Vier maande nadat die NG Kerk besluit het gays mag trou, is daar nog steeds nie die nodige reëlings met die departement van binnelandse sake getref dat NG predikante mense van dieselfde geslag mag trou nie.
Die NG Kerk se algemene sinode het na ’n wipplankryery wat uiteindelik in die hof geëindig het, verlede jaar Oktober vir ’n tweede keer besluit gemeentes wat wil, mag gay paartjies in die kerk trou. Hulle mag dit net nie ’n huwelik noem nie.
Drie van die twaalf lidmate wat die NG Kerk hof toe geneem het wou die afgelope week groter duidelikheid by die kerk se leiers verkry oor die pad vorentoe.
Die groep, bestaande uit Laurie Gaum, Hennie Pienaar en Chris Jones sê in ’n verklaring hulle het die gesprek met die NG Kerk se leiers gevoer omdat daar ’n behoefte bestaan aan ’n gestruktureerde proses van herstellende geregtigheid vanaf die kerk se kant teenoor die gay gemeenskap.
Pienaar het voor die gesprek op Facebook geskryf: “Ons gaan met die leiers gesels oor die volgende stap, naamlik verdere heling en regstelling. Verskoning vra is nie genoeg nie. Nou moet die daad by die woord gevoeg word. Soos die Bybel leer.”
Die NG Kerk se algemene sekretaris, Gustav Claassen, het na afloop van die gesprek aan Netwerk24 gesê dit was ’n “verkennende” gesprek en daar sal tydens volgende maand se vergadering van die algemene sinodale moderamen (ASM) geleentheid geskep word om oor “die beste uitvoering” van die besluite van 2019 te besin.
..........
“Die NG Kerk se algemene sinode het na ’n wipplankryery wat uiteindelik in die hof geëindig het, verlede jaar Oktober vir ’n tweede keer besluit gemeentes wat wil, mag gay paartjies in die kerk trou. Hulle mag dit net nie ’n huwelik noem nie.”
..........
Daar heers steeds verwarring by baie lidmate oor verskeie aspekte van 2019 se besluit. Aan die een kant is daar besluit gemeentes wat wil, mag gay paartjies trou. Die besluit sê egter ook ’n huwelik is slegs ’n verbintenis tussen een man en een vrou en die kerk erken nie burgerlike verbintenisse as ’n alternatief vir die huwelik nie. Volgens die NG Kerk mag seks ook net binne die huwelik plaasvind – dus net tussen een man en een vrou.
Pienaar sê op Facebook die moderatuur het die afgelope week begrip getoon vir die stap tot regstellende geregtigheid. “Ons gaan hulle verantwoordelik hou. The proof will be in the poeding,” het hy gesê. Dit is egter nie duidelik wat die aard van die regstellende aksie is wat verlang word nie.
Al wat Claassen vir Netwerk24 gesê het, is dat dit “’n goeie verkennende gesprek oor moontlike opsies vir die pad vorentoe” is in die lig van die besluit wat in 2019 geneem is.
Die geveg oor homoseksualiteit in die NG Kerk is egter nog lank nie verby nie. Verskeie streeksinode vind vanjaar plaas en die verwagting is dat meer as een van daardie sinodes hulle gaan uitspreek teen die algemene sinode se besluit van 2019.
Die vraag is hoe die kerk dit gaan hanteer wanneer streeksinodes besluite neem wat reëlreg verskil van die algemene sinode se besluit en by watter besluit gemeentes hulle gaan neerlê.
Die NG Kerk se grootste gemeente, naamlik Moreletapark in Pretoria, hou later die maand ’n spesiale beraad om beswaar te maak teen die “liberale” teologie in die NG Kerk. Die beraad word gehou in reaksie op van die besluite wat by 2019 se algemene sinode van die NG Kerk geneem is.
Moreletapark Gemeente het laat verlede jaar aangekondig dat hulle die beraad gaan hou. Hulle groot bekommernis is glo Skrifgesag ten opsigte van die NG Kerk se standpunt oor selfdegeslagverhoudings.
Pieter Breytenbach, die gemeentebestuurder, het verlede jaar aan Kerkbode gesê navrae van so ver as die Wes-Kaap en Namibië is reeds ontvang vir die “spesiale beraad” wat op 25 en 26 Februarie by die Moreletapark Gemeente in Pretoria sal plaasvind.
Volgens Breytenbach ontvang die makrogemeente “ongelooflik baie” navrae en belangstelling in die saamtrek wat deur hierdie “Evangelies behoudende gemeente” gereël word in reaksie op van die besluite wat by 2019 se Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is.
Lees ook
Binnegevegte en verwarring oor NG Kerk se besluit rondom gay’s neem toe
Buro: MvH