Handevat vir goeie hoop, 370 jaar ná Van Riebeeck

  • 0

In die eerste week van April het ’n Kaapse storm losgebars oor die totstandkoming van ’n nuwe burgerlike organisasie, Kaapse Forum.

Dié forum se ontstaan is die breinkind van AfriForum, wat hom die afgelope byna twee dekades beywer vir Afrikaner-selfstandigheid, maar wat in die gees van wedersydse erkenning en respek ’n verskil wil help maak in soveel as moontlik van die gemeenskappe wat die Suid-Afrikaanse tapisserie van kultuurdiversiteit vorm.

Omdat die nuwe Kaapse Forum hierdie verbintenis met AfriForum nie vir ’n oomblik probeer wegsteek het nie, is dit onmiddellik as ’n “bruin AfriForum” gebrandmerk. Gebrandmerk, ja, want dit sou die slegste ding wees wat met die bruin gemeenskappe van die Wes-Kaap kon gebeur het sedert die beëindiging van apartheid in 1994.

Watse belang sou AfriForum dan nou skielik hê om die lot van bruin mense te probeer verbeter anders as om hulle vir eie gewin te wil misbruik? Bruin mense kan tog na hulself omsien, dinge vir hulself doen. Hulle het nie die “baas” se beterweterigheid of beste praktyke nodig nie. ’n Mens móét begrip vir die agterdog hê: Ons almal is immers goed vertroud met die land se geskiedenis – en dit strek tot by die aankoms aan die Kaap de Goede Hoop op 6 April 1652 van Jan van Riebeeck en sy VOC-geselskap.

Hiertydens het ’n eerste ontmoeting met plaaslike inheemse mense plaasgevind, ’n toneel wat deur ’n Charles Bell-skildery uitgebeeld word. Oor dié skildery het ek by die amptelike bekendstelling van Kaapse Forum op 4 Mei in die historiese Bo-Kaap gesê: “Wat ’n mens in daardie uitbeelding sien, is ’n mengsel van wat beskryf kan word as meerderwaardigheid teenoor eerbied; en ’n manifestering van sogenaamde Westerse of Europese kleredrag, houding en voorkoms teenoor die plaaslike, ‘ongekultuveerde’, ‘heidense’ ‘barbare’.”

Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap deur Charles Davidson Bell (Wikimedia Commons, openbare domein)

Maar wat is die geskiedenis tog? Dit is dinge van die verlede. Ons moet lesse daaruit leer, nie daarby vashaak nie. Uiteraard het daardie geskiedenis, daardie verlede, ’n rol gespeel in die toestand waarin bruin gemeenskappe hulle vandag bevind. Min of meer elke maatskaplike, sosio-ekonomiese en sosiopolitiese “stinkbom” – sy dit armoede, drankmisbruik of vroeë skoolverlating is – het ’n raakpunt met ’n tyd wat nie meer bestaan nie.

Hoe kom jy egter daar verby in ’n land waar die meeste burgers, sonder aansiens des ras of geloof of geslag, dit oor één ding eens skyn te wees, te wete dat die regering se prestasierekord veel te wense oorlaat? Waaroor die landsburgers saamstem, is dat die verterende verskynsel van vraatsug veroorsaak dat weinig dienslewering plaasvind op die vlak wat deur die regerende party in sy eie beleidsdokumente en konferensieresolusies belowe word. (Gewis is nuwes in Desember by die ANC se Limpopo-konferensie op pad.)

Mense het dus basies twee moontlikhede oor hoe om die situasie te hanteer: Sing jou klaagliedere daagliks uit volle bors oor hoe onbeholpe die regering is, of staan soggens op en doen iets daaraan.

Wat Kaapse Forum betref, is tien fokusareas – of “doendinge” – geïdentifiseer. Dit is veiligheid, behuising, onderwys, energie, regbank, visserye, infrastruktuur, water, voedselsekerheid en belasting. Kortom sal die organisasie hom daarvoor beywer om die bestuur van hierdie staatsfunksies na die provinsie, munisipaliteite en gemeenskappe afgewentel te kry. Wat daarmee saamgaan, is dat die belastinggeld wat deur die Nasionale Tesourie vir die genoemde funksies in die provinsie toegewys word, dan ook aan die Wes-Kaap toevertrou moet word eerder as om op die aalmoese van ’n nasionale minister in Pretoria te moet staatmaak.

Hierdie is natuurlik sekondêre, hoëvlakdoelwitte, waarvan sommige bereik kan word en ander dalk nie. So wat doen jy intussen? Jy fokus op primêre, grondvlakdoelwitte, soos om in plaaslike gemeenskappe hand by te sit met onder meer armoedeverligting, onderrig en vaardigheidsontwikkeling.

In die eerste week van April vanjaar, 370 jaar ná Van Riebeeck en kie se onstuimige aankoms aan die Kaap, het Kaapse Forum homself voorgestel as ’n reïnkarnasie van die inheemse volke van desjare en het AfriForum, gestroop van enige hovaardige meerderwaardigheid, ’n hand van goeie hoop uitgesteek. Die foto van hierdie
ontmoeting, wat op die voorblad van Rapport verskyn het, wys ’n toenadering vir die toekoms tussen AfriForum se hoof, Kallie Kriel, en die hoof van Kaapse Forum.

Noudat dit lyk of die openbare storm bedaar het, kan die organisasies begin uitreik na daardie gemeenskappe waar die ellende mense verhoed om vir hulleself ’n uitkoms voor te stel.

Heindrich Wyngaard is as die uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum aangewys. Hierdie artikel is, soos sy voriges, sy eie mening.

Lees ook:

Hoeveel het Jan van Riebeeck gedrink op die Drommedaris?

Stories van duskant die Kasteel

Wat is daar vir Nederland te leer uit wat Duitsland pas gedoen het?

Jan van Riebeeck en Krotoa se tyd: 10 verrassende feite

Clicks: Dis dié keer regtig Van Riebeeck se skuld

Voertaal: De pruik van Jan van Riebeeck

Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications

Motivering vir afgestigte Kaap dalk "die leuen van 2020"

Alle problemen begonnen met Van Riebeeck: de verbazende oogst van tien jaar journalistiek werk in Zuid-Afrika

Een boek dat alles heeft: Niels Posthumus neemt afscheid van Zuid-Afrika

Suid-Afrikaanse erfenis-uitstalling in Kaapstad

LitNet-argief: Good Hope. South Africa and the Netherlands from 1600: ’n resensie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top