Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Ronelle skryf:
Goeie dag
Ek het ’n 5 jaar oue, dowe pitbull.
Hy hap maklik na mens. Hy is vuil, stink en slaap in die huis.
Ons kan hom nie bad nie, want hy sal ons byt.
Is daar iets, soos ’n pil, wat ek hom kan gee om te slaap en hom dan te bad?
Dankie en groete
Ronelle
Beste Ronelle
Ja-nee, ek weet presies hoe bang sommige kinders (twee- of vierbenig) kan wees vir ’n bad! Diere wat een sintuig minder het om mee te werk, is geneig daartoe om nóg makliker verbouereerd te raak in onbekende situasies, soos om binne water te staan wanneer hulle gewoonlik op droë grond leef. En natuurlik is die manier waarop ’n hond homself beskerm, deur te byt.
Vir lesers wat jonger honde het, kan ek aanraai dat hulle die honde van kleins af leer om gewoond te raak aan ’n stort. Vreemd soos dit klink, is die meerderheid honde gemakliker as hulle nie in diep water hoef te staan nie, en indien hulle al van ’n jong ouderdom af leer dat die stort net lekker warm reën is, is hulle gewoonlik lewenslank gelukkig om gestort te word.
Met ’n hond wat klaar vyf is, is dit ongelukkig waarskynlik te laat, veral aangesien hy ook doof is. Ek dink jou idee om hom ’n pil te gee om te slaap voor die bad is perfek, Ronelle, maar ongelukkig is dit iets wat net onder ’n veearts se direkte toesig gedoen kan word, omdat honde onder sedasie konstant gemonitor moet word. Ek stel dus voor dat jy julle pittie by ’n plaaslike veearts met ’n hondesalon kry, waar hulle hom kan kalmeer, bad en skoon huis toe kan stuur.
Groete
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: My Jack Russell is doof, grondpaaie laat hom kerm
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: Raad vir ’n rou kol wat nie wil genees nie?
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?