Vertalings ontsluit nuwe wêrelde tussen Suid-Afrika en die Lae Lande

  • 0

Vertaling is een van die belangrikste skakels om netwerke en wisselwerking tussen Suid-Afrika en die Lae Lande aan te moedig en taalbande tussen Afrikaans en Nederlands te verstewig.

Die belangrike rol wat vertaling in die algemeen speel, is opnuut beklemtoon tydens ’n gesprek die afgelope Saterdag (17 September) by Sasnev, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, in Kaapstad.

Die gespreksgenote was die bekroonde en bekende Suid-Afrikaanse digter, skrywer en akademikus Antjie Krog en Yves T’Sjoen, wat verbonde is aan die Universiteit Gent. Hy werk tans as buitengewone professor vir die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch. Die tema van die gesprek was netwerke en wisselwerking met die Lae Lande en T’Sjoen was die gespreksleier.

Yves T'Sjoen en Antjie Krog (Foto's: Menán van Heerden)

Krog het veral erkenning gegee aan diegene wat reeds terwyl Afrikaans nog deurgegaan het as ’n muishondtaal tydens die apartheidsjare, uit Afrikaans in ander tale vertaal het.

Sy het spesifiek verwys na vertalers wat al in die sewentiger- en tagtigerjare werke van Breyten Breytenbach vertaal het, maar het ook verwys na mense soos die Nederlander Adriaan van Dis en die Pool Jerzy Koch en ander wat bekend is vir hulle vertalings uit Afrikaans in hulle eie moedertaal .

Daar is ’n soort toegewydheid by mense wat Afrikaanse skrywers en digters se werk in ander tale vertaal, sê Krog. Hulle word nie daarvoor befonds nie en besluit self hulle wil dit doen. Boonop moet hulle gewoonlik nog self ook ’n uitgewer vind wat bereid is om dit te publiseer en dan ook probeer om die skrywer na die land waar die vertaling uitgegee word, te nooi vir boekpraatjies en bekendstellings. “Daar is iets toegewyd daaraan en ek het baie tyd vir vertalers,” sê Krog.

Sy sê die meeste mense besef nie hoe belangrik vertalings is nie, terwyl dit eintlik Suid-Afrika se twaalfde taal behoort te wees, omdat die land se mense mekaar nie verstaan nie of mekaar dikwels verkeerd verstaan.  

Befondsing is ook ’n probleem. Die regering betaal wel mense om stukke wetgewing uit die oorspronklik tale te vertaal, maar daar word nie van regeringskant fondse beskikbaar gestel vir letterkundige vertalings nie. Krog glo vertaling is noodsaaklik om ander wêrelde te verstaan en met hulle te kommunikeer.

Op ’n vraag hoe sy voel wanneer sy haar eie werk lees wat in Nederlands vertaal is, het sy gesê dit is vir haar wonderlik. Elke keer wanneer sy dit lees, voel dit of Afrikaans ’n soort van “goeie was” gekry het, sê Krog.

“Wanneer ek dit lees, tel ek woorde op wat nie in Afrikaans bestaan nie. Tog is daar soort van ’n geheue van daardie woord wat amper voel jy moet dit ken en weet wat dit beteken.”

Wat vertaling vir haar so belangrik maak, is die tragiek dat mense nie mekaar se tale ken nie. Dit gee maklik aanleiding tot afgryslike misverstande wanneer mense mekaar verkeerd verstaan. Daarom is vertaling fundamenteel in ’n land soos Suid-Afrika waar daar soveel verskillende tale is.

Dieselfde verwarring of misverstande kom ook in die howe voor. Daarom word tolke opgelei om regsterme te vertaal, aangesien die vonnis wat gevel word tydens hofsake op sekere regsterme berus.

Wanneer daar van haar eie werk in ’n ander taal vertaal word, is haar uitgangspunt om verkieslik nie in te meng met die vertaalproses nie. “Ek besef dit is nie my taal waarin die werk vertaal word nie en dat ek nie geskool is in die letterkunde van daardie taal nie.” Daarom probeer sy om geen inspraak te hê in vertalings uit haar eie pen nie. Dit gebeur wel dat vertalers wat haar werk vertaal, navraag doen oor sekere woorde wat sy gebruik. “Wanneer ek sekere woorde self skep of verbreek en verbrokkel, wil hulle soms by my weet wat hulle daarmee moet maak. Daardie woorde bestaan nie in hulle taal nie en hulle weet nie hoe om dit te vertaal nie. Hulle vind dit verskriklik moeilik om taal te maak en nuwe woorde te skep.”

Dan verduidelik sy daardie woorde bestaan ook nie in gewone Afrikaans nie. Dit is waarom sy dit op haar eie manier sê. Sy glo daar is te veel van ’n huiwering by mense van ander tale soos Nederlands en Engels om nuwe woorde te skep.

“Die ander vreemde ding is die vloekery. Ek vind dit nogal interessant dat dit so ’n saak is in Nederland. Daar is ’n fantastiese ry vloekwoorde wat mens in vertalings kan gebruik en al wat ek in my vertaalde bundels sien, is ‘godverdomme, godverdomme, godverdomme’. Dan wil ek soms sê maak tog net ’n sterker woord, maar blykbaar is ‘godverdomme’ verskriklik sterk in Nederlands, daarom gebruik hulle dit elke keer wanneer hulle ’n vloekwoord vertaal.”   

Sy is opgewonde oor die nuwe beweging wat deesdae posvat onder die vertaalbeweging waar die werklike vertalers ’n ander benadering volg as die teoretici oor vertaling. Sy sê werklike vertalers moet die heeltyd belangrike besluite neem na aanleiding van sekere dinge wat hulle dink en ’n sekere gevoel ontwikkel vir die boek waarmee hulle besig is. 

Krog sê dit word deur die teoretici as verskriklik aaklig en dom en onversigtig beskou. Sy wil egter weet wat het húlle vertaal, en dis feitlik niks. Daarteenoor het die werklike vertalers uit Frans en Pools en ander tale almal verskeie belangrike werke vertaal waar hulle by wyse van ’n voorwoord rekenskap gee van die vertaling.

Dit bly egter belangrik dat ’n vertaler moet besluit in watter register daarin gewerk word en vir wie die vertaling uiteindelik bedoel is. Dit is anders as wanneer jy self skryf, sê sy. Vir iemand wat self ’n skrywer is en besig is om te vertaal, is dit moeilik, want ’n skrywer dink nie noodwendig doelbewus aan vir wie word daar geskryf wanneer hy of sy besig is met ’n oorspronklike werk nie.

Vir haar het haar hele vertaalprojek waarmee sy in Suid-Afrika besig is, ’n politieke doel. Daardie doel is om mekaar in hierdie land beter te verstaan.

Die gevaarlikste soort vertaler wat mens kry, is volgens Krog ’n vertaler wat byvoorbeeld draaie gooi met ’n gedig wat vertaal word omdat die vertaler dink hy of sy kan dit beter maak terwyl dit nie die vertaler se rol is nie.

Sy meen ook daar is dalk ’n soort van arrogansie aan om te dink jou werk móét noodwendig ook in Engels vertaal word, maar tog wil mens ook deel wees van die groter gesprek in die land. Daarom sou mens graag alle letterkunde ook in Engels wou hê. Mens se eie taal moet egter nooit ’n doodloopstraat wees wat jou verhoed om verder te gaan nie.

Krog sonder Ronelda Kamfer uit as een van die Afrikaanse skrywers wie se werk vertaal móét word. Haar debuutroman Kompoun is volgens Krog een van die beste boeke wat die afgelope tien of twintig jaar in Afrikaans verskyn het. “Dit moet vertaal word, maar nou is die probleem hoe vertaal mens Kaaps in Engels.” 

Yves T’Sjoen het Krog ook gepols oor die verskil tussen Nederlanders en Vlaminge. Sy sê sy was nie vroeër so bewus van die verskille tussen die twee groepe in die Lae Lande nie en het gedink albei is maar so half “Nederlanderig”. Dit was eers op ’n bustoer saam met Vlaminge op pad na Oudtshoorn dat sy werklik bewus geword het van die verskille. “Die Vlaminge het ’n groter oor en ’n gevoeligheid gehad dat daar twee soorte Afrikaans bestaan. Dat daar een soort is wat homself reken as die baas en die ander een gaan maar so aan.”

Behalwe vertaling, wat ’n baie belangrike deel is van netwerk met die Lae Lande, is feeste en poësiegeleenthede volgens Krog van die belangrike skakels om netwerke te vorm.

Sy is egter bekommerd dat dit hoofsaaklik net wit mense se werk is wat uit Nederlands in Afrikaans vertaal word. Daar word niks van die swart Nederlandse digters se werk in Afrikaans vertaal nie. Sy sê hulle het ’n unieke manier om onreg te verwoord en dit gaan verlore in Afrikaans as dit nie vertaal word nie.

Indien sy haar sin kon kry, sou Die avonture van Kuifie in Nederlands ’n verpligte voorgeskrewe werk op skool wees vir Afrikaanse graad 9- of graad 10-leerders sodat skoolkinders reeds op skool besef dat hulle Nederlands kan lees. Van daar kan mens dan verder gaan na koerante, TV en radio en so jou taalhorisonne verbreed.

Nog ’n leemte wat haar frustreer, is dat Suid-Afrikaners so min nuus uit Europa in hulle eie taal kan lees. 

“As mens egter self in Gent kom, besef jy daar is ook kragonderbrekings, diefstal en dinge wat agteruitgaan. Ons sou dalk nie altyd so ’n mislukking hier voel as ons weet Europa is ook besig om in duie te stort nie,” het Krog gekorswil.

Ongelukkig is daar niemand wat enige moeite doen om Suid-Afrikaners op hoogte te hou van Europese nuus nie, terwyl die media oorloop van Amerikaanse nuus. Suid-Afrika moet volgens haar nie so afgesny wees van dit wat in Europa gebeur nie. Daar behoort ’n voltydse Europese verslaggewer daar te wees om Suid-Afrikaners op hoogte te hou pleks daarvan dat daar net op Amerika gekonsentreer word wat nuus betref.

Krog se prestasies en toekennings sluit van die mees gesogte pryse in, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Nederland, waar sy in 2018 vereer is met ’n Gouden Ganzenveer.  

Die Gouden Ganzenveer is ’n Nederlandse kultuurtoekenning wat jaarliks gegee word ​​aan ’n persoon of organisasie van groot betekenis vir die geskrewe en gedrukte woord. Ontvangers word gekies deur ’n groep mense wat saamgestel is uit verteenwoordigers vanuit die kulturele, politieke, wetenskaplike en korporatiewe wêreld.

Sy het haar mees onlangse toekenning ontvang van die Belgiese ambassadeur, Didier Vanderhasselt, wat op 7 Julie 2022 die titel Offisier in die Orde van die Kroon (België) aan haar toegeken het.

Lees ook:

Gouden Ganzenveer-winnares Antjie Krog: “Bij toenadering tussen Nederlands en Afrikaans moet diversiteit voorop staan”

Bekroonde skrywer Antjie Krog word Offisier in die Orde van die Kroon (België)

Kompoun: Ronelda Kamfer en Annemarié van Niekerk práát

PEN Afrikaans Vertaalfonds: Aandag vir Afrikaanse werke in vertaling neem internasionaal toe

Die vertaler ontbind, verklaar en bewaar ’n ruimte tussen tale

On(ver)taalbaarheden

Miriam Van hee in gesprek met haar vertalers

Daniel Hugo: Vertaler op campus in Gent en Amsterdam

Uitnodiging na Gent lei tot wedersyds verrykende program vir vertaler en digter Daniel Hugo 

Ingrid Glorie wen Vertaalengel 2018

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top