
’n Langnaweek-wegbreek wanneer ander mense werk, omdat jou kop en lyf suf is, moet spesiaal wees. Riverhide tussen Swellendam en Bonnievale is dit toe beslis.
- Foto’s: Clifford Roberts
’n Langnaweek-wegbreek wanneer ander mense werk, omdat jou kop en lyf suf is, moet spesiaal wees. Riverhide tussen Swellendam en Bonnievale is dit toe beslis.
Dis die oulike beskrywing wat my oog gevang het en die bespreking beklink het: “Ons familie se droom; nou joune om te kom geniet. Sewe hektaar hemel, op die Breederivier.”
En danksy vele WhatsApp-boodskappe, weet ek daar is vriende wat saam swaarkry en ook moet wegbreek. Die opwinding van ’n naweek weg met vriende herlaai sommer al klaar die batterye.
........
Die naweek begin wanneer die eerste WhatsApp deurkom met: “Waar trek julle?” want almal ry uit verskillende rigtings na een bestemming.
.......
Elkeen vorm ’n belangrike skakel in die ketting. Een vriend bring altyd verouderde kase uit klein dorpies in Italië of Portugal of Frankryk. ’n Ander pak die beste kaas-en-vleis-borde. Een is platejoggie, een dek mooi tafel en ’n ander is braaimeester.
Die gewoel begin vroegweek met ’n lys vir spyskaarte, sodat elkeen weet wat om te bring, want honger of dors is twee woorde wat nie met ’n vriende-wegbreek rym nie.
Die naweek begin wanneer die eerste WhatsApp deurkom met: “Waar trek julle?” want almal ry uit verskillende rigtings na een bestemming. Soms is daar kans vir gedeelde koffie langs die pad, soms nie.
Die kattebakke kreun onder kratte en koelbokse en wynbokse. Ons ry nêrens sonder ons eie kussings en wynglase nie; een vriend nie sonder sy eie braairooster nie. “Prioriteite,” lag hy altyd.

Ons maak elke aand kaggelvuur in die sitkamer, waar ons met snoepgoed en wyn ontspan.
Isobel Wolfaardt se laatmiddag-groet is gul: Sy steek haar hand uit, maar haar lyf maak outomaties reg vir ’n warm druk. Amper soos ’n tuiskoms by ou vriende. Sy verduidelik vinnig hoe alles werk en groet. (Sy wil nie in ons pad staan van ontspan nie, verduidelik sy.) ’n Gasvrou met ma-se-verstaan in haar oë.
Maar ek wil eers weet van die groot, gerieflike huis met drie plekke om vuur te maak, drie kuierplekke, ’n vuurput en verwarmde jacuzzi met uitsigte oor die rivier. Drie van die vier groot kamers kyk oor die tuin en rivier. Reuse-stapeldeure maak die braaikamer se stoep amper deel van die tuin. En o, die tuin ... Isobel het waarlik groen vingers.

Die kombuis met vars kruie in potjies is lekker vir saamkook en -kuier.
“Die reusevensters omraam nie net die natuur nie; dit trek dit sommer na binne,” lees sy my gedagtes.
Isobel se man, Johan, was eienaarbouer van die prag-plek. Dit het hom twee jaar geneem om klaar te bou, en sy werk al 15 jaar aan die tuin. Hulle het 18 jaar self hier gewoon, voor dit nou in gasteverblyf omskep is. Dis ideaal vir groot families of groepe vriende. Sy nuutste projek is die jacuzzi wat hy met presiese ontwerp gebou het.
En as jy alleen wil wees, sit in die privaat leeshoekie met sy hoekruit en kyk hoe die suikerbekkies nektar kom soek, of die boomvaring saggies in die windjie wieg. Hier wys sy vinnig haar tannie se reisjoernaal uit ’n vorige eeu, ’n vergete era. Die dik boek staan boepens van al die foto’s en poskaarte en aandenkings wat sy ingeplak het. Die blaaie is losserig en amper heilig op jou palm.

Die reisjoernaal wat jou hartsnare roer.
Die tannie was ’n joernalis in George en het op ’n wêreldtoer gegaan met stoombote voor die Tweede Wêreldoorlog.
Met al die vrae geantwoord, sien ons haar by die voordeur af. My oog vang toe eers die woorde op die matjie: “Reset your soul”. Beslis.
Dis toe dat ek besef ek ruik varsgebroude koffie. Sowaar, Isobel het ons aankoms en die koffiemasjien mooi in harmonie gekry. Die sterk koffie maak meer as my maag warm.

Vars suurlemoene en avokadopere om sommer onmiddellik te gebruik.
Mandjie suurlemoene. Mandjie lemoene. Wyn, malvalekkers en braaistokkies vir later buite by die vuurput.
Veldblomme in potjies regdeur die huis. Hier en daar ’n blommetjie of twee wat in die laatmiddag-briesie afgeval het en patroontjies op die blad maak.
Ruie, beskutte tuin buite ons reusebadkamer se skuifvensters lok my voor die ander arriveer. Jy bad amper in die natuur.
Stuk-stuk arriveer lywe met suwwe breine, gespanne skouers en geklemde kake. Swart kratte, bokse, inkopiesakke word uitgepak en in die garage gestoor: ’n yskas wat uit sy skarniere wil bars van die kos en wyn.
Dan is dit tyd vir kamers kies. Dis asof elkeen vir iets spesifieks soek en dit kry in die dubbelbed of twee enkelbeddens knus langs mekaar. Elkeen sy eie badkamer, privaatheid midde-in die samesyn.

Die kamers is almal luuks en ruim en het hul eie badkamers, so privaatheid en weelde ineen.

Die mooi binnehoftuin voor die hoofslaapkamer se en suite-badkamer.
Eerste vonkelwyn. Altyd iets wat iemand iewers raakgeloop en gebêre het vir dié heilige ure. Of interessante skemerkelkies. Sorge afpak. Simpatie oor stupid / onervare / selfsugtige base.
Dan die skouers wat begin ontspan. Die plooi-voorkop word sag. Die uitsig oor die rivier in die verte is amper hipnotiserend.
........
Eerste vonkelwyn. Altyd iets wat iemand iewers raakgeloop en gebêre het vir dié heilige ure. Of interessante skemerkelkies. Sorge afpak. Simpatie oor stupid / onervare / selfsugtige base. Dan die skouers wat begin ontspan. Die plooi-voorkop word sag. Die uitsig oor die rivier in die verte is amper hipnotiserend.
........
Die een wat eerste arriveer, sorg die eerste aand vir aandete. Kruie in botteltjies en bakkies langs die stoof wat Isobel en haar dogter, Lizanne, gepluk het. Ek kook sop en knip tiemie en roosmaryn en pietersielie. Vars ment gaan in ’n mojito. Die musiek vul die gaatjies tussen die gesels deur.
Gewoonlik is almal vroeg in die vere daardie eerste aand. Die week se stres en die reis het sy tol geëis.
Nadat ons so een-een nag gesê het, gaan ek en my geliefde vir ’n donkeraand-swem in die warm jacuzzi. Al die ligte is af, behalwe dié op die reuseboomaalwyn langs die vuurput. Jy kan jou verbeel dis net jy onder die uitspansel. Toe die vaak my geliefde ook kom haal, is ek terug na die kaggel met my boek. Ek gooi nog stompe op. Die skottelgoedwasser dreun ritmies, boepens van ’n aand se lekker kuier. Glase en borde en bakkies vriendskap staan skouer-teen-skouer daarbinne.

Die lekker vuurput en swembadjie het ons vir etlike ure elke dag besig gehou.
Soggens ontwaak elkeen op sy eie tyd. Daar is varsgebroude koffie en plaasbeskuit vir terugklim in die bed, of jacuzzi toe.
My geliefde gaan ry vroegoggend fiets op die plaas; ek gaan stap in die renosterbos; ander kuier op die stoep. Lizanne en haar pa is kranige fietsryers en die roetes bied ongerepte uitsigte oor die veld.

Die gulheid van die platteland het ook op ons borde gepronk.
Skuins voor middagete op ons eerste dag, kom die WhatsApp van Isobel: “In garage is sak met kanoe vir jul gebruik. Pad na sandstrand is op hoek by inrypad, by ou trekkertjie-skelet. Sandstrand nog deel van Riverhide.” Dis die teken dat ons ons basse moet lig, uit die jacuzzi moet klim en aktief gaan wees, vertel ek laggende vir die ander.
Maar ons bly eerder in die warm water.
......
’n Visarend roep uit die bome. Die stem van Afrika. Ek voel die hoendervleis oor my lyf uitslaan. Visarend-roep is vir my die teken dat ek in die Bosveld is.
......
Die musiek speel uit oor die kuierplek en jacuzzi. Binne is iemand besig met drankies of braaibroodjies of peuselgoed. Want soos ek gesê het, honger en dors rym nie.
’n Visarend roep uit die bome. Die stem van Afrika. Ek voel die hoendervleis oor my lyf uitslaan. Visarend-roep is vir my die teken dat ek in die Bosveld is. Dankbaar dat ek die voëlroep hier kon ervaar, draai ek terug.

As die sonnetjie begin watertrek, is dit tyd vir buite vuurtjie en ’n warm swembadjie.

Selfs die tuinblomme is ’n kunswerk op sigself.
My geliefde raak aan my arm. Hy beduie na die boom reg voor ons. Die majestueuse voël sit rustig en kyk direk na ons. Magiese oomblikke volg.
Isobel se groen vingers reik tot in elke klein hoekie. Ons ontdek ’n klein hoekie in die tuin. Ons is daar vir vroegoggend-koffie. Daar is ’n houtkapper se gaatjies in die boomstam. Dan hoor ons die gekap-kap-kap. As jy lank genoeg stilsit, kom hy lyf wys. Suikerbekkies druk hul bekkies deur die clivias. Daar is muisvoëls en lysters en tiptolle en mossies en duiwe en ’n mooie janfrederik.
Die reuseboomaalwyn-kokerboom gooi net genoeg skaduwee vir middag-boeklees en dut. Die windjie in die bome om die huis en in die rivierbed klink soos kabbelende rivier.

Mens kan jou heeldag verlustig in die mooie uitsigte van die huis af.

Gaan stap laatmiddag vir ’n mooi sonsak-uitsig.
Ons het op een stadium vure op drie plekke en oral sit iemand met ’n glas wyn of beker koffie met sy eie gedagtes. Twee avontuurlustiges speel tafeltennis in die garage.
Ons slaan ag op Isobel se boodskap oor die sandstrand, maar gaan drink eerder vonkelwyn daar. Die hemel verkleur pienk en oranje en die voëls trap V-formasies teen die lug op pad na elders.
Saans ná ’n braai kyk ons fliek op die bank.

Daar is heerlike fietsroetes om te gaan ontdek.
Saterdag is tyd vir verken: Bonnievale is om die draai; ons is in die hartjie van die Robertson Wynvallei en die historiese Swellendam is op ons drumpel. Jy kan op Robertson gaan valskermspring, ’n treinrit met New Cape Railway geniet, of die lekker Chardonnay- en Cap Classique-toer by Weltevrede gaan doen. Nie ver van ons verblyf nie, is die River Goose-bootrit waar jy met jou eie eet- en drinkgoed oor die water kan gly.
Dis egter Montagu se markie wat wen. Ons eet pannekoek, koop olyfolie, plaasbotter en kaas en gaan loer by Cape Dry in vir goedkoop hout, biltong, neute en droëvrugte.

Net as jy sou vergeet jy is op ’n plaas ...
Die platteland voorsien gul.
Op ons laaste dag eet ons laatontbyt en gaan terug na die geheime tuin vir afskeidsdrankies en -kougoed. Almal is traag om te ry; rek die kuier uit om die saligheid en vrede langer in hul harte te kan hou.
Dis al laat toe die laaste motor oor die heuweltjie agter die spekboomheining verdwyn terug Kaap toe. Ons siele is stil.
Kitsfeite:
- Riverhide is 10 km buite Bonnievale; 36 km van Robertson; 37 km van Swellendam; en 30 km van Montagu.
- Bespreek by +27 (71) 168-6377, info@riverhide.co.za, https://riverhide.co.za/, of op Airbnb of LekkeSlaap se webtuiste.
- Kontak Bonnievale Toerisme by +27 (0)79 914 8357, manager@bonnievaletourism.co.za, of loer in by De Oude Werf in Hoofweg, Bonnievale vir al die doendinge in die omgewing.
Lees ook:
Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur
