Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) het verneem dat hulle die ontvangers is van die Van Ewijck Stigting se 2024-prestasieprys ten opsigte van die bevordering van kulturele uitwisseling. Menán van Heerden en Izak de Vries het met Eureka Barnard, SASNEV se bedryfshoof, gesels.
Eureka, baie geluk! Wat beteken dit vir SASNEV dat die Van Ewijck Stigting julle werk op hierdie manier raaksien?
SASNEV is oorstelp van vreugde op velerlei vlakke. Die grootste en beste nuus is die finansiële inspuiting wat aan die prys gekoppel is, en nóg belangriker, die groot eer om deur een van die mees toonaangewende instellings wat die Nederlandse kultuur in Suid-Afrika bevorder, so vereer te word. Die toekenning gee erkenning aan SASNEV se rol en bydrae wat oor meer as 26 jaar strek. In hierdie periode was daar net vier voorsitters en drie bestuurshoofde aan die stuur van die sentrum. Dit is ’n aanduiding dat selfs in moeilike omstandighede, soms bykans onbegaanbare paaie en deur stormwaters, daar altyd kundige bemanningslede en goeie kapteins aan boord was. Glo my maar, soos met die meeste kultuurinstellings was dit nie altyd maklike tye en gerieflike omstandighede om die kultuurboot wat sy eie stoom moet genereer op die water te hou nie.
Voertaal het al oor SASNEV berig. Willem de Vries se onderhoud in 2018 is uiters deeglik, maar wil jy in ’n neutedop opsom hoe jy SASNEV se rol “ten opsigte van die bevordering van kulturele uitwisseling” sien? Die aanhalingstekens toon woorde deur die Van Ewijck Stigting.
Om die vraag te beantwoord moet ons eers stilstaan by SASNEV se doelstelling, wat fokus op die bevordering van kulturele betrekkinge in die ruimste sin van die woord tussen Suid-Afrika, Nederland en ook Vlaandere. Kulturele uitwisseling is die basis van waaruit SASNEV ontwikkel het.
SASNEV is ’n onafhanklike kultuursentrum en biblioteek in Pinelands en bevorder al vir 26 jaar die kultuurbande tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika. Reeds in die somer van 1995 is ooreengekom wat die algemene ontwerp en grootte van die beoogde kombinasie van biblioteek en kultuursentrum sou wees.
As toe nog ’n betreklik beskeie kultuursentrum, in noue samewerking met die biblioteek, moes die kultuurafdeling fasiliteite bied vir vergaderings, kursusse en voordragte, en moes dit ’n taallaboratoriumfunksie hê. Filmbekendstellings en tentoonstellings moes ook aangebied word. Die programme van die (sosiaal-) kulturele tak van die “Huis” moes dus byna van vooraf opgebou word. Die kultuurhuis was toe bekend as Huis der Nederlanden.
Vroeg in 2009 het Huis der Nederlanden die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere geword (dus SASNEV) en verder gebou op die mooi resultate wat toe reeds bereik is. Buiten om ’n buitelandse kultuursentrum vir Nederland en Vlaandere te wees, is SASNEV ook ’n instrument vir samewerking tussen Nederlandstaliges en Afrikaanstaliges. Juis hierom het SASNEV sedert 2019 opnuut bande gesmee met nie net die Nederlandse Taalunie in 2020 nie, maar ook met Afrikaanse instellings soos die Afrikaanse Taalraad, die AOU, Afrikaans.com, VivA, PEN Afrikaans, die Jakes Gerwel Stigting, die Universiteite van Wes-Kaapland, Stellenbosch en Kaapstad se departemente wat hul besig hou met Afrikaans en Nederlands, die SBA en nog vele meer.
Maar wat funksionering betref, is SASNEV vandag steeds ’n privaat, nieregeringsorganisasie sonder winsoogmerk wat graag sou wou kon staatmaak, maar nie op permanente basis nie, op regeringsteun (buite- en binnelands). Omdat SASNEV ’n onafhanklike privaat instelling is, is die voordeel dat dit meer ligvoetig en uiters aanpasbaar is. Enige, en dus bykans alle, kulturele uitruilings of uitwisselings wat tussen Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere kan plaasvind, laat SASNEV regop sit. Veral op die gebied van die letterkunde is SASNEV ’n bemiddelaar, amper ’n soort kultuurmakelaar, wat gratis dienste lewer vir optredes by feeste vir onder meer skrywers, teatermakers en musikante, maar koördineer ook werkswinkels, boekbekendstellings en boektoere dwarsoor Suid-Afrika tussen skrywers, teatermakers, akteurs, musikante en akademici. Wat ook goed is, is dat SASNEV nie altyd reklame hoef te maak vir sy doen en late nie. Omdat SASNEV bekend is vir sy mooi ruimtes en beweeglikheid, vínd mense die sentrum, en hoor van ons projekte by ander. So onbepland het daar oor die jare al verskeie interessante besoekers oor SASNEV se drempel geloop.
Veral die afgelope 10 jaar kan mens sien dat daar in 2023 op baie fronte baie meer uitwisseling plaasgevind het as in 2013. Daar is nou ook baie meer rolspelers in Suid-Afrika wat betrokke is by kulturele uitwisseling tussen die Lae Lande en Suid-Afrika as wat daar vroeër was. Mens sou die rede hiervoor aan verskeie kapstokke kon hang, maar ek glo SASNEV het as kultuurmakelaar nie ’n geringe bydrae gelewer in hierdie uitwisseling nie.
Tydens apartheid was die Nederlandse en Vlaamse samelewing met reg skepties oor betrekkinge met Suid-Afrika. Toe kom die goue jare van Madiba, en elke diplomaat doen aansoek vir ’n pos in die suide van Afrika. Hoe ervaar jy, as bedryfshoof van SASNEV, die huidige gemoed teenoor ons land onder befondsers en kultuurinstansies in Nederland en Vlaandere?
Die kort antwoord is: heel goed, omdat SASNEV ’n baie goeie naam het en ’n gerekende projekvennoot is. As mens dieper sou delf, dan is dit ’n baie moeilike vraag om te beantwoord. Daar is twee kwessies hier ter sprake. Die diplomatieke betrekkinge is een kant van die muntstuk. Die ander kant is nie die ander kant van dié muntstuk nie, maar eerder ’n tweede muntstuk: die befondsers. SASNEV sou nie vir 26 jaar kon bestaan het as die projekte wat aangepak word, nie deur die diplomatieke verteenwoordiging in Suid-Afrika ondersteun was nie. Alhoewel regeringsfondse beskikbaar is, kan dit alleen en slegs vir projekte aangewend word. Soos die Nederlanders graag sê, daar is nie fondse vir “stenen en benen” nie. Die afgelope paar jaar het die diplomatieke verteenwoordiging baie gedoen om SASNEV as belangrike rolspeler in die netwerk te erken en finansieel te ondersteun. SASNEV word ook op ander maniere deur die diplomate ondersteun. SASNEV word byvoorbeeld erken vir sy kulturele bydrae en netwerke in Suid-Afrika en word daarom gereeld na groot netwerkgeleenthede genooi. So was SASNEV byvoorbeeld bevoorreg om teenwoordig te kon wees met die besoeke in 2023 van beide die Nederlandse en die Belgiese koningshuise aan Suid-Afrika.
Die fondse wat beskikbaar is om SASNEV administratief te laat werk, is sedert die pandemie wel minder, maar die goedgesindheid van die meeste rolspelers binne ons netwerk is gelukkig groter. Mens moet in gedagte hou dat die nagevolge van die pandemie vir nog ’n hele paar jaar met ons sal wees. Daarom is die tweede muntstuk, die befondsers se muntstuk, nou ook aansienlik kleiner. Gelukkig is die rand-euro-wisselkoers die afgelope jaar voordelig vir SASNEV, omdat die subsidiebydraes in euro uitbetaal word. Dié ekstra rande hou die ligte aan.
As mens in die algemeen moet kyk na (of dan, soos die vraag vra) wat die huidige gemoed is by kulturele instansies in Nederland en Vlaandere teenoor ons land, is die antwoord nie eenvoudig nie. Dit is ’n vraag wat uit soveel komplekse en boonop ook uiteenlopende hoeke beantwoord sou kon word. Ons wêreld het ondertussen en sedert ons stigting baie kompleks geraak. Dit is moeiliker om objektief te bly. Die invloed van sosiale media het die wêreld letterlik en figuurlik op sy kop gedraai en baie klein gemaak en verdeel mense maklik en gou. (En ons weet nog nie eens wat die impak van KI op ons leefwêreld gaan wees nie.) Kyk maar net na hoe regsgesind Nederland en Vlaandere die afgelope jaar geraak het. Selfs Italië staan nie terug nie. Die meeste mense weet dat Amerika ook baie meer konserwatief geword het. Ek dink nie dit is reg of verkeerd nie, dit is net ’n feit. Die wêreld vandag is té kompleks en hopeloos te onvoorspelbaar vir net een feitestel. Vandag dink ons so en môre waai die rukwinde ons in ’n ander rigting.
Die kwessie vir my is eerder of Suid-Afrika, ten minste wat gedeelde kultuurerfenisse betref, nog op die gemiddelde Nederlander en Vlaminge se radar is. Ja, natuurlik is die vraag ook omgekeerd relevant. Om verder daarop uit te brei: Is die gemiddelde persoon in Nederland en Vlaandere nog bewus van die kulturele verbintenisse met Suid-Afrika – soos die naelstring wat daar tussen Nederlands en Afrikaans is, die argitektuur soos die Kaaps-Hollandse argitektuur en nog soveel meer verbintenisse tussen die Lae Lande en Suid-Afrika? Die idealis in my wil begin met vertoë rig en wil bewusmakingsgeleenthede uitdink, maar hoe bemark jy hierdie gedeelde erfenisse en praat daaroor met mekaar om die kompleksiteit daarvan beter te verstaan sonder dat ’n hele klomp mense jou as ’n prokolonialis, of te woke, teer en veer?
My antwoord, dus: As jy nog glo in die mens, sou ek met redelike sekerheid kan sê dat die huidige gemoed teenoor ons land onder befondsers en kulturele instansies in Nederland en Vlaandere, soos die kultuurhuise Zuid-Afrikahuis in Amsterdam en deBuren in Brussel, eerder positief is as negatief. As jy met jou oor op die grond loop en jou projek goed gemotiveer is en die “regte” knoppies aktiveer, is die kanse goed dat fondse die Europese vasteland vir Afrika sal verlaat.
Padlangse vraag: Die bedrag van R100 000 is nou aan julle bewillig deur die Van Ewijck Stigting, wat wonderlik is, maar dis onwaarskynlik dat dit julle koste vir meer as ’n aantal maande sal dek. Hoe staan julle finansies tans?
Die laaste vraag se reaksie sluit goed aan by hierdie vraag. SASNEV is baie bevoorreg om kort ná die pandemie met gemak te kan sê dat ons normale aktiwiteite, soos lesings, voordragte en kultuurfeeste soos Koningsdag en om Sinterklaas in te wag, weer aangebied kan word. Daar was tydens die pandemie selfs nuwe vennote wat saam met SASNEV aan mooi projekte met goeie resultate saamgewerk het. ’n Paar van hulle is reeds hier bo vermeld. SASNEV se Studio SASNEV het tydens die pandemie met van hierdie vennote se bydraes ontstaan en raak elke jaar groter.
Om terug te kom by hoe ons finansiële onafhanklikheid regkry: Al is daar steeds perke, word die kultuurhuis in Pinelands sedert sy ontstaan in 1997 deur hoofsaaklik twee donateurs se subsidies onderhou. Die Willem de Zwijger Stichting (WdZS), wat verantwoordelik is vir die uitvoering van ’n Nederlandse mynmagnaat se erflating en SASNEV opgerig het, is die hoofborg. ’n Herinterpretasie van die statute van die erflating van Ebel Hero Ebels bedreig die afgelope aantal jare SASNEV se voortbestaan in sy huidige formaat. Die toekoms sal ons moet leer wat die uitkomste van hierdie beleidsverandering vir SASNEV inhou. Gelukkig weet ons dat SASNEV nie ondermyn word deur uitdagings nie, maar eerder geleenthede daarvan maak.
Die tweede befondser, die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland (SZAHN), wat verantwoordelik is vir die bestuur van Zuid-Afrikahuis, ondersteun SASNEV ten volle.
Beide instellings voorsien dus jaarliks ’n subsidie aan SASNEV wat aangevul word deur eie fondse te genereer. Gelukkig het SASNEV ’n lieflike ruimte wat teen “vriendjiespryse” verhuur kan word aan soortgelyke instellings en veral aan verenigings met gedeelde doelwitte. Die somtotaal van hierdie bydraes help SASNEV om met baie min hulpbronne te oorleef.
Om projekte uit te voer en om op die radar te bly moet SASNEV dus baie hard werk. Vir elke projek, hoe klein ook al, word ’n volledige projekplan opgestel. Hierdie plan word dan gebruik om mee aansoek te doen by ’n organisasie of instelling wat spesifieke fondse beskikbaar het vir ’n spesifieke doel. Natuurlik word ook waar van toepassing aansoek gedoen by die Nederlandse, Belgiese en Vlaamse owerhede vir finansiële steun aan SASNEV se projekte.
Dit neem jare om hierdie verhoudinge met moontlike befondsers op te bou en om SASNEV se goeie naam hoog te hou, veral omdat SASNEV soms moet meeding met soortgelyke instellings vir dieselfde klein potjie fondse. Die Van Ewijck Stigting se prystoekenning, en deur hierdie toekenning erkenning aan SASNEV se rol en funksie binne die Nederlandse en Vlaamse netwerk wat in Suid-Afrika aktief besig is, is hierom ontsettend baie meer werd as net die R100 000 prysgeld. Dit gee SASNEV gravitas en baie moed vir die toekoms.
Die naam van julle sentrum toon ’n gerigtheid op Europa. Voertaal word al hoe meer gelees in voormalige kolonies soos Aruba, Curaçao, Indonesië en Suriname. Sou instansies van daar na SASNEV kon uitreik vir nouer betrekkinge?
Natuurlik – wie wil nie met die Karibiese eilande iets te doen hê nie! Die Nederlandse Antille was tot 10 Oktober 2010 ’n groep Nederlandse eilande in die Karibiese See. Daar was ses van hulle: Aruba, Curaçao, Bonaire, Sint Maarten, Sint Eustatius en Saba.
Dit is ’n baie interessante brokkie nuus om te hoor dat daar belangstelling en lesers van Voertaal is uit voormalige Nederlandse kolonies. Die kulturele aanbod daar is baie groot, maar net soos in Suid-Afrika, is daar meestal ’n gebrek aan fondse en is instellings wat oorleef, in ’n “oorlewingsmodus”. Die meeste kultuurinstellings in Suid-Afrika ken hierdie modus. SASNEV ken dit ook. Dit is baie insiggewend om uit bronne te verneem dat dié eilande met dieselfde uitdagings sit as ons hier in Suid-Afrika.
As ons by ’n kort historiese agtergrond stilstaan, sê die bronne dat Aruba, Curaçao en Bonaire betreklik min inwoners het, maar dat hulle ’n ryk kultuurerfenis het. Aruba het die status aparte as ’n land binne die Koninkryk van Nederland in 1986 verkry. Hierdie status is ook in 2010 deur Curaçao en Sint Maarten verkry. Die ander voormalige Antilliaanse eilande – Bonaire, Saba en Sint Eustatius – het die status van spesiale munisipaliteite van Nederland.
Ons het hier in Suid-Afrika iets wat sommige grondlangs sommer noem “susterstede”. Oudtshoorn in die Klein Karoo se “susterstad” is die Nederlandse gemeente (munisipaliteit) Alphen aan de Rijn. As onderdeel van die gemeente Alphen aan den Rijn is geleë die voormalige dorpie Oudshoorn. In Suid-Afrika is ook ’n dorp met die naam Oudtshoorn, maar interessant word dit anders gespel – mét ’n t na die d. In 2002 het die twee munisipaliteite ’n samewerkingsooreenkoms onderteken. Die twee munisipaliteite se rade het toe besluit om die ooreenkoms op twee maniere uit te voer: Die rade ruil kennis en vaardighede uit, maar die bevolking van albei munisipaliteite behoort ook iets daaruit te leer en te ervaar.
Nou hoekom noem ek dit? Niks verhoed SASNEV om kontak te maak met die eilande se kultuurinstellings en hulle te verbind met soortgelyke instellings in Suid-Afrika en om dan iets soortgelyk van stapel te probeer stuur nie. Een uitsondering van so ’n merkwaardige kultuurhuis is Ateliers ‘89 op Aruba, ’n kultuursentrum waar kinders en volwassenes bymekaarkom om kuns te maak, met werkswinkels wat deur bekende kunsmakers bestuur word. Hulle organiseer een groot internasionale projek wat genoem word Caribbean Linked, wat vervaardigers van regoor die Karibiese streek in staat stel om saam te kom en om werkswinkels te gee of te volg.
Net soos hier by ons in Suid-Afrika stop die gebrek aan beleid en befondsing nie die organisering van grootskaalse projekte nie. Die jaarlikse Kaya Kaya-fees op Curaçao word byvoorbeeld geprys vir sy herlewingsimpak op Otrobanda, ’n armer distrik van Willemstad. Elke jaar word die fees in ’n ander deel van Otrobanda gehou, waarvoor geboue “vars” geverf word om ’n positiewe gevoel te skep en ekonomiese geleenthede te verbeter. Dit is baie interessant om te sien dat befondsing vir die Kaya Kaya-inisiatief uit verskillende bronne kom. Daar is byvoorbeeld ’n vennootskap met ’n verfmaatskappy, en buitelandse vervaardigers kry vliegkaartjies deur middel van ’n vennootskap met ’n lugredery. Die Curaçao Toeristeraad dra ook by deur dit as ’n “bestemmingsgeleentheid” te erken. Daar is ’n soortgelyke inisiatief op Aruba, wat mens ook verder sou kon ondersoek. Buiten hierdie hoogtepunte is die eilande terselfdertyd die tuiste van baie ander wonderlike kreatiewe aktiwiteite. Verskeie organisasies werk met onbeperkte entoesiasme en toewyding aan waardevolle kultuurprojekte. Curaçao het nog ’n projek wat uitgesonder kan word, naamlik die NAAM-projek (Nasionale Argeologiese Antropologiese Geheuebestuur-projek – vry vertaal). Dit is ’n klein organisasie wat ongelooflik belangrike werk op die gebied van antropologiese argeologie doen. Nog ’n voorbeeld is Kaya Kaya wat hier bo gemeld is – ’n organisasie wat gebaseer is in Otrobanda, Willemstad, wat elke jaar ’n groot Straatkultuurfees reël. Dié fees is ’n manier om verskillende mense bymekaar te bring en is ’n positiewe stimulus vir die woonbuurt. Ons sou ontsettend baie by hierdie inisiatief kon leer. Hierdie mooi straatkultuurfees werk deur die jaar daaraan om die woonbuurt te verbeter, soos hier bo vermeld, byvoorbeeld deur huise te verf, opruimingsveldtogte te organiseer en groen by die openbare ruimte te voeg, en boonop is die strewe daar om dit volhoubaar te maak en van jaar tot jaar te laat gebeur op ’n volhoubare manier. Ek kan my net indink wat so ’n inisiatief vir ons eie klein dorpies in Suid-Afrika kan beteken. Daar is ook die teater Cas di Cultura, wat blykbaar elke jaar verskeie programme organiseer, en ook Unoca, ’n stigting wat sedert 1986 Aruba se ontwikkeling stimuleer. Die eilande is ook die tuiste van talle opvoedkundige jeugprojekte en ondernemings wat toegewy is aan die behoud van die eilande se kultuurerfenis.
SASNEV en genote wat ons hierby kon betrek, is bitter ver en die kostes om eers te gaan kuier en meer te leer dus enorm. Dit kan ongelukkig moontlike uitruiling en leer van mekaar kortwiek, maar SASNEV kan dalk help met bewusmaking en uitwisselings oor kontinente heen van mekaar se aktiwiteite en idees en om dus moontlike uitwisseling op dié manier te help fasiliteer.
Een so ’n jaarlikse gebeurtenis wat Suidelike Afrika, die Nederlandse Antille en Europa en Asië (Indonesië) sou kon verbind, is die jaarlikse viering van die Week van het Nederlands, en deelname, of selfs net oor en weer bewusmaking van ons eie feeste. Tot dusver was daar nog nie deelname van die eilande aan die Week van het Nederlands waarvan SASNEV weet nie, terwyl ons hier in Suid-Afrika hierdie jaar die 4de edisie buite die grense van Nederland en Vlaandere aan die einde van September 2024 vier. Binne die grense van Nederland en Vlaandere word hierdie jaar die 10de edisie gevier
Dit is, soos genoem, ongelukkig weens die afstande en min fondse nie so maklik om reeds beperkte fondse beter te benut nie. Die aanlynwêreld waaraan ons nou gewoond geraak het, help, maar kultuur moet met alle sintuie en voluit gedeel en ervaar word. Ons weet almal ’n klein skermpie is ’n tweevlakkige ervaring wat net nie dieselfde kultuurervaring bied as ’n in lewende lywe aanbieding nie.
SASNEV sou veral skrywers en ander kultuurmakers soos akteurs, filmmakers en teatermakers uit hierdie wêrelddele kon ontvang. Dit kan ook ’n baie interessante projek wees om rolspelers uit Indonesië en Suid-Afrika, beide as voormalige kolonies, met mekaar te verbind en te laat praat. Dit kan baie interessante gevolge hê. Dit kan ook baie interessante studieonderwerpe bied of ’n kollokwium of twee inspireer.
Dit blyk dus belangrik te wees dat SASNEV in die toekoms meer uit die boksie sal moet dink. Die instellings uit hierdie kolonies wat hier bo vermeld is – kan daar ’n manier gevind word om hulle te betrek by die Suid-Afrikaanse narratief sodat daar gesamentlik ondersoek ingestel kan word na wat Suid-Afrika en byvoorbeeld Aruba, Curaçao en Suriname, maar veral ook Indonesië, gemeen het?
Histories deel ons almal dieselfde “moederskip” en sou teoreties dus met slim projekte vir fondse aansoek kon doen. Die gedeelde erfenisse tussen Suid-Afrika en Indonesië móét indrukwekkend wees, veral omdat ons weet hoe sterk die bloedverwantskap tussen die mense van die Indonesiese eilande en Suid-Afrika is, maar ons sou baie meer kon weet en meer kon doen met hierdie inligting en beslis meer met mekaar kon kommunikeer oor hierdie verwantskappe. In Suid-Afrika se koloniale tyd het die meeste van die Indonesiese bannelinge en meer as 60 000 slawe uit Indonesië, Maleisië, Madagaskar en ook Afrika, afstammelinge aan die Kaap nagelaat. Dit is ’n onontginde genealogiese skat en lekker onderwerpe wat verder ondersoek kan word. Met die Koning van Nederland wat verlede jaar formeel om verskoning gevra het vir sy land se rol in die slawehandel en selfs gesê het hy voel “persoonlik en intens” geraak, is daar projekfondse beskikbaar gestel om hierdie onderwerpe verder te ondersoek. Ons het werk om te doen.
SASNEV is ook die tuiste van ’n enorme Nederlandse biblioteek. Meer onlangs is ’n baie spesiale versameling boeke aan julle oorhandig. Sou jy meer wou uitbrei?
Dit is ’n interessante vraag. Ek wonder na watter versameling die vraag verwys, want daar is eintlik twee waarvan ek weet. Die eerste een is die Dan Sleigh-boekversameling, wat ’n lieflike aanwins is vir die Bibliotheek. Sleigh was ’n gerekende historikus en Afrikaanse skrywer van gedigte, jeugverhale, romans en historiese werke. Sy versameling boeke is ’n weerspieëling van sy prestasies en belangstellingsvelde en is nou deel van die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad wat by SASNEV gehuisves word. Dit is ’n reuse aanwins vir navorsers wat in onder andere die VOC-geskiedenis van Suid-Afrika belangstel.
Die tweede versameling wat onlangs by die Bibliotheek verwelkom is, is die Spesiale Kolleksiekamer-projek se eerste vertaalde werke wat in Oktober 2023 bekendgestel is. SASNEV het reeds ’n mooi versameling van bykans 500 boeke bymekaargemaak, maar weens die omvang van die versameling wil oms nou ’n lokaal inrig vir vertalings in Afrikaans van Nederlandse en Vlaamse skrywers en digters se werke en ook andersom. Vir hierdie projek word individue en instansies soos universiteite in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere genader om SASNEV en die Bibliotheek by te staan; en natuurlik is Protea Boekhuis, die uitgewery wat tallose vertalings tot sy bates het, ook by die versameling betrek. Die bedoeling is om die lokaal aan belangstellendes, maar veral studente, navorsers en akademici, beskikbaar te stel. Die boeke wat nie meer beskikbaar is nie, is vir die versameling van groot waarde. Om dus na 26 jaar op hierdie manier nóg steeds ’n studiehulpmiddel te wees vir studente in die Neerlandistiek in Suidelike Afrika is ’n voorreg.
Julle gespreksreekse is gewild en word gratis op die internet uitgesaai. Hoe kan belangstellendes meer inligting daaroor kry?
Die YouTube-platform huisves SASNEV se YouTube kanaal Studio SASNEV wat tydens die pandemie ontstaan het. SASNEV moes in ’n tyd toe die deure vir almal toe was en beweeglikheid tot die uiterste beperk was, ’n manier vind om aandag te trek, maar ook om aandag te behou. Nou het SASNEV ’n digitale argief van al die relevante gesprekke, boekbekendstellings, kongresse, vieringe en ander opnames wat vir ons belangrik is. Ons is baie trots hierop, omdat dit met uiters beperkte middele opgeneem word. Ons aanhang groei elke jaar met ’n paar aanhangers soos wat meer en meer mense van die kanaal bewus raak. Hier is die skakel na Studio SASNEV.
https://www.youtube.com/@studiosasnev2569/streams
SASNEV doen baie om Nederlands as taal te bevorder in Suid-Afrika. Ek dink onder andere aan die Nederlandse lespakket vir skole en die jaarlikse deelname aan die Week van het Nederlands. Watter voordeel sou ’n beter kennis van Nederlands vir gewone Suid-Afrikaners inhou?
Dit is ook ’n moeilike vraag om te beantwoord, want wat is ’n “gewone Suid-Afrikaner”? In die algemeen gesien, merk ons op, veral in die laaste paar jaar, dat baie Suid-Afrikaanse jongmense na Nederland en/of België gaan om te werk, om ’n nuwe heenkome te vind of om sommer net tydelik hulle werkhorisonne te verbreed. Dikwels is dit jongmense wat families in Suid-Afrika agterlaat. Hoe beter om mekaar te ondersteun en jou voor te berei vir ’n besoek aan die Lae Lande as om dit te doen deur die Nederlandse taal aan te leer en natuurlik daarmee saam om meer oor die Nederlander en Vlaming se kultuur te wete te kom. Dit help ook om te weet dat daar kulturele verskille is tussen Nederlanders en Vlaminge, al praat hulle dieselfde taal. Die beste ding om te weet is dat wanneer jy stadig Afrikaans praat en na ’n paar weke geleer het dat uitspraak baie belangrik is en jou uitspraak dus effens “buig”, jy selfs met Afrikaans baie ver kan kom. Om nie in die moeilikheid te raak of misverstaan te word nie, moet jy ook weet van “valse vriende”. Valse vriende verwys is woorde van twee tale waarvan die vorm byna of geheel en al dieselfde is, maar waarvan die betekenis heelwat of soms net effens verskil. ’n Paar voorbeelde, een reeds hier bo genoem: Die woord gemeente beteken in Nederlands is “munisipaliteit” en agent beteken in Nederlands “polisieman”.
SASNEV het onlangs ’n entrepreneur bygestaan wat beweer dat daar op die oomblik in Nederland 40 000 Suid-Afrikaners is wat Nederlands wil leer. Dit is ’n skrikwekkend groot getal! Die agtergrond hiervan is dat die meeste immigrante na Nederland is wat van buite die Europese Unie (EU) afkomstig is en ’n taaleksamen, die “Inburgeringsexamen”, moet aflê om ’n Nederlandse verblyfpermit te kry of om vir Nederlandse burgerskap aansoek te doen. Dié proses word met die taaleksamen begin. Dit is ontwerp om te verseker dat emigrante na Nederland ’n basiese begrip het van die Nederlandse taal en kultuur. Dit is interessant om te weet dat daar vyf afdelings is, buiten die vrae oor Nederlandse wette en gebruike. Jou kennis van die Nederlandse samelewing word getoets saam met jou Nederlandse praatbevoegdheid, luisterbevoegdheid, leesbevoegdheid en skryfbevoegdheid. Sou mens dus hierdie taaleksamen skryf met die hulp van iemand in SASNEV se netwerk en dit aflê voordat jy na Nederland vertrek, kan dit jou ’n aansienlike klomp euro bespaar. Om geld te bespaar is vir enige “gewone” Suid-Afrikaner baie (heel veel) belangrik.
In 2022 was SASNEV 25 jaar oud. Wat sou die hoogtepunte wees van julle bestaan tot nou?
Dit is loshande die Van Ewijck Stigting se prestasieprys. Nee, eerlikwaar. Om na soveel bestaansjare hierdie besonderse prys te kan ontvang gee erkenning aan al die donateure, genote, vennote, projekte en ’n wye verskeidenheid aktiwiteite wat SASNEV oor die jare aangebied het.
Mens sou ’n hele klomp bladsye vol kon skryf met al die hoogtepunte, maar dit is makliker om die hoogtepunte uit te lig wat aandui watter verskeidenheid van aktiwiteite SASNEV by betrokke was.
Een van die sentrum se groot hoogtepunte was die bekendstelling in 2011 van Pharos se Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands in Suid-Afrika, en in Nederland Prisma se Groot Woordenboek Afrikaans en Nederlands. Hierdie is die eerste vertalende en verklarende woordeboek wat Afrikaans en Nederlands naas mekaar vergelyk. Die woordeboek word ook genoem ANNA (Afrikaans-Nederlands-Nederlands-Afrikaans). Die minister-president van Vlaandere, Kris Peeters, en sy groot gevolg was saam met ’n uitgelese groep gaste by SASNEV vir dié baie besonderse bekendstelling. Die woordeboek was die inisiatief van Harry Brinkman, destyds die erevoorsitter van die Stigting ZASM (wat voortspruit uit die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij). Vandag staan dié stigting bekend as die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland (SZAHN). Brinkman het in 1998 vir Willy Martin van die Vrije Universiteit Amsterdam genader met die idee om ’n Afrikaans-Nederlandse woordeboek te skryf. Wat die Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands spesiaal maak, is dat dit die eerste woordeboek in die wêreld is wat twee “op mekaar gelykende tale amalgameer”.
Oor die jare het verskeie wêreldbekende Nederlandse en Vlaamse skrywers SASNEV besoek om praatjies te gee of in gesprek te tree met ’n paneel kundiges. Sodra mens name begin noem, kan jy belangrike mense uitlaat, maar om net ’n paar te noem, is daar skrywers soos Adriaan van Dis, Kader Abdolah, Lize Spit, Arnon Groenberg, Conny Braam, Benny Lindelauf, Antjie Krog, Tom Lanoye, Jan de Kinder, Els Moors, Annemarié van Niekerk en Pieta van Beeken – die lys is nog baie, baie lank. Ook belangrik is die rol wat vertalers soos Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout speel om Nederlandse boek nog meer toeganklik te maak vir die Afrikaanse leser.
Die jaarlikse feeste wat gekoppel is aan die Europese feeskalender is ook lekker hoogtepunte, veral vir Nederlanders en Vlaminge in die Skiereiland. Een hiervan is die Sinterklaasfeesviering wat eers op 5 Desember met “pakjesavond” gevier word met baie rituele, pepernote en sjokoladeletters te ete, wanneer die kinders om die kaggelvuur sit en wag vir Sinterklaas om, sonder dat hulle hom gewaar, hulle pakkies af te laai, en dan op 6 Desember kom hy gewoonlik te voorskyn en heel dikwels per boot. In Suid-Afrika is die feesvieringe effens aangepas om by Suid-Afrikaanse omstandighede te pas. Dan ook, seker die grootste fees in Nederland, is Koningsdag, wanneer koning Willem-Alexander sy verjaarsdag vier. Op daardie dag verkleur alles in oranje. Koningsdag word op 27 April gevier, wat dit saam met Suid-Afrika se Vryheidsdagvieringe ’n lekker familiefeesdag maak met ’n “vrijmarkt” vir die kinders, Nederlandse lekkernye, heerlike koffie en natuurlik baie lawaai en gekuier tot laataand.
SASNEV het veral sedert 2019 verskeie skoolprojekte aangepak wat gekoppel is aan die Eenders & Anders-lespakkette. Al hierdie geleenthede was regtig besonders. Die Hoërskool Groenberg op Grabouw het een jaar saam met SASNEV en genote Trias Neerlandica-leerders uit Nederland ontvang en hulle aan mekaar voorgestel, saam laat eet en onmiddellik by mekaar laat leer wat die betekenis is van die woord wêreldburgerskap. Die week of twee wat die Nederlandse skoliere hier was om by ons Suid-Afrikaanse leerders te leer, was ’n baie spesiale paar dae. Om saam met die leerders rond te beweeg en ook deur Frazer Barry geleer te word hoe om woorde aan musiek te koppel terwyl hulle Diana Ferrus kon ontmoet wat toe ook by SASNEV was en so agter te kom dat daar geen taalgrense tussen Nederlands en Afrikaans is nie, sal altyd onthou word.
Verlede jaar het die Suidelike Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) in samewerking met SASNEV die eerste tweejaarlikse Alfred Schaffer-erelesing aangebied. Topklas akademici het die literêre konteks van Schaffer se oeuvre bespreek en Andries Visagie het die eerste erelesing gegee.
Verlede jaar se Neerlandistiekdag wat deur die Kaapse Forum Neerlandistiek (KFN) in samewerking met SASNEV aangebied is, was een van die grootste tot dusver. Die dag is gevier met poësievoorlesings in Afrikaans en Nederlands deur Alara Adilow asook Ashwin Arendse, Lynthia Julius, Pieter Odendaal en Bibi Slippers, en studente van UK, UWK, US en KSUT. Daar is in 2023 grense verskuif!
Gekoppel aan die kultuursentrum-idee is daar ook vir die vele groepe wat by SASNEV byeenkom, hoogtepunte. Die gebou word deur baie mense gebruik, wat daartoe bydra dat daar elke maand, tipies van enige kultuursentrum met SASNEV se statuur, diverse aktiwiteite aangebied word. Die wewersgilde se werkswinkels is baie interessant en dikwels oop vir almal om aan deel te neem. Die NG Kerk in Pinelands se jaarlikse Kuiermark het ná die pandemie ontstaan en vier hierdie jaar sy derde verjaarsdag en groei elke jaar. Sommige organisasies wat by SASNEV byeenkomste hou, is doelverwant, maar ander oorleef as verenigings omdat SASNEV oor die jare ’n vaste hawe geword het vir verskeie niewinsoogmerk-instellings, soos die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Wes-Kaap-tak, Cape Town Photographic Society, Cape Guild of Weavers, Pinelands Toastmasters, Indigenous Bulb Growers Association, die Pinelands Leeskring en die Oranjezicht Leeskring.
Watter opwindende dinge beplan SASNEV vir 2024?
Ons het aan die einde van verlede jaar die program vir 2024 tydens ’n bestuursraadvergadering bespreek en agtergekom dat SASNEV in 2024 byna weer net so besig is soos in die tyd voor die pandemie. Ons het nie minder nie as 27 praatjies en gebeurtenisse wat slegs by SASNEV en alleen op Saterdae plaasvind. Met net 52 Saterdae in ’n jaar is dit nogal ’n goeie aanduiding dat sake vir SASNEV weer goed op dreef is.
Verskeie lesings en funksies word by SASNEV aangebied deur kultuurorganisasies soos die Kaapstadse Erfenisstigting, die Stigting VOC, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Wes-Kaap-tak en ook die FAK. Sommige van hierdie organisasies sien SASNEV as hul huis- en argiefbewaarder. Dit is die geval vir die ANV, afdeling Kaapstad, die Vriende van die Nederlandse Biblioteek Kaapstad, die Huis der Nederlanden Stichting (nou SASNEV), die Orde van den Prince, afdeling Kaap de Goede Hoop, die Van Ewijck Stigting, die Stigting VOC, die Kaapstadse Fotografievereniging, en nog ’n paar.
Die hoogtepunte van hierdie jaar se Saterdag-byeenkomste is die Bruggenhoofde-gespreksreeks wat in die eerste semester aangebied word met Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent as die gespreksleier. As die sameroeper van die gespreksreeks ondersoek T’Sjoen saam met Suid-Afrikaanse akademici en bekende skrywers die wisselwerking tussen die letterkundes van die Lae Lande en Suid-Afrika. Die gaste vir vanjaar se lesings is Louise Viljoen, Alfred Schaffer, Andries Visagie, Anastasia de Vries en die bekende skrywer Ingrid Winterbach (27 Januarie, 23 Maart, 20 April, 25 Mei en 1 Junie, almal 09:30 vir 10:00).
Die ander groot genoot vir die Saterdag-byeenkomste is die Orde van den Prince, afdeling Kaap de Goede Hoop wat uitstekende praatjies en lesings in samewerking met SASNEV aanbied, en ook die FAK, wat Matilda Burden genooi het om op 16 Maart met ons te gesels oor Marie Koopmans-De Wet se nalatenskap.
Nog ’n hoogtepunt van die jaar, wat aansluit by die Spesiale Kolleksie, is ’n kollokwium wat beplan word vir Saterdag 24 Augustus 2024 wat handel oor die kwessie van vertaling en beslis iets baie spesiaal gaan wees.
Die vierde uitgawe van die Week van het Nederlands van 28 September tot 5 Oktober 2024, wat moontlik weer ingelei gaan word deur die KFN se Neerlandistiekdag, sal waarskynlik weer afgesluit word met die SASNEV-”borrel” by vanjaar se Toyota US Woordfees.
Wat seker die belangrikste punt is, is dat SASNEV vol moed 2024 aanpak en reeds begin het om te beplan vir die program vir 2025. Alhoewel almal weet dat Afrikaans baie ouer is, sal dit op 8 Mei 2025 presies 100 jaar wees sedert Afrikaans deur die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, in die destydse parlement naas Engels en Nederlands as amptelike taal aanvaar is. Afrikaanse organisasies, instansies, maatskappye, skole en enigiemand anders wat Afrikaans as inheemse taal koester, is genooi om op 8 Mei 2023 by Afrikaans 100-feesvieringe betrokke te raak deur hul eie inisiatiewe van stapel te stuur om dié groot geleentheid te vier. Met die naelstring tussen Nederlands en Afrikaans is dit beslis een van SASNEV se projekte vir 2025 om iets met hierdie mooi viering te doen.
Lees ook:
Kaapse sentrum ’n kulturele tuiste vir die Nederlandse taal en letterkunde in Suid-Afrika
Studio SASNEV | Daniel Hugo, brugbouer tussen Nederlands en Afrikaans
Eenders en anders: Om Nederlands weer in Suid-Afrikaanse skole bekend te stel