
Raar wyne verdien goeie verpakking.
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is voortdurend aan’t vernuwe, planne beraam en nuwe kultivars beproef. Die stories wat op plase tussen gewels, wingerdrye en ou verouderingsvate ronddartel, is eie aan die land en sy mense. Maar elke nou en dan is daar ’n wynplaas wat met ’n unieke projek vorendag kom en soos die keldermeester van Kleine Zalze buite Stellenbosch tereg opmerk: “Jy kan nie die toekoms bepaal, sonder om te weet waar jy vandaan kom nie.”
Die Kleine Zalze Project Z-reeks vervat hierdie waarheid: Jonger wynmakers gebruik uitgesoekte wingerdblokke wat dikwels twee of drie maal hul seniors is en maak moderne wyne wat hulde bring aan ouer wingerde, wat deel vorm van die Old Vine Project (OVP). Die OVP is ’n trots Suid-Afrikaanse projek wat wingerde ouer as 35 jaar aanteken, en lede gebruik ’n unieke seël op hul wyne om die rariteit van ouer wingerde te vier.

Van die druiwe kom uit die gesertifiseerde Old Vine Project- (OVP-) wingerde en almal is met was geseël vir ’n duursame voorkoms en goeie verouderingspotensiaal.
Project Z se idee: Gee die wynmakers vryheid om met die natuur te werk – nie om dit te oorheers met oormatige ingryping nie, maar om na die terroir te luister; om uitsonderlike kwaliteit uit unieke persele te ontgin; en om die kuns van wynmaak en die natuur in balans te bring.

Die nuwe vrystellings spog elkeen met die mooiste kunswerke deur die wynmakers en wingerdboukundige.
Die wynetikette is ook uniek: Die wynmakers het ’n linosnee van ’n beeld onder leiding van die bekende kunstenaar Theo Paul Vorster geskep om die etikette te vorm. Elkeen het hul eie etiket ontwerp wat deur hul eie persoonlike ervaring van die wingerd en wynmaakproses geïnspireer is.
Die eksperimentele projek is in 2020 van stapel gestuur as ’n ruimte waar die wynmakers hul kreatiwiteit en wynkundige avontuurlus ten volle kan ontgin.

Die linosnee waarvan die etikette vir die Chenin Blanc 2023 gedruk is.
En nou skaars vyf jaar later skryf die bekende wynbeoordelaar, -skrywer en -konsultant, Michael Fridjhon, op 22 September op X: “Not many purchases justify a trip to the cellar door, but Kleine Zalze Project Z does. Originality alone is never enough; consumers crave something distinctive, yet not too far from the familiar.”
Die jongste vrystelling van die Project Z-reeks bestaan uit vyf wyne en is met ’n middagete en wynproe op die plaas bekend gestel. Die wyne is ’n Chenin Blanc 2023, Heritage White Blend 2023, Grenache Blanc 2024, Grenache Noir 2023 en Stellenbosch Syrah 2023.

Heel agter is Nataleé Botha en voor van links is Liezl Augustyn, Hanri Ferreira, Carla van Wyk, RJ Botha en Henning Retief.
Elkeen van die wynmakers en wingerdboukundige betrokke, Liezl Augustyn, Nataleé Botha, Carla van Wyk, Hanri Ferreira en Henning Retief, kon meer oor hul reis, die wyn én etiket vertel.
Hanri het vertel: “Twee geregistreerde Old Vine Heritage-wingerde uit twee verskillende Kaapse streke is gebruik vir die uitdrukkingsvolle Chenin Blanc 2023. Druiwe van Stellenbosch en Durbanville is in ’n kombinasie van klei-amforas en betoneiers gegis en verouder, ná oornagse dopkontak. Die wyn toon delikate aromas van wit blomme en lemmetjieskil, met ’n geurspektrum wat sitrus, kweper en fynbos uitstraal, alles verweef in ’n sluier van kompleksiteit.
“Vir die etiket het ek die Griekse godin, Iris, gebruik vir die mitologiese simbool van dualiteit – ’n eienskap van hierdie wyn. Nie alleen kom die druiwe uit twee wingerde nie, maar dis ook in twee verskillende maniere verouder. Die skulppatroon agter die irisse toon op die nabyheid aan die see en ook die wyn se mineraalagtigheid, wat as oesterskulp beskryf word.”

Hanri met haar iris-kunswerk.
Carla het meer vertel oor die Heritage White Blend 2023. “Dis ’n wyn wat kreatiwiteit met Kaapse wynerfenis kombineer. Hierdie versnit bring drie variëteite uit twee wynstreke saam: Palomino (70%) van Piekenierskloof anker die versnit, met Chenin Blanc (20%) en Alvarinho (10%) uit Stellenbosch. Verskeie komponente het dopkontak ondergaan en is in ou eikevate en klei-amforas gegis en verouder.
“Vir my etiket het ek drie oorvleuelende sirkels gebruik om die drie komponente van die versnit te illustreer. Die sentrale vrugkern word deur ’n perskepit voorgestel, met die klei-amfora wat die gisting en veroudering definieer. Die doel van my etiket is om visueel die storie van balans, oorsprong en vakmanskap te illustreer.”

Carla met haar perskepit-kunswerk
Henning het vertel van die Grenache Blanc 2024. “Druiwe van Piekenierskloof (80%) en Darling (20%) dans saam in hierdie interessante witwyn met lae van witvrug en ’n minerale ruggraat. Nege maande se veroudering in ou 300 liter en 400 liter vate skep ’n wyn met geure van sitrus, droë gras en kweper, afgerond deur ’n vars, maritieme soutigheid.
“My etiket beeld die sandsteen-klipformasies van die Piekenierskloof uit en eer die wingerde en rooibos wat dit omsoom. Sommige dae word druiwe met ’n paar takkies tussenin by die kelder afgelewer, wat die harmonie tussen die wingerde en hul natuurlike omgewing bevestig.”
Liezl het die etiket vir die Grenache Noir 2023 gemaak en vertel dis ’n volronde rooiwyn waar grasie en presisie met donkervrug-intensiteit saamvloei. Druiwe van Piekenierskloof (80%) en Darling (20%) is met veroudering in ’n kombinasie van klei-amforas en ou eikevate gebruik. Die wyn betower met ’n digte blomparfuum en geure van rooi korente, pruim en ryp vye, met ’n subtiele tikkie spesery en fynbos op die nasmaak.

Bo en onder: Liezl het die etiket vir die Grenache Noir 2023 gemaak en sê Grenache Noir word dikwels ’n verkleurmannetjie genoem.
“Die etiket span ’n verkleurmannetjie in, omdat Grenache Noir dikwels ’n verkleurmannetjie genoem word, omdat dit sulke uiteenlopende style kan lewer. Die druiwe kom ook uit Piekenierskloof, waar die dwergverkleurmannetjie ook voorkom en die buiteraam verteenwoordig die fynbos van die area.”
Nataleé het meer oor die Stellenbosch Syrah 2023 vertel: “Die wyn is ’n klassieke voorbeeld van koelklimaat-Syrah uit twee wingerde op die rand van die Atlantiese Oseaan by Valsbaai. ’n Gedeelte van die heel trosse is saam gegis om helder varsheid te beklemtoon, terwyl veroudering in klei-amforas en gebruikte 300 liter vate die wyn ’n gelaagde kompleksiteit gee. Die wyn is elegant en gebalanseerd, met donkervrug-, sederhout- en speserygeure wat deur sagte tannien gedra word.

Die heerlike Syrah waarvan net 684 bottels gemaak is.
“My etiket van ’n bootjie wat in Valsbaai seil en sagkens totsiens wuif, omdat dit die laaste keer is wat ons hierdie wingerd kon oes. Die hande wat die toneel omvou, versinnebeeld ons dankbaarheid oor wat hierdie ongelooflike wingerd ons geleer het en hoe dit Kleine Zalze se herverbeelding van Syrah gevorm het.”
.......
Hoewel Project Z bekend is vir sy vooruitstrewende benadering, is die projek ook op tradisie geskoei. Deur klei-amforas te gebruik om wyn te fermenteer en te verouder – ’n praktyk wat deur die antieke Grieke en Romeine gebruik is – word ’n ekstra dimensie aan die wyne verleen.
.......
Hoewel Project Z bekend is vir sy vooruitstrewende benadering, is die projek ook op tradisie geskoei. Deur klei-amforas te gebruik om wyn te fermenteer en te verouder – ’n praktyk wat deur die antieke Grieke en Romeine gebruik is – word ’n ekstra dimensie aan die wyne verleen.
RJ sê: “Kleine Zalze het een van die grootste versamelings 500 liter amforas in die Kaapse wynbedryf en is ’n pionier van hierdie metode. Ons amforas word uit Italië ingevoer as deel van ’n moderne tendens om die unieke vermoë van klei te benut. In die huidige Project Z-reeks kombineer ons fermentasie en veroudering in klei-amforas, betoneiers en gebruikte eikevate, alles in die soeke na kompleksiteit, tekstuur en die onmiskenbare Z-faktor wat hierdie wyne uniek maak,” sê hy.

Sjef Nic van Wyk en Carina Gous
Die nuwe reeks sluit vyf wyne in: vier uit die 2023-oesjaar en een van 2024. Dit is Chenin Blanc, Grenache Blanc, Stellenbosch Syrah, Grenache Noir en ’n Heritage White Blend van Chenin Blanc, Palomino en Alvarinho. RJ Botha, wynmaker by Kleine Zalze, beskryf Project Z as ’n platform waar hy en sy kelderspan hul verbeelding op ’n ontdekkingsreis kan stuur. Hulle begin met die identifisering van wingerde met uitsonderlike geografiese eienskappe en volg dit met innovasie in die kelder. Die druiwe vir die nuutste reeks kom uit Stellenbosch, Durbanville en die Piekenierskloof naby Citrusdal, elk met unieke terroirkenmerke wat die wyne hul karakter gee.

As jy van tradisie en vernuwing praat, moet jou peuselhappies daarby aanpas. Lekker vetkoekies is net die pasmaat vir die Chenin Blanc.

Sjef Nic se innovasie in die kombuis ewenaar die wynmaakspan se talente in die kelder.
Oor ’n glas Syrah – waarvan net 684 bottels geproduseer is – net voor hoofgereg deur sjef Nic van Wyk en sy span, gesels ek met Carina Gous, hoofbestuurder van Kleine Zalze. Sy vertel: “Die reeks het sedert sy ontstaan ’n lojale aanhang opgebou. Nie net vir die uitsonderlike kwaliteit en duidelike terroiruitdrukking nie, maar ook omdat die beperkte volumes en unieke etikette die kreatiewe gees van ons span weerspieël,” sê sy.

Steak en chips is presies waarvoor die Syrah gevra het!
Sy sê Project Z vul die Family Reserve- en Vineyard Selection-reeks op ’n natuurlike manier aan, en sommige tegnieke wat vir Project Z ontwikkel is, word selfs in die kernwyne geïntegreer – ’n bewys van die projek se langtermyn waarde vir die handelsmerk.
Ons geniet ’n glas van die Sweet Fortified NV voor ons moet huiswaarts keer, maar almal is traag om te gaan. Mens voel deel van iets groters as net wynmaak.
Met Project Z bewys die Kleine Zalze-span dat wynmaak nie net ’n wetenskap is nie, maar ook ’n ruimte bied vir avontuur, eksperimentele gees en kreatiewe vryheid. Daar is beperkte hoeveelhede van elke wyn beskikbaar. Die wyne is terroir-gedrewe en ’n perfekte voorbeeld van gevoel van plek.
Vir die wynliefhebber wat verder wil kyk as die alledaagse, is Project Z ’n uitnodiging om die onbekende hoekies van die Kaapse wynlande in ’n glas vol karakter, konteks en kreatiwiteit te ervaar.
Die etikette

Heritage White Blend 2023

Grenache Noir 2023

Grenache Blanc 2024

Sweet Fortified NV

Cheninc Blanc 2023
- Kleine Zalze is deel van Stellenbosch Wynroetes wat 55 jaar as Suid-Afrika se eerste en oudste wynroete vier. Meer inligting oor die bedrywighede van al die lede, besoek wineroute.co.za.
Lees ook:
Various milestones celebrated at Stellenbosch’s Meerlust Wine Estate
Nuwe baadjie vir Spier Hotel, maar dieselfde goeie beginsels
Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte

