Graaff-Reinet, die juweel van die Karoo

  • 0

Graaff-Reinet, ’n dorp in die Oos-Kaap, is bekend as die juweel van die Karoo. Dit het ’n ryk geskiedenis en talle lieflike, historiese geboue.

Vir my is dit ook die dorp waar Elise Bishop, Etienne van Heerden, Maya Fowler, Anton Rupert, GT Ferreira, Robert Sobukwe en Matthew Goniwe vandaan kom.

Dit was einste Fowler wat my daarheen gelok het. Sy woon in Kanada, maar was onlangs in die land en ek het gaan kuier. Saam het ons deur die dorp geloop, ’n plek wat aan my bekend voorgekom het weens Elise Bishop se vertellings op LitNet, maar ’n plek wat Fowler intiem ken, want sy het daar grootgeword. Dit was heerlik om die dorp deur haar se oë te sien.

Graaff-Reinet is die oudste dorp in die Oos-Kaap en een van die oudstes in Suid-Afrika. Dit is in 1786 gestig deur die goewerneur Cornelis Jacob van de Graaff, wie se vrou se naam Cornelia Reinet was.

Die Reinet-huis, wat ook na Cornelia Reinet vernoem is, was oorspronklik ’n pastorie. Vandag is dit ’n museum. Dit is maar een van die talle historiese geboue in die dorp.

Die Laer Volkskool is in 1922 gestig as die eerste Afrikaansmediumskool in die ou Kaapprovinsie.

Ek het iewers gelees dat daar meer as 200 geregistreerde historiese gedenkwaardighede op die dorp is. Baie van hulle staan vandag steeds weens geld wat Anton Rupert geskenk het om die dorp te bewaar.

Vir ’n toeris is daar heelwat om te sien en te doen. Om rond te loop saam met iemand wat die dorp en omgewing se stories ken, is pret. Fowler was ’n puik toergids.

Fowler ken ook haar literatuur, so sy sou soms laat val: “Dis die huis waar die hoofkarakter van Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam grootgeword het.” Of sy sal sê: “My volgende boek speel in dié huis af.”

Haar pa was ’n apteker en het vir lank uit hierdie gebou gewerk.

Sy het vir my die huis gaan wys waarin sy grootgeword het – die gesin bly nie meer daar nie.

Onder, nader aan die spoorlyn, is die huise kleiner, en handgemaakte bordjies laat jou glimlag. Die een lees: Moenie worry nie. Hond byt nie. Hy bliksem jou sommer. Ek het nogal moeite gehad om gemelde hond saam met die bordjie af te neem.

Die sentrum van die dorp is die massiewe ou NG Kerk waarvan die ontwerp geskoei is op Canterbury se katedraal. Tans is dit die enigste NG Kerk in die dorp, maar vir dekades lank was daar ’n tweede NG Kerk, slegs ’n paar straatblokke verder.

Die gemeente wat hier kerk gaan, is reeds in 1792 gestig, maar in 1927 skeur dit en vir dekades lank het lidmate van die een nie sommer voete in die ander gesit nie. Daar was selfs twee begraafplase en in die vroeë jare klaarblyklik selfs twee tennisklubs, as gevolg van die skeuring! Die twee NG-gemeentes het in die volksmond bekend gestaan as die Ou Kerk en die Nuwe Kerk. Elise Bishop skryf gereeld daaroor op LitNet.

Dit het 91 jaar geneem vir die strydende partye om weer onder een dak hul geloof te kon beoefen. Eers in 2018 het die Nuwe Kerk weer teruggetrek na die Ou Kerk.

Vandag behoort die gebou van die Nuwe Kerk aan ’n Engelse evangeliese gemeente.

Twis, oorlog en stryd is nie onbekend aan hierdie dorp nie. Reeds by die stigting daarvan is baie bloed vergiet.

Die trekboere wat in die 1700’s hierheen getrek het, sou gou deeglike opposisie van die Khoi en die swart stamme gekry het wat eerste hier was. Sommige historici beweer dat soveel as 3000 lede van die Khoi gedood is gedurende die eerste paar dekades van wit okkupasie.

In die laat-1700’s het die einste plaaslike wit inwoners hulle behoorlik gewip vir die regering in die Kaap, soveel so dat ’n eie republiek uitgeroep is.

Die sogenaamde republiek het uiteindelik ophou bestaan, maar die stryd was nie verby nie.

Tussen 1834 en 1837 het talle prominente boere hulle ossewaens gepak en noord getrek. Sarel Cilliers, Gerrit Maritz en Andries Pretorius het almal eers in die Graaff-Reinet-distrik geboer voor hulle leiers van die Groot Trek geword het.

Aan die einde van die 1800’s was Graaff-Reinet weer ’n brandpunt toe die Engelse magte die twee noordelike republieke ingeval het. Baie Kaapse burgers het hulle geskaar by die onafhanklike republieke, terwyl ander die Kaapse regering gesteun het.

Graaff-Reinet was ook ’n setel waar Kaapse rebelle verhoor is. In 1901 is talle van hulle hier ter dood veroordeel en heelwat is hier tereggestel.

’n Gedenkteken vir die gestorwenes staan steeds in die dorp.

Dit sou verkeerd wees om bloot die geskiedenis aan Graaff-Reinet te heg. Daar is veel meer.

Die dorp is ook die tuiste van een van die grootste kaktuskwekerye ter wêreld.

Die Obesa-kwekery is bekend vir die enorme versameling van kaktusse en vetplante van regoor die planeet. Die kwekery is enorm en gewild, maar die eienaar skyn ook ’n interessante mens te wees. Hy besluit wanneer die publiek welkom is of nie.

Al is die eienaar nie altyd lus vir mense nie, het hy gesorg dat daar verskeie groot kaktusse buite die kwekery te sien is. Daar is honderde plante wat op openbare plekke staan. Hulle kan enige tyd gratis besoek word.

Die Vallei van Verlatenheid is ’n geologiese wonder wat in die Kamdeboo Nasionale Park geleë is. Dit bestaan uit ’n smal vallei, omring deur sandsteenformasies.

Die vallei is oor miljoene jare gevorm weens sandsteen wat weg gekalwe is deur die erosie van wind en water. Als is deel van ’n klein bergreeks en staan langs ’n tipiese Karoo-koppie.

Van bo af is daar ’n lieflike uitsig oor die dorp en omliggende landskap. Die ou deel van die dorp lê aan die voet van die Sneeuberg in ’n hoefyster wat deur Sondagsrivier gevorm word. Die dorp word omring deur die Kamdeboo Nasionale Park.

Die park is nie so bekend soos die Kruger Nasionale Park nie, maar dit is iets om te besoek.

Om daar te kom, ry ’n mens verby die Nqweba-dam en die dorp se karavaanpark. Kort ná die park kry ’n mens die toegangshek. Ingang is nie duur nie.

Van hier ry ’n mens teen ’n smal pas uit om tot bo-op die rantjie te kom.

Daar is verskeie veilige plekke om te stop met netjiese paadjies om op te stap. Bordjies langs die pad vertel ook een na die ander oor die plantegroei wat ’n mens hier teenkom.

Dit is die moeite en tyd werd om rustig genoeg te wees om die plante en die klein diertjies van die streek raak te sien.

Die Karoo is lieflik en die diversiteit verbysterend as ’n mens begin oplet.

Die toktokkie was nie baie lus vir stilsit nie.

Maar hierdie koggelmander het my toegelaat om die foto met ’n 45mm-lens te neem.

’n Mens kan van bo afkyk in die Vallei van Verlatenheid, of jy kan ’n staptog onderneem onder deur die vallei om die talle interessante rotsformasies te verken.

Daar is baie opsies vir verblyf in Graaff-Reinet, insluitend hotelle, gastehuise, bed-en-ontbyte en selfsorgopsies. Die bekendste van almal is waarskynlik die Drostdy Hotel.

Daar is ook verskeie eetplekke op die dorp.

Die plaaslike Spar is goed ingerig en jy sal die meeste van jou inkopies daar kan doen.

Laastens sou ’n mens iets kon sê oor Montego Pet Nutrition, ’n maatskappy wat in 2000 deur Hannes van Jaarsveld begin is as ’n werkskeppingsprojek. Vandag produseer hulle meer as 300 ton kos per dag en voer internasionaal uit. Meer nog, hulle verskaf werk vir talle mense in die hartjie van die Karoo.

Graaff-Reinet was eens ’n belangrike dorp op die transportroetes, maar vandag nie meer nie. Tog is dit maklik om daar te kom.

’n Reisiger wat van die Kaap af Gauteng toe ry, kan byvoorbeeld by Beaufort-Wes van die N1 afklim, oor Aberdeen ry en in Graaff-Reinet oornag. Die volgende dag kan ’n mens via Middelburg en Noupoort weer by die N1 aansluit. Iemand wat uit Gauteng ry, doen dit gewoon anders om.

Van George af volg ’n mens gewoon die N9, en uit Gqeberha ry ’n mens ’n ruk op die N10 voor jy by Somerset-Oos afdraai na Graaff-Reinet.

Hoewel Graaff-Reinet op sigself mooi is, sou ’n mens ook moeite kon doen om van hier na Nieu-Bethesda te ry om die Uilhuis te besoek. Van daar is Cradock met die Tuishuise & Victoria Manor ’n lieflike oorslaapplek. Die volgende dag kan ’n gesin die Nasionale Bergkwaggapark besoek.

Die Karoo bied baie teen uiters bekostigbare pryse.

Lees ook:

Cradock, ’n klein oase om te ervaar

Springbokkleure in gevegskuns

Op die spoor van ’n wetenskaplike monnik

Die Natalse Middelland is ’n fees

Groot Vyf nie al wat jou asem hier sal wegslaan nie (Mhondoro Safari Lodge & Villa, Limpopo)

Veel meer as net windpompe in dié kontrei

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top