Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Paula skryf:
Goeiemôre
Ek het ’n pragtige Jack Russell.
Ek het ook ’n Boston-terriër gehad en ’n African Grey-papegaai.
Die Jack Russell en die papegaai het goed klaargekom – hy het haar nie gepla nie, sy het gou vir hom gewys wie se plek dit is. Ek het haar uit haar hok uit laat kom en die twee het klaargekom.
Die Boston-terriër was ’n ander storie en, ja, die einde was nie goed nie. Die terriër het die papegaai op ’n manier gekry en dit doodgebyt. Ek verstaan dit bly ’n hond se instink. Die terriër is vyf dae na die papegaai dood. Ek het geen idee waarom nie.
My probleem is dat die Jack Russell nou aan my klou en verskriklike skeidingsangs kry as ek hom los en uitgaan.
Ek weet die antwoord is om vir hom ’n maatjie te kry. My probleem is ek kan nie nou dadelik nie. Ek woon in ’n kompleks en moet eers toestemming by die Body Corporate kry om nog ’n hondjie te kry.
Ek het ook nie op die oomblik die finansies om ’n hondjie óf aan te neem óf te koop en die inspuitings en sterilisasie te betaal nie.
Wat kan ek intussen anders doen met die Jack Russell, wat definitief treur en sy maatjies mis? Hy lyk vir my party dae so hartseer en depressief.
Dankie by voorbaat
Paula van der Linde
Beste Paula
Ek is so jammer om te hoor van al drie jou liewe troeteldiere. En jy is heeltemal reg, diere rou net soos mense. Dis ook nie ongewoon vir diere om skeidingsangs te ontwikkel na ’n lewensmaat dood is nie.
Gelukkig sou ek jou in elk geval aangeraai het om te wag met ’n nuwe hondjie en eers jou Jackie te help om oor die skeidingsangs te kom. Indien ons nie éérs sy skeidingsangs uitsorteer nie, kan twee dinge moontlik gebeur wanneer julle ’n nuwe maatjie huis toe bring: Hy kan die maatjie dalk ignoreer of homself vir die nuwe hondjie vererg, omdat hy so geheg geraak het aan jou; of erger, hy kan die nuwe kleinding die probleemgedrag van skeidingsangs aanleer.
Ek stel voor dat jy met ’n gedragskundige gesels oor maniere om die skeidingsangs teë te werk. Na ’n paar maande hoort hy baie rustiger te wees, en dan sal ’n nuwe maatjie vir hom nog meer plesier bring.
Sterkte!
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: My hond wil niks anders as tafelkos eet nie
Vra die veearts: Raad vir ’n rou kol wat nie wil genees nie?
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?