaanse teks is. Sy vind dit pragtig.
Tale en leefwêrelde
Van der Waal het gesê dat daar verskeie interessante verskuiwings van die Afrikaans na die Nederlandse teks is en wat ’n mens kan aangee vir hoe die wêreld van Afrikaans en Nederlands deur taal anders beleef en bekyk word. ’n Voorbeeld van die verskille tussen twee leefwêrelde kom ook na vore in byvoorbeeld hoe honde hanteer word. In Suid-Afrika word honde geassosieer met beskerming, maar in Nederland laat jy ’n hond uitgaan gewoon dat hy sy bene kan strek.
Sy wou by Dorsman weet of daar nog meer van hierdie soort plekke of momente is waarvan hy dink hier is ruimte vir hom as vertaler om ’n soort kulturele verskuiwing te kan of moet aanbring.
Hy is daarop gesteld dat hy sy keuses deurentyd kan verantwoord, het hy gesê, en daarom gaan hy konteksgevoelig te werk. Op grond daarvan kies hy dus die juiste woord vir die vertaling. So byvoorbeeld het hy in ‘n beskrywing van graffiti by ’n skool eerder as “scrotum” vir “ballen” gekies, maar gevoel die woord “penis” kan net so gelaat word.
Winterbach het gesê sy wonder of ’n Nederlandse leser sal besef hoe uitgestrek die wingerde is waaroor sy dit in die roman het, en Van der Waal had dit oor die “rafelrigheid” van hierdie gebiede. “Daar's ’n skool voordat die wingerd begin; jy kan van die skoolterrein oorloop in die wingerd in, klink dit vir my, en daar is mense wat daar soort van woon. Die idee al van so illegaal woon, is in Nederland al op sig ’n erg onthutsende en bevreemdende idee. So die oorgange en die grensmarkerings dink ek werk in Suid-Afrika volstrek anders as in Nederland waar dinge duidelik gemarkeer is.”
Winterbach is dit met haar eens. “Presies. Ek dink juis dat daar net verwys word na hierdie mense; nooit word hulle gesien nie. Dit is altyd net tekens wat hulle agterlaat. En dit is totaal uit die sig van die middelklas – ek wou nie gesê het ‘wít’ nie, want dis nie noodwendig ’n wit buurt nie, maar ’n míddelklasbuurt.”
Die bewustheid van lewe buite sig bring sy in verband met die motief van die wurm. As soöloog is Magrieta ’n spesialis op die gebied van dié “nederigste van die ongewerweldes”. In die verhaal kom sy ook ’n walvis teë, ’n dooie, en later sien sy ’n lewende in die see. Albei kennismakings maak ’n indruk soos visioene op die karakter se gemoed.
Winterbach ag die kontras tussen Magrieta se navorsing oor die erdwurm ondergronds en die walvis op ’n manier bogronds “ironies maar ook ’n bietjie lagwekkend”.
Op ’n vraag uit die aanlyn gehoor oor hoe sy by die tema van die walvis gekom het en hoe sy die breëre betekenis daarvan vir die boek in sy geheel sien, het Winterbach gesê dit is “altyd moeilik om te weet waar ’n boek begin, wat die aanvanklike impulse is”.
“Ek weet net dat ek natuurlik ’n enorme belangstelling vir walvisse het. En waarom ek dan op die ou einde gekies het vir die walvis, dit weet ek eintlik nie meer nie. Ek wil nie eintlik my eie werk interpreteer nie, maar die walvis is, nes die wurm, iets so ánders.
“En wanneer die walvis verskyn uit die water uit, is dit amper vir Magrieta soos ’n mistieke ervaring, só ’n konfrontasie is dit met die Ander. Ek dink dat die Ander in verskeie manifestasies in die boek voorkom, konfrontasies met die Ander.”
So byvoorbeeld lei die vertroebelde interaksies tussen navorsers wat aan ’n robot-eend gewerk het, tot ’n tragedie.
“Maar wat die oorkoepelende tema is, daaroor wil ek my nie uitlaat nie,” het Winterbach gesê.
Nuwe boeke
Haar jongste roman, Voorouer Pelgrim Berg, het verlede jaar in Mei verskyn en sy werk tans aan ’n nuwe roman. “Ek het gedink ek moet nou heeltemal afwyk van wat ek gewoonlik doen met wetenskappers, skrywers en kunstenaars. Die hoofkarakter in my nuwe roman is ’n haarkapper,” het sy gesê.
Dorsman het op sy beurt laat blyk dat hy tans afrond aan die vertaling van ’n werk van die Engelse fotograaf, televisieaanbieder en skrywer Johnny Pitts. Pitts het op reis gegaan deur Europese stede en by verskeie swart gemeenskappe aangedoen. “Dit lewer ’n skitterende boek op met verhale van mense van kleur in grote stede in Europa, onder meer Moskou, Amsterdam, Lissabon, Rome, Stockholm en Berlyn. Skitterende boek. Die oorspronklike titel was Afropean; die Nederlandse titel is Afropeaan.”
Lees ook:
Lees meer oor ander Boeken uit het Huis-gesprekke:
Boeken uit het Huis: Joubert en McLeod gesels oor geskiedenis en verhale
Vertaling en dinamiek tussen ’n Afrikaanse en Engelse debuutroman
Eybers-keur wys veral haar Amsterdamse gedigte het blywende seggingskrag
Boeken uit het Huis: Marita van der Vyver aan die woord oor haar jeugmemoires
Veelsydige Deon Meyer stel nuwe Bennie-en-Vaughn-boek in vooruitsig
Buro: MvH