
Napoleon se doodsmasker is langs sy doodsbed.
- Foto’s: Clifford Roberts
........
Dis enkele dae nadat Napoleon Bonaparte – die uitgeweke keiser van die Franse – 204 jaar gelede op 5 Mei 1821 op St Helena-eiland oorlede is, dat ek by die staanhorlosie wat langs sy bed gestaan het en op 17:49 deur sy kneg Jean Marchand gestop is, vassteek.
........
Dis enkele dae nadat Napoleon Bonaparte – die uitgeweke keiser van die Franse – 204 jaar gelede op 5 Mei 1821 op St Helena-eiland oorlede is, dat ek by die staanhorlosie wat langs sy bed gestaan het en op 17:49 deur sy kneg Jean Marchand gestop is, vassteek. Langs my in Longwood House staan ons gids Barry Hubbard wat by elke item in die historiese huis vertoef en verduidelik wat die doel was.
Twee dae ná sy dood is sy doodsmasker se afdruk geneem en op 9 Mei is hy begrawe. Langs sy doodsbed lê die doodsmasker. Die kamer is in skemerte gehul en ruik effe muf; iets waaroor die keiser destyds baie gekla het.
Daar is baie gissinge oor die oorsaak van Napoleon se dood. Hoewel die amptelike outopsie maagkanker bevind het, is daar verskeie teorieë dat daar strignien in die groen verf was waarmee Longwood House se mure geverf is; ook dat die plakpapier se gom gif bevat het. Daar is ook sprake van maagsere wat sy lewer en ingewande aangetas het.
Met ons vroegoggend ontmoeting op die eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan, het Barry bietjie agtergrond gegee terwyl ons onderweg was na Briars Pavilion, so ’n katspoegie buite Jamestown. Dis ons eerste stopplek vir die oggend. Daar is mooi tuine en ’n reusegrasperk en die stilte en koelte van die gebou omvou jou.

As jy van bo van die teerpad buite Jamestown afkyk, sien jy hierdie pragtige gesig van Briars Pavilion waar Napoleon gewoon het tot Longwood House voltooi is.
“Napoleon is op 15 Augustus 1769 op die eiland Corsica in Ajaccio gebore. Sy naam was aanvanklik Napoleone di Buonaparte, maar is later verbuig na die meer Franse uitspraak van Napoleon Bonaparte.
“Hy was twee maal getroud: Joséphine de Beauharnais (1796–1809) en Marie Louise, hertogin van Parma (1810–1821). Barry vertel dat hy nie kort was nie. Dis Britse propaganda wat tydens die Napoleontiese oorloë versprei is. Hy was inderwaarheid 1,7 meter lank – ’n gemiddelde lengte vir daardie dae,” het hy vertel.
“Nadat hy in 1814 die troon afgelê het en geweier het om verder keiser te wees, is hy na die eiland Elba verban. Hier woon hy vir 10 maande, maar in plaas van soos ’n gevangene leef, regeer hy; bring verbeterings aan en berei voor vir sy uiteindelike terugkeer na Frankryk.

Die pragtige, koel huis by Briars Pavilion.
“Hy ontsnap in Maart 1815 en keer terug na Parys, waar hy sy ondersteuners herwin en sy keiserstitel Napoleon I teruggeëis het in ’n tydperk bekend as die Honderd Dae.
“Napoleon is op 18 Junie 1815 by die Slag van Waterloo verslaan, wat ’n einde gebring het aan dié Honderd Dae én aan die Napoleontiese Oorlog wat vir meer as 12 jaar onder sy leierskap regoor Europa gewoed het.”
Barry het geglimlag toe ons onderweg na die huis waar hy vir ses jaar gevange gehou is, saamgefluit het aan die bekende ABBA-liedjie “Waterloo”.
Maar die lighartigheid maak gou plek vir stilte en introspeksie. Om verslaan te word, dan weggevoer te word na ’n verafgeleë eiland en sonder jou mense te sterf, kon nie maklik gewees het nie.

Bo en onder: Die plek waar Napoleon gaste kon ontvang in Briars Pavilion. Op die tafel is ’n stukkie van die oorspronklike mat.
Napoleon het gehoop die Britte sal hom na Amerika verban, maar moes gou uitvind dat hulle eerder die afgeleë St Helena gekies het: duisende kilometers weg van die naaste land – Wes-Afrika – en geen weelde soos hy gewoond was nie. Hulle wou seker maak hy probeer nie weer ontsnap nie en hy is hewig bewaak.
Hy arriveer in Jamestown-hawe aan boord die HMS Northumberland, ná 10 weke op see. Hy slaap een aand in die dorp oor. Barry verduidelik dat niemand geweet het Napoleon kom nie en daar dus nie geskikte akkommodasie vir hom was nie. William Balcombe, werknemer van die Oos-Indiese Kompanjie en voormalige familievriend van die Franse keiser, het Napoleon aanvanklik by Briars Pavilion akkommodeer.

’n Gemaklike sitkamer waar hy kon lees en teedrink.

Napoleon se slaapkamer in Briars Pavilion.
Terwyl hy in Briars Pavilion gewoon het, is Longwood House sowat 7 kilometer verder vir hom ingerig. Dit was voorheen ’n afgeleefde plaashuis wat skape en donkies gehuisves het. Werkers moes inderhaas verf en timmer en ’n ekstra kamer aanbou, omdat Napoleon se erkende rang dié van generaal was en sy verblyf dus vyf vertrekke moes hê. Longwood het net vier vertrekke gehad en die voorste ligblou deel is uit hout aangebou. Die gebou was egter klam en vol rotte en só muf dat geen plakpapier teen sommige mure aangebring kon word nie.
Ek kan verstaan dat Napoleon by Briars Pavilion gelukkig kon wees. Dis lig en oop en mooi.

Napoleon se skryftafel is in die middelste vertrek waar dit koel en lig is.
Barry vertel: “Jy sou sien dat jy twee aparte kaartjies het vir die Napoleon-toer: die een is vir Briars Pavilion en die ander een vir Longwood House en sy grafsteen. Die Franse weier om te aanvaar dat Napoleon enigsins gelukkig kon wees as krygsgevangene en wil nie Briars Pavilion besoek nie. Daarom moes die regering die kaartjie in twee deel, sodat die Franse en ander Napoleon-aanhangers net Longwood House kan besoek en nie onnodig vir iets betaal wat hulle nie gaan besoek nie.”
Raar maar waar!

Longwood House, waar Napoleon vir bykans ses jaar op St Helena gewoon het.
Enkele maande later is hy na Longwood oorgeplaas. Sir Hudson Lowe is later as goewerneur van St Helena aangestel. Hoewel hulle twee net ses keer ontmoet het, is hul verhouding as gespanne en bitter gedokumenteer. Lowe het geweier om Napoleon as keiser van die Franse aan te spreek. Hy het ook nie gehoor gegee aan Napoleon se klagtes oor die swak toestande in Longwood House nie.

Die keiser se graf sonder naam op St Helena.
Maar vyf jaar later het Napoleon Lowe uiteindelik oorgehaal om ’n nuwe Longwood-huis te bou. Hy het egter gesterf net voordat dit voltooi is. As jy op Longwood House se stoep staan, sou jy op die huis kon kyk, as dit nog sou bestaan het. Hy was maar 51.
Napoleon wou graag op die oewer van die Seine in Parys begrawe word, maar Lowe het aangedring dat hy op die eiland moes bly en in die Vallei van die Wilgers (hedendaagse Sane Valley) begrawe moes word.

Napoleon se graf in Parys
Sy graf is naamloos gelaat omdat sy verteenwoordigers en die Britse regering nie kon saamstem oor wat daarop geskryf moes word nie. Lowe het gesê die inskripsie moet “Napoleon Bonaparte” lees; Napoleon se vriende wou die keiserlike titel “Napoleon” hê – koninklikes is slegs op hul voorname aangespreek. Die twee kante kon nie ooreenstem nie en geen naam is dus aangebring nie.
Elke jaar word daar op 9 Mei by die graf ’n herinneringsoomblik gehou.
Bykans 20 jaar ná sy dood het die Britte toestemming gegee dat sy oorskot na Frankryk kan terugkeer. In 1840 kom haal die Prins de Joinville hom en neem hom aan boord die swartgeverfde Belle-Poule terug na Parys.
Die nou straatjie op St Helena-eiland waarin sy lyk van Longwood House na die hawe vervoer is, is na hom vernoem. Hoewel hy nooit as keiser op die eiland erken is nie, het hy na sy dood tog triomfeer, dink ek onwillekeurig.

Die bed waarin Napoleon op 5 Mei 1821 gesterf het.

Hier het Napoleon in staatsie gelê sodat mense hul laaste eer aan hom kon bewys.
Die ou Longwood House is gou ná Napoleon se dood weer as meul en stalle ingerig. Die hooggeplaastes van die eiland wat inderhaas meubels en beddegoed moes verskaf, het hul eiendom teruggekry. ’n Foto in een van die vertrekke bewys hoe vinnig dit weer vervalle geraak het.
Dis danksy Michel Dancoisne-Martineau, die eiland se ere-Franse konsul, en sowat 2000 skenkers dat Longwood House met meer as 900 artefakte spog en jy as’t ware kan terugstap in tyd. Michel het ook verskeie boeke oor Napoleon geskryf en word beskou as een van die grootste kenners oor die keiser.

Sy chaise lounge het hier gestaan sodat hy oor die tuin kon uitkyk en by die skryftafel het hy sy lewensverhaal dikteer.
Die generaal se kwartiere se opknappings is onder sy leiding onderneem en in Junie 2014 voltooi. Die buitekant van die geboue is gebaseer op Ibbetson se 1821-waterverfskildery ten tyde van Napoleon se dood. ’n Kaggel wat in Regency-styl gebou is, is ’n sleutelkenmerk in die kamer.
Napoleon het getrou dagboek gehou, gestap en ook perdgery en baie graag tuingemaak – reg langs die huis om te verseker dat die vensters van Longwood House gordynloos kan bly, maar steeds verskuil kan wees deur die plante. Die hortjies voor die vensters het klein ronde gaatjies gehad sodat hy met sy teleskoop daardeur kon loer.

Longwood House het reusetuine en ’n voltydse tuinmaakspan gehad, maar die stukkies voor die vensters het hy graag self behartig.
Die laaste vertrek in die huis is die museumwinkel. Hier is ook drie boeke wat Michel geskryf het, te koop. Die winkel het nie net alles waaraan jy kan dink wat met Napoleon te make het nie, maar ook die volledige Groot Constantia-wynreeks – sy gunstelingwyn.
Napoleon se gunstelingwyn was Grand Constance, die Franse vertaling vir Groot Constantia – die plaas wat Simon van der Stel in 1685 gestig het. Die Cloete-kelder, direk agter Groot Constantia se herehuis buite Kaapstad, het hierdie wyne geproduseer.

Napoleon se oorspronklike chaise longue van Longwood House staan vandag by Farm Lodge Country Hotel. As gaste daar gaan eet, kan jy op dié gerestoureerde rusbank sit en jou verbeel jy het bloubloed.
Destyds het Joseph Luson (1783–1822), ’n agent van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie in Kaapstad, nie net die Franse groep by Longwood House voorsien nie, maar ook die bevolking, die garnisoen, die regimente wat op die eiland gestasioneer was én die skepe wat die waters rondom St Helena vir die Britse owerhede patrolleer het.
Joseph Luson het die wyn direk by die Cloete-familie gekoop, wat Groot Constantia besit het. Sy besigheidsverhoudinge met die familie het op 24 Mei 1817 aansienlik verander toe hy met Catharina Maria Cloete – die dogter van Pieter Lourens Cloete, die wynhandelaar van Groot Constantia, en sy vrou Maria Catharina van Reenen – getrou het. Luson het ook sy swaer Daniel Jacob Cloete (1800–1879) as sy vertroulike klerk aangestel in 1819.
Destyds is die Groot Constantia-wyne natuurlik nie in dié vertrek gehou nie, maar nie ver van Longwood House af nie, by Hutts Gate Store. Dit was ook die grens van sy vrye beweging. Hy kon daagliks hierheen stap en die wyne vir die dag kom kies.

Destyds is die Groot Constantia-wyne nie ver van Longwood House af nie gestoor by Hutts Gate Store. Dit was ook die grens van sy vrye beweging. Hy kon daagliks hierheen stap en die wyne vir die dag kom kies.
Dis interessant om te hoor dat al die plekke waar Napoleon op die eiland gewoon het op Britse grond is, maar dat die Franse vlag by al drie plekke wapper. Die plek waar sy graf geleë is en Longwood House is in 1858 vir £7 100 aan die Franse regering verkoop.
........
Soos ons in die komende dae op die eiland kuier, kom al hoe meer gerugte oor die man se dood na vore: sy wyn is vergiftig; hy is dood aan verveling ...
........
Soos ons in die komende dae op die eiland kuier, kom al hoe meer gerugte oor die man se dood na vore: sy wyn is vergiftig; hy is dood aan verveling ... maar ek volstaan by ’n ander gids Aaron Legg van Aaron’s Adventure Tours se woorde op ons eerste dag: “Ons werk op die eiland met feite. Alles is van verskeie kante geboekstaaf, so dis baie maklik om enigiets te staaf. Mense hou van legendes en fabels, maar ons ken die ware feite.”

Napoleon se oorspronklike wynverkoeler staan vandag by Farm Lodge Country Hotel.
Maar dat Napoleon se teenwoordigheid op die eiland oral gevoel en ervaar kan word, is gewis. Jy sien gereeld goed wat hy gebruik het of loop mense raak wat op een of ander manier met Napoleon te make gehad het: selfs ons gids Stedson Stroud, ’n gerekende botanis en Anglo-Boereoorlog-kenner, se oupagrootjie Stephen Stroud het van Berkshire, Engeland na St Helena gekom om Napoleon op te pas, maar die keiser is dood voor sy oupagrootjie arriveer het.
Die goewerneur van St Helena se amptelike woning by Plantation House spog steeds met een van Napoleon se kandelare, terwyl een van die eiland se klein hotelle Farm Lodge Country Hotel die chaise longue van Longwood House het. As gaste daar gaan eet, kan jy op dié gerestoureerde rusbank sit en jou verbeel jy het bloubloed.
Later daardie aand skuif ek my hotelkamervenster in Jamestown ’n entjie onderkant Napoleonstraat op en kyk uit na die geboutjie regoor die straat: Hier het Napoleon sy eerste aand deurgebring. Dis lankal nie meer ’n herberg nie.
As dié gebou kon praat ...
Hoe anders moes die wêreld toe sonder elektrisiteit, spoeltoilette en kommunikasie nie gelyk het nie? Hoe onseker moes hy nie gewees het oor dit wat op hom wag nie?
En hoe sou hy kon weet dat mense meer as 200 jaar ná sy dood steeds gefassineer met sy verhaal sou wees?

My gids vir alles wat met Napoleon te make het, was Barry Hubbard.
Kitsfeite
- In Oktober vanjaar is dit 210 jaar sedert Napoleon op die eiland arriveer het; 204 jaar sedert sy dood op 5 Mei; 185 jaar sedert sy oorskot die eiland verlaat het; en in Augustus vier aanhangers 256 jaar sedert sy geboorte.
- Meer inligting en kaartjies is by https://sthelenatourism.com/history-and-heritage/ beskikbaar. Die gawe span by die toerismekantoor in The Canister, Jamestown help graag en kan ook toergidse reël. Bel +290 22158 of ’n stuur e-pos na visit@sainthelena.gov.sh.
- Bespreek die geakkrediteerde toergids Barry Hubbard van Barry Hubbard Tours by T: 290 24444, 290 65027 of stuur ’n e-pos na barry.hubbard@pm.me.
Lees ook:
Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte
Weelderige Oudtshoorn-volstruisvere weer op die wêreld se lippe
Toevallig in dienst van keizer en koning: Gerlacus Buma 1793–1838

