Vra die veearts: Hond diskrimineer teen vrou

  • 0

Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.

Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.

Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.

***

Marianne

Ons het ’n vyf maande oue hondjie wat ’n kruis tussen ’n Switserse herdershond en ’n Belgiese herdershond is. Ons het haar ongeveer ’n maand gelede gekry.

Ek en my man gebruik dieselfde bevele en belonings om vir haar sekere gedrag aan te leer en ander af te leer, maar om een of ander rede luister sy nie na my nie.

Die grootste probleem is dat sy teen my opspring en my krap met haar naels wanneer sy opgewonde is, en sy hou nie op as ek haar wegstoot of sekere woorde gebruik nie.

Sy sal dit nooit waag om teen my man op te spring nie.

Is daar miskien ’n rede hoekom sy dit spesifiek met my sal doen en nie na my wil luister nie?

Lara

 

Beste Lara

Dis ’n vreeslik interessante vraag dié!

Honde reageer op hormone soos testosteroon, wat beteken dat ’n man en ’n vrou soms dieselfde bevel kan gee en honde tog anders kan reageer. Gelukkig kan ons lyftaal harder praat as ons hormone!

In ’n geval soos julle s’n is dit nie ’n gebrek aan respek teenoor jou nie, maar waarskynlik eerder die feit dat jou hond jou sien as ’n saggeaarde, liewe, vriendelike eienaar en as gevolg daarvan meer spelerig is en jou ook meer “terugantwoord” as jy haar probeer dissiplineer. Baie soos mensekinders, nè?

Ek stel voor dat jy twee dinge doen om weer die oorhand te kry.

Eerstens, verlaag jou stemtoon wanneer jy ’n streng bevel gee. Baie honde reageer vinniger op ’n lae stem.

Tweedens, wanneer sy teen jou opspring, moet haar nie wegstoot nie, want honde kan dink jou hande is soos hulle voorpote, en dat jy probeer om saam te speel wanneer jou voorpote aan haar voorpote stoot! Vou eerder jou arms, draai jou rug op haar, en sê in ’n streng, diep stem kortaf “NEE”. Op dié manier weet sy jy hou nie van haar speletjie nie, en behoort sy die opspringgewoonte af te leer.

Groete

Marianne

Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.

Lees ook:

Vra die veearts | Honde in Suid-Afrika vs honde in Europa

Vra die veearts: Babahondjies eet klippe

Vra die veearts: Jack Russell sit in die reën

Ask the vet: Our dog licks its paws raw

Vra die veearts: Ons woefie het katgriep

Vra die veearts: Optelkatjie se been is af

Vra die veearts: Vlooimedikasie

Vra die veearts: Boerboel grom vir my

Vra die veearts: My worshondjie het gedink hy is Superman

Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?

Vra die veearts: Moet my hond wortels en appels eet?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top