Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Magriet skryf:
My katjie is vyf maande oud. Pamír. Hy is baie maer en nie baie spelerig nie. Hy het ’n sussie en twee boeties.
Hoppie (die sussie) en Kardoes, ’n boetie, is op datum met hul grootte.
Marmite, nog ’n boetie, is baie klein vir sy amper vyf maande. Hy speel en eet goed en hy is ’n vrolike bondeltjie.
Pamír eet baie goed, en is altyd honger. Sy magie is soms slap. Hy is al ’n paar maal ontwurm. Is dit moontlik die kos wat nie voedsaam is nie?
Hulle eet Catmor Kitten se hoender en rys (dit is sakkies Catmor), maar ek het hom tans op Whiskas-sakkies.
Dit was ’n rondlopermamma wat ek in my huis toegemaak het vir dae, sodat die babas net nie wild sal groot raak nie.
Ek het tesame 13 katte waarvoor ek sorg, en nog wat buite kom eet. Die groot katte wil net Catmor twee-in-een-tuna eet.
Die vier is my skaduweetjies, as hulle my nie sien nie, dan is dit ’n kattekoor.
Magriet
Beste Magriet
Hier is nou ’n ding wat nie veel kateienaars weet nie: ’n Enkele werpsel katte kan meer as een pa hê! Indien twee groot en twee klein is, is dit dalk die geval dat Marmite en Pamír ’n ander pa het as Hoppie en Kardoes. Hulle kleure kan jou ook ’n wenk gee: Indien die twee groter katjies ’n ander kleur is as Marmite en Pamír, is hulle waarskynlik net halfboeties.
So Pamír se grootte pla my nie soseer nie, maar sy honger en mank van energie wel. As drie werpselmaats lekker speel en ’n vaste stoelgang het, en net enetjie nie goed doen nie, is my eerste gedagte dat hy ’n onderliggende siekte het. My voorstel is om jou veearts te vra om ondersoek in te stel. Pamír het dalk ’n genetiese kondisie of allergie wat beteken dat hy spesiale sorg of kos nodig het, en hoe vroeër ons dit agterkom, hoe makliker gaan dit vir hom wees om lekker gesond en sterk te ontwikkel.
Sterkte, en groete
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?