
Jan Boland Coetzee, patriarg van Vriesenhof
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Met Internasionale Chardonnay-dag wat op 22 Mei gevier is, was dit heel gepas dat mens hulde bring aan die pioniers wat hierdie druifsoort na Suid-Afrika gebring het en boonop wêreldklasstatus gegee het. Chardonnay is die tweede grootste witdruifaanplantings ter wêreld.
By die onlangse viering van die nuutgestigte Chardonnay-vereniging van Suid-Afrika wat by Jordan-wynlandgoed buite Stellenbosch gehou is, het die gasspreker, die gevierde wynbeoordelaar en kommentator, Michael Fridjhon, gesê mens kan eintlik nie glo dat Chardonnay teen die sestigerjare amper nie noemenswaardige hektaar regoor die wêreld beslaan het nie, maar ook omdat die variëteit – hoewel een van die kerns van sjampanje – baie onbekend was.
Die prentjie het in 1976 verander met die Judgment of Paris blinde-wynproe in Frankryk en skielik het Chardonnay in die internasionale kollig gestaan. By dié blindeproe het Kaliforniese Chardonnay stof geskop in hul Franse eweknieë en die impak op die wynwêreld was ingrypend.
Daar is selfs ’n fliek oor dié gebeurtenis gemaak: Bottle shock (2008).
Teen 1990 het Chardonnay slegs 1,66% van alle wingerde in Suid-Afrika beslaan. Chardonnay beslaan vandag 13,69% van Suid-Afrikaanse witwyne, waarvan 9,67 miljoen liter gebottelde en 14,3 miljoen bulk wyn van Januarie 2024 tot Desember 2024 uitgevoer is.
Daar is altesaam 6 540 hektaar Chardonnay wingerde in die land met die meeste aanplantings in Robertson (1 718), Paarl (1 192), Stellenbosch (949) en Breedekloof (753). Swartland het 682 hektaar.
........
Die Suid-Afrikaanse sukses van hierdie variëteit is aan verskeie mense se harde werk toe te skryf, maar twee pioniers wat kop en skouer uitstaan, is Jan Boland Coetzee van Vriesenhof en Danie de Wet van De Wetshof.
........
Dis ook die hart van Suid-Afrika se florerende Cap Classique-vonkelwyn, wat in die tradisionele Franse sjampanjestyl gemaak word.
Die Suid-Afrikaanse sukses van hierdie variëteit is aan verskeie mense se harde werk toe te skryf, maar twee pioniers wat kop en skouer uitstaan, is Jan Boland Coetzee van Vriesenhof en Danie de Wet van De Wetshof.

Die mure is oortrek van geskiedenis – nie net van Jan en sy rugbyloopbaan nie, maar ander belangrike gebeure van die afgelope paar dekades.
By die jaarlikse SA Wynoes-herdenkingsgeleentheid op 2 Februarie ontvang Danie die 1659 Medalje van Eer en in 2020 kry Jan dit. Die medalje word aan ’n individu toegeken vir sy uitstaande bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Albei is nou afgetree en die plaas is in ’n volgende geslag se hande, maar hul nalatenskap is lank nie vergete nie.
Vriesenhof is lid van die Stellenbosch Wynroetes en De Wetshof lid van die Robertson Wynvallei.
Dis in die nuwe restaurant in die ou plaashuis op Vriesenhof buite Stellenbosch, Die Stoep, wat die storie van Suid-Afrikaanse Chardonnay op twee interessante maniere uitgebeeld word.
Die eerste is in een van die ou plaashuis se nuutgemaakte restaurantkamers: ’n keramiek-muurkunswerk deur Jan Boland se seun, Hendrik.

Bo en onder: Die keramiek-muurkunswerk deur Jan Boland se seun, Hendrik, wat in die Vriesenhof opstal, nou Die Stoep-restaurant, pryk.
Hendrik is die afgelope paar jaar deel van die span by Ceramic Matters, wat internasionale roem met hul ontwerpe en produkte verwerf het. Ceramic Matters het ook verskeie produkte vir die luukse handelsmerk, The Conran Shop, gemaak.
Hendrik het sy Beeldende Kunste-graad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en vir ’n aantal jaar in Nederland gewerk, voor hy by Ceramic Matters aangesluit het.
Die algehele ontwerp is geïnspireer deur en verwys na klassieke botaniese illustrasies en kartografie. Die elemente waaruit die ontwerp bestaan, is spesifiek vir die ligging van die plaas en die erfenis van Jan Boland Coetzee en sy gesin gekies.
Die kreef wat daarin voorkom – ’n ikoniese simbool van die Weskus-streek – bring hulde aan die plek waar Jan Boland Coetzee grootgeword het. Die akkers en eikeblare is om Stellenbosch, ook die Eikestad genoem, te eer.
Daar is ook uile om die roofvoëls wat op die plaas neste het, te huldig en al die insekte wat help om wingerde suksesvol te groei, kry ook ’n ereplek.

Klink op Internasionale Chardonnay-dag ’n glasie!
Maar dan word dinge interessant. Die druiwetros en blare is die Chardonnay-variëteit. Hendrik se uiteensetting van die ontwerp verduidelik: “Jan het Chardonnay in die vroeë 1980’s van Frankryk ingesmokkel. Die naam ‘Chardonnay’ het vermoedelik ontstaan uit ’n klein dorpie in die Mâconnais-streek van Boergondië, ook genoem Chardonnay. Hierdie oulike dorpie se naam, op sy beurt, word vermoedelik afgelei van die Latynse frase ‘Cardonnacum’, wat ‘’n plek vol distels’ beteken. Distels was algemeen in die streek se landskap, en die term ‘Cardonnacum’ het die gebied gepas beskryf. Namate wingerde in en om die dorp gefloreer het, het die druifsoort wat daar verbou word, begin geassosieer word met sy plek van oorsprong, wat gelei het tot die aanneming van die naam ‘Chardonnay’.”
Eerste keer wat die smokkelry so oop en bloot genoem word.
........
Teen die muur was ’n plakkaat van Die Burger met die punte effe gekrul en vergeel: “Jan Boland het druif gesmokkel.”
........
Die tweede is ’n aangrensende vertrek waar die hele verhaal van Jan Boland en Chardonnay met foto’s en geskrifte geboekstaaf word. Dis asof ek sy stem in my ore kan hoor en hoe hy self hierdie storie vertel.
Dit neem my terug na ’n besoek aan Jan Boland, toe hy nog in die plaashuis gewoon het. Hy het by die kombuistafel agter ’n stapel fotoalbums gesit en foto’s gewys van sy jong wynmaakdae.

Jan Boland Coetzee
Teen die muur was ’n plakkaat van Die Burger met die punte effe gekrul en vergeel: “Jan Boland het druif gesmokkel.” Ek het uitgevra, hy het gelag en gesê ons kom later daarby. Eers koffie.
Maar kom ons begin by die begin: Johannes Hermanus Hugo Coetzee – in die volksmond Jan Boland weens die feit dat hy net een baadjie, die Boland-skolerugby-baadjie as Matie regdeur sy studies gedra het – het as wynmaker kwalifiseer en hom in 1968 by Kanonkop aangesluit, waar hy in 1973 die eerste Kanonkop-wyn gemaak het. Hy is een van slegs vier wynmakers in dié glorieryke plaas se geskiedenis en was boonop die eerste. Ná hom was Beyers Truter (die bekende Pinotage-maker), Abrie Beeslaar en nou Francois van Zyl.

Bo en onder: Uitknipsels uit koerante en ou foto’s vorm alles deel van die atmosfeerryke vertrekke in die restaurant.
Jan Boland het tussen 1966 en 1979 127 keer vir die WP uitgedraf en ses maal vir die Springbokke as linkerflank.
Op 4 Desember 1980 koop hy Vriesenhof en gaan werk vir ’n wyle in Boergondië.
Statistieke van die wynlandskap in die sewentigerjare en vroeë tagtigerjare verklap dat ongeveer 60% van die totale wingerdaanplantings uit Steen, Palomino en Cinsaut bestaan het. Die enigste druifsoort op die lys wat as een van die wynwêreld se edelkultivars beskou kon word, was Cabernet Sauvignon, wat toe maar 2% van die land se wingerde beslaan het.

Die Vriesenhof Chardonnay NV.
Behalwe die gebrek aan Chardonnay en Sauvignon Blanc, was daar ook geen Merlot, Pinot Noir, Shiraz of Cabernet Franc op daardie lys nie. Teen 1980 en 1981 baan drie Kaapse wynplase die weg vir die Kaapse Chardonnay-bedryf: Backsberg, De Wetshof en Simonsig. Hoe klein hul begin was, word gestaaf deur die feit dat daar in 1981 slegs 37,6 hektaar Chardonnay-wingerd tussen hierdie drie plase in die hele land was.
Dit bring ons by Danie de Wet. Draai die horlosie ’n dekade terug. Danie keer in 1971 as jong begeesterde wynmaker terug van die Geisenheim Instituut in Duitsland. Hy besef egter gou die leemte aan Chardonnay en ander edel-witkultivars (die edelvariëteite is die klassieke wyndruifkultivars wat uit die Ouwêreld – Europa en die Mediterreense omgewing – kom).

Danie de Wet, patriarg van De Wetshof-wynlandgoed.
Hy was oorgehaal om edele witdruifsoorte te plant, omdat sy professors hom laat besef het dat De Wetshof, buite Robertson, se grond en klimaat ideaal sal wees vir uithaler-witwyne.
........
Suid-Afrika het egter nie die edelkultivars nie en saam met ’n paar eendersdenkende wynboere kom die besef dat om wêreldklaswyne te maak, nuwe kultivars nodig is. Maar om hierdie visie te verwesenlik, sal landbouwette omseil moet word, want die wynbedryf was uiters streng gereguleer.
........
Suid-Afrika het egter nie die edelkultivars nie en saam met ’n paar eendersdenkende wynboere kom die besef dat om wêreldklaswyne te maak, nuwe kultivars nodig is. Maar om hierdie visie te verwesenlik, sal landbouwette omseil moet word, want die wynbedryf was uiters streng gereguleer.

Vriesenhof se Chardonnays lê saam met die plaas se ander bekroonde wyne in die historiese ou kelder en verouder.
Tydens ’n besoek saam met NC Krone, destyds van Twee Jonge Gezellen, by die wynnavorsingsentrum, Nietvoorbij Instituut op Stellenbosch, sien hulle talle van Europa se druifsoorte in eksperimentele wingerde, waaronder Pinot Gris, Riesling, Chardonnay, Merlot, Sauvignon Blanc en ook spesiale seleksies van bestaande variëteite.
Maar danksy beperkende Departement Landbou-maatreëls, mag wynboere nie hierdie plantmateriaal plant nie. Dit moes eers deur ’n paneel goedgekeur word; die materiaal na die KWV geneem word, wat dit op proefpanele sal uitplant. Sodra die betrokke plante goedgekeur is, kan wynboere dit aankoop en plant.
Dit sou egter ’n wagtyd van tussen 15 en 20 jaar beteken! Dis ’n lang reis wat wag: Twee maal word pogings om die plantmateriaal uit Duitsland in te bring in die wiele gery en toe dinge uiteindelik in hul guns val, kom die volgende struikelblok.
Die kans om Chardonnay uit ’n uitstekende blok in Duitsland te bekom, kom oor sy pad en Danie se dankbaarheid word net geëwenaar deur sy ruimhartigheid. Hy deel Colmar Chardonnay-plantmateriaal uit aan elke wynboer wat vra. Suid-Afrika se aanplantings groei.
Maar natuurlik is dit te goed om waar te wees: Agt jaar later besef hulle dis nie Colmar Chardonnay nie, maar Auxerrois. By nadere ondersoek vind hulle uit dat die persoon wat die materiaal moes sny, glo die verkeerde lote gesny het. Mens sal natuurlik nooit weet of dit per ongeluk was nie ...
Gelukkig het verskeie privaat landgoedere reeds daarin geslaag om privaat – deur Swaziland onder meer – baie goeie Chardonnay-materiaal die land in te smokkel.

Die hele wingerdstokke-smokkelstorie in Jan se eie woorde, op vergeelde, getikte velle, hang ook in die restaurant.
Danie het ook verskeie ander blokke met uitstekende Chardonnay beplant, wat vandag steeds pryswenners oplewer.
Terug by Jan Boland, boesemvriend van Danie, wat daardie jaar vir Joseph Drouhin, een van Boergondië se voorste Chardonnay-produsente, gaan werk het.
Jan vertel dat hy steggies uit die Clos des Mouches-wingerd gesny het en saam met die wynskrywer, Emile Joubert se pa Fritz, ’n joernalis wat Jan in Frankryk besoek het, gestuur het.
“Ek en Fritz is goeie vriende en hy het op die regte tyd by my ‘kom kuier’, sodat die stokkies in hul rusperiode gesny en vervoer kon word.

Daardie plakkaat waaroor Jan Boland eers later in ons gesprek uitgewei het ...
“Drie sulke pogings is uit die wingerde van Clos de Mouches suksesvol uitgevoer: van stokkies wat in Fritz se jaspante ingewerk is tot sjokoladeboksies vol stokkies en kernfisikusse wat gehelp het en my gesin se bagasie en seun se doeksak wat ingespan is, toe ons na ’n jaar in Frankryk teruggekeer het na Suid-Afrika.”
Maar dié Auxerrois-bom bars terselfdertyd in die media. Danksy ’n paar jaloerse amptenare, ywerige joernaliste en manne wat al vir jare maniere gesoek het om die onwettige inbring van plantmateriaal te stop, word ’n amptelike ondersoek, bekend as Die Kommissie van Ondersoek na die Kultivar-egtheid en Onwettige Invoere van Sekere Wingerdvoorplantings-materiaal (in die volksmond bekend as die Klopper Kommissie), geloods. Aan hoof van die kommissie is Christiaan Klopper, afgetrede hoofregter van die Noord-Transvaal.
Vandaar die koerantplakkaat, wat nou trots in Die Stoep naby ’n foto van Jan Boland pryk. Die datum is 21 Januarie 1986 – net ná afloop van die Kloppers Kommissie se bevindinge.

Een van oorlede Fred Mouton van Die Burger se bekende spotprente hang ook in die restaurant.
Danie speel oop kaarte met die Kommissie en verduidelik dat alles wat hy en sy meedoeners, waaronder Sydney Back, John Platter, Frans Malan, Jan Boland Coetzee, Achim von Arnim, Nicky Krone en Peter Finlayson, gedoen het, ter wille van die Suid-Afrikaanse wynbedryf was.
Danie en sy kant was dit eens dat die beskikbare druifsoorte Suid-Afrika nie sou toelaat om sy regmatige plek in die wynwêreld in te neem nie en dat – danksy die beleide van die KWV en die staat – geen vordering gemaak word nie. Die KWV en die staat het op hul beurt aangevoer dat plantsiektes verbonde aan die inbring van plantmateriaal buite die regulasies en die reëls ’n groot bedreiging vir die wingerdbedryf inhou.

Die De Wetshof Limestone Hill, nog een van die vele uitdrukkings van Chardonnay wat op die plaas gemaak word.
Danie en kie wen dié tweestryd oor hul edele bedoelinge vir die wynbedryf as geheel en die 15–20 jaar wagtyd word na vyf jaar verminder én die plantmateriaal wat hulle ingebring het, wat wel Chardonnay is, floreer en word in vrede gelaat.
Jan Boland sê as dit nie vir daardie waagmoed van boere soos Danie was nie, “ons seker nou nog nie die regte Chardonnay sou gehad het nie”. Hy sê sy destydse besluit om die stokke te help insmokkel was bloot omdat hy die Franse goed leer ken het en besef het hulle gaan nie hul sukses met – en kennis van – Chardonnay deel nie.

Die Chardonnay-vereniging van Suid-Afrika se komitee is van links: Sjaak Nelson (Jordan-wynlandgoed), Carolyn Martin (Creation), Johan Kruger (Kruger Family Wines) en Thea van der Merwe (Journey’s End). Ann Ferreira was afwesig toe die foto geneem is.
“Ons moes dinge self laat gebeur vir die plaaslike wynbedryf. Dit was nie ’n poging om doelbewus die landswette te verontagsaam nie. Ons was net moeg vir die gebrek aan druifverskeidenheid.”
Hy het toe sy albums oopgeslaan en sy gesin se bagasie gewys, waarin hy die onwettige stokkies ingevoer het. “Ek het vir die kinders gesê hulle moet die sakke maklik swaai asof die bagasie lig is, sodat ons nie deursoek word nie.”

Die De Wetshof Chardonnay Bateleur is ingesluit as een van die toptien-Chardonnays in die wêreld.
Hy lag as hy erken dat Chardonnay hom deur die jare die meeste slaap laat verloor het, omdat dit wêreldwyd so divers is.
Hy was ook een van die Pinot Noir-pioniers, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Vir nou bly ons by Chardonnay en klink ’n glasie op Jan én die man wat dit tot op die wêreldpodium geneem het, Danie de Wet, wie se De Wetshof se Bateleur Chardonnay 2020 ingesluit is as een van die toptien-Chardonnays in die wêreld en ’n goue medalje by ’n Chardonnay du Monde (Chardonnays van die Wêreld) – dié gerekende kompetisie vir Chardonnay – behaal het ’n paar jaar gelede.
’n Bitter lang pad vir iets waarsonder wynliefhebbers vandag nie hul lewens sou kon voorstel nie.
Kitsfeite
- Suid-Afrikaanse Chardonnays produseer tipies aromas en geure ryk aan tropiese vrugte en eksotiese speserye. Wynmakers hier hou daarvan om te eksperimenteer en dit is selfs gewild in Stellenbosch om Chardonnay met Sauvignon Blanc te meng. Oor die algemeen is die wyne eenvoudiger as Franse Chardonnays, en is ligter en meer tropies as Kaliforniese Chardonnays.
- Die nuwe Chardonnay-vereniging van Suid-Afrika-komitee staan onder voorsitterskap van Sjaak Nelson (Jordan Estate), met Johan Kruger (Kruger Family Wines) as ondervoorsitter en komiteelede Carolyn Martin (Creation), Thea van der Merwe (Journey’s End) en Ann Ferreira (Pieter Ferreira Wines).
- Vir meer inligting oor jou gunsteling-Chardonnay, loer by www.chardonnayassociationsouthafrica.com.
Lees ook:
Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte


