Tydens die viering van die Week van het Nederlands 2021, wat vanjaar vir die sewende keer plaasvind en vir die eerste keer ook ’n amptelike program hier in Suid-Afrika het, het skrywers ook saamgepraat, spesifiek verteenwoordigers van drie sentrums van PEN International, die wêreld se voorste skrywersvereniging, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier.
Sedert 1921 beywer PEN International hom vir uitdrukkingsvryheid, die bevordering van bande tussen skrywers oraloor, die beskerming van menseregte, en die uitbou van taal en letterkunde wêreldwyd.
Alicja Gescinska, ’n Vlaamse skrywer en filosoof van Poolse afkoms
Alicja Gescinska, ’n Vlaamse skrywer en filosoof van Poolse afkoms, het namens PEN Vlaanderen aan die gesprek deelgeneem, saam met Sophie Zijlstra, skrywer, sinoloog en voorsitter van PEN Nederland, en Izak de Vries, skrywer, joernalis en bestuurslid van PEN Afrikaans, wat daarop gewys het dat dit ’n interessante gegewe is om PEN Afrikaans tydens die Week van het Nederlands vanuit Afrika te kan verteenwoordig in ’n taal wat nou verwant aan Nederlands is.
Alfred Schaffer, bekroonde Nederlandse digter wat sedert 1996 in Suid-Afrika woon, het die gesprek gelei oor waarmee dié PEN-sentrums gemoeid is wat taal, letterkunde en uitdrukkingsvryheid betref.
Vroeg in die gesprek besin die deelnemers oor waarom hulle hulle by ’n skrywersvereniging soos PEN aansluit. Wat is die motivering vir hul betrokkenheid en, indirek, vir die bestaan van PEN-sentrums in hierdie taalgebiede wat op die oog af oop en vry is? Suid-Afrika is immers ’n demokrasie met ’n progressiewe grondwet, en Nederland en België word algemeen met vryheid en “tolerantie” geassosieer. Tog het dit uit die gesprek geblyk dat uitdrukkingsvryheid wel onder bedreigings gebuk gaan, van beide eksterne en interne bronne.
Sophie Zijlstra, skrywer, sinoloog en voorsitter van PEN Nederland
Volgens al drie deelnemers raak selfsensuur ’n al hoe groter faktor om mee rekening te hou. Soos Zijlstra opmerk, is dit ’n netelige kwessie om aan te pak omdat dit juis so stilweg gebeur en op hierdie manier onsigbaar bly. Dit is immers moeilik om op iets te reageer wat nié gesê, geskryf of gepubliseer word nie.
Gescinska noem die aanmoediging van praat, skryf en vertaal as ’n belangrike verantwoordelikheid vir die toekoms: om aan te hou praat en luister in stede daarvan om vir mekaar in die (sosiale) media brandstapels op te rig. Dialoog moet gestimuleer word sonder om noodwendig ’n antwoord te formuleer of ’n templaat vir die pad vorentoe voor te skryf, want ook dít sal uitdrukkingsvryheid belemmer.
Izak de Vries, skrywer, joernalis en bestuurslid van PEN Afrikaans,
Luister na hierdie gesprek oor hedendaagse uitdagings vir skrywers aan die hand van werklike voorbeelde. Onderwerpe sluit in sogenaamde cancel culture, die toenemende gebruik van “sensitivity readers”, die rol van sosiale media en die fragiliteit van pers- en uitdrukkingsvryheid.
Lees ook:
PEN Afrikaans Vertaalfonds: Aandag vir Afrikaanse werke in vertaling neem internasionaal toe
Lees ook
Studio SASNEV | Daniel Hugo, brugbouer tussen Nederlands en Afrikaans
PEN-gesprek | Nuanse, uitdrukkingsvryheid en ruimte vir diverse menings
Week van het Nederlands | Vrystaat Kunstefees | Vrystaat Arts Festival
Week van het Nederlands | Drietalig woordenboek van het Kaaps (DWK)
Gesprek | Die Taalunie en die Afrikaanse Taalraad ruil idees uit
Gesprek | Fries, Kaaps, Nederlands en Afrikaans: Wat kan ons van mekaar leer?
Onderhoud: Eureka Barnard verduidelik SASNEV se rol in die Week van het Nederlands
Week van het Nederlands | Literêre gesprek: Alfred Schaffer en Chika Unigwe
Lees ook op LitNet:
Onderhoud met Catrina Wessels oor PEN Afrikaans
Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte
Op soek na balans: ’n dag by die openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
’n Nuwe, kommerwekkende poging om Suid-Afrikaanse kopiereg te hervorm