Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Madelein skryf:
Goeiemiddag
Hoop dit gaan goed met u.
My ma het ’n toy pom wat ’n abses onder sy keel gehad het. Hy het voor dit ook so nou en dan gehoes en so ’n bietjie gesukkel met asem, maar na die abses hoes hy erger. Dis nie aaneen nie. Hy kan maande gaan sonder om te hoes en dan skielik begin dit. Dan hou dit vir so ’n maand aan. Hy is ’n ou klein hondjie. Nie oorgewig of sieklik oor die algemeen nie. Sy is baie bekommerd oor hom, maar het ongelukkig nie die finansies om hom veearts toe te neem nie.
Baie dankie
Lekker dag
Madelein
Beste Madelein
Sjoe, dis moeilik wanneer ons die beste vir ons diere wil doen maar nie die finansies het nie. Ek het innige simpatie.
Iets wat lyk soos ’n abses, maar wat maande al op een plek sit, is dalk nie net ’n abses nie. Daar is ’n paar kondisies wat groeisels in die nek kan veroorsaak, en ongelukkig is daar nie veilige boererate vir hulle nie.
Daar is wel wonderlike dierewelsynsorganisasies wat diere help as die diere se eienaars nie geld vir privaatveeartse het nie. Ek stel voor dat jou ma by haar plaaslike Dierebeskermingsvereniging aanklop om haar hondekind te help voor die probleem erger raak.
Baie sterkte
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: Raad vir ’n rou kol wat nie wil genees nie?
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?